Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 203

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die toekoms van Jerusalem

203 Een van die gematigde fariseërs sê nou weer: “Heer, ek en nog meer van ons, sien wel in dat U `n geweldige leraar is en vry en openlik spreek sonder enige aansien des persoon, en dit is ook geheel en al waar dat die regte weg tot die lewe aan elke mens deur die profete geopenbaar is! Wel, aan hierdie openbarings sou die mense tog ook meer as voldoende gehad het; waarom word dit dan toegelaat dat daar nog aardse konings en maghebbers met hulle eie slegte wêreldse wette kom en daardeur die arme, swak mensdom nog die meeste skade toebring? Volgens my sou dit egter nie nodig gewees het nie. Want hoe die mense, volgens die wil en die onveranderlike orde van God, moet lewe en handel, is immers volledig in die openbarings uiteengesit. Waarvoor word dan die al te heers- en hebsugtige vorste, konings en nou selfs keisers nog toegelaat ?”

[2] Ek sê: “In die begin het God dit nie so bepaal en voorgeskryf nie - want Hy het die mense in die gees verligte, waaragtige en regverdige leiers en regters gegee; - maar met verloop van tyd, toe dit te goed gegaan het met die volk, en hulle ryk was aan alles wat die aarde maar aan goed en kosbaars gedra het, was hulle nie meer tevrede met die eenvoudige en beskeie leiers en regters nie. Hulle begin te murmureer en verlang onder die troue Samuel `n koning wat ook so `n prag moes uitstraal soos die konings van die ander heidense volkere, wat afgodery bedryf het met hulle konings.

[3] Toe Samuel in sy gees aan God voorhou wat die volk met alle geweld van hom verlang, spreek God in Sy toorn aan Samuel: “Die volk het ten aansien van My al meer sonde van die grofste soort begaan as wat daar gras op die hele aarde en sand in die see is. En nou wil hulle aan al hierdie groot en vele sondes nog hierdie grootste een toevoeg, omdat hulle hulle nie meer wil tevrede stel met My regering nie, maar netsoos die goddelose heidene `n koning verlang. Ja, daar sal aan die ondankbaarste volk, as skerp roede en gesel, `n koning gegee word, waaronder hulle sal huil en weeklaag!”

[4] Kyk, dit en nog meer het God as waarskuwing tot die volk gespreek om hulle van hulle dwase wens af te bring.

[5] Maar eers toe dit alles niks gehelp het nie en die volk hardnekkig vasgehou het aan sy eis, gee God aan Sy kneg Samuel die opdrag om Saul tot koning van die Judeërs te salf.

[6] Sien, so het konings oral gekom waar die volkere nie meer tevrede was met die sagmoedige regering van God nie en per se uit hulle midde `n mens as koning wou gehad het!

[7] Was dit hier ook nie weer die kwade wil van die mense van Satan wat hulle in `n dikwels ondraaglike ellende gestort het nie? God het die mense in die mees uiteenlopende dele van die wêreld gereeld genoeg, lank vooraf gewaarsku om `n mens as koning te kies en hom met alle aardse mag toe te rus. Hy het hulle alle slegte gevolge laat sien wat daaruit sou voortkom; maar die mense het hulle harte en hulle ore gesluit vir die stem van God en het slegs self hulle ellende veroorsaak! En wat hulle self veroorsaak het, moet hulle nou dan ook op hulle neem!

[8] Ja, as `n hele volk nou eensgesind tot God sou smeek, of Hy hulle weer sou wil lei, bestuur en regeer netsoos dit in die begin die geval was, waarlik, dan sou God die ernstige smeking van `n volk nie onverhoord laat nie! Maar omdat dieselfde konings altyd te veel gunstelinge aan hulle sy het en die volk, wat dit anders wil, geen vryheid gun en hulle ook meestal van die wieg af aan laat vorm en opvoed ten gunste van die koning, voel die volk wel die druk van die koning, maar die weet nie waar om hulp te vra nie. Want die maghebbers het vanaf die begin van hulle heerskappy ingesien dat `n deur God verligte volk hom spoedig weer van hulle sou losmaak.

[9] Daarom probeer hulle ook met behulp van valse profete, waarvan julle nog `n treurige oorblyfsel is, die volk te mislei en hulle blind te maak vir die enigste en ware God. En daardeur kan hulle nie meer uit hulleself, sonder deur God daartoe geroepe mense, die regte weg tot God vind nie, maar leef hulle verder in hulle gewoond geworde afgodery en probeer hulle van hulle koning of sy gunstelinge deur allerlei middele, - ook al is dit op sigself hoe sleg, - maar net aardse voordele te verkry. Kom daar dan, deur God geroep, `n egte profeet, dan word hy nie slegs as sodanig herken nie, maar ook nog as godslasteraar vervolg en gereeld gedood, netsoos dit by julle al baie gereeld die geval was.

[10] En as dit so is, hoe kan God so `n diep gesonke volk dan nog help, as hulle ondanks hulle groot ellende, alle hulp wat God hulle bied, hardnekkig van die hand wys? En waar dit nou so gaan soos nou by julle, het dit geen sin om die vraag te stel waarom God naas die openbarings, ook wêreldse regente toelaat wat met hulle wêreldse wette die mense skade toebring.

[11] Wil die mense dan iets anders of wil julle dit hê? As julle dit wil, sou julle nou gelowig na My geluister het en gehandel het ooreenkomstig My leer; want Ek, die Heer Self, het na julle toe gekom, omdat Ek julle wil red. Maar wat doen julle? Julle doen niks anders as om te beraadslaag, om te kyk hoe julle My kan gryp en doodmaak! En wanneer julle, en vele duisende saam met julle dit doen, sê dan self wie, buite My, julle nog kan red en help!”

[12] Die fariseër sê: “Heer, U beskuldig ons steeds asof onsself ons hande met die bloed van die profete besoedel het! Ons is tog nie verantwoordelik vir wat ons vaders in hulle blindheid gedoen het nie! As ons met ons huidige kennis en insig ten tye van die profete geleef het, dan het ons hulle sekerlik nie gestenig nie! Ook het ons ten tyde van Samuel nie om `n koning geroep nie; maar wanneer ons as straf `n koning sou moes gehad het, sou ons liewer `n Judeër as `n heiden wou gehad het. In feite sou ek maar net van U wil hoor, waarom ons Judeërs ons nou deur heidense wette moet laat oorheers.”

[13] Ek sê: “Die oorsaak daarvan is dat julle al sedert lang tyd die wette van Moses en die profete verwerp het en in die plek daarvan julle eie slegte en onsinnige voorskrifte ingevoer het. Vir die wêreldse voorskrifte was julle liewer as God se wyse gebooie en dus het God dan ook alles aan julle laat geskied wat julle altyd gewil het en nog steeds wil; want as julle God se gebooie en die leer van die profete liewer sou wil doen as die wette van die wêreld, dan sou julle na My geluister het, julle bekeer het en gehandel het ooreenkomstig My leer; Ek predik immers niks anders as die ou woord van God nie, waarvan julle so baie afgewyk het, wat julle nie meer in staat stel om te herken dat dit daardie woord is wat uit My mond kom. Julle haat en vervolg My egter asof Ek `n sondaar en misdadiger is, en dus bly julle onder die heerskappy van die roede en die swaard van die heidene.

[14] Daar staan egter ook geskryf: “Kyk, Ek stuur vir julle profete, wyses en egte skrifgeleerdes! Van hulle sal julle sommige doodmaak en selfs kruisig netsoos die heidene dit doen, en weer sal julle ander gesel in julle sinagoges en vervolg van die een stad na die ander, sodat oor julle kan kom die bloed van al die regverdiges, netsoos van die vrome Abel, wat deur Kain neergeslaan was, tot by die bloed van Sagaria, wat `n seun was van die vrome Beregja en wat julle gedood het tussen die tempelvoorhangsel en die offeraltaar. Waarlik, Ek sê nou vir julle: omdat julle so gehandel het en ook nou nog so handel, het dit alles oor julle gekom, en daar sal nog baie erger dinge oor julle kom; want julle wil dit self so hê en veroorsaak dit ook self!

[15] O Jerusalem, Jerusalem, wat die profete doodmaak en hulle stenig wat na jou gestuur is! Hoe gereeld wou Ek jou kinders vergader soos `n hen haar kuikens onder haar vleuels vergader; en julle, kinders, wil julle nie onder die hoede van My vleuels laat bring nie! Daarom sal die huis van julle so eensaam en verlate word dat daar selfs geen naguile en kraaie binne sy mure sal woon nie!

[16] Onthou dit, sodat julle, wanneer dit binnekort alles oor julle en julle kinders sal kom, julle sal herinner dat Ek julle dit vantevore gesê het en hoe julle dit ook in die nag deur `n verskynsel aan die hemel in `n beeld te siene gegee was!”

[17] Nou vra die fariseër My waar Ek die kennis vandaan kry om vir die stad sulke kwade dinge te voorspel. En wanneer Ek Jerusalem nou dalk sou verlaat, wanneer Ek dan weer sou terugkom; want hy sou by die hoëpriesters `n goeie woordjie vir My doen.

[18] Ek sê: “Met al die Myne sal Ek die tempel nou spoedig verlaat en julle sal My nie vroeër hierheen sien kom as tot dan wat julle sal roep: “Heil aan Hom, wat kom in die Naam van die Heer!"

[19] Hierop gaan die fariseër weer terug na die ander en sê: “Vriende, met Hom veg ons tevergeefs, dit het ek in die begin al gemerk! Ons is nou al meer as vyf uur met Hom besig en het niks bereik nie, behalwe dat ons die volk teen ons opgemaak het met ons eiesinnigheid. Die vraag is nou wie weet of ons hulle ooit weer aan ons kant sal kry.”

[20] Niemand reageer op hierdie opmerking van die fariseër nie en almal verlaat die tempel.

[21] Ek waarsku die volk nog `n keer en troos hulle; daarop gaan ook Ek die tempel uit met almal wat by My hoort. Ons gaan weer na die Olyfberg, waar `n heerlik toebereide maaltyd al op Ons gewag het.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205