|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 209
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Onderrig op die top van die berg
209 (Die Heer): “Dit was `n ou gehuggie, ook op `n taamlike hoë berg geleë; vanaf die hoogste punt kon mens op `n helder dag die groot see sien. Ietwat bo die plekkie staan die huise en stalle van Ons Griek, wat ook reeds baie bouvallig was en natuurlik alles afgebreek moes word en waarvoor in die plek ander gebou moes word.
[2] Toe Josef dit alles goed bekyk het, sê hy aan My: “My Seun, as Ons dit op natuurlike wyse moet afbreek en dan weer opnuut moet opbou, dan het ons baie meer as `n jaar nodig vir hierdie werk!”
[3] Ek sê: “Maak jou nie daaroor besorg nie! Wat Ek sê sal ook gebeur! Maar nie vandag en more nie; maar oormôre sal alles geheel en al ordelik staan.”
[4] Nou vra die Griek: “Ek sou vanaand graag op goeie Judese wyse julle gasheer wou gewees het, maar in daardie opsig het ek ook wel bietjie probleme. Met die vis as lieflingskos van die Judeërs gaan dit by ons geen haar beter as by die herbergier by wie ons ons middagmaal genuttig het nie; want hier is daar geen stroompie van betekenis nie, geen meer nie, en tot by die see is dit tog wel `n bietjie ver. Maar hoenders, eiers en lammers en kalwers het ek wel, netsoos gesuurde brood, sout en `n goeie wyn, wat ekself in my vele en groot wingerd verbou. Dit hang nou slegs van julle af wat julle sal kies, dan sal alles op die regte tyd voorberei wees.”
[5] Josef sê: “Laat dan `n lam vir ons voorberei; die res sal sekerlik sonder meer goed en in orde wees!”
[6] Die Griek sê: “Baie goed! Die beste en vetste van my vele lammers sal geslag en voorberei word! - Maar nou vra ek my nog af wat Ons sal doen tot dit egter goed aand geword het, sodat die tyd nie vir Ons te lank sal wees nie.”
[7] Ek sê: “Laat Ons dan heeltemal na die top van jou berg gaan en hierdie omgewing daar `n bietjie bekyk, wat baie mooi is; daar kan dan nog so die een en ander gebeur, wat Ons baie stof tot nadenke en tot gesprek kan gee!”
[8] Toe Ek hierdie wens uitgespreek het, was almal dit daarmee eens. Ons gaan op pad en was baie gou bo-op die berg, en wel op die hoogste top.
[9] Van daar af kon Ons dadelik die groot see heeltemal sien, omdat dit `n helder somersdag was, en Ons was almal baie verheug oor hierdie geweldig heerlike aanblik.
[10] En Josef sê self geheel ontroerd: “O, as hierdie aarde as opvoedingsplek van God se kinders al so mooi is dat jy vir jouself niks mooier en heerliker kan begeer nie, hoe mooi moet die hemel dan wel wees, wat ons na die dood van die liggaam en na die opstanding op die Jongste Dag te wagte staan! Tussen die matte lewe in die liggaam en die heerlike opstanding lê wel `n baie lang, lewelose, duistere nag, maar ek sien dit as volg: as iemand nou, lewend in sy liggaam, `n hele nag moet wakkerbly, hoe lank moet dit dan nie vir hom duur nie. Maar as die mens die hele lange nag heerlik deurslaap, dan kom die môre dikwels vir hom nog te vinnig op. En so dink ek dat die lang nag ons op die dag van die opstanding nie te lank sal voorkom nie. Die goeie God het immers alles op Sy beste ingerig, sodat die mense wat hulle aan Sy gebooie hou en die volste vertroue in Hom het, tot geluk en die grootste heil strek.”
[11] Ook Ons Griek was dit met die mening van die ou Josef eens, maar hy vra My tog wat Ek daarop te sê gehad het.
[12] En Ek sê: “Ja, ja, dit is wel egte mooi en wys klinkende woorde! Dit was `n baie goeie beeld; maar die enigste vervelende daarvan is dat dit nie so waar is as wat dit klink wanneer dit so mooi en plegtig uitgespreek word nie. Maar noudat Ek tog by julle is, - waarom vra julle My dan nie hoe dit met die lewe van die siel na die dood van die liggaam sal gaan nie? Ek sal dit tog beter weet as julle! Maar Ek weet niks van `n byna eeulange doodsnag van die siel na die afval van die liggaam nie; op die oomblik dat die swaar lyf van jou sal afval, sal jy jou ook dadelik in die opstanding bevind en verder lewe en werk in ewigheid, dit wil sê, as jy hierdie wêreld as `n regverdige mens in God se oë sal verlaat.
[13] Sterf jy egter as `n onregverdige mens in God se oë, dan sal daar wel `n baie lang nag tussen die dood van jou liggaam en jou ware opstanding volg - dit is egter nie so dat jy nie daarvan bewus sal wees nie, die siel is wel daarvan bewus, - en dit sal `n egte en langdurige dood van die siel wees. Want `n dood waarvan die siel geen kennis het nie, sou ook geen egte dood vir haar wees nie; maar die dood waarvan sy van haarself bewus sal wees in die ryk van die onsuiwer geeste, sal `n groot pyn en kwelling vir haar wees. Sien, so sal dit gaan! En noudat julle dit weet, moet julle `n volgende keer duideliker en meer volgens die waarheid dink en spreek; en waarvan julle niks weet nie, moet julle My vra, sodat julle nie deur julle woorde tot allerlei verkeerde denkbeelde verval nie! Onthou dit alles goed!”
[14] Daarop sê die Griek: “Ja, so is dit en so moet dit ook wees, en nooit as te nimmer kan dit anders wees nie! Maar noudat ons hier so `n heerlik uitsig geniet en dit kennelik alleen gesien word deur ons lewende en voelende siele, deur die oë van die liggaam soos deur `n paar rame van haar tydelik lewend wandelende huis, wat ons liggaam noem, en omdat die siel self daaroor nadink en met volle teue geniet van die heerlikheid, is dit tog die vraag of die siel ook na die afval van die liggaam hierdie wêreld en haar skoonheid sal kan sien en beoordeel, dit wil sê, as sy haarself êrens op hierdie aardbodem sou bevind. - Goddelike jongeling, wat se opheldering kan jy vir ons daaroor gee?”
[15] Ek sê: “Die siel van `n volkome en regverdige mens sal nie net met een enkele oogopslag hierdie hele aarde deur en deur en geheel en al kan sien en oor alles uiters helder en volledig kan oordeel nie, maar oor nog eindeloos baie meer; want hierdie aarde is nie die enigste in die eindelose skeppingsruimte nie, maar daar is nog eindeloos baie meer, en ook sulkes wat baie groter is en netso veel ooreenkomstige is daar ook in die ryk van die suiwer geeste.
[16] Maar daarvan kan `n mens eers `n duidelike voorstelling kry, as hy dit van God se Gees in die hart van sy siel verneem en oorgegaan het tot `n meer omvattende beskouing.
[17] Kortom, die volkome siel kan alles; maar die onvolkome siel, wat geestelik blind is, sal niks anders kan sien as die leë en wesenlose voortbrengsels van haar ydele fantasie nie. Maar as `n siel dan ook in die ander lewe, sonder liggaam, in haarself sal keer en haar moontlikerwys sal verbeter, sal sy daardeur ook oorgaan tot `n helderder beskouing in groter waarheid, - maar wel langs `n weg wat langer sal duur en baie moeiliker is as hier. En nou weet julle ook wat dit betref die mees noodsaaklike; glo dat dit so is en nie anders nie en hou julle by die gebooie, dan sal julle volkome word in julle siel!”
[18] Toe sê die Griek nog: “Dit glo ek nou ook vas, sonder enige twyfel, en ek is daarvan oortuig dat dit so is; maar by ons Grieke ontbreek dit nog aan `n regte en ware voorstelling van die gestalte en vorm van `n siel. Sou Jy ons ook daaroor miskien nog iets kan sê?”
[19] Ek sê: “Ja seker, wat goed is vir julle, doen Ek altyd graag! Sien, die siel het dieselfde gestalte en vorm as haar liggaam, slegs in `n baie meer volkome mate. Hier is egter slegs sprake van `n volkome siel. Sy het alles wat haar liggaam het, maar natuurlik en vanselfsprekend vir baie ander doeleindes. Maar haar geestelike liggaam is geen materie nie, maar pure substansie.
[20] En die substansie is netsoos die lig wat van die son kom, wat ten opsigte van die materie heeltemal niks blyk te wees nie en tog die grondstof van die materie is, sonder om daarmee een en dieselfde te wees; want alle oerstof is vry en ongebonde. En so weet julle nou ook hoe dit is.
[21] En sodat julle vir julle `n nog duideliker beeld daarvan kan vorm, wys Ek julle daarop dat julle jul verskynings herinner van oorlede mense, wat julle meermale op bepaalde oomblikke gesien en selfs mee gepraat het. Sien hulle anders daaruit as tydens hulle lewe?”
[22] Die Griek sê: “Ja, ja, nou besef ek eers heeltemal dat jy in alles die volle waarheid gespreek het! Ek het al baie dikwels sulke verskynings gehad, het selfs met verskillende oorledenes gepraat en is selfs oor baie dinge deur hulle onderrig, en ek het hulle nooit anders gesien as in `n volmaakte menslike gestalte nie. Ek dank Jou daarom vir hierdie uiteensetting.”
[23] Ook Josef en Jakobus gee My dieselfde getuienis, wat dieselfde Jakobus nou hier as My leerling kan bevestig.
[24] Omdat die son tydens My onderrig ondergegaan het, verlaat Ons almal bly en opgewek die mooi hoogte en begewe Ons Onsself na die huis van die Griek, waar daar reeds `n goed toebereide aandmaaltyd op Ons gewag het, wat Ons dan ook met `n goeie eetlus tot Ons neem; daarna begewe Ons Onsself dadelik ter ruste, waar veral Josef al `n groot behoefte aan gehad het.”
|
|
|
|
|