|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 2
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Die toestromende handelaars
2 Daarop gaan Ons na `n punt van waar mens die omgewing van Betánië baie goed kon sien, maar ook `n aantal weë en strate wat na Jerusalem lei. Langs die weë en strate was doeane- en tolhuise gebou waar die vreemdelinge die verpligte tol moes betaal. Die meeste tollenaars van hierdie kant was saam met `n aantal van hulle bediendes en knegte sedert gister by Ons.
[2] Die skrifgeleerde vra hulle egter of hulle nou nie liewer daar onder wil wees om baie geld in te samel nie.
[3] `n Tollenaar sê: “Vriend, hierdie vraag kon jy jou wel bespaar het! Want as ons aan die hoogste materiële bron van inkomste meer geleë sou wees as aan die volmaakte geestelike, dan sou elkeen van ons wel op sy eie standplaas aanwesig gewees het. Want net soos wat ons gekom het, so kon ons ook al lankal weer gegaan het, en niemand sal ons daarby iets in die weg kan lê nie. Maar omdat die groot lewenswins eerder hier is, as die stoflike by ons tolhuise daar benede, bly ons hier en bekommer ons gladnie oor die verbytrekkende handelskaravane nie. En wat die gewone tol betref, het ons tuis tog wel mense wat daarvoor sal sorg.
[4] Maar in julle tempel sal die handel nou ook wel gou begin. Sou jy dit aangenaam vind as ek aan jou sou sê: “Vriend, kyk eers daar benede, dit word al behoorlik druk voor die tempelsale! Interesseer die groot winste wat daar te verwag is, jou nie? Suiwer goud en silwer en edelstene en pêrels sal daar in oorvloed wees, en aan julle moet van alles die tiende gegee word. Sal die mense julle iets daarvan gee as julle nie aanwesig is nie?”
[5] Ons tollenaars, wat in julle oë sondaars is, weet nou dat julle die tempel vir altyd die rug toegekeer het, en dus sou so `n vraag aan julle nou wel baie dom wees. Ons het in elk geval die vaste besluit geneem om, uit liefde tot die Heer, elkeen wat ons ooit bewustelik bedrieg het, tienvoudig te vergoed, en daarom mag al die handelaars in elk geval vandag ons doeaneposte en tolhuise heeltemal verniet verbygaan, daardeur sal ons almal nog lank nie verhonger nie. Daarom laat ons hulle nou maar heel rustig verbygaan!”
[6] Na die kragtige antwoord van die tollenaar sê die skrifgeleerde heeltemal niks meer en hy bewonder in stilte die edelmoedigheid van die tollenaar en sy metgeselle.
[7] Maar Lasarus sê: “Al hierdie vreemdelinge sal teen die aand vas en seker hier na boontoe kom, en ek sal veral maatreëls moet tref om die kelder, ook die kombuis en die voorraadkamer nog beter te voorsien. Bowendien sal ek buite ook nog meer tafels en banke moet laat opstel, anders het ek te min ruimte!”
[8] Ek sê aan Lasarus: “Maak jou nie bedruk nie, want solank Ek hier is, is jy alreeds uitstekend en ryklik van alles voorsien! En al kom daar nog so baie, dan sal hulle tog almal uitstekend versorg word. Laat Ons nou maar eers in alle rus na die dwase wêreldse drukte daar benede gaan kyk”. Watter swaar belaaide kamele, perde, esels en osse kom daar oor die weë en strate aangedryf, terwyl hulle groot skatte en goedere dra vir hulle meesters, wat alles sal verkoop!
[9] Maar daar op die breë weg van Galilea na Jerusalem sien Ons waens en karre wat met osse ingespan is. Die bring slawe uit die omstreke van die Pontus hierheen om te verkoop. Dit is mooi en goed geboude jong manne en meisies van veertien tot agtien jaar. In totaal is dit honderd-en-twintig manne en honderd-en-sewentig vroue. Wel, hierdie verkoping sal Ons verhinder en vervolgens vir die vorming en vryheid van hierdie arme kinders sorg! Binne die stadsmuur mag daar geen mensehandel plaasvind nie, maar hierdie geselskap bevind hom al buite die stadsmuur en is tog nog heel naby die stad en daarom sal julle binnekort sien dat hierdie wa- en kareienaars hulle verkoopstente presies aan die voet van hierdie berg sal opslaan en daarna probeer om hulle omroepers onmiddellik in alle rigtings te stuur! Ons sal hulle net een vóór wees en al hulle koopware afneem en daarna ook met die gemene kooplui `n woordjie spreek dat hulle handel vir `n lang tyd sal vergal!”
[10] Toe sê Agricola: “Heer, wat sou U daarvan sê as ek al die manlike en vroulike slawe sou koop, en wel vir die prys wat die verkopers verlang, en hulle dan sou saamneem na Rome om hulle daar goed te laat opvoed en hulle dan die volledige vryheid en die Romeinse burgerskap te skenk?”
[11] Ek sê: “Jou idee en jou wil is goed, maar My idee en My wil sal hier nog beter wees! Waarom geld uitgee vir iets wat mens heeltemal regmatig ook sonder geld kan kry en in besit kan neem? Is jy nie daarmee eens nie? Om nog aan sulke mense wins te besorg, sou beteken dat jy hulle nog in hulle kwaad aanmoedig. Maar as hulle meer van hierdie soort ervarings sal opdoen, sal hulle nie langer hulle toevlug neem tot so `n onmenslike manier om geld te verdien nie.”
[12] Hierop sê Agricola: “Heer, daar moet hier met nog iets rekening gehou word! Ek glo dat daar in die opsig vanuit Rome `n spesiale wet met betrekking tot die mensehandel vir alle lande bestaan. Volgens dit mag geen enkele slaaf sonder toestemming van `n Romeinse goewerneur uit `n vreemde, nie-Romeinse land ingevoer word na lande wat onder Romeinse heerskappy staan nie; so `n toestemming kos egter ontsettend baie. Wel, dit gebeur dan ook baie gereeld dat sulke slawehandelaars hulle slawe langs geheime weë en ook gereeld deur middel van valse vergunnings ons lande binnesmokkel. As dit by hierdie slawehandelaars die geval mag wees, dan is dit maklik om hulle koopware af te neem; maar wanneer hulle in besit is van so `n voorafgenoemde dure bevoegdheid, dan is daar langs die normale weg nie veel anders as om die handelaars die gevraagde geld te gee en hulle dan ongehinderd verder te laat gaan nie, omdat hulle in daardie geval onder die beskerming van die wet staan.”
[13] Ek sê: “Jy het heel korrek geoordeel, maar weet jy, Ek is dié Een wat aan die ewigheid en aan die oneindigheid wette voorskryf en jy sal dus goed begryp dat Ek My nou, noudat die teenoorgestelde aan die orde is, nie by die wette van Rome sal hou nie, hoewel Ek My andersins as mens volledig daaraan onderwerp.
[14] Hierdie mense, wat nou die genoemde slawe hier na die mark toe bring, is weliswaar slegs op wins uit, maar tewens in `n hoë mate bygelowig. Die blinde bygeloof is hulle grootste vyand. Daarom weet Ek al vooraf wat daar gedoen moet word om hierdie mense so te straf dat hulle nie alleen hulle koopware, maar nog veel méér graag sal wil afstaan om tog maar heelhuids te kan wegkom. So gou as wat julle hier is, sal julle almal goed sien en duidelik merk wat God se Wysheid en Mag alles kan bewerkstellig.
[15] Maar nou sal Ons weer na binne gaan en Ons liggame met `n goeie oggendmaal versterk, want die tafels is intussen almal ruim voorsien. Intussen sal ons slawehandelaars ook almal ter plaatse wees en Ons sal dan aan hulle `n besoek bring!”
[16] Die skrifgeleerde sê aan My: “Heer, U gaan vandag tog nie na die tempel nie? Want vandag gebeur daar ware slegte dinge!”
[17] Ek sê: “Wat sal die moordkuil daar benede in die hel My nou interesseer! Die ware tempel van JaHWeH is daar waar `n hart haarself in die mens bevind, wat God bo alles liefhet en sy naaste soos homself! - Laat Ons nou na die oggendmaal toe gaan!”
[18] Daarop gaan Ons almal die huis binne en neem plaas aan die ryk voorsiende tafels, waar elkeen alles na sy smaak kon vind en waar ook aan goeie wyn geen gebrek was nie. Die Romeine bewonder nou eers in die volle daglig die pragtige drinkbekers van suiwer goud en ook hulle silwer bakke. Ook die sewe fariseërs kom naderby en raak nie uitgepraat oor die suiwerheid en die kwaliteit van die drinkbekers en die eetgerei nie. Maar Lasarus maan hulle tot ete, omdat die visse andersins koud sal word en daarom sak die sewetal ook dadelik toe en hulle eet en drink terwyl hulle die kwaliteit van die spyse en die wyn prys. Ook die ongeveer sewentig arme manne, met die vroue in hulle midde, put hulle uit in die lof van die spyse en die wyn, netsoos die tollenaars en hulle metgeselle dit ook doen.
[19] `n Romein sê: “Ek is nou ruim sestig jaar oud, maar ek het nog nooit sulke goeie spyse en sulke egte godewyn geproe nie!”
[20] En so kom daar aan die lof en dank bykans geen einde nie.
|
|
|
|
|