|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 229
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Die vreugdemaal by die buurman
229 (Die Heer): “Hierna sê Ek: “Neem julle vier nou die saag en deel elke boom in die lengte presies in vier!”
[2] Joses sê: “Daarvoor sal ons met ons suiwer menslike krag lang tyd nodig hê.”
[3] Daarop sê Ek: “Glo en doen netsoos Ek julle gesê het!”
[4] Hierop neem die viertal die saag, sit hom op die stam en nouliks het hulle daar één keer aan getrek of die stam was al volledig deurgesaag. En so duur dit gladnie lank nie tot die tien groot bome in veertig dele gesaag was.
[5] Toe die werk beëindig was, sê Ek: “Nou hoef julle verder niks meer te doen as om met die byl die boonste dele van die stamme, die krone, weg te neem nie, dan kan Ek die stam so bewerk dat hulle geskik is vir die bou!”
[6] Die viertal gaan daarheen, - één van hulle neem die byl en die drie ander ruim die stukke van die takke op, wat gedeeltelik as brandhout en gedeeltelik as spykers en penne vir die bou te gebruik was. Toe nou ook die werk na `n uur klaar was, neem Ek die byl weer ter hand en maak die veertig stamme reghoekig, so te sê met één slag en so, dat uit die dik stamdele van die wortel twee tot drie goeie balke vir die bou kom en die stukke bas so netjies van die onderste en boonste planke verwyder was, dat hulle so baie goed vir die vloer van die skuur gebruik kon word, en die minder stewige planke vir die dak van die skuur.
[7] Toe Ek met die werk klaar was, wat alles bymekaar ook nie langer as `n uur geduur het nie, lê ons die stamme en die stukke ordelik neer.
[8] En toe die hele werk so in `n paar uur beëindig was, sê Ek aan die buitengewoon verbaasde buurman: “Nou moet jy so gou moontlik al die hout tuis kry; want openlik op straat kan Ek jou nie meer so wonderbaarlik help nie. So sal ook die bou van jou skuur, weliswaar versnel, ook op geheel natuurlike wyse plaasvind; want, netsoos gesê, op `n openbare plek, waar Ons deur alle verbykomende mense bekyk kan word, kan en mag Ek geen wonderwerk doen in verband met hulle ongeloof en hulle verstoktheid en verkeerdheid nie. Sien dus maar toe dat die hout so vinnig moontlik op die regte plek kom, wat jy wel sal weet, omdat jy immers goed weet waar jy die skuur gebou wil hê. En omdat Ons nou klaar is met die werk, kan Ons ook weer huistoe gaan.”
[9] Die buurman sê: “Ja, dit doen ons, en wel met die grootste vreugde in die hart, omdat daar `n werk voltooi is waaroor ek die grootste sorg gehad het. Maar vanaand is Julle almal my gaste. Daar sal onmiddellik `n vet kalf geslag en toeberei word; en daarvoor sal ook elkeen wat in Josef se huis mens genoem word, uitgenooi word. Ook sal my beste wyn die bekers van my gaste vul en ons sal in JaHWeH se Naam vrolik wees tot middel in die nag!”
[10] Ek sê: “Dit is `n goeie gedagte van jou, en dit sal volgens `n ou gebruik vir die bouers gebeur; maar in jou huis lê jou trouste kneg swaar siek op sy bed en daarom is dit `n bietjie ongepas om naas `n swaar sieke opgewek en bly te wees.”
[11] Die buurman sê: “Dit is wel waar, maar die bed van die sieke staan, netsoos dit vir Jou ook nie onbekend sal wees nie, nie in die herehuis nie, maar in die huis wat my vader al so doelmatig vir die personeel laat bou het, en daarom kan Ons in my groot herehuis dus die beste baie vrolik wees, en dit bly dus by my woorde. My wil sal wel ewig nooit die mag verkry wat Joue het nie; maar dié keer moet Jy, my dierbare vriend Jesus, tog ook my wil `n bietjie laat geld!”
[12] Reeds onderweg na die huis sê Ek: “Ja, dit sal Ek ook; want niemand ter wêreld respekteer die vrye wil van die mens soseer as Ek en jy sal nog nie van My meegemaak het dat Ek My ooit teen iemand se wil gekeer het as dit om iets goeds gaan nie, maar wel aan die domheid van so vele mense. En daarom sal Ek, netsoos reeds gesê, hierdie keer netsoos ook altyd, gevolg gee aan jou goeie wil; maar daarvoor moet jy ook iets doen wat Ek nou van jou gaan vra.
[13] Sien, tot nou toe het jy gedink dat jou eerste kneg ook die trouste was! Maar Ek sê vir jou dat jou eerste kneg, aan wie jy alles toevertrou het, nou juis jou mees ontroue kneg was! Hy het ten gunste van sy eie geldbeursie in een jaar se tyd meer as `n honderd mud koring uit jou groot kis geneem en dit in die nag aan verbytrekkende Grieke verkoop en ook soveel gars, giers, lensies en ook steenvrugte. Jy het wel die gewigsverlies opgemerk, maar die dief in die huis het jy nie ontdek nie; jy het gedink dat dit ander was en daarom het jy ook deur Ons `n nuwe stewige kis laat maak, wat goed afgesluit kon word. Maar dit het jou eerste kneg gladnie geval nie en kyk, hy was steeds die baie sluwe en listige oorsaak daarvan dat ons gereeld weke lank opgehou het met die maak van die kis; want hy het Ons meermale werk verskaf, wat ver weg gelê het, om te voorkom dat Ons kon aangaan met die bou van jou kis. Want hy het ingesien dat die nuwe kis nie gunstig sou wees vir sy diewery nie en het daarom so lank as moontlik probeer om die oue te behou. Gistermiddag het hy egter gemerk dat die nuwe kis stellig klaar sou wees. Hy het na die ander buurman gegaan en sy huis aan die brand gesteek, om nog so te verhinder dat Ons die kis gister afgee, omdat hy in die nag nog, ten behoewe van sy eie beursie, aan die Grieke wat bestel het, `n taamlike hoeveelheid graan uit die ou kis wou verkoop.
[14] Maar daarmee het sy bose maat ook vol geword en Ek het by Myself gesê: Slegte man, tot hiertoe en nie verder nie! En as iemand wat baie goed geweet het waarom hy so ywerig deelgeneem het aan die blus, het hy sy verdiende loon gekry. Nou weet jy wat jy aan jou trouste kneg het. Wat gaan jy nou doen?”
[15] Heeltemal uit die veld geslaan sê die buurman: “Maar vriende, waarom het julle dit so lank vir my verswyg? As ek dit maar enigsins kon vermoed het, sou ek hom al lankal oorgelewer het aan die gereg en myself skadeloos gestel het met die geld wat hy vir my graan gekry het.”
[16] Ek sê: “Dit kan ook nou nog, en daar sal jou geen sent ontgaan nie; want jou kneg is `n gierigaard en het al die verkreë geld nog veilig op `n hoop in sy kas opgeberg. Maar nou kom dit daarop neer dat jy eers aan My wil moet voldoen, wanneer jy Ons vandag as gaste wil hê. Jou kneg sal jy behou, Ek sal hom beter maak, maar hom ook sy slegte dade voor oë hou en hom goed waarsku. Dan sal hy met plesier jou geld tot op die laaste sent teruggee en dan sal julle eers `n troue dienaar aan hom hê. Sien, Ek het reeds lankal voorsien dat dit so sou gaan en daarom het Ek jou ook niks gesê nie, totdat Ek gesien het dat die tydstip gekom het dat dit vir jou en vir hom sin sou hê en dit sal ook sekerlik die geval wees. - Is jy hiermee tevrede?”
[17] Die buurman sê: “Wie sou nie daarmee tevrede wees nie? Ek dank jou, my waaragtig van God vervulde Heer en beste, asook regverdige Regter! Daarom sal daar vandag by my `n egte vreugdefees plaasvind en elkeen in my huis sal hom verheug! Oor dit alles sal ek swyg soos die graf en nooit sal iemand te wete kom hoe my kneg teenoor my gehandel het nie!”
[18] Ek sê: “Doen dit, dan sal julle hier en ewig gelukkig wees! Want wie sy grootste vyande van ganser harte kan vergewe, vir hom sal ook deur God alle sondes vergewe word, al is hulle hoe groot.
[19] As Ons jou swaar siek kneg by jou tuis sal besoek, mag daar behalwe jy en Ons, wat nou hier loop, niemand anders by wees nie; maar om te voorkom dat die genesing van die kneg iemand opval, sal Ek hom eers volledig oor agt dae genees. Sit jy, sodra Ons aankom, jou bediendes aan die werk vir die gastemaal, dan sal Ons in die tussentyd die aangeleentheid met die kneg behandel en afwikkel!”
[20] Toe Ons nou by die buurman aankom, gee hy alle aanwysings en ook Ons mense tuis word onmiddellik op hoogte gebring, en My moeder Maria (Maria) kom baie gou met `n paar diensmaagde om ook deel te neem aan die toebereiding van die feesmaal, wat binne `n paar uur gereed was.
[21] In die tyd was Ons met die kneg besig. Hy het alles beken, vra sy meester en Ons om vergewing en oorhandig aan hom al die geld uit die kas met die volle versekering dat hy, wanneer hy weer beter sou wees, sou probeer om alles weer goed te maak deur hard te werk. Die buurman vergeef hom alles en hou hom as eerste kneg in diens.
[22] Daarop gaan Ons na die aandfeesmaaltyd, wat reeds toeberei was, en tot middel in die nag heers daar vreugde.
[23] Sien, dit was die dade wat Ek in My twintigste jaar verrig het, waarmee tot nou toe slegs baie weiniges mee op hoogte was.
[24] Maar dit word nou al aand en daar sal dadelik `n paar verklede fariseërs hier na bo, na die Olyfberg opkom; die sal bedien word!”
Einde van deel sewe
|
|
|
|
|