|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 119
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Die vulkaniese verskynsels in die omgewing van die Dooie See. Agricola sien die voormalige Sodomiete in die geestesryk. Die grade van saligheid van die geeste
119 Die opligting, wat hom so nou en dan voordoen in die omgewing van die Dooie See, word steeds sterker en heftiger en herhaal hom gereelder as in die begin. Dit lyk soos `n ver en sterk weerlig. Dit lewer derhalwe baie stof op wat tot allerlei gesprekke lei.
[2] Lasarus self dag dat hy so-iets nog nooit in die hewigheid gesien het nie; ook die Judese Grieke beweer dit. Die arme knegte en arbeiders, met die nog steeds aanwesige egbreekster en die mooi Helias met haar familie, sê dit ook, en verbaas hulle almal baie oor die verskynsel.
[3] Slegs die Romeine kyk volkome onverskillig daarna en Agricola sê aan My: “Heer, dit sien nie sleg daaruit nie; maar ons brandende berge is tog nog baie anders!”
[4] Ek sê: “O ja, dit is hulle verseker, - maar hulle is nie gedenkwaardiger as die meer nie; want in die meer lê `n groot, treurige geskiedenis van mense begrawe, netsoos in die Kaspiese See, wat aan julle Romeine baie goed bekend is. En daarom is hierdie verskynsels veel gedenkwaardiger as julle brandende berge, wat Ek baie goed ken en waarvan Ek ook wel weet dat daar eers enige desennia (10 jaar) gelede deur die hewige uitbarsting van julle Vesuvius enkele stede heeltemal omgekeer is.
[5] Maar tog is die verskynsel veel gedenkwaardiger; want by dié natuurgeveg is vele duisende mensesiele betrokke, wat deur natuurgeeste meegesleep word in `n vergeefse stryd teen My, terwyl by julle vuurberge slegs die natuurgeeste teen die wette van My orde stry. En kyk, dit is `n groot verskil!
[6] Om jou dit alles nog beter te laat sien, sal Ek binne enkele oomblikke jou innerlike gesig open, dan sal jy baie vreemde dinge te siene kry!”
[7] Op daardie selfde oomblik het Agricola al die tweede gesig en hy roep skielik hardop: “Heer, bevry my van die gesig; want ek sien ontsettend afskuwelike dinge daar! O, wat `n gedaante! Ons denkbeeldige furië is niks vergeleke daarby nie! Die hele meer en die lug tot ver bo die wolke is vol ontelbare, ysingwekkende spookbeelde! O, daar heers `n verwoestende oorlog so onvoorstelbaar gruwelik, soos wat nog nooit by die mense op aarde voorgekom het nie! Wat wil hierdie wesens daarmee bereik?
[8] Ek sien egter `n netso groot aantal wit, ernstige, mooi wesens toesnel, en die monsters vlug vir hulle. Wie is dan die wit menslike gedaantes wat na die allergruwelikste plek hardloop?”
[9] Ek sê: “Die afskuwelike gestaltes is die vroeëre Sodomiete. deur die stryd wat hulle teen My wil voer, word hulle langsamerhand minder hard, en tewens tot groter orde gebring deur die wit geeste wat na hulle toe kom en wat ons geeste van vrede en orde sal noem.
[10] Die wind, wat nou vir jou gevoel baie koel uit die noorde waai, is egter niks anders nie as `n groot aantal wit geeste, waarvoor die woeste, kwade vuurgeeste, wat uit die meer kom, vlug. As jy nou voldoende gesien het, kom dan weer terug in jou natuurlike waaktoestand!”
[11] Op dieselfde oomblik was Agricola weer in sy natuurlike toestand en hy sê aan My: “Heer, Heer, sedert Sodom en Gomorra met die ander tien stede ondergegaan het, het daar seker wel meer as anderhalf-duisend jaar verbygegaan; het die siele wat toe geleef het dan nog nie tot `n beter insig in die ryk van die geeste gekom nie?”
[12] Ek sê: “Ja, My vriend, nou sien jy self `n bietjie hoe moeilik dit is om aan die anderkant `n totaal verdorwe siel sover te verbeter dat sy enigsins tot die insig en besef kom dat sy sleg is en as sodanig nooit vry en salig kan word nie.
[13] As `n siel dit eenmaal sal insien, keer sy haar af van haar vroeëre slegtheid, en begin dit te verag en te verafsku en probeer om innerlik beter te word. Ook al mag sy so nou en dan tog nog in `n ou sonde terugval, dan volhard sy nie daarin nie, maar het berou daaroor en verlang nie daarna om dit weer te begaan nie. So verminder en verkoel die slegte neigings langsamerhand af, en dan word dit ook steeds ligter in so `n siel.
[14] En omdat die wit vredesgeeste wat jy sien in die eerste plek vir die verbetering van die slegte siel sorg, gaan `n siel wat haar lewe verbeter het, eers na hierdie geeste oor om haar daar in geduld en goeie orde en rus te oefen.
[15] Wanneer sy `n sekere vastheid daarin bereik het, kan sy in `n nog beter toestand oorgaan, wat sy egter nie as loon mag sien vir haar verbetering nie, maar as `n baie natuurlike gevolg van haar innerlike orde. Want as een op hierdie wyse baie ongemerk beter geworde siel sou merk dat haar verbeterde toestand haar deur My as loon vir haar innerlike moeite gegee is, netsoos dit volgens waarheid ook is, dan sou die ou selfsug baie gou weer in haar ontwaak. Daarom sou sy nog meer haar beste gaan doen om beter en ligter te word, maar net om vinnig nog meer beloon te word, maar nie om terwille van die goeie, reiner en beter te word nie.
[16] Om hierdie maklik verstaanbare redes verloop die egte verbetering van `n ontaarde siel aan die anderkant werklik baie langsaam. Want wil `n siel bly bestaan, dan mag My almag slegs in soverre op haar inwerk, dat sy in lewensomstandighede beland wat haar as `n noodsaaklike gevolg van haar kwade handelings moet voorkom. En alleen daardeur is dit moontlik om so `n siel in en uit haarself werklik en daadwerklik te verbeter. Of dit nou vroeg of laat gebeur, bly vir My uiteindelik om te ewe, en ook ten opsigte van die ewigheid, waarin alle voorafgaande en toekomstige tye heeltemal gelyk gemaak word, netsoos dit vir My ook geen verskil maak, of `n mens vele duisende jare vroeër of later op hierdie aarde liggaamlik geleef het nie; want in die ewigheid sal die eerste mens van hierdie aarde niks voor hê op diegene wat as laaste op hierdie wêreld gebore is nie.
[17] Maar vir die siel self is dit tog onnoemlik veel beter as haar lewensvervolmaking so vinnig moontlik plaasvind, ten eerste omdat sy dan minder hoef te ly, en ten tweede omdat `n siel wat ywerig is, sonder meer veel voordeel sal hê op `n siel wat traag is, netsoos ook hier op aarde die wandelaar, wat sy wandeling ywerig vele dae vroeër begin het, veel voor het op iemand wat langsaam en traag is en baie lank daaroor dink voordat hy besluit om die wandeling te begin. Terwyl die ywerige al lankal volledig geniet van die groot voordele van sy ywer en vlyt, het die trae nog nouliks die eerste stap gegee op die lang weg wat hy moet gaan, en wat daarby ook nog voortdurend omsien en daaroor nadink of hy ook wel die tweede stap sal gee, of miskien tog nog langer sal tuisbly. Ja, as so `n trae gees, wat niks onderneem nie, dan lank in groot armoede `n gebrekkige en kwynende bestaan ly, terwyl sy ywerige buurman vinnig voor hom uitgaan en belangrike goedere in sy besit kry, dan het die trae beslis geen enkele benydenswaardige voordeel vergeleke met die ywerige nie, maar juis omgekeerd; want wie eenmaal vooraan loop, bly dan ook wel vir ewig vooraan en sal nooit deur die hinkendes wat agter aankom, ingehaal word nie.
[18] Vir Myself maak dit natuurlik nie saak nie - want Ek is en bly die Een wat Ek ewig was, - maar tussen die saligheidsgrade van die geeste sal oneindig groot verskille bestaan. - Begryp jy dit, My vriend?”
|
|
|
|
|