|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 181
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Terugkeer na die Olyfberg
181 Ek sê nou aan Nikodemus: “Gister op die Olyfberg het Ek jou belowe om jou hier `n helder lig te gee oor die sondvloed van Noag, en dit sal dan ook gebeur. My RafaEl sal dit vir julle uitlê, terwyl Ek intussen `n bietjie gaan rus.”
[2] Hierop kom RafaEl na vore en verklaar die vloed op dieselfde manier as wat Ek hom (nota bene!) in My “Huishouding” aan julle uitgelê het. Almal was baie verbaas daaroor.
[3] Toe RafaEl na `n uur klaar was met die beskrywing van die sondvloed van Noag, waaroor alle aanwesiges - netsoos reeds gesê - baie verwonder was, sê Ek: “Luister, dit is nou byna middernag en tyd om op te breek! Laat Ons daarom op pad gaan na die Olyfberg; want nou rus die oë van Ons vyande, sodat Ons Onsself ongesiens na die stad kan begeef! Laat Ons egter nie almal tegelyk gaan nie, maar liewer bietjie versprei en ook moet niemand onderweg iets sê nie; want toe dit donker begin te word het die tempel vanweë My spioene daarop uitgestuur, maar ook omdat daar twee fariseërs en twee leviete nog nie teruggekeer het nie. Maar die spioene vrees nou dat hulle vannag iets ergs kan oorkom. Daarom sal hulle niemand aanspreek nie, ook nie as daar iemand in hulle omgewing kom nie, maar natuurlik alleen as hy swyg. As daar twee met mekaar praat, sou hulle dadelik merk of iemand `n Jood uit Jerusalem is of `n Griek, Galileër of Romein. Dan sou hulle na hom toe kom om te vra waar hy in die middel van die nag vandaan kom. Laat Ons daarom ook hierdie klein versigtigheid nie uit die oog verloor nie!”
[4] Die Opper-Egiptenaar sê: “Majesteit en Heer! As ook ons met U saam mag gaan, staan U ons dan asseblief toe dat ons vooruit loop, dan sal die boosaardige spioene vir ons op die vlug slaan, netsoos `n haas, wat agterna gesit word deur jaghonde. Ons sal lug van hulle kry en met `n vaart op hulle af hardloop, sodat hulle op die vlug sal slaan. Want hulle sal ons verseker as duiwels beskou vanweë ons donkerbruin gesigte, wat daar nou in die maanlig heeltemal swart uitsien! Of as dit mag wees dat hulle ons iets wil aandoen, dan doen ons met hulle dieselfde as wat beide vooraanstaande Romeine Agrippa en Laius ,volgens wat hulle sê, in ons land oorgekom het. Ons nael hulle sewe dae lank vas aan die grond waar hulle op staan, of so lank as U heilige wil ons dit gebied.”
[5] Ek sê: “My liewe vriende, wat julle nou vir My wil doen, sou Ek ook Self kan doen as dit goed en nodig sou wees, netsoos Ek dit en nog vele ander dinge ook al gedoen het as dit goed en noodsaaklik was. Maar in die geval sou dit nóg goed nóg nodig wees en daarom laat Ons dit agterweë en gaan hier weg netsoos Ek dit al vroeër bepaal het! Maar omdat ook beide Romeine, wat hier in Emmaus woon, My na die Olyfberg begelei, kan ook julle vannag en môre by Ons bly. Netsoos julle wel weet, is dit môre by die Judeërs `n hoë feesdag en Ekself sal môre weer in die tempel onderrig gee. Die dag daarna kan julle weer met die Romeine huiswaarts trek.”
[6] Die Opper-Egiptenare bedank My vir hierdie wenk en tree terug.
[7] Ek verhef My en sê: “Wie met My wil saamgaan moet opstaan en saamgaan!”
[8] Almal staan op, behalwe die vrou en die kinders van Nikodemus; die sou ook wel graag wou saamgegaan het, maar hulle was gesê dat hulle hier moes bly. Ek gaan vooruit en almal volg My.
[9] Op die plein vra Agricola My nog na die jongeres.
[10] En Ek sê: “Wees nou stil; hulle is op aanwysing van My dienaar al ter plaatse, jy sal hulle almal op die Olyfberg aantref!”
[11] Vanaf daardie oomblik af loop ons vinnig dog baie stil deur na die Olyfberg.
[12] Na `n kort halfuur bevind Ons Ons al in die omgewing van Jerusalem, waar Ons `n paar wagters aantref. Maar die laat ons rustig verby loop; want Ons was nie `n te groot groep nie en hulle beskou Ons as Romeine en Grieke, waar hulle in geen geval mee in konflik wil kom nie. Dié gevolgtrekking maak hulle, omdat Ons groepsgewys aankom en geen woord met mekaar wissel nie, wat ook gebruiklik was by die patrollerende Romeinse wagters. Spoedig bereik Ons die poort van die tuinmuur en `n kort tyd later ook die herberg op die Olyfberg; Ons gaan dadelik na die groot eetsaal, wat volop verlig op Ons wag.
[13] Die herbergier van Lasarus se herberg vra My of hy spyse en drank moes laat opdien.
[14] Ek sê: “Dit is nie goed vir `n mens as hy om hierdie tyd voedsel tot hom neem nie; want ook die ingewande van `n mens het rus nodig. Maar sorg môre vir `n maaltyd!”
[15] Hiermee was die herbergier tevrede en gaan na Lasarus om hom `n groot som geld te oorhandig, wat hy op die dag ontvang het; hy sê vir hom dat die grootste deel daarvan betaal was deur die slawehandelaars wat inmiddels vertrek het.
[16] Toe sê Lasarus: “Maar van hulle moes jy tog niks aangeneem het nie!”
[17] Die herbergier sê: “Beste vriend, dit wou ek ook nie - ek het immers geweet dat hulle by jou as vriende en gaste was; - maar hulle sê: “Ons het hier die grootste lewensskatte ontvang, wat met geen goud van die wêreld te betaal is nie. Hoe sou ons kan toelaat dat ons en ons knegte bowendien nog vry gehou word?! Hier, neem nou maar gerus hierdie kleinigheid vir jou meester en vir jouself!”
[18] Toe lê hulle hierdie sewe sakke vol louter swaar goudstukke op die tafel en verdwyn baie vinnig. Ek kon toe natuurlik niks anders doen as om dit vir jou te bewaar nie. En die paar honderd silwerstukke hier het ek van ander gaste ontvang; want daar het vinnig baie gaste gekom, vir die grootste deel vreemdelinge, wat baie gebruik en goed betaal het. Sommiges wou hier oornag; maar ek het my verontskuldig deur hulle waarheidsgetrou te vertel dat ek al `n paar honderd gaste verwag, wat oordag slegs `n uitstappie na Emmaus gemaak het, maar teen die aand weer sou terugkom. Slegs `n ou, vermoeide pelgrim het ek hier gehou en ek het in my kamer `n slaapplek vir hom klaargemaak.
[19] Vanmiddag was hier onder andere ook die vrou, wat die hooggeplaasde Romeine eers hiernatoe gebring het. Sy het hier geëet en gedrink en verneem toe baie belangstellend na die Majesteit en Heer. Sy het tien silwerlinge daarvoor betaal. Maar ek vertrou hierdie persoon nie, omdat sy bes moontlik `n spioen van die tempel kon gewees het, omdat dit maar al te bekend is dat dergelike liederlike persone hulle vir geld vir almal laat gebruik en daarom het ek haar ook nie vertel waar die Majesteit en Heer heengegaan het nie.
[20] Dit het hierdie persoon kennelik so teleurgestel, dat sy hier nie te hore gekry het waar haar Verlosser heengegaan het nie, dat sy gehuil het en ekself in tweestryd gekom het of ek haar tog nog sou sê waar Hy hom bevind. Maar toe skiet hierdie goeie gedagte my skielik te binne: “Jy is óf wel `n omkoopbare en korrupte persoon óf jy is `n uiters vervelende dweepster, - die indruk het sy al die eerste aand hier gemaak, - en die Majesteit en Heer kan jou nog in die een nog in die ander geval gebruik!”, en daarom het ek haar dan ook niks vertel nie. Maar ek sê haar welgemeend die volgende: “As jy werklik so `n groot verlange het na die Majesteit en Heer wat jou genees het, leef dan volgens Sy woord, dan sal Hy, aan wie ook ons mees geheime gedagtes nie onbekend is nie, dit op die regte oomblik wel toelaat dat jy met Hom sal saamkom!” Met hierdie raad was sy dit heeltemal eens en gaan toe weg. En dit is dan ook alles wat daar hier tydens jou afwesigheid afgespeel het en wat van enige betekenis was. Sê my nou of ek wel korrek gehandel het in al hierdie gevalle!”
[21] Lasarus sê: “Vriend, netsoos altyd, het jy ook nou korrek gehandel, en ek dink ook dat ons aller Vriend, Majesteit en Heer netso tevrede oor jou sal wees as ek; en hierdie paar honderd munte en silwerlinge kan jy self hou vir jou moeite!”
[22] Die herbergier sê: “Vriend, ek kry tog al te veel loon van jou om daar boonop nog iets te moet aanneem; maar omdat ek weet dat elkeen van jou uitsprake so goed as `n egte eed is, moet ek die geld wel aanneem! Maar vir myself neem ek dit sekerlik nie; want ek sal wel weet om `n aantal behoeftige afnemers daarvoor te vind.”
[23] Hier gaan Ekself na beide toe en sê, nadat Ek My hande op hulle skouers gelê het: “So hoort dit, My beste vriende! Jy het hier vandag ook geheel binne My gees gehandel! Waarlik, Ek sê vir julle: Jy, My Jordan, is saam met ons broer Lasarus vir My meer werd as honderd lande vol ongeregtigheid en eieliefde!
[24] Waarlik, as Ek hier nie enkele manne gevind het netsoos julle nie, en julle aan die hoof daarvan, sou Ek nie op hierdie plek vertoef het nie! Wandel so verder op My pad, dan sal Ek netsoos nou nie slegs julle Majesteit en Heer wees nie, maar julle ware broer in eie persoon en wat My toebehoort van ewigheid, sal ook van julle wees, vir altyd!
[25] O, was alle mense tog netsoos julle, dan sou dit daar op aarde baie anders uitsien! Maar die traagheid van die mense is die ou vangnet van die Satan, waarin hulle hulle gewillig laat vang tot hulle ewige verderf. En tog kon die mense nie volkomener geskape word as wat hulle is nie! Hulle het verstand, insig, `n volledig vrye wil en `n gewete wat hulle altyd waarsku, en oral en te alle tye deur My gewekte manne en lerare, wat baie aktief is en `n netso groot wysheid het as die engele. Maar hulle genotsug en traagheid trek hulle voortdurend af van al die regte, ware en goeie. En so val hulle ten offer aan die ryk van die verderf, en kan niks anders hulle help as die een oordeel na die ander en die een straf na die ander nie. En selfs dit help maar net `n uiters klein minderheid.
[26] Waarlik, die hele aarde sou nooit `n slegte en mislik oes gehad het as die mense maar enigsins soos julle was nie. Maar in die hele land van die Judeërs, is daar nou geen duisend wat geheel is netsoos hulle behoort te wees nie. Maar ook terwille van hierdie duisend sal Ek die land nie teister met `n algehele plaag nie. Die goeie sal altyd in soverre van elke plaag verskoon bly as hulle self waaragtig goed is; maar vir sover hulle op een of ander manier meedoen met die wêreld, sal hulle ook deel hê aan die besoekings van die wêreld.
[27] Glo My, dit gee My waarlik geen vreugde as Ek toelaat dat die trae mense op aarde reëlmatig met duisend en één plae geteister word nie! Maar dit kan nou eenmaal nie anders nie; want as `n meester sy altyd slaperige en trae knegte nie byna daagliks vir die nodige werk sou wek nie, sou dit daar met sy oes en sy opbrengste sleg en baie maer uitsien. Slegs die inspannings van die meester, wat bestaan uit die op tyd wakker maak van sy vele knegte en arbeiders, strek homself en ook hulle tot voordeel. Maar diegene wat hulle verstop om te kan deurslaap en nie hoef te werk nie, hulle het dit dan ook aan hulleself te wyte wanneer hulle ten gronde gaan.
[28] Laat daarom almal wat julle ten dienste staan, altyd wakker en aktief wees in alles wat reg, waar en goed is, dan het julle vir My goeie saad uitgesaai, wat ons as oes honderdvoudige vrug sal oplewer en `n groot deel van die oes sal ewig julle deel wees!
[29] Omdat dit nou egter al laat in die nag geword het, moet Ons Ons liggame tot môre die nodige rus gee; want ofskoon die dag van môre `n Sabbat is, sal dit weer baie van Ons kragte verg!”
[30] Daarmee was alle aanwesiges dit volledig eens; hulle begewe hulle na hulle slaapplekke. Ek egter bly die hele verdere nag nog sittend in My leunstoel rus.
|
|
|
|
|