|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 110
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Die hewige noordewind, die bedoeling daarvan. Die Dooie See
110 Toe Ons die plekke van voorheen weer ingeneem het, begin daar uit die noorde `n taamlike sterk koel wind te waai, en Lasarus sê saggies aan My: “Heer, as die wind nog sterker word as wat hy nou al is, sal Ons gou weer die huis moet in!”
[2] Ek sê: “Vriend, as Ek dit nie wil nie, waai hierdie wind nie; maar omdat Ek dit wil, waai hierdie wind nou, wat Ek in My opgeroep het. En hy is ook goed, omdat Ek hom nou wil; want alles wat die Vader in My wil, is goed. Daarom hoef niemand vir hierdie wind terug te deins omdat dit ietwat koel is nie, en niemand hoef bang te wees dat hy siek sal word nie. Jy sal dadelik opmerk en ook begryp waarom Ek hierdie wind nou laat waai.”
[3] Toe Ek dit aan Lasarus gesê het, neem die wind nog in krag toe, en die Indiërs rig hulle tot RafaEl en sê: “Luister eers, lieftallige en baie magtige, wyse jong man. Dat `n mens volgens die leer wat jy aan ons bekend gemaak het - naamlik deur die éénwording met die suiwer lewensgees uit God - werklik wonderbaarlik groot dinge kan doen deur die krag en die mag van sy wil, as hy dit met die goddelike wil verenig, vind ons almal baie goed te begryp en oortuigend; maar so nou en dan duik daar tog weer verskynsels op in die groot natuur van die wêreld, waarteen selfs die volmaakste mens met alle krag van sy wil tevergeefs die stryd aandurf! Daarvan is hierdie vervelende wind dadelik `n voorbeeld! Dit wil vir ons voorkom dat die elemente merendeels stom is en hulle nie in die minste iets aantrek van wat u nog so kragtig wil nie.”
[4] RafaEl sê: “Daarin vergis julle jul baie! As selfs die hardste klip hom oombliklik moet onderwerp aan die mag van die met God verenigde innerlike wil, hoeveel te meer dan die lug, wat uit louter sielespesifikums bestaan en dus veel nouer verbonde is met die innerlike gees as `n growwe materiële klip.
[5] Ek sê julle egter, dat hierdie wind, wat vir julle ietwat ongemaklik voorkom, juis nou so swaar is, omdat ons dit wil; waarom ons dit wil, sal goed uit die volgende blyk. Rig julle jul blik maar in die rigting wat die wind het, dan sal julle baie gou begin insien waarom die wind steeds in hewigheid toeneem!”
[6] Daarna rig nie net die drie towenaars nie, maar alle aanwesiges hulle oë in die rigting waarin die wind waai. Maar wat ontdek hulle baie gou in die omgewing van die Dooie See, wat nie so baie ver van Jerusalem lê nie? Daar styg dik rookwolke op, wat die suidelike horison bedek en so nou en dan word vlammepilare sigbaar, wat egter steeds weer vinnig uitdoof.
[7] Toe die hooftowenaar en sy metgeselle dit ontdek, sê hy aan RafaEl: “Wat is daar aan die gang, en wat gebeur daar? Is dit `n plek, miskien `n stad wat brand?”
[8] RafaEl sê: “O nee, my beste vriende, daar is `n taamlike groot meer, wat hier deur die Judeërs die “Dooie See” genoem word, omdat daarin en ook daarbo tot hoog in die atmosferiese lug geen dier ook maar `n uur in die lewe kan bly nie.
[9] Alle visse en ander waterdiere gaan in die water van daardie meer dood, netsoos die voëls in die lug daarbo, sodat mens hulle dan ook maar baie selde bo die meer sien vlieg. Ja, selfs plante en gewasse van watter soort ookal bly nóg op die bodem nóg êrens aan die oewers vir lang tye in die lewe; want onder die meer is daar `n uitgestrekte en diep in die binneste van die aarde gaande aardlaag, waarin groot opeenhopings van swael- en aardpik voorkom, wat op bepaalde tye ontbrand en op sommige plekke - natuurlik onder water - met groot geweld die bodem van die meer losskeur, waarby die vuur met geweld deur- en bo die water na buite breek, maar baie gou weer moet doof, omdat die water in die oopgerukte spleet dring en die verdere brand van die swawel en die pik belet. En al is so `n skeur weer dig gemaak deur die water of deurdat hy homself weer sluit, dan ontstaan daar op `n ander plek weer nuwe uitbarstings, wat natuurlik op dieselfde wyse na `n kort tyd weer gedemp word.
[10] Sodra die vuur onder die behoorlike groot meer eenmaal aktief word, bly dit met groot hewigheid altyd enkele ure deurgaan; maar die nawerking, wat gewoonlik bestaan uit rook en damp, wat voortdurend op `n aantal plekke uit die meer opwel, duur in steeds afnemende mate gereeld nog `n aantal dae en dan is dit vir `n mens nie gerade om in die tyd, en seker nie teen die wind in, die meer te nader nie, omdat die giftige lug, wat tydens sulke geleenthede bo die meer ontwikkel, die natuurlike lewe van die mens en ook van elke dier sou verstik.
[11] En kyk, omdat die uitbarsting nou baie heftig is en die sterk giftige walm met die suidelike wind maar al te vinnig na ons toe sou kom en groot onheil sou aanrig, het die almagtige wil van die enigste, ware God die koue noordewind laat kom, wat ryk is aan lewenstowwe en wat ten eerste sterker word namate die vuur onder die meer merkbaar toeneem en ten tweede die walm en die damp ver weg na die woestyne van Arabië dryf, waar dit niemand veel skade kan berokken nie, omdat daar, veral in die wye omtrek van die meer, nie enige lewende wese woon nie.
[12] As julle dieper oor wat daar nou gesê is, sal nadink, sal julle die rede goed begryp waarom die koel noordewind begin waai het en het homself nie toevalligerwys vanself te binne geskiet om te kom nie, maar dat `n baie wyse en baie magtige wil dit vir hom beveel het. Daaruit blyk dus wel duidelik, dat die met God verenigende wil van `n volmaakte lewende mens ook oor alle elemente kan gebied, en dat hulle hulleself daarvolgens moet skik.
[13] So kan jy eweneens `n blik op die wysheid en op die wil van God werp, as ek jou laat sien dat die gevaarlike meer wel `n toevoer van verskillende kante het, maar aan die oppervlakte van die aarde geen afvoer nie. En waarom is dit so? Omdat die meer, netsoos ook sommige ander soortgelyke mere op aarde, ten eerste sy water nodig het om die vuur wat hom daaronder bevind, te temper, en ten tweede, omdat `n bogrondse afvoer van die pure gifwater die land tot in die wye omtrek onvrugbaar en onbewoonbaar sou maak; en daarom dra die liefde, wysheid en wil van die ware God ook sorg oor dit wat blinde mense nie merk en nie kan merk nie.
[14] Maar wie die skepsele en die verdere inrigting van die wêreld met die oë van die gees beskou, sal ontdek dat God se wil oral heers, en hy sal op dié wyse maklik die groot, heilige Vader vind, wat die wêrelde, die mense en die geeste orden en hy sal die krag van God se almagtige wil in homself kan beproef. Dan sal hy geen rede meer hê om te vra of die wil van `n mens wat met God se wil verenig is, dalk ook oor die elemente kan gebied nie. - Het jy dit alles goed begryp?”
|
|
|
|
|