|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 126
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Die regte opvoeding van kinders, afgestem op hulle verskillende aanlegte. Die belang van innerlike vorming vir die wek van die gees
126 Ek sê: “Niks is makliker as dit nie, en wel omdat daar naamlik, netsoos Ek jou vroeër laat sien het, by die mense allerlei verskille moet wees, sodat mense mekaar nodig sal hê en mense mekaar op verskillende maniere kan dien.
[2] As alle mense netso ywerig was en ook dieselfde talente sou gehad het, dan sou hulle mekaar baie gou glad nie meer nodig hê nie; en reeds daarom het kinders van één en dieselfde ouerpaar verskillende talente en verskillende begaafdhede. Die opvoeder moet dit egter goed kan beoordeel en die kinders dan ook in ooreenstemming met hulle talente en begaafdhede onderrig gee, dan sal hulle almal na die regte doelwit gelei word.
[3] Maar as jy ondanks die verskillende talente en begaafdhede van jou kinders wil dat hulle byvoorbeeld almal kleremakers of wewers word, dan sal jy natuurlik maar net by die een egte vlyt en ywer bespeur, wat ook talent sal hê vir dit wat hy leer. Die wat weinig of heeltemal geen talent daarvoor het nie, sal ook weinig ywer daarvoor toon. Sulke kinders sal ook weinig goed vir die welsyn van hulle medemens presteer wanneer hulle later selfstandige mense word, omdat hulle sonder die regte talent die moeisame geleerde nooit so grondig kan beheer as die een wat reeds vanaf sy geboorte die regte aanleg daarvoor gehad het nie.
[4] Die oorsaak van die feit dat die een kind dus yweriger is as die ander, lê begryplikerwys vernaamlik by die ouers en ander lerare van die jeug. Die wynstok bring die druif en die vyeboom die vy as vrug voort, en albei vrugte smaak soet; maar as jy die vyeboom net so behandel soos die wynstok, sal hy weinig vrug dra, en as jy die wynstok so onbesnoei laat deurgroei soos die vyeboom, dan sal die wynstok baie gou verkommer en weinig druiwe oplewer.- Het jy dit goed verstaan?”
[5] Hierop sê die towenaar: “O Heer, ek dank U vir hierdie belangrike en selfs heerlike uitleg! Ja, so kan `n mens eers besef hoe blind en dom hy by al sy vermeende wysheid was! Wat beeld menige wêreldse wyses hulle tog in, terwyl hulle uiteindelik die bos nie meer deur die bome kan sien nie! As `n mens sy oë maar `n bietjie wil oopmaak, is dit so voor die hand liggend! Elke kind het duidelik `n ander gestalte; die een is dikwels groter as die ander, die een is ruwer, `n ander baie fyn en teer, en so is daar al net uiterlik by die kinders van één en dieselfde ouerpaar baie groot verskille. Watter verskille sal daar dan nie wel innerlik wees nie?
[6] Sou die uiterlike kenmerke vir `n denkende mens nie voldoende wees om aan die hand van die daarin aanwesige verskille ook die verskille af te lei van die in die mens aanwesige talente en bekwaamhede, sodat `n wyse leraar en meester die mens op sy talente sou kan wys en hom met raad en daad behulpsaam sou kan wees om die aanwesige talente op `n edele en suksesvolle wyse te ontwikkel? O nee, dit is vir die blinde wyse, netsoos wat ek daar self één was en nog is, beslis nie voldoende nie! Hy wil die mense almal gelyk hê; hulle moet almal dink en handel netsoos hy en gewillig laste dra waarvoor hulle geen krag het nie, en so word van die mense, in plaas van wyses, dikwels narre gemaak, wat nóg homself, nóg iemand anders van nut kan wees. Vir hierdie les dank ek U, o Heer, nogmaals uit die diepte van my hart; want dit sal ons eers op ons eie kinders vrugbaar toepas.”
[7] Daarop sê Agricola: “Ja, dit is werklik `n goue les, wat ons Romeine ook tot nut sal maak, en ek veral in die besonder; want ten eerste het ek self kinders, en ten tweede sal die jong mense wat ek van hier af saam na Rome sal neem, so opgevoed word soos wat hulle talente dit vir my sal aangee. Natuurlik moet daar by almal `n sekere basisvorming voorafgaan, netsoos: lees van die Skrifte, skryf en reken, en ook die leer van die taal wat in die hele Romeinse ryk deur die mense gespreek word; want sonder hierdie noodsaaklike kennis kan daar nie veel van `n mens gemaak word nie. Vervolgens moet elke mens ooreenkomstig sy grootste talent gevorm word. - Heer, is dit korrek?”
[8] Ek sê: “Sekerlik, want alle mense moet eers kan loop, met hulle hande kan gryp, met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor, voordat hulle in staat sal wees om praktiese besigheid te verrig. En so moet die mens ook die deur jou genoemde voorkennis hê, om met behulp daarvan makliker tot die ware lewenswysheid te kan kom. Maar daarby moet daar tog wel toegesien word dat die mense nie hierdie voorkennis en die leer daarvan tot hoofsaak maak nie, en hulle nie hulle lewe lank besig hou met die bestudering van geskrifte en taal nie, en daarby die innerlike vorming, wat die gees in die mens wek, vergeet; want daarin is ten slotte tog enkel en alleen die hele waarde van die lewe geleë. Want wat sou `n mens daaraan hê as hy alle geskrifte van die wêreld kon skryf en verstaan en alle menslike tale sou kan praat, maar aan sy siel skade ly?!
[9] Soek daarom vóór alles God se ryk op aarde, soek dit in jou, - en met God se ryk in jou, sal jy ook al die ander gegee word; maar sonder die ryk van God het die mens - ook al besit hy alle skatte van die aarde en het hy die kennis van alle wêreldse wyses - so veel as niks.
[10] Wie God se ryk in sy hart besit, het alles. Hy het die hoogste en diepste wetenskappe in hom, en die ewige lewe en die krag en mag daarvan, en dit is tog sekerlik meer as alles wat die mense op hierdie wêreld ooit as groot en mees waardevol erken het.
[11] Julle sal julle môre in Emmaus van alles oortuig, wat dit beteken om `n volmaakte mens te wees. Ek sê julle: Eén waaragtig volmaakte mens kan meer doen as alle ander onvolmaakte mense op die hele aarde.
[12] Streef julle veral daarna om volmaakte mense te word! Wanneer julle dit sal wees, dan is julle alles en het julle alles.
[13] Maar Ek sê julle ook, dat die bereik van die ryk van God nou geweld vereis. Wie dit wil besit, moet dit letterlik met krag na hom toe trek; wie dit nie sal doen nie, sal dit ook moeilik reeds hier op aarde volledig tot hulle lewende besit kan maak.”
|
|
|
|
|