Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 60

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die Grieke op pad na die enigste ware God

60 Die Griek sê: “Ja, nou wel, - en ek moet openlik toegee dat dit werklik `n goddelik pragtige instelling is! Maar noudat ons tog aan die praat is, sou ons julle, ware godmense, nog om opheldering wil vra wat die nagtelike ligverskynsel tog kon beteken. Daaroor heers in die stad vandag nog groot opwinding, en die meeste vreemde koopliede het vannag al met hulle voorraad goedere die stad verlaat, omdat hulle nie kon weet wat die verskynsel in die komende tyd uiteindelik tot gevolg sou kon hê nie. Bowendien koop niemand iets nie, en wag elkeen vol angs op die verskriklike dinge wat - veral na aanleiding van die tweede verskynsel - oor hierdie stad en oor die hele Judese land kan losbars. Ja, ook ons sou al lankal daarvandaan gegaan het, as ons julle nie gister van naderby leer ken het nie. Maar ons het aan julle gedink en troos ons met die gedagte dat ons vandag beslis `n bevredigende opheldering van julle af sou kry. En daarom vra ons julle!

[2] Die engel sê: “Kyk na ons en na alle ander mense wat hier is, dan sal julle nêrens enige angs of opwinding sien nie! En waarom nie? Omdat ons maar al te goed weet wat die verskynsel beteken. En ons weet dit omdat ons in die lig van God heldersiende is; die daar benede is egter blind, en daarom sien en begryp hulle niks nie, en hulle groot angs is daarom ook `n baie teregte tugtiging vir hulle eiesinnige blindheid en boosheid.

[3] Die verskynsels beteken vir die goeie maar net goeie dinge, vir die bose egter ook bose dinge, en dus het volgens die verskynsels die goeie die goeie te verwag en kan daarby maklik gemoedelik en opgewek wees. Word julle nou ook goeie mense volgens die leer wat ek julle vandag gegee het, dan sal ook julle hier en aan die anderkant maar net goeie dinge te verwag hê! As julle dit goed begryp het, dan kan julle ook nou al blymoedig en verheug wees en meer het julle voorlopig nie nodig nie; want wat ek julle hier sê, is volkome waar.”

[4] Die woordvoerder sê: “Beminlike en tewens wyse jong vriend! Ons almal dank u by monde van my, want u en die vriendelike herbergier, wat waarskynlik u vader of anders een van u naaste verwante is, het ons gisteraand belowe om ons vandag nader bekend te maak met die enigste ware God, en dit het julle nou ook gedoen, waaroor ons dan ook baie bly is, en waarvoor ons julle nogmaals van ganser harte bedank; ons beloof julle ook met die hand op ons hart dat ons hierdie leer so noukeurig moontlik sal navolg.

[5] Maar nou het ons nog `n vraag en daarna sal ons baie rustig weggaan. Daar benede het julle tog `n tempel waarin, netsoos ons gehoor het, die enigste, alleen ware God van die Judeërs vereer word. Wat is daar met die God? Is iets daarvan ook waar? Is dit dieselfde God wat u ons nou beter laat leer ken het, of is dit ook maar so `n dooie afgod, waarvan ons ook meer as genoeg daarvan het?”

[6] RafaEl sê: “Eens was die enigste ware God in hierdie tempel vereer en Sy gebooie was daar aan die mense gepredik, en diegene wat hulle nie daaraan gehou het nie, was deur God se lerare te verstane gegee, dat hulle hulle lewe moes verbeter en boete moes doen en hulle weer tot God moes wend, van wie hulle hulleself deur hulle sonde afgekeer het. Daarop het die sondaars dit gedoen, en God se barmhartigheid en liefde het weer in hulle teruggekeer; hulle wat dit nie gedoen het nie, was deur God gestraf, deurdat hulle Sy barmhartigheid verloor het - dikwels hulle lewe lank. Hulle moes veel lyding deurstaan, en wanneer die dood ten slotte gekom het, het hulle geen troos gehad nie en het onder groot pyn in groot angs en onder groot verskrikking gesterf. Hulle wat God se gebooie gehou het, het nooit God se barmhartigheid verloor nie, het altyd `n gesonde en blye lewe in God gehad, en die liggaamlike dood was vir hulle niks pynlik nie; nóg angs nóg verskrikkings het daarmee gepaard gegaan.

[7] Maar soos wat dit toe was, is dit nou nie meer nie. Die godsdiens leraars het suiwer wêreldse mense geword. Hulle het die naam van die enigste, ware God nog wel in hulle mond, maar in hulle hart het hulle geen vonkie geloof in Hom en ook geen sprankie liefde tot Hom nie, en daarom is hulle nou netsoos hulle tempel één en al duistere goddeloosheid. Daarom het God hulle in hierdie nag ook aangekondig wat hulle weë van algehele goddeloosheid te verwag het. En daarom het ek julle voorheen gesê dat van hierdie verskynsels die goeie mense slegs die goeie en die bose en goddelose mense maar net die bose te verwag het.

[8] Daar benede lewe, netsoos in die hele land, weliswaar mense wat volgens hulle geboorte ook Judeërs is, maar in hulle geloof en lewenswandel is hulle erger as die mees verstokte heidene, en daarom sal alle barmhartigheid en alle lewenslig van God van hulle weggeneem en aan die heidene gegee word. Daarom vertel ek julle nou ook al die een en ander oor die enigste ware God, en julle mag ook tuis aan julle familielede en vriende vertel wat julle gehoor en gesien het. Oor enkele jare sal bodes deur ons na julle gestuur word, wat julle uitgebreid met die mees duidelike en kragtige waarhede uit God sal bekend maak.

[9] En omdat julle dit nou van my, as bode van God, gehoor het, kan julle nou ook in Naam van die een, alleen ware God in vrede na julle land trek, en as `n storm julle op see oorval, roep dan die enigste ware God om hulp aan, dan sal die storm weldra gaan lê en sal julle op die hele verdere reis geen ongemakke meer te verduur hê nie! En dit moet ook vir julle `n teken wees dat die alleen ware, enigste God met die mag en die krag van Sy Gees oral aanwesig is as Heer oor die hele natuur en oor alle elemente en dat alle natuurkragte onder die mag van Sy almagtige wil staan.”

[10] Toe bedank die Grieke die engel baie vir hierdie raad en vir die belofte.

[11] Maar voordat hulle hulle nog vir die verdere reis klaarmaak, vra die woordvoerder: “Beste jong vriend, vol van God se krag! Sal die een, enigste ware God, wat Hom beslis hier êrens te midde van u bevind, in die persoon van `n mens netsoos u, ook wel enigsins daarop kan let wanneer ons, ver van die oewers van enige land, midde op die groot see deur `n bose storm in nood verkeer?”

[12] Die engel sê: “As ek dit al weet, hoeveel te meer dan die Allerhoogste Gees van God! Sien, ek, wat nou as Judeër voor jou staan, was as hierdie persoon weliswaar nog nooit in Athene gewees nie, waar julle woon, en tog weet ek in my gees alles wat in die hele groot stad is, en alles wat by name in jou huis is en wat daar op elke oomblik gebeur! Glo jy dit van my?”

[13] Die Griek sê `n bietjie verleë: “O, ja, ek wil wel glo dat u dit kragtens u innerlike, wonderbaarlike krag alles kan weet, maar onder my groot huis is daar...”

[14] Die engel vul aan: “... `n katakombe, en daarin bewaar jy baie goud, silwer en edelstene, wat jou moedige en slim kapers sewe jaar gelede van `n Romeinse handelsskip afgeneem het. Volgens ons wet sou so `n daad `n groot sonde voor God wees, want jy sal jou naaste niks aandoen waarvan jy seker nooit sal wil dat jou naaste dit jou sou aandoen nie! Maar toe het jy ons goddelike wet nog nie geken nie en jy bring vir die goed geslaagde berowing `n offer aan jou god Mercurius, en jy kon nie teen ons goddelike wet sondig nie, omdat dit vir jou volkome onbekend was.

[15] Maar in die vervolg moet jy, netsoos ook julle almal, julle nie meer met die soort praktyke besig hou nie, want as julle dit nou weer sou doen, dan sou die barmhartigheid van die enigste ware God julle nooit ten deel val nie. Bowendien moet julle jul tog ook by die wyse staatswette van Rome hou, wat roof en diefstal ten strengste verbied. As julle jul sal hou by die Romeinse staatswette, sal julle ook nie maklik teen die wette van God sondig nie. - Begryp jy dit?”

[16] Die Griek sê: “Ek sien nou wel dat aan julle, ware kinders van die enigste, egte God, niks onbekend is nie en as ek toe met u suiwer goddelike wette netso bekend sou gewees het as nou, dan sou so `n berowing ook nooit plaasgevind het nie, netsoos dit ook nooit weer begaan sal word nie. Omdat geen mens op hierdie aarde egter dit wat eenmaal gebeur het, ongedaan kan maak nie, vra ek u nou wat ek met die geroofde skatte moet doen.”

[17] Die engel sê: “Diegene van wie jy die skatte geroof het, is veel ryker as jy, hulle het hierdie skatte dus nie nodig nie; maar julle het `n groot aantal armes in julle land wat jy kan help. Want God die Heer sê: “Wat julle aan die armes doen, dit het julle aan My gedoen, en Ek sal dit reeds hier vir julle vergeld en honderdvoudig in My ryk!” Maak julle oortollige skatte dus te gelde en help die armes wat jy ken, dan sal julle daardeur julle sonde voor God en die mense versoen! - En nou kan julle in vrede van hier af weggaan!”

[18] Toe bedank die Grieke hom nog `n keer en maak aanstaltes om te vertrek.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205