|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 58
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Siel en liggaam. Toestand van `n verwêreldlikte siel aan die anderkant. Die maan en sy bewoners
58 Nikodemus sê: “O Heer, hierdie barmhartige vrae van U gee self al die antwoord volgens die gevoel van elke mens; want in die vraag self lê al die duidelike antwoord en dit sou daarom oorbodig wees om `n antwoord daarop te gee. Ek lei daaruit af dat U daarmee maar net allerbarmhartig wil aangee dat `n volmaakte siel na die aflegging van die liggaam U hele skepping in `n eindeloos helderder lig sal sien as wat ooit in die liggaamlike lewe vir haar moontlik sou gewees het, en ook dat so `n siel alles wat sy beleef en op aarde mee- en deurgemaak het, veel duideliker in haar herinnering sal bewaar as wat sy ooit in haar liggaam sou kon. - O Heer, het ek nou goed geantwoord?”
[2] Ek sê: “Volkome, en Ek sal julle ook die rede daarvan laat sien, sodat niemand mettertyd sal sê: “Ja, Hy, die Waaragtige, het ons wel beveel om dit te glo, en dit sal alles beslis wel so wees soos wat Hy ons Self geleer het, sonder om vir ons ewenwel die hoe en waarom nader uit te gelê het!” Nee, so wil Ek julle nie leer nie! Want aan julle wil Ek dit immers gee om die geheim van die Ryk van God te begryp. Luister dus na My!
[3] Die liggaam, netsoos dit is, sou as dooie materie niks kon sien, hoor, voel, ruik of proe as daar geen lewende siel in hom was nie. Dit is dus maar net `n noodsaaklik werktuig van die siel, so gebou en goed ingerig, dat die siel dit vir die buitewêreld kan gebruik. Sy kan dus deur middel van die liggaam na buite kyk, hoor en onaangename of aangename dinge gewaarword. Sy kan van die een plek na die ander gaan en met die hande allerlei werk verrig.
[4] Die bestuurder van die liggaamsdele is die verstand van die hart en sy wil, want die liggaam self het nóg `n verstand nóg `n wil, tensy die siel deur haar wêreldse en wellustige luste self in die vleeslike oorgaan en haar dan so baie met haar vlees vereenselwig, dat sy die bewussyn van haar geestelike “ek” verloor. Natuurlik het haar hele verstand en haar wil dan ook volledig vleeslik geword. In daardie geval is die siel dan byna so goed as heeltemal dood, en dan klink dit vir haar soos volstrekte nonsens, wanneer sy iets hoor oor `n suiwer geestelike selfstandigheid en oor `n geestelike lewe na die dood van die liggaam.
[5] Maar selfs so `n vleeslike siel sterf eintlik nie nadat sy die liggaam met veel pyn verlaat het nie, maar leef verder in die geesteswêreld; daardie voortlewe is dan net so power as haar besef en haar selfbewussyn in `n suiwer geestelike sfeer. Wel nou, so `n siel leef dan weliswaar verder aan die anderkant, maar slegs soos in `n ietwat helderder droom en weet dikwels nie dat sy ooit eens op `n tyd in `n ander wêreld geleef het nie, maar sy leef en handel volgens haar eie sinlikheid. En as sy deur ligter geeste, wat hulleself aan haar kenbaar maak, vermaan en onderrig word oor die feit dat sy haar nou in `n ander en geestelike wêreld bevind, dan glo sy dit nie en hoon en bespot hulle wat haar die waarheid vertel.
[6] Daar is baie tyd nodig alvorens so `n verwêreldlikte en vervleeslikte siel aan die anderkant tot `n helderder insig kom. As dit egter steeds ligter in haar word, dan keer ook haar herinnering terug na die mate waarin dit ligter in haar word, en dan kan sy ook alles sien, hoor en voel wat op, bo en in die aarde gebeur.
[7] Het `n siel egter reeds hier op hierdie wêreld deur die geestelike wedergeboorte heeltemal volmaak geword en daardeur reeds hier in staat gestel is om die suiwer geestelike en hemelse dinge te sien en duidelik waar te neem, dan kom sy ook in haarself tot die juiste en volledig ware aanskouing van die hele materiële skepping, en weet selfs alles wat daar op die maan en op en in die son gebeur, wat die sterre is en waarvoor hulle geskape is en wat daar alles op en in hulle gevind word.
[8] Wanneer so `n volmaakte siel van haar swaar liggaam verlos is, is haar waarneming volkome gelyk aan die van God, en sy sal dan - as sy dit wil - alsiende, alhorende, alwetend en alvoelend wees. As dit so is, hoe sou sy dan, terwyl sy netsoos God self skepster van haar woonwêreld wees en hoe sal sy ook al haar herinnerings aan die verlede kan verloor?
[9] Omdat jy egter sal sien en nog dieper sal besef dat dit wat Ek nou aan jou gesê het, volledige werklikheid is, sal Ek nou die siele van jou en van nog `n paar aanwesiges vir enkele oomblikke vry maak, dan kan jy in die toestand sê wat jy gesien, gehoor en waargeneem het! - En so is dit!”
[10] Toe word daar verskeie in `n helder magnetiese toestand verplaas, en hulle bevind hulle eers in `n omgewing wat vir hulle onbekend is, wat hulle almal baie goed geval, sodat hulle My vra om hulle nou maar verder in die hemels mooie omgewing te laat; want hulle wil gladnie meer na hierdie aardse wêreld terugkeer nie.
[11] Ek vra hulle egter of hulle ook nie hierdie wêreld kan sien nie.
[12] Almal antwoord toe: “Ja, Heer, maar ons sien haar asof sy agter ons lê, en ons sien haar ook as te ware deur en deur!
[13] Ek vra hulle of hulle die groot stad Rome kan sien.
[14] Almal beaam dit en hulle beskryf alles wat hulle daar sien.
[15] Toe die aanwesige Romeine dit hoor, kom daar geen einde aan hulle verbasing oor die juiste en presiese manier waarop diegene, wat Ek in vervoering gebring het, Rome beskryf nie, hoewel geeneen van hulle ooit in Rome was nie, nóg `n prent van hierdie stad gesien het.
[16] En Ek vra hulle of hulle ook die uiterste ooste van Asië kan sien.
[17] En hulle gee almal antwoord: “Ja, Heer, ons sien ook die uiterste van dié groot wêrelddeel, want verder na die ooste sien ons niks as maar net water en nog eens water met die uitsondering van `n paar eilande! Maar dit is `n groot ryk, en ons sien ook `n verskriklike groot stad wat deur `n muur van goed `n dagreis lank omsluit is, en daarbinne ontelbaar vele mense!”
[18] Ek vra: “Hoe is hulle gekleed?”
[19] Toe beskryf hulle dadelik die kleredrag van hierdie mense presies, en één van die gewese fariseërs, wat later Judese Grieke geword het, verwonder hom uitermate daaroor, omdat hy die geleentheid gehad het om enkele Sjinese in die uiterste ooste van Opper-Indië te sien.
[20] Vervolgens laat Ek hulle `n blik op die maan werp, en hulle beskryf in kort hierdie treurig uitsiende kaal wêreld, waarin hulle behalwe enige groepe treurig uitsiende gryse kabouters, niks sien nie. Daar was geen boom en geen gras en ook geen dier te herken nie.
[21] Daarna bring Ek hulle weer in hulle normale toestand terug waarby hulle die volledige herinnering behou van alles wat hulle gesien het.
[22] Toe hulle hulleself dus weer heeltemal in die natuurlike toestand bevind, sê Nikodemus: “O Heer, dit is tog wel meer as wonderbaarlik! Ons was hier, het vir U en alle ander duidelik gesien, en tog het ons ook alles wat ons beskryf het, baie duidelik en helder gesien, en ek het nou waarlik self ondervind hoe onbeskryflik veel duideliker die sien van die vrye siel is as wanneer die siel met die liggaam verbind is. Maar ons het alles nie net veel duideliker, sowel digby, asook op groot afstand nie, gesien nie, maar ons het ook alles gehoor. En as ons `n boom of `n huis of `n skip op see of ook `n mens of `n dier gesien het, dan het ons dit heeltemal in die natuurlike uiterlike vorm gesien; maar ons het dit ook deur en deur gesien, hoewel dit nie deursigtig was nie.
[23] Ja, by die mense het ons selfs hulle gedagtes gesien, wat eers as klein beeldjies in hulle hart sigbaar word. Wanneer dit net soos `n muggieswerm na hulle koppe opstyg, word hulle ligter en meer gevorm, daal vervolgens weer na die hart terug, word daar groter en duideliker en tree dan weldra buite die sfeer van die mens, word groter en groter en vorm `n egte wêreld om hom heen. Maar by die diere was daar niks van te ontdek nie.
[24] Maar wat is aan die gang met die armsalige maan? Dat dit `n materiële wêreld is, is duidelik, maar so kaal, woes en verlate soos die hoogste top van die berg Ararat! Wie is tog die armsalige klein, gryse kabouters? Hulle het wel so ongeveer `n menslike vorm, maar hulle lyk tog meer soos `n diersoort wat aan dié hemelliggaam behoort, hoewel hulle in `n sekere sin tog eerder geeste as stoflike wesens blyk te wees. Want ek het gesien dat so `n wese hom ineens baie groot gemaak het en dan weer popperig klein. As so `n wese suiwer stoflik sou wees, glo ek nie dat hy sy liggaam so maklik sou kon vergroot en verklein nie. - Dus, Majesteit en Heer, wat is daar met die maan aan die gang?”
[25] Ek sê: “Dit, My vriend, sal jy nog vroeg genoeg te wete kom, en daaroor kan jy gedagtes wissel met My leerlinge, wat van dit alles al baie presies op die hoogte is. Maar Ek wil vir julle nog baie belangriker dinge laat sien en vertel, maar eers na die oggendmaaltyd. Want dadelik sal die dertig Grieke die berg opkom, `n oggendmaaltyd neem, en `n aantal sake met die jong man daar bespreek. Hulle sal vroeër kom, omdat die nagtelike verskynsels hulle ook verontrus het.”
[26] Nikodemus sê: “Baie goed, baie goed, Majesteit en Heer, alleen U wil geskied! Ek sou slegs vooraf nog graag wil weet wie hierdie wonderbaarlik mooi jong man is, waar hy vandaan kom en hoe hy heet.”
[27] Ek sê: “Dit sal jy wel by hierdie geleentheid hoor! Sy naam is RafaEl.”
[28] Nikodemus sê: “So lui tog volgens die ou Skrif die naam van `n aartsengel! Is dit dalk die aartsengel self? As dit so is, sou `n groot vrees my kan oorval! Ja, ja, ek het dit alreeds in die begin gesê!”
[29] Ek sê: “En Ek het jou nie teëgespreek nie, maar jy en julle almal tot nou toe laat sien wat en wie `n engel van God is. Waarom sou jy dan nou angstig word vir hierdie engel, daar jy tog ook voorbestemd is om self `n aartsengel te word? Maar om alle twyfel oor hierdie engel by jou weg te neem, sê Ek vir jou dat hy die gees van Henog is! Sy liggaam is nou My wil. Daarom sê Ek jou immers dat daar in die hemel geen ander aartsengele is en ooit sal wees nie as slegs hulle wat eers vroeër in die vlees op `n wêreld geleef het. Maar nou genoeg daaroor, want daar kom die Grieke al aan! Laat niemand My egter aan hulle bekend maak nie, want dit is nou nog nie hulle tyd om My al Self te leer ken nie!”
[30] Daarop loop Ek `n endjie verder, terwyl die naderende Grieke in die naaste tent `n plek soek. Dat die oggendmaal vir die dertig Grieke al op die tafel in die tent gereed gestaan het, hoef nouliks vermeld te word. Dit word ook weldra deur hulle genuttig.
|
|
|
|
|