Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 5

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die bevryding van die slawe

5 Op die oomblik gee Ek weer aan RafaEl `n teken om die gevangenes te bevry en hulle was oombliklik vry en volledig gekleed, terwyl hulle voorheen naak was. Hierdie skielike bevryding van die jong slawe, veroorsaak egter om begryplike redes `n ongekende groot sensasie en die leier van die handelaars, wat sy oë nie kon glo nie, gaan na hulle toe en voel met sy hande aan die nou goed geklede slawe en ontdek dat hulle kleding uit volkome egte kledingstof vervaardig was en dat dit werklik sy eie slawe was.

[2] Toe hef hy sy hande omhoog en sê (die slawehandelaar): “Eers nou besef ek duidelik dat julle waarlik in die hande van gode is! Maar vra julle hulle ook om julle barmhartig te wees! Sodra julle egter heeltemal gelukkig is, dink dan aan julle ouers tuis, wat in `n onbarmhartige land woon en met veel moeite en arbeid moet sorg vir die karige, skrale kos van hulle liggame en in armoedige en baie erbarmlike hutte van leem en strooi moet woon! Vergaar allerlei kennis en kom dan weer na ons toe, sodat dit deur julle dan ook by ons lig en goed sal word, want van nou af aan moet daar geen mense meer uit ons lande weggevoer en verkoop word nie!”

[3] Toe wend Hibram hom tot RafaEl, oor wie se skoonheid en teerheid hy hom steeds maar bly verwonder en sê: “O onbegryplike, seldsame, mooie jong man! Is jy dan ook `n God, dat jy so-iets wonderbaarlik kon doen? Hoe kon jy die bande, waarmee hierdie slawe gebonde was, so vinnig losmaak en waar kry jy al die kosbare klere vir die seuns en die meisies vandaan?”

[4] RafaEl sê: “Ek is geen God nie, maar slegs deur die barmhartigheid van God, Sy dienaar! Ek kan uit myself net so weinig doen as jy, maar as die almagtige wil van God my deurdring, kan ek alles doen en dan is niks vir my onmoontlik nie. Wat is jy egter van plan om met die tweehonderd slawe wat jy nog tuis het, te doen, omdat hulle nog nie voldoende vetgemes is vir die handel nie?”

[5] Hibram sê: “Weet jy dit ook al, almagtige jong man?! Wat kan ek nou anders doen as om hulle op te voed tot nuttige en goeie mense en hulle verder as my eie kinders te beskou! Vir jou wil ek egter vra of jy my ook vir hulle sal klere verskaf, wat ek dan vir hulle sal saamneem.”

[6] RafaEl sê: “Dit is nou nog nie nodig nie, maar wanneer jy oor enkele dae van hier af sal vertrek en opreg sal bly, sal jy en jou metgeselle tuis alles goed aantref wat julle sal nodig hê.”

[7] Dit stel Hibram volkome tevrede en sy metgeselle eweneens, en almal bedank hom en nog meer vir My, die Heer, want al hierdie handelaars besef nou dat Ek alleen die Majesteit was. Daarna dink hulle egter aan die taamlike groot aantal waens en karre - wat natuurlik nie te vergelyk was met die waens uit hierdie tyd nie - en die al baie vermoeide trekdiere.

[8] En Hibram sê aan RafaEl: “Almagtige wonderbaarlike jongman! Waar sal ons nou ons waens, karre en trekdiere onderbring en die voer vandaan kry?”

[9] RafaEl sê: “Daar, binne die muur wat om hierdie berg heen loop, wat die eiendom van die man is wat nou met die Heer praat, staan `n aantal hutte en stalle, en ook `n voorraad voer vir julle trekdiere, daar kan julle al julle spul goed onderbring.”

[10] Daarmee was die handelaar Hibram heel tevrede en sy knegte versorg sy waens, karre en diere.

[11] Ek sê: “Omdat die werk nou ook goed beëindig is, sal Ons almal weer die berg opgaan, want die bevryde slawe moet eers met spys en drank versterk word. En, Hibram, as jy alles in orde het, kom dan ook met jou metgeselle en knegte, en gebruik as My gaste ook spys en drank!”

[12] Daarmee was almal uitermate tevrede en die bevryde slawe wis van blydskap nie wat hulle moes doen nie. Almal wou nou na My toe kom en My bedank. Omdat hulle egter vanweë hulle groot aantal nie tegelyk die ruimte daarvoor gehad het nie, stel hulle hulleself heel ordelik op in `n kring om My heen en vra My in hulle taal of Ek na hulle wil kyk en luister. Toe kyk Ek hulle almal vriendelik aan en gee hulle `n teken dat hulle nou kon praat.

[13] Daarop sê hulle diep ontroerd (die slawe): “O goeie Vader! Ons dank U dat U ons gered het en ons harde boeie losgemaak het. Ons het niks om dit U ooit te vergeld nie; maar ons wil U in die vervolg dien asof ons U voete, hande, oë, ore, neus en mond is. O, laat U ook deur ons liefhê, goeie Vader! Bly voortaan `n Vader vir ons in U goedheid en liefde, en verlaat ons nooit!”

[14] Daarop omarm Ek almal in die kring één vir één en druk elkeen aan My bors en spreek daarby die woorde: “Vrede sy met jou, My seun, My dogter!”

[15] Toe huil alle tenger, blondgelokte jong seuns en die nog teerder en heel lieftallige jong meisies en hulle bevogtig My hande en voete met hulle vreugdetrane.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205