Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 100

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die ware weg tot God

100 RafaEl sê: “Kyk, nou het jy eers die volle waarheid gepraat en God as die ewige Waarheid met die volle waarheid gesoek, en ek kan julle nou al sê dat julle Hom nog nooit so naby benader het as nou nie! Maar daar is nog baie in julle wat vir die volledige vind van die een, ware God nie deug nie, en solank julle die swart vlek nie in julle opmerk en nie vind en dit nie verwyder nie, kan julle die Verborgene nog steeds nie vind nie, hoe naby Hy ook aan julle is.”

[2] Die towenaar sê: “En wat is die swart vlek dan?”

[3] RafaEl sê: “Dit is julle priesterlike hoogmoed. Want wee diegene uit die volk wat julle ontmoet en sonder om erg daarin te hê om julle te groet, terwyl julle hom wel gesien het. Dit word hom dadelik as `n groot misdaad aangereken, en daarvoor moet hy `n swaar boetedoening ondergaan, wat uit `n swaar, gereelde huiwering­wekkende liggaamlike kastyding bestaan of, as hy ryk is, uit ander groot offers, wat dikwels by julle tot in die ongelooflike gaan! En kyk, dit is `n baie growwe swart vlek! Solank dit by julle gebruiklik is en bly, sal God Hom nie deur julle laat vind nie, want slegs mense wat in hulle siel poog om aan Hom gelyk te word of min of meer aan Hom gelyk is, kan God vind.

[4] Maar om gelyk aan God te wees beteken: word vol liefde vir jou medemens, en laat jou hart vol deemoed, sagmoedigheid, geduld en ontferming wees ten opsigte van elkeen, dan sal God Hom ook oor jou ontferm en Hom in die Gees van Sy liefde en ewige waarheid deur jou laat vind.

[5] As julle God maar net in en met die enigste waarheid soek, sal julle Hom wel nader, maar Sy eintlike Wese nie aanskou en nog minder begryp nie; soek julle God egter in die suiwer liefde, deemoed, sagmoedigheid, geduld en ontferming, dan sal julle God vind, Hom herken en die ewige lewe van julle siel ontvang.

[6] In die land en by die volk was daar eens `n groot profeet, vol van God se Gees. Lig en Waarheid was sy weë, en die Krag van God het in elk van sy woorde gelê. Deur `n besondere beskikking van God moes hy op `n keer na `n ver land vlug, omdat die mense in sy eie land hom wou doodmaak. In die vreemde land moes hy in `n spelonk van `n hoë berg woon, wat hom vir die blikke van die mense verberg het. Toe hy al geruime tyd in die spelonk gewoon het, waarin hy hom met allerlei wortels gevoed het, bid hy tot God of Hy Hom slegs één keer aan hom sou laat toon, dan sou hy met vreugde in die spelonk sterf.

[7] Toe hoor hy `n Stem, wat aan hom sê: “Gaan by die ingang van die spelonk staan, want daar sal Ek verbygaan!”

[8] Toe gaan die profeet by die ingang staan en wag tot God sou verbykom. En kyk, toe die profeet so staan en wag, kom daar `n geweldige storm, wat so kragtig langs die grot geloei het dat hele rotsmassas soos kaf voor hom uitgestoot het!

[9] Toe dink die profeet: “A, dit was dus God! God bevind Hom dus in die geweldige storm en maak Hom so aan die mense kenbaar!”

[10] Maar dadelik sê `n Stem aan hom: “Jy vergis jou! In die storm was God nie. Wag maar, God kom nog wel verby!”

[11] Toe wag die profeet. En sien, nie lank na die storm nie trek daar `n geweldige vlammepilaar, dus `n magtige vuur, langs die grot, en die profeet sê: “God, U openbaar U dus in die vuur aan ons mense?”

[12] En weer spreek `n duidelike Stem: “Nee, ook in die vuur gaan God nie langs die grot nie! Maar wag! Nou sal God eers verby kom!”

[13] En die profeet wag met angs en bewing. Terwyl hy so wag, trek `n sagte geruis langs die ingang van die spelonk, en in die sagte geruis was God.

[14] En die Stem spreek weer: “Wie God wil sien, moet Hom in die liefde, die deemoed, die sagmoedigheid, die geduld en die ontferming soek; wie Hom êrens anders en met ander middele en op ander weë soek, sal God nie vind nie!”

[15] En kyk, wat die Stem aan die groot profeet in die spelonk gesê het, sê ek nou ook aan julle, en ek het julle die ware weg gewys! As julle die enigste, ware God langs hierdie weg soek, dan sal julle Hom ook vind, maar langs julle weë nooit. Dit sê ek vir julle! - Het julle dit begryp?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205