|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 106
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Die leiding van die Indiese volk
106 RafaEl sê: “Dat die mening wat jy hier na vore bring nie so dwaas klink nie, is omdat julle soveel nuttelose kunste en wetenskappe julle eie gemaak het; maar op julle geskiedenisboeke lê die stof duime dik en omdat julle daardie stof heilig ag, lees julle jul geskiedenis nie en weet julle dus ook nie wat daar alles vóór julle plaasgevind het nie.
[2] Maar ek sê jou, dat God, die Waaragtige, Hom in die begin van julle bestaan meer as duisend jaar lank steeds aan julle oudstes en aartsvaders geopenbaar het. `n Tyd lank het dit baie goed gegaan; maar toe, na verloop van tyd wat die oudstes en aartsvaders te ryk geword het en te veel aansien gekry het, het hulle begin om naas die gebooie van God, ook hulle eie wette as openbarings van God in te voer, en die volk het daarin geglo en hulle daarby gehou.
[3] Maar al te gou het hulle wêreldse wette begin om die goddelike heeltemal te verdring, en wel sodanig, dat alle vermanings om tot die ware God terug te keer, by die te heerssugtig en hebsugtig geworde priesters en aartsvaders geen enkele sukses gehad het nie. Toe wek God sieners en profete by die volk op, om alle hooggeplaastes en magtiges te vermaan, wat vanweë hulle wêreldse luste God heeltemal die rug toegekeer het en die arme volk met hulle wêreldse wette op ondraaglike wyse belas.
[4] Maar die grotes en magtiges het die profete gegryp, hulle aanvanklik gegesel en gedreig om hulle harder te straf, as hulle dit ooit weer sou waag om vir hulle of ook vir ander mense op te tree en te predik as sieners en profete wat deur die ware God gewek en geroep is.
[5] Die sieners en profete het tekens gedoen, en voorspel wat die grotes en magtiges sou oorkom as hulle in hulle goddeloosheid sou bly. Maar ook dit het niks gehelp nie. Die sieners en profete was gegryp, gemartel en gedood; sommige het gevlug, en die Gees van God het hulle na `n plek gebring waar niemand hulle kon vind nie. Uit hulle het die eintlike Pirmandiërs toe ontstaan, alhoewel hulle ontoeganklike dale ook al voor dit deur eenvoudige natuurmense bewoon was.
[6] En sien, dit het reeds baie lank voor julle tyd plaasgevind en omdat julle God dus heeltemal verlaat het, het God julle ook verlaat, - en dit is die rede vir julle langdurige nag van die oordeel en die dood van julle siele!
[7] Vir jouself het jy nou wel die lewenslig gevind; maar in julle land en ryk sal dit nog lank nie begin skyn nie. Want as julle dit maar net vir julleself sal aanwend, sal julle weinig aan die lig hê; as julle die lig egter ook by die volk wil bring, sal julle in botsing kom met die volk en sy heersers. Mense sal nie na julle luister nie, en as julle daarop aandring, sal julle vervolg word netsoos julle alle sieners en profete vervolg het.”
[8] Die towenaar sê: “Ons sien die volle waarheid in van wat jy sê; maar ons drie en ons gevolg dra aan die verslegting van ons godsdiens werklik die minste skuld, want ons het immers al lankal die kwaad ingesien en trek daarom die wêreld in om die waarheid te soek en te vind, wat ons hier op die mees wonderbaarlike wyse gevind het.
[9] As dit daar in ons land egter werklik so sleg gaan - waaraan ons nou geen oomblik langer kan twyfel nie, - vra ek my af wat ons dan daar moet doen. Moet ons dit wat ons hier gevind het net vir onsself behou, of moet ons op `n geskikte tyd en op die regte plek ons vriende en lotgenote iets daaroor vertel? Want as ons die waarheid ken en ook beslis streng daarvolgens sal lewe en handel, en terselfdertyd tuis tog met die bose onsin moet meedoen, dan sal ons immers nog erger volksbedrieërs wees as ooit tevore, toe ons die waarheid nie geken het nie.
[10] Eertyds het ons gedink om die volk `n weldaad te bewys, toe ons hulle so grof en so hard moontlik bedrieg en belieg het. Maar nou is die saak baie anders. Ons weet en het nou die egte en volledig ware lewenslig en moet tuis vir die volk tog nog die ou leuenaars en bedrieërs bly, - sou ons dan in die geheim alleen vir onsself op die ligte lewensweg kan verder gaan? Nee, nee, vriend, dit sal beslis nie meer deug nie! Liewer sal ons met ons skatte, vroue, kinders en bediendes gaan tot aan die westelike einde van die wêreld, om daar ongestoord volgens die erkende waarheid te lewe! - Magtige en wyse vriend, wat dink jy daarvan? Gee ons tog goeie raad, goddelik magtige, wyse jong man!”
[11] RafaEl sê: “Ja, beste vriende, want dit is julle nou ook vir my, nou word selfs vir iemand, netsoos ons, `n egte goeie raad duur! Daar is in julle land en ryk weliswaar nog vele, wat nou sou wou gehad het wat julle nou-al gedeeltelik hier gevind het; maar as hulle dit van julle gekry het, sal ook hulle nie meer in die Indiese lande en ryke kan lewe nie. Want daar heers die volmaakte hel en in die hel kan die hemel in die mens moeilik bereik word, omdat daar vir die mens, wat hom tot die waarheid wil bekeer, oral duisende hindernisse op die loer lê, wat hulle vyandig teen hom opstel en hom ook van alle kante agtervolg.
[12] Julle kan dus wel na julle Indië terugkeer en met alle versigtigheid by vriende, wat julle daarvoor geskik ag, probeer of hulle die waarheid sal verdra. Wie dit aanneem, laat hulle dan nie langer in die land van die nag en die oordeel van die hel bly nie, anders word hulle dadelik weer daar verslind! Maar as julle, terwille van julle eie lewensvervolmaking, nie meer na julle land wil teruggaan nie, dan sal julle môre en oormôre maklik `n aantal uitwyk moontlikhede vind, waar julle kan heengaan om julle daar te vestig. Dit is nou my raad, die een of die ander, julle kan doen wat vir julle die beste lyk.”
[13] Die towenaar sê: “Die keuse sal nie vir ons moeilik wees nie! As ons vriende die ware lewenslig netso ernstig neem as ons, en as hulle ook vermoed dat daardie lig in die verre weste êrens gevind kan word, sal hulle dit wel gaan opsoek; vind hulle daardie lig egter nie so belangrik as ons nie, laat hulle dan maar in hulle nag en dood bly! Maar één ding sal ons tog vir hulle heil doen: ons het baie dienare by ons; daarvan kan ons `n aantal terugstuur huistoe. Ons sal aan hulle geheime briewe saamgee in `n taal wat niemand behalwe die priesters ken nie. As ons vriende hulle iets daarvan sal aantrek, dan moet hulle ons volg en ook na die lig kom; trek hulle hulle egter niks daarvan aan nie, dan moet hulle maar in hulle nag bly! - Het ek korrek geoordeel of nie?”
[14] RafaEl sê: “Ja, hierdie keer het jy korrek geoordeel! - Maar julle het tuis immers nog groot aardse skatte. Wat moet daarmee gebeur?”
[15] Die towenaar sê: “Goddelike vriend! Die vernaamste skatte het ons by ons, - die grootste skat het ons hier gevind, wat vir ons liewer is as alle lande, ryke en skatte ter wêreld! Maar wat nog tuis is, moet die bediendes wat uiteindelik deur ons na Indië teruggestuur word, neem en onder mekaar verdeel, netsoos wat ons sal aangee, sodat hulle geen stryd en rusie onder mekaar sal kry nie; daarna kan hulle ons weer volg. Hier sal hulle hoor waar ons heengegaan het. En ek glo dat dit so heeltemal in orde is!”
[16] RafaEl sê: “Seer seker, dit is baie goed! Doen dit, dan sal julle geseën word! Maar dink nou na oor wat julle van my gehoor het en maak julle in jul hart klaar vir groter dinge. Ek en hierdie vriend van my sal nou weggaan en vir `n goeie aandmaaltyd sorg.”
[17] Daarop gaan RafaEl en Lasarus huiswaarts en reël alles, want dit het al taamlik donker geword.
|
|
|
|
|