Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 175

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Uitleg van die derde hoofstuk van Jesaja. Die situasie in `n geordende gemeente

175 (Die Heer): “Ook in die volgende hoofstuk geld die voorspelling vir nou en vir die komende tye waaroor Ek spreek.

[2] Die eerste vers van die profeet het `n diepe betekenis en lui aldus: “Kyk, die Heer, JaHWeH Sebaot sal uit Jerusalem allerlei voorrade wegneem, en eweneens uit heel Juda, die hele voorraad brood en die hele voorraad water!”(Jesaja 3:1)

[3] Onder “Jerusalem” moet hier die teenswoordige Judeërdom begryp word netsoos dit nou is en reeds lank daarvoor ook al was; onder “Juda” moet egter die toekomstige generasies verstaan word, wat dan deur die aanneem van My leer tot die stam van Juda gereken word. Hulle sal deur hulle groot traagheid in `n nog veel grotere mate dieselfde lot ondergaan as die Judeërs nou in mindere mate.

[4] Onder die wegneem van die broodvoorraad, moet jy die wegneem van die liefde en erbarming verstaan, en onder die wegneem van die watervoorraad, die wegneem van die ware wysheid uit God, en die gevolg daarvan sal wees dat hulle almal op `n dwaalspoor sal raak en hulle siel haar in duisternis sal bevind en dat niemand `n ander raad sal kan gee nie; en ook al sou iemand `n ander raad gee, dan sal diegene, wat raad en lig nodig het, hom tog nie vertrou nie en sê: “Wat praat jy met my oor die lig, terwyl jy jou in dieselfde duisternis bevind as ek!” Dat die mense dan deur hulle eie skuld as gevolg van hulle traagheid volledig hulpeloos sal wees, beskryf die profeet noukeurig met die volgende woorde:

[5] “So sal van hulle weggeneem word sterkes en krygsliede, regters, profete, waarsêers en oudstes (Jesaja 3:2); raadsliede en wyse werkliede en knap redenaars en hoofliede oor vyftig, en ook eerlike mense (Jesaja 3:3).”

[6] Ek noem hier met opset die hoofliede en die eerlike mense die laaste, in plaas van aan die begin van die derde vers, en daarvoor het Ek My rede. Luister nou na die uitleg!

[7] Wie is dan die sterkes en die krygsliede? Dit is sulke mense netsoos Dawid eens was, vol geloof en vertroue op My, en die krygsliede is die mense wat hulle deur die geloof en die vertroue in die Ene volledig laat besiel, om altyd alle vyande van die goeie en ware uit God, ook al is dit daar nog so veel, te oorwin.

[8] Wanneer `n volledige gebrek aan die lewende water uit die hemel by die mense ingetree het en alle vlees met sy siel in die dikste duisternis is, wie sal dan by die mense as `n ware en regverdige regter optree? Wie sal die gawe van die profesie hê? En mag iemand dit nog vir homself besit, wie sal hom dan sonder innerlike begrip glo dat dit so is?! Wie sal vir die geestelike blinde en - dowe kan profeteer? En wie sal deur die duistere mensdom, vanweë sy uitmuntende wysheid, tot `n ware oudste verkies word om hom tot herder te maak? Begryp dit nou goed!

[9] Iemand aan wie brood en water in geestelike sin ontneem is, is alles kwyt daardeur; want wie deur God met geestelike blindheid gestraf en getugtig word, is die ergste gestraf en getugtig. Want daardeur is hy alles kwyt, en hy is volledig radeloos en hulpeloos. Dit is dan ook wel die uiterste middel waarmee die traagheid van die mense, wat te veel die oorhand gekry het, en al hulle ondeugde, steeds die beste bestry kan word.

[10] Dat die mense hulle egter deur die wegneem van die geestelike brood en water werklik in die grootste ellende sal bevind, en wat hulle daardeur nog alles ontneem is, lê die profeet nog verder uit in die derde vers, waar hy uitdruklik sê: “Die mense sal daardeur die raadsliede of raadgewers en wyse werkliede in alle takke van menslike behoeftes moet mis, dus ook verstandige sprekers, wat anders met hulle wysheid veel goeds tot stand sou gebring het.

[11] Die ergste van dit alles is egter die wegneem van die, sê maar, vyftig hoofliede wat tewens plaasvind! Wie is die vyftig en wat het die getal vyftig hier te beteken? Dit sal ons nou dadelik gaan insien.

[12] As Ons Onsself `n groot en volkome geordende gemeenskap van mense voorstel, dan het die, as hulle in alles goed versorg wil wees, van oudsher in totaal vyftig hoofgebiede gehad waarop hulle in haar lewensbehoeftes moet voorsien. Wat daar bo-uit gaan, geld reeds as hovaardig en alles wat minder is, geld as swakheid, gebrek en armsaligheid. Om egter elke afsonderlike tak van hierdie lewensbehoeftes doelmatig te kan versorg en benut, moet daar ook `n kundige hoofman as voorman en leier aan die hoof staan, wat van A tot Z op die hoogte is van alles wat noodsaaklik is in die hele bestel; as dit nie daar is nie en daar `n ondeskundige op sy plek staan, dan sal hierdie tak van lewensbehoeftes weldra slegte of selfs heeltemal geen vrugte meer dra vir die gemeenskap nie.

[13] Hoe sal `n groot gemeente dan kan bestaan as sy deur haar traagheid en nalatigheid ten slotte al vyftig hoofliede kwyt is? Ek sê julle: Op dieselfde wyse as die groot gemeenskap van Judeërs van nou, waar slegs bepaalde diewe en rowers nog iets besit en hulle ten koste van die armes vetmes en verryk, maar waar duisende in die diepste armoede hulpeloos versmag. Want waar is die wyse hoofman wat vir hulle sou sorg en hulle op een of ander manier in `n bepaalde bedryfstak arbeid en brood gee? Kyk, op baie gebiede ontbreek `n hoof, en sodoende is ook al die ander nie aanwesig nie! Daar is nou nog wel bepaalde hoofliede om verskillende gebiede te lei, maar dit doen hulle nie vir die volk nie, maar vir hulleself, en daarom is dit slegs diewe en rowers en geen egte hoofliede netsoos ten tyde van My Rigters nie.

[14] Julle het nou gesien hoe die uiterlike en innerlike welsyn van die mense van `n groot gemeente afhang van die hoofleiers op die verskillende gebiede van lewensbehoeftes; maar van wie hang dan in die eerste plek die korrekte instelling van die genoemde hoofleiers in `n groot gemeenskap van mense af, in `n land wat deur `n vors of koning geregeer word? Sien, maar net van `n wyse koning!

[15] Maar wat sê ons profeet dan, wat JaHWeH nog met die lui, godvergete gemeentes sal doen?

[16] Luister, sy woorde lui verder as volg: “Ek, spreek JaHWeH, sal hulle jongelinge tot vorste gee, en onnoseles sal oor hulle heers! (Jesaja 3:4) En onder die volk sal die een mens die ander uitsuig, elkeen selfs sy naaste, en die jonge sal hom trots verhef bo die ou en `n niksnutte, oneerlike man bo `n eerlike!”(Jesaja 3:5)

[17] Die woorde van die profeet is hier op sigself so helder en duidelik dat sy geen verdere uitleg nodig het nie; Ek kan julle maar net op die groot en duidelik baie slegte gevolge wys, hoewel dit ook maklik vanself te vinde is. As in `n land by so `n verwarring eenmaal alle lewensverhoudings in die grootste wanorde geraak het en deur die nood alle mense van `n gemeenskap baie ontevrede word, dan volg ook die een niks ontsiende opstand na die ander. Die volk ontwaak en staan op en jaag vorste en selfsugtige hoofliede op die vlug of wurg hulle selfs. En dit bedoel mens as mens sê: “Die een volk trek op teen die ander.”

[18] Want danksy sy trae aard laat die mens elke druk toe, solank hy in sy blindheid sy maag nog maar kan vul, met watter maer kos dan ook; maar as ook dit eenmaal ophou en hy niks anders as die hongerdood voor oë het nie, dan ontwaak hy en word soos `n hongerige woedende hiëna. En sover moet dit kom, sodat die mensdom wakker kan word."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205