|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 146
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Die bestraffing van die ryk Barabe
146 Die een fariseër sê: “Hoe kan jy dit met soveel sekerheid van ons beweer? Waarom sou ons, as ons al sulke groot sondaars is, nie ons lewe kan verbeter nie? Toon ons maar net die volle waarheid, en laat ons sien dat die profeet uit Galilea werklik die heil van die Judeërs is, dan sal ons in Hom glo!”
[2] Die Egiptenaar sê, terwyl hy na die twaalf adelaars wys: “Kyk net daar! Die wilde roofvoëls sal eerder in Hom glo as julle! Het Hy julle al nie meerdere male in die tempel onderrig nie, en het Hy nie in julle teenwoordigheid die grootste teken verrig nie? Waarom glo julle Hom dan nie?! Hoe meer Hy onderrig en hoe groter die teken was wat Hy gedoen het, des te toorniger en wraaksugtiger het julle geword! As dit nou onteenseglik so die geval by julle is, hoe kan julle dan sê dat julle dit maar net doen om tot die volle waarheid te kom en om seker daarvan te wees dat Hy die heilbringer vir Israel is, aan wie julle sou glo? Maar ek vra julle, wie ter wêreld sou Hom beter aan julle bekend kan maak as juis Hyself? As julle Hom nie glo nie, - wie wil julle dan glo en vir wie wil jy jou lewe dan gaan verbeter?”
[3] Die fariseër sê: “`n Mens glo dikwels eerder iemand wat getuig oor `n profeet as die profeet self!”
[4] Die Egiptenaar sê: “Ook aan getuienis ontbreek dit julle nie; want in die eerste plek getuig alle profete sedert Moses van Hom, en verder het julle in hierdie tyd genoeg lewende getuies gehad. Waarom glo julle dit dan nie? Hulle het Hom aan julle verkondig, en julle het hulle met klippe gedood, en van die laaste het julle die hoof van sy liggaam met `n byl laat afslaan. En julle sê: “Ons wil eerder `n getuie glo as die profeet self!” Wanneer die Heer niks kan bereik nie, wat kan Sy swak getuie dan doen?
[5] Ja, ja, vir my is julle nou doodbang, omdat ek julle as `n totaal onbekende dit laat sien wat `n volmaakte mens kan doen; maar vir die eerste en belangrikste mens, wat `n God is, het julle geen angs nie, omdat Hy julle deur Sy onmeetlike liefde, geduld en erbarming tot nou toe nog steeds as Sy belangrikste kinders behandel het. Maar ek sê vir julle, dat ek as `n volkome mens, vergeleke met Hom, nog minder is as die totale niks; want slegs Hy is die Heer van my en julle lewe en heil. Dit is en bly `n ewige waarheid.
[6] Julle woede en toorn teen Hom sal nooit verminder nie. Kyk hier na my diere! Elke keer as ek maar oor Hom praat, buig hulle hulle koppe heeltemal na die grond, - en in julle bors groei daarby die onuitroeibare wrok groter! Hierdie diere beskaam julle wysheid en waardigheid; maar julle sink steeds dieper in die poel van julle verderf. En tog sê julle dat julle jul lewe kan verbeter as julle die waarheid sou ken? Hoe kan `n blinde die lig sien en begryp, as daar in hom geen lig is en ook nie kan wees nie, omdat hy volkome blind is? Ewemin kan julle `n waarheid begryp, omdat daar nog nooit waarheid in julle was nie.
[7] Wie die waarheid bevat en wil begryp, moet eers self uit die waarheid voortgekom het. Maar julle is reeds vanaf julle oerouers, kinders van die leuen gewees, - hoe dink julle dan om nou die grootste en mees heilige van alle waarhede ineens te verstaan en te begryp? Kortom, julle bly in julle ou sonde en sal ook die loon vir julle werk ontvang!”
[8] Toe begin die reuse adelaars verdagte bewegings om die fariseërs heen te maak, wat daardeur baie bang word en die Egiptenaar nogmaals vra om daarvoor te sorg dat die diere hulle geen kwaad sou aandoen nie.
[9] Die Egiptenaar sê: “Helaas, julle miserabele vlees sou vir hierdie diere te sleg wees! Maar kyk, daar benede wei `n kudde skape aan die voet van hierdie heuwel! Dit is die eiendom van `n sekere Barabe, `n uitermate ryk burger van Jerusalem, wat `n baie arm gesin, wat selfs vroeër by hom in diens was, daar in die reeds vervalle skaapstal volledig te gronde laat gaan het. Hy het hulle wel vir `n kort tyd die reg gegee om in die slegte hut te woon; maar omdat hulle siekte te lank geduur het en die laaste tyd so erg geword het, dat hy nie kon aanvaar dat daar ooit `n einde daaraan sou kom nie, sou die saak vir hom te lank geduur het en het dit vir hom te beswaarlik geword. Onder die voorwendsel dat die hut vanweë die uitbreiding van sy kudde verbou en opgeknap moes word, het hy bevel gegee dat die arme mense dieselfde dag nog, meer dood as lewend, die tog al ellendige hut moes verlaat. O, wat `n edele en barmhartige seun van Abraham, Isak en Jakob!
[10] Maar die Alwetende en deur julle so gehate profeet uit Galilea het na die genoemde straatarme en totaal verlate gesin gegaan, waarvan die kinders naak om brood gebedel het en niks gekry het nie, hoewel hierdie plek die bakoond vir bykans die hele Jerusalem is, en die ouers deur Sy almagtige wil hulle gesondheid teruggegee. Daarna het Hy hulle brood, wyn en fatsoenlike, goeie klere gegee en laat hulle deur die vername Romeine uit daardie miserabele onderdak haal.
[11] Daar, te midde van die genoemde vername Romeine, staan die ouers en hulle arme kinders en hulle is nou goed versorg. En kyk, dit alles het julle gehate profeet gedoen!
[12] Maar julle, wat beweer om priesters van God te wees, het niks beter te doen as om dag en nag in julle tot `n rowershool en moordkuil geworde tempel te beraadslaag, hoe julle hierdie grootste Weldoener van die arme mensdom kan doodmaak en vernietig nie!
[13] Sê nou self eers: met welke verskeurende diere uit die bos en woestyn is julle eintlik te vergelyk? Helaas, burger Barabe is miserabel en sleg; maar julle is nog vele duisende male slegter! Want Barabe sal die groot profeet selfs nog dankbaar wees dat Hy die hut vir hom ontruim het; maar in julle groei die heimlike woede maar net nog meer, omdat die groot profeet julle met julle onbeduidende krag, mag en ontferming so oneindig ver oortref! En daarom sal Barabe ook gematigder gestraf word vir sy groot onbarmhartigheid!
[14] Kyk na die reuse adelaars! Hulle moet, omdat julle vir hulle as voedsel - netsoos ek alreeds gesê het - veel te miserabel en sleg is, hulle buik vul met die kudde van die o, so goedhartige Barabe, en om te maak dat hulle makliker die kudde kan aanvat, sal hulle deur ewe veel wolwe en bere gehelp word! Ek wil dit, en so geskied dit!”
[15] Toe die Egiptenaar dat gesê het, verhef die reuse adelaars hulle skielik, stort omlaag op die skape wat daar wei en elke voël hef daar één in sy kloue omhoog en vlieg daarmee na die berge. Terselfdertyd ontdek die mense benede op die weide ook `n aantal wolwe en bere, waardeur die hele groot kudde volledig vernietig en gretig verslind word, - by welke geleentheid die herders natuurlik so vinnig hulle kon op die vlug slaan.
[16] Die vier tempeldienaars kyk totaal verbluf na benede na die dal, en geeneen van hulle waag dit om ook maar één enkel woord daaroor te sê nie.
|
|
|
|
|