Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 173

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Oor die skynbaar onregverdige leiding van die mense

173 Die skrifgeleerde sê: “Ja, Majesteit en Heer, so is die profeet goed te verstaan, en die betekenis is nou vir my duidelik, hoewel mens wel die volgende vraag sou kan stel: waarom laat U, Heer, dit dan toe dat binne twee duisend jaar vanaf nou die mense opnuut so sleg sal word soos wat hulle ten tyde van Noag was? En waarom moet veral die arm mens die meeste ly, en selfs ook nog as hy in alles `n God so welgevallig moontlike lewe lei?

[2] So het ek self eens `n geval meegemaak van `n arm familie wat streng volgens die gebooie van God geleef het en wat `n baie klein stukkie grond besit het; nie ver daarvandaan het `n ryk en vir die wêreld baie aansienlike familie `n groot grondbesit gehad. Hierdie familie was hardvogtig en het nooit aan `n arme `n aalmoes gegee nie, terwyl die arm familie altyd bereidwillig haar weinige brood met die ander armes gedeel het. Op `n warm drukkende dag kom daar `n swaar onweer, en die bliksem tref die hut van die goeie, arm familie, wat hulle op daardie oomblik op `n akker bevind het en daar hulle gars binnegehaal het. Die hut verbrand natuurlik met alles wat daar in was netsoos kleding, voedselvoorrade en die nodige huis- en landbougereedskap. Dieselfde onweer trek egter ook oor die groot behuising van die ryk, onbarmhartige familie; maar daar slaan geen vernietigende bliksem uit die wolke in die huis van die ryk eienaar nie. Waarom word die hardvogtige rykes dan hier ontsien en waarom nie liewer die arme nie?

[3] Sulke dinge gebeur baie gereeld, en die mense kom daardeur maklik tot die geloof dat daar glad geen God bestaan of dat God Hom gladnie oor die mense bekommer nie. En vir my is dit een van die vernaamste redes vir die verval van die geloof. Want elke mens het `n natuurlike regsgevoel wat baie nou verbonde is met die geloof in `n goeie en baie regverdige God. As die gevoel te gereeld en meestal op `n ten hemel skreiende wyse gekwets word, dan word die geloof ook gaandeweg gekwets en aangetas, en dan versink die mensdom langsaam maar seker steeds meer in die nag van die ongeloof en die bygeloof en begin in haar nood oral hulp en troos te soek waar ook maar hulp gebied word, en sy gaan op die manier oor tot afgodery of Stoïsisme.

[4] As die mensdom op hierdie wyse binne `n aantal eeue vir die allergrootste deel so sleg moontlik geword het, dan kom natuurlik wel die een strafgerig na die ander; maar ek vind, dat dit nie nodig sou gewees het as die geloof van die mense nie so gereeld deur bepaalde voorvalle te hard op die proef gestel word nie.

[5] Ek oordeel hier maar net soos `n natuurlike mens; maar netsoos ek nou geoordeel het, oordeel baie mense en hulle word daarby en daardeur maar net erger. - Majesteit en Heer, wat sê U nou daarop?”

[6] Ek sê: “Het jou arm familie na die ongeluk ook steeds ongelukkig gebly, en moes hulle daarna in groot nood en groot ellende verkommer?”

[7] Die skrifgeleerde sê: “Nee, dit nou juis nie; want die ongeluk het die harte van die bure week gemaak, en hulle het die arm familie so veel gegee dat hulle daarna meer gehad het as voor die ongeluk.

[8] Maar daar is ook gevalle waarin `n gesin, wat buite hulle skuld `n keer `n ongeluk oorgekom het, wat ook verder ongelukkig gebly het, - en ook hierdie gereeld voorkomende gevalle is dit eintlik, waardeur volgens my mening, die mensdom veral slegter word. Of het ek dit ook verkeerd beoordeel?”

[9] Ek sê: “Sulke gevalle kom ten eerste baie selde voor, en as hulle voorkom, dan het hulle ten tweede beslis `n wyse rede. By die eerste arm gesin wat jy as voorbeeld gegee het, was die rede vir hulle ongeluk die volgende: hulle hut was al baie bouvallig en sou met `n klein aardbewing ingestort gewees het en sou maklik haar opregte bewoners gedood het. Daarom het die familie al `n aantal keer aan hulle ryk bure gevra om hulle te help, sodat hulle `n nuwe hut kon bou. Maar die bure wou nie. Toe word daar op `n dag toegelaat dat `n bliksem `n einde aan die ou, bouvallige hut maak. Dit maak toe die harte van die bure sagter; hulle bring vinnig `n kapitaaltjie bymekaar, bou `n nuwe klipwoonhut vir die arm familie en voorsien hulle nog so ryklik van allerlei lewensmiddele, dat die arm familie dit na die ongeluk veel beter gehad het as daarvoor, en vervolgens ook vir iemand wat nog armer was, makliker iets kon doen. En daarom was jou vermeende ongeluk vir die opregte arm familie slegs `n egte geluk, wat deur My so voorsien en toegelaat was.

[10] Wat betref die ander beproewings wat die mens as teenspoed oorkom en wat hom dan ook nie meer verlaat nie, daarvan sê Ek dat so `n familie altyd deur hulle eie skuld in die armoede beland het. As hulle dan in hulle armoede stellig, om hulle uit hulle alledaagse traagheid wakker te skud, deur `n nog harder slag getref word, is dit ook weer hulle eie skuld as hulle nog verder volhard in hulle traagheid en dus ook in hulle ongelukkige toestand bly. Die soort mense is dan weliswaar van mening dat God hulle vrae nie verhoor nie, of dat Hy Hom gladnie oor die mense bekommer nie; maar hierdie mense is maar net te traag. Hulle maak geen erns met hulle wêreldse werk nie, en ook nie met die hou van die God se gebooie en hulle lou en sonder vertroue gestelde vrae aan God nie, en hulle word daarom dan ook solank in hulle teenspoed gelaat, totdat hulle deur die steeds sterker drukkende nood uiteindelik tog nog aan die werk gaan en daardeur dan ook gelukkiger word.

[11] Luister, daar was eens in die môreland `n koning van `n groot volk! Die volk word, omdat hulle in `n vrugbare land gewoon het, traag en verarm van jaar tot jaar meer en meer. Toe bedink die koning by homself hoe hy die kwaad kon verhelp.

[12] Hy kry `n goeie ingewing, en hy sê vir homself: “Ek sal die volk groter en swaarder belastings oplê en dit deur my leër met onverbiddelike strengheid laat inbring, en dit net so lank totdat die volk in die algemeen aktiewer word!”

[13] So gedink so gedoen! En sien, in die begin mopper en bekla die volk ontsettend en sou teen die koning, van wie hulle veronderstel het dat hy te hard was, opgestaan het, as hulle maar makliker hulle traagheid kon kwytgeraak het! Die bitter nood bring die volk egter tot groter aktiwiteit. Daardeur word hulle baie gou welgestelder en hulle betaal die koning die geëiste swaar belasting makliker as die geringe belasting voorheen.

[14] Toe die koning na enkele jare merk dat sy volk ywerig en werksaam geword het, stuur hy heroute uit na alle dele van sy ryk en laat `n aansienlike belastingverlaging bekendmaak.

[15] Maar toe sê die oudstes uit die volk: “Ons dank die wyse koning vir hierdie guns, maar vra hom ook tewens om die huidige belasting terwille van die ware welsyn van die volk so te laat; want sodra die volk minder belasting hoef af te dra, sal hulle ook baie gou traer en luier word en uiteindelik die geringe belasting moeiliker kan opbring as die swaar belasting!”

[16] Toe die koning hierdie uitspraak van die oudstes van sy volk hoor, prys hy hulle vir hulle wysheid, en sien hoe sy volk steeds aktiewer en daardeur ook steeds welgestelder en gelukkiger word. En toe die volk van die oudstes hoor, dat die wyse koning hulle maar net sulke swaar belastings opgelê het om hulle aktiewer en gelukkiger te maak, prys hulle die wysheid van die koning en betaal hom vrywillig nog meer as wat hulle moes betaal.

[17] En sien, dit doen Ekself ook met die trae en lui mense! Doen Ek dan iemand `n onreg?”

[18] Die skrifgeleerde sê: “Heer, nou is dit vir my al weer heeltemal duidelik en ek dank U uit die diepte van my hart dat U my verstand so verlig het!

[19] Ek vra U nou egter om die vervolg van die uitleg van Jesaja. Die sesde vers is nog onbegrypliker as die voorgaande vyf; daarom vra ons U dringend om ons nog meer uitleg te gee!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205