Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 116

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die vraag na die waarheid

116 Nou antwoord Ek: “O ja, kom maar nader! Ook al is hierdie nag ietwat donker, Ons sal mekaar hopelik ook in die nag bietjie beter leer ken! Wat het jy dan eintlik aan My te vra? Wat wil jy nog meer weet as wat daardie jong uitsiende dienaar van My vir jou gesê en laat sien het? Spreek, - maar gebruik nie veel woorde nie!”

[2] Die towenaar sê: “U is wis en seker `n groot en wyse Man. U het my in die saal opgeval en my hart het deur U aanblik so ontroerd en tot U aangetrek geword, dat ek myself baie in toom moes hou om nie baie ongemanierd op U toe te snel en U met alle geweld aan my hart te druk nie. Dit was `n gevoel wat ek nog nooit voorheen gehad het nie en daarom wil ek U vra, waarom ek en ook my twee metgeselle so sterk deur U aangetrek word, terwyl ons U lieftallige dienaar tog baie gelykmoedig kon bewonder. O beste Man, los die raaisel tog vir ons op!”

[3] Ek sê: “Die lig wek die lig, die liefde wek die liefde, en die lewe die lewe; want `n dode kan geen dode opwek en `n blinde kan geen leidsman van blindes wees nie. Dit is die oorsaak van dit wat jy deur My gevoel het. Al die ander sal julle later nog te hore kry.”

[4] Hierdie woorde maak `n diep indruk op die drietal. Hulle swyg en dink by hulleself diep daaroor na; maar Ons kyk rustig verder na die verskynsel in die suide.

[5] Na `n tyd wat die towenaar diep nagedink het oor die woorde wat hy van My gehoor het, sê hy aan sy twee metgeselle: “Luister, hy moet `n baie wyse Man wees; want Hy sê met `n paar woorde so verskriklik baie, dat jy vele jare lank daaroor sou kon nadink en spreek. O, as Hy ons nog eens `n paar sulke woorde sou wil sê, hoe gelukkig sou ons dan wees nie! Maar Hy skyn netsoos alle groot wyses `n Man van weinig woorde te wees; want meestal vind hulle die vraag wat ons hulle stel, as mense wat nog nie so wys is nie, te onnosel en te bekrompe, ook al skyn dit volgens ons begrippe baie verstandig te wees. Maar Hy sê tog self dat die liefde weer liefde opwek, en ons het Hom nou al baie lief en daarom sal ek Hom tog nog iets vra, voor ons na ons herberg gaan.”

[6] Daarmee was die twee ander dit eens, en die towenaar kom weer na My toe en sê: “O beste, wyse Man, omdat ek uit U woorde begryp het dat U baie wys is, kon ek die innerlike drang van my hart nie langer weerstaan nie, om U met nog `n vraag lastig te val; want U sê immers dat die liefde weer liefde opwek en ek lei daaruit af dat U ons liefhet en U liefde vir ons het dan ook seker ons innige liefde vir U opgewek, omdat ons U andersins nie so kon liefhê soos wat U ons liefhet nie! As U ons egter liefhet netsoos ook ons U liefhet, sal U nie vir ons kwaadword, as ek U nog met `n klein vraag lastig val nie?!”

[7] Ek sê: “O, sekerlik nie; want julle het nog tyd genoeg om My iets te vra, en julle het ook genoeg tyd om na My te luister, netsoos ook Ek tyd het om julle te antwoord. Daarom kan jy wel `n vraag stel, dan sal Ek jou op My eie manier antwoord.

[8] Vra egter dinge wat `n egte mens waardig is! Want `n mens is besorg en bekommer hom gereeld baie; maar daar is maar één ding wat hy nodig het, en daardie een is die waarheid. As die mens alles sou besit en die waarheid ontbreek hom, dan sou hy tog nog die armste wese van die wêreld wees.

[9] Laat die mens daarom vóór alles die waarheid soek, wat die egte ryk van God op aarde is! As hy daardie ryk gevind het, dan het hy daarmee ook alles gevind. Vra jy dus niks anders as die waarheid nie, want net dit het julle nodig!”

[10] Die towenaar sê toe: “Ja, edele, wyse Man, U het baie waar en wys gespreek! Die waarheid in alle dinge en sfere is werklik die hoogste goed van die mens wat nadink en van sy eie bestaan bewus is. Elke gemis voel die denker en soeker veel minder as die baie betreurenswaardige gebrek aan waarheid. Maar waar vind hy die?

[11] Ons het die waarheid al ruim dertig jaar gesoek, en eers hier het ons op haar spoor gekom, maar het haar nog steeds nie in haar volle lig gevind nie. Daarom vra ek U, wat die waarheid reeds in haar volheid skyn te gevind het: Wat is die waarheid, waar is sy, en waar vind ons haar?

[12] Die mens wat weinig of gereeld heeltemal niks dink nie, is natuurlik vinnig bevredig; want hy neem ook die leuen as waarheid aan. Hy glo, en sy blinde geloof maak hom tevrede en salig. Maar met die denkende en soekende mens is dit baie anders gestel. Hy kan nie blindelings glo nie. Hy moet lig hê om te sien en die waarheid te vat, as die lewe iets vir hom moet beteken; want sonder volledige bewyse van die waarheid is die denker en soeker die ellendigste wese op die hele wêreld, ellendiger as `n in die stof vertrapte en kronkelende wurm, wat beslis nouliks sal voel dat hy bestaan.

[13] Ons is denkers en soekers en ons voel baie ellendig omdat ons nie die waarheid kan vind nie. Omdat ons egter hier deur die jong, wyse en werklik goddelik magtige mens die waarheid opgespoor het, en U ons ook daarop gewys het, dat ons maar net besorg moet wees oor - en ons moet bekommer oor die waarheid, en dat ons alles sou besit as ons die waarheid sou besit, stel ons tog nog éénmaal die vraag en sê netsoos vroeër: Wat is die waarheid, waar is sy en waar vind ons haar?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205