Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 132

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die Heer en die bedelares

132 In die omgewing van Emmaus kom Ons weer `n bedelares tegemoet, wat baie erbarmlik begin te roep, net toe sy ons sien, dat sy `n baie arm weduwee was en moeder van twee kinders, wat sy op haar arms moeisaam, van plek na plek, moes saamdra om tog maar voldoende aalmoese te kry om die hoogs noodsaaklike voedsel te kan koop vir haarself en die twee kinders en dat ons haar tog asseblief nie met leë hande verder sal laat gaan nie.

[2] Ek sê aan haar: “Maar waarom skreeu jy tog so onbedaarlik? Ons is immers nie doof nie en kan ook wel iets vir jou doen as jy dit meer beskeie en stiller vra!”

[3] Die vrou sê: “Heer, dit het ek wel gedoen; maar by die meeste mense het die hart nou kliphard en doof geword en hulle let nie meer op die beskeidenheid van die armoede nie. Slegs met veel lawaai slaag dit soms nog om van iemand `n karige aalmoes te kry, en dit is die rede waarom ek U ook so luidkeels gevra het.”

[4] Ek sê: “Jy is werklik arm en daarom wys Ek jou ook nie af nie, maar wat my nie geval nie, is dat jy eerder bedel as dat jy werk. Want sien, jy is nog lank geen dertig jaar nie, jy is sterk en gesond en sou nog goed kan werk om vir jou en jou tweeling brood te verdien; maar die bedel geval jou beter as die werk, en daarom het jy jou baie goed ingeleef in jou beroep om van die gewone wêreldse mense `n aalmoes los te kry. Maar vir My geld hierdie manier om armoede te demonstreer nie, net die helder waarheid geld. Bowendien moet Ek jou nog iets sê!”

[5] Die vrou sê: “Nou, beste Vriend, ek sou egter nie weet wat Jy my nog meer wou sê nie!”

[6] Ek sê met `n vriendelik ernstige stem: “O beste vrou, nog van alles en selfs baie! Ek wil jou wel help as jy jou lewe verbeter en nie meer sondig nie, - doen jy dit egter nie, dan help Ek jou ook nie! Ook al sou jy nog honderdmaal harder skreeu as wat jy hierdie keer geskreeu het, sal Ek jou tog nooit meer aanhoor nie! Begryp goed wat Ek jou nou gaan sê!

[7] Kyk, jy dra `n bondel op jou rug! Wat is daarin verborge? Wel, daarin bewaar jy `n pragtige jurk van Persiese sy, wat jou `n pond suiwer silwer gekos het toe jy nog vermoënd was! As jy in `n herberg kom, lê jy die tweeling te slaap, daarna trek jy jou mooi jurk aan, dan lyk jy soos `n baie aantreklike en goed gevormde vrou en probeer jouself as vreemdeling aan iemand verkoop. Sodra die nuwe dag dan aanbreek, lyk jy weer net soos nou, en roep jy na alle mense vir `n aalmoes. Sê nou self of dit voor God en die mense ooit kan reg wees! Nog veroordeel Ek jou egter nie daaroor nie, maar Ek vra jou na jou eie mening. Spreek! Wat het jy vir My te sê daarop?”

[8] Deur hierdie woorde van My word die onbeskaamde bedelares heeltemal verleë, en sy wis nie wat sy daarop moes antwoord nie.

[9] Na `n oomblik, waarin sy die kalmte herwin in haar nogal ligsinnige gemoed, sê sy (die bedelares): “Maar, Heer, ek het U nog nooit êrens gesien of gespreek nie! Hoe kan U dit weet? Dit moet `n paar van U geheime speurders oorgebring het! Ja, ja, helaas het U gelyk; maar wat kan `n arm verlate weduwee daaraan doen as sy haar in haar nood af en toe met sake inlaat, wat inderdaad nie teenoor God in orde kan wees nie? Maar daarom is die arm weduwee wat ek is nog lank nie sleg nie; kyk maar eers na die vroue van die fariseërs, van die skrifgeleerdes en ook selfs van die Leviete, wat almal tog altyd rein moet wees, dan sal U baie ander redes vind om hulle tereg te wys as vir my, wat gereeld dermate deur die nood gepla word dat U vir Uself nie maklik `n voorstelling daarvan kan vorm nie! Origens gee ek openlik toe dat U die volle waarheid oor my gesê het; maar help my, dan sal ek nooit meer my toevlug neem tot sulke ellendige maniere om in my onderhoud te voorsien nie! Vriend, teregwys en straf is maklik; maar help wil niemand nie!”

[10] Ek sê: “Regtig, Ek wil jou nie teregwys nie en nog minder straf, hoewel Ek baie goed die mag daartoe sou hê; maar jou fout is dat die bietjie swaarder werk jou nie so goedgesind is as `n meer liederlike en doellose lewe nie! En dit is veral die oorsaak daarvan dat jy nou so arm en behoeftig is, en daarop het Ek jou gewys, sodat jy jou lewe ernstig sal verbeter; want God help nie sulke besluitelose harte nie. Het jy God nog nooit eers ernstig en vol vertroue gevra of Hy jou nie wil help nie?”

[11] Die bedelares sê: “Ag, Vriend, hou tog op met die dowe en onbarmhartige God van die Judeërs; want mense netsoos ons sal liewer deur `n klip verhoor word as deur U God! Wanneer ek om `n aalmoes roep, dan merk die mense my nog tenminste op, ook al is hulle hoe onbarmhartig, en hulle gee my bietjie geld vir iets te ete; maar U God is immers dower as `n klip!”

[12] Ek sê: “O, verseker nie, dit is God beslis nie; maar jy het God nog nooit goed geken nie, jy het nie in Hom geglo nie en Hom glad nooit liefgehad nie, en daarom het jy jou ook nog nooit ernstig met `n regte vraag na Hom toe gewend om jou uit die nood te help nie. Maar God het juis die nood oor jou laat kom, sodat jy in hierdie nood vir God sal soek; en waar jy dit die minste verwag, kom God jou tegemoet om jou waaragtig te help, - en tog sê jy dat God harder en dower is as `n klip!

[13] Sien, daarmee doen jy God `n onreg aan, en tog veroordeel Hy jou nie daarvoor nie, maar wil Hy jou help, na liggaam en siel, sodat ook jou siel nie vir altyd te gronde sal gaan nie!

[14] Toe jy nog ongehuud was en jou ouers nog geleef het, was jy `n brawe en ook baie gelowige, godvresende kind, en God en jou ouers het `n ware vreugde in jou beleef. Jy het volwasse geword en `n baie brawe man vra jou ten huwelik en neem jou tot vrou. Maar as vrou was jy maar al te gou nie meer wat jy voorheen as meisie was nie.

[15] Jy het nie van jou man gehou nie, jy het ook hard teen jou ouers geword en hulle verwyt dat hulle jou aan `n man gegee het van wie jy nie kon hou nie. Daardeur word jou ouers, wat tog al oud en siek was, so deur verdriet verteer dat hulle sterf. Toe word jy nog onvriendeliker teen jou man, sodat hy daardeur ook sieklik word, aan die drink raak, daardeur ook verarm, siek word en sterf, en daardeur het jy `n arme weduwee geword.

[16] Hierdie armoede, waaronder jy gebuk gaan, het God oor jou laat kom, omdat jy jou ten eerste nie aan God se gebod gehou het nie, wat die kinders opdra om hulle ouers te eer en lief te hê, sodat hulle lank sal lewe en dit met hulle goed sal gaan op aarde, en ten tweede omdat jy die brawe man, wat jy deur jou ouers gekry het, nie liefgehad het nie en hom die een bittere uur na die ander besorg het.

[17] Sedertdien het nou `n jaar verstryk, en jy het nog nie daaraan gedink om jou foute in te sien en berou daaroor te hê nie en vir God om vergewing daarvoor te vra nie. En tog sê jy dat God harder en dower is as `n klip, en Hom nie ontferm oor `n mens nie, ook al bid hy hoe aanhoudend tot Hom. - Wel, wat dink jy nou van God se onbarmhartigheid?”

[18] Heel berouvol sê die bedelares: “Heer, wie U ookal mag wees, God het U werklik op my pad gebring! U het my oë geopen en ek weet nou wat ek sal doen: die miserabele kledingstuk in my bondel sal ek verkoop en vir daardie geld `n boetekleed koop; want as ek nie eers vir my sondes geboet het nie, kan God geen vraag van my verhoor nie!”

[19] Ek sê: “Die boetekleed sal jou sondes nie wegneem nie; maar jou syjurk kan jy wel verkoop en brood daarvoor koop. Jou bedelkleed is in meerdere opsigte al `n boetekleed; hê maar daarin berou en laat toekomstige sondes staan, dan sal ook jou oue, wat jy nie meer ongedaan kan maak nie, jou wel deur God vergewe word!”

[20] Die bedelares sê: “Vriend, sê my nou ook wie U is, dat U my lewensloop so presies ken! Sê my daarby ook wat ek moet doen, sodat my sondes deur God vergewe kan word! Is U dalk `n priester of `n profeet of dalk selfs `n Esseen, van wie mense sê dat hulle van elke mens wat na hulle toe kom presies weet wat hulle gedoen het, en dat hulle die mense ook van alle sondes vryspreek, siekes genees en selfs dooies kan opwek? Dit sou ek graag wil weet, om U die eer te kan bewys wat u toekom!”

[21] Ek sê: “Dit het Ek nie nodig nie! Doen jy maar wat Ek jou aangeraai het, dan sal jy My daardeur die beste eer, wie Ek dan ookal is! En gaan nou weer in vrede verder!”

[22] Toe bedank sy My vir die les; vervolgens gee ons Agricola en ook die drie towenaars haar `n aalmoes en sy gaan verder na Jerusalem. Ons gaan egter ook verder en kom naby die mure van Emmaus.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205