Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 111

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die twyfel van die Indiese towenaar

111 Die hooftowenaar sê: “Ja, begryp het ek dit wel, netsoos my twee metgeselle; maar daar bly daarnaas nog soveel vrae oor as jy jou `n volledige voorstelling wil maak van die hoogste wysheid van die enigste, ware God. Want daar is in die groot natuur naas die vele buitengewoon wys gereëlde dinge ook ander sake, wat op sigself wel wonderbaarlik wys ingerig is, maar wat ten opsigte van die ander dinge gladnie so voor die hand liggend wys en doelmatig is nie.

[2] En kyk, lieftallige jong vriend, deur sulke beskouings word juis die meeste mense mislei wat hulle die meeste met die soeke na `n wyse en almagtige God besig hou, en in plaas van dat hulle God volledig leer ken, vind juis die teendeel plaas. Hulle ontdek naamlik wel `n krag en mag wat homself alles baie wonderbaarlik en kunstig gevorm en ingerig het, maar wat self in `n sekere sin nie in staat is hom rekenskap te gee waarom hy die een en ander op die bepaalde manier gevorm het en waarom byvoorbeeld die een is terwille van die ander!

[3] Ek besef dat dit waarskynlik `n baie nuttelose vraag van my is; maar wie in homself nooit enige twyfel het nie, toon tog klaarblyklik daarmee aan dat dit hom weinig of heeltemal niks kan skeel, of daar `n God is en hoe die daar uitsien, en of die siel van die mens na die dood van die liggaam as `n individu wat van homself bewus is, lewend voortbestaan en hoe en waar.

[4] Maar omdat ek al `n ou soeker is, is ek ook `n ou twyfelaar en daarom vol vrae. En sodoende het ek jou beskrywing oor julle gevaarlike meer, die onderaardse pik- en swaelafsetting, die tydelike ontbranding daarvan en vervolgens die kom van die koue noordewind, wat nou nog hard waai, baie in ooreenstemming gevind met die mag en die wysheid van `n ware en goeie God, netsoos ook alles by die gevaarlike meer baie doelmatig ingestel is, om te sorg dat die uitwaseming nie nadelig word vir die lewende skepsele nie. Dit alles lyk vir my in en op sigself volkome in orde; maar dan rys daar juis oor die gevaarlike meer `n baie ander vraag, wat ons self nooit kan beantwoord nie:

[5] Waarom het die God dan, wat so wys en goed is, eintlik so `n gevaarlike meer geskape? Ons ken baie groot ryke en lande wat sonder `n dergelike meer bestaan. Waarom moet daar juis hier één wees? Waartoe dien die groot onderaardse pik- en swawellae en waarvoor die giftige dampe, waarin geen mense, diere, plante en bome kan lewe nie? Is sulke gevaarlike mere op aarde uiteindelik tog nog êrens goed vir iets en sit daar `n bepaalde wyse bedoeling daaragter, of het hulle maar net toevallig ontstaan en het God vanweë hulle bestaan sulke maatreëls getref, dat hulle vir die ietwat edeler skepsele wat daar in die nabyheid lewe, nie te skadelik word nie?

[6] Sou `n baie wyse en goeie God `n goeie doel dan nie anders as deur `n slegte middel kan bereik nie? Kyk, beste jong, goddelik wyse en magtige vriend, as jy steeds meer daaroor gaan nadink en peins, kom jy uiteindelik dikwels tot baie vreemde gevolgtrekkings!

[7] Jy kan byvoorbeeld sê: `n Goeie God kan niks skep wat sleg is nie; want in heuning is geen bitterheid nie. Dan moet daar dus ook `n kwade antigod wees, wat voortdurend in stryd is met die goeie God, maar hom nooit kan oorwin nie, netsoos ook die goeie God die kwade nie kan oorwin nie. Die goeie God skep voortdurend goeie dinge, die kwade verniel egter altyd die werk van die goeie God.

[8] Maar as jy dit aanneem, is dit treurig om `n skepsel en ekstra treurig om een van homself bewuste mens te wees, omdat hy steeds sy sekere vernietiging voor oë het. Want watter vreugde kan `n lewe en `n bestaan my gee wat ek na `n kort tyd vir ewig sal verloor, en bowendien nog met groot pyn en vol angs en vertwyfeling!

[9] Uiteindelik wil jy dit ook nie aanneem nie en sal jy sê: Daar is glad geen god, óf daar is daar net soveel as wat daar skepsele is, waarby elke god sy skepsele skep en hom oor niks anders bekommer nie; óf daar is glad geen god nie, maar `n natuurkrag, wat, sonder om te weet dat sy bestaan, tog steeds maar deur werk omdat sy deur die omstandighede, wat hulle uit hulleself blind en toevallig ontwikkel het, op `n bepaalde manier moet werk. Netsoos ook die wind heeltemal blind en sonder enige wil en sonder enige verstand waai en van rigting verander, wanneer hy teen `n rotswand stuit, wat hom dan dwing om `n ander rigting te neem. Daardie verskynsel sien mens ook by stroompies en riviere; hulle moet hulle rigting net so gereeld wysig as hulle in hulle blindheid teen voorwerpe stuit, wat hulle dwing om ongewild `n ander rigting te neem.

[10] Een saadkorrel val in goeie aarde en dra ryklik vrugte, terwyl `n netso gesonde saadkorrel in slegte aarde val, daarin wegkwyn en glad geen vrugte oplewer nie. Nóg die saad nóg die grond is bewus van hulle krag en moontlikhede; maar `n bepaalde omstandigheid, wat ook weer deur ander toevallige omstandighede veroorsaak word, het die een bodem vet en die andere maer gemaak en die omstandigheid maak dat `n saadjie goed of sleg gedy.

[11] Dan kan jy ondersoek en dink wat jy wil en oor die hele aardbol ervarings opdoen, en nêrens teen `n bepaalde goedberekende ordening stuit nie, maar slegs op suiwer toevallighede, waarby dan die een die ander veroorsaak.

[12] Wel, deur sulke ondersoekings gaan die godheid by die mens verlore en kan dan nie so maklik weer teruggevind word nie. Jy het waarskynlik volkome gelyk deur te sê dat die mens deur die noukeurige ondersoek van allerlei verskynsels in die groot natuur `n enig ware, wyse en almagtige God kan vind, - dit sal ook wel waar wees; maar as mens as nougesette ondersoeker ten slotte teen dinge stuit wat met goedberekende orde niks te make skyn te hê nie en sodoende die bestaan van `n, - enig ware, wyse, goeie en magtige God ongeloofwaardig maak, netsoos die pik- en swawellaag onder die gevaarlike meer, - wat dan? Dan vriend, kan `n mens hom nie meer self help nie, maar dan moet God hom help, as Hy werklik bestaan; help Hy hom egter nie, dan is Hy daar óf in werklikheid gladnie, óf Hy bekommer hom nie oor die mense nie, óf Hy is nie in staat om sonder bepaalde voorwaarde die mens te help nie, netsoos jy dit daagliks maar uit al te veel ervarings kan opmaak.

[13] Wil jy my nie daarom die rede duidelik maak, waarom daardie gevaarlike meer hom daar bevind nie, dan staan daar vir ons niks in die weg om nog verder oor die tog wel baie belangrike punt met mekaar te spreek nie!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205