Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 157

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Waaruit werklike berou en boetedoening bestaan

157 (Die Heer): “Wie aan My sê: “Heer, Heer!”, is nog ver van die ware Godsryk; wie egter in My glo en doen wat Ek hom geleer het om te doen, sal bereik wat hom belowe en getoon is, en sal eers deur die optrede in homself gewaar word dat die woorde wat Ek gespreek het, geen woorde van `n mens is nie, maar waarlik goddelike woorde is; want My woorde is in sigself liefde, lig, krag en lewe. My woorde sê julle duidelik wat My wil is. Wie My wil in homself opneem en daarvolgens handel, sal in homself die ewige lewe hê en sal verder bly lewe ook al sou hy, as dit moontlik was, liggaamlik vele honderde male sterf.

[2] As julle dan so ernstig van plan is om so vinnig moontlik ten minste die eerste graad van innerlike lewensvervolmaking te bereik, gaan dan huistoe, verdeel julle oorbodige groot skatte onder die vele armes, en kom dan hierheen en volg My, dan sal julle daardeur die vir julle nog baie lang, verre weg na God se ryk sterk verkort! As julle My volg, moet julle egter net so eenvoudig gekleed wees soos Ek en al My egte leerlinge. Jy het geen stok nodig en in jou rok en mantel geen sake nie, maar jy het alleen `n gewillige en oop hart nodig, vir al die ander sal die Vader in die hemel goed sorg!”

[3] By die advies begin die twee fariseërs en ook die twee leviete opmerklik suur te kyk, en die een fariseër sê: “Majesteit en Heer, ek sien wel in dat U baie korrek en waar gespreek het; maar daarby tog dat ons vroue en kinders het, waar ons eers `n bepaalde reëling voor moet tref en wat ons van die hoogs nodige moet voorsien! Sodra ons dit so vinnig moontlik gereël het, sal ons ons oorvloed wel onder die armes verdeel en U dan met `n blye hart volg.”

[4] Ek sê: “Is julle vroue en kinders dan beter as al die weduwees en wese wat julle hulle hele huis en goed afgeneem en in die grootste nood en ellende gestort het? As hulle nou elke dag hard moet werk om hulle karige brood te verdien, terwyl julle vroue en kinders hulle in onregmatig verkreë weelde baai en bowendien van hoogmoedigheid nie weet wat hulle moet doen en veragtelik in die rigting spu waar `n arm weduwee met haar halfnaakte en deur honger uitgeteerde kinders vir `n karige loon werk en wie se besittings julle jul op die mees onregverdige en liefdelose wyse toegeëien het, - dan sou dit tog nie onregverdig wees as julle trotse, oormoedige vroue en kinders op hierdie wêreld ook eens honger sou ly nie, en daardeur tot die vir hulle siel baie weldadige besef sou kom hoe aangenaam dit wel was vir die arme weduwees en wese, na wie hulle so gereeld gespu het, en wat hulle hawelose gepeupel genoem het, dat ternouernood werd was om deur die son beskyn te word!

[5] Maar Ek wil nie dat julle jul op een of ander wyse deur My genoodsaak voel om dit te doen nie; want julle wil is net so vry as die van Myne; maar omdat julle My om raad gevra het wat julle moes doen om julle innerlike lewensvervolmaking vinniger te bereik, het Ek julle ook `n volkome korrekte en waaragtige raad gegee.

[6] Ek het julle immers al vantevore gesê dat `n belofte gee veel makliker is as die hou daarvan. En Ek voeg nog daaraan toe: Wie terwille van My Naam nie huis, akker, vrou en kind kan verlaat nie, is My ook nog lank nie werd nie; en wie sy hande aan die ploeg van God se ryk lê, maar daarby nog omkyk na die dinge van die wêreld, is nog lank nie geskik vir die ryk van God nie! Dit weet julle nou; doen wat julle wil!”

[7] Die fariseër sê: “Maar, Majesteit en Heer, kyk nou eens, Lasarus wat `n egte vriend van U is en ook Nikodemus en Josef van Arimatea, hulle is seker nog veel ryker mense as ons! Waarom vra U dan nie van hulle wat U van ons verlang nie?”

[8] Ek sê: “Tussen hulle en julle besittings is `n groot en hemelsbreë verskil! Hulle goedere is `n volkome regverdige besit. Dit is regverdige besittings van hulle stam, en die waarlik koninklike groot skatte wat hulle bevat, is die resultaat van ware en tog baie onselfsugtige vlyt, en van seën uit die hemel. Tewens is die drie genoemdes nou bykans die enigste ondersteuners van die vele duisende wat deur julle goddelose handelinge en gedrag arm en ellendig geword het. Hulle is dus nog die egte saakwaarnemers van God op aarde oor die aardse goedere wat aan hulle toevertrou is, en hulle sien hulle goedere ook nie anders as wat dit is nie, `n geskenk van bo, wat hulle ter versorging van die vele armes moet beheer en onderhou.

[9] Is dit dalk ook met julle bymekaar geroofde goedere die geval? Sulke mense kon selfs nog veel meer besit het, en dit sou ook op die mees regverdige en God welgevallige manier moontlik gewees het, as julle hulle nie deur allerlei lis en bedrog en ook met geweld ruim die helfte afgeneem het nie. Julle het julleself daarmee vetgemes, en hulle moes menige arme daardeur kariger bedeel. Was dit dalk ook `n God welgevallige handeling van julle, en kon God ooit die besittings van julle seën? Ja, die seën van die hel rus daarop, maar God se seën beslis nie; want as God se seën daarop sou rus, sou Ek julle dit wel die beste kan meedeel!

[10] Vergelyk julle daarom asseblief nie met hierdie drie en ook nie met die hoë Romeine daar nie, wat ook baie ryk is, maar hulle rykdom is geregverdig! En ook hulle is weldoeners vir vele duisende en hulle het `n oorvloed aan seën van bo, hoewel hulle heidene is; maar hulle staan as sodanig God onnoemlik nader as julle as Judeërs.

[11] Oor sulke wêrelds ryk mense soos wat julle is, sê Ek in My volle goddelike mag en krag aan julle dieselfde as wat Ek aan `n ryk man gesê het, wat baie soos julle gelyk het: Gemakliker gaan `n kameel deur die oog van `n naald as dat so `n ryke God se ryk binnegaan! - Het julle dit nou gehoor?”

[12] Toe sê die fariseërs: “O Majesteit en Heer, ons besef nou maar al te goed die waarheid van U woorde, en ons het by onsself ook reeds volledig besluit om U raad presies op te volg; maar ons vra U, om ons daarvoor die nodige krag en die ware moed te gee! Want nou eers begin ons goed te besef, hoe moeilik dit is vir `n siel, wat eenmaal deur die krag van die hel gegryp was, om haarself uit sy mag te bevry. As U, o almagtige Majesteit en Heer, `n gevangene nie gaan help nie, dan sal hy vir ewig gevange bly!”

[13] Ek sê: “Ja sekerlik, dit het julle goed gesê; daarom moet julle elke onregverdige penning aan diegene vergoed wat julle daarvoor bedrieg het! Want as julle dit nie doen nie, kan julle nie binnegaan in die ryk van God nie, en netsoos julle kan ook niemand anders dit doen nie.

[14] Maar omdat julle aan baie van diegene wat julle bedrieg het, hulle toegebringde skade onmoontlik meer kan vergoed, kan julle alles wat julle het met goeie wil en met `n goeie hart onder die armes verdeel, en wees daarby nie bang vir die wêreld nie, dan sal julle jul vele sonde kwytgeskeld word, en dan mag julle kom en My volg! Waar Ek sal wees, sal julle baie maklik te wete kom, as dit julle erns is om My te volg. Dit sal julle wel veel stryd kos; maar wie regverdig en verstandig stry, oorwin ook sekerlik, en `n sekere oorwinning is tog ook altyd die stryd werd.

[15] Nou het Ek julle alles gesê wat julle te doen staan, en julle kan julle nooit verontskuldig deur te sê dat julle dit nie geweet het nie. Vanaf nou kom dit op julle wil en julle wysheid aan.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205