|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 8
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Die misdadige tempelverordeninge
8 Toe almal hierdie oordeel gehoor het, bly hulle staan en Agricola vra eers aan die owerste: “Wat het hierdie man fouteer dat julle hom ter dood veroordeel het?”
[2] Die owerste sê baie verleë: “Hy het dit gistermiddag skaamteloos gewaag om hom aan die heilige toonbrode te vergryp en om selfs daarvan te eet, wat slegs maar die hoëpriester ongestraf kan doen tydens gebed en psalmgesang. Mense het hom tydens die brutale daad gegryp en hom veroordeel volgens die wet tot die verdiende dood en dan is `n verdere verhoor nie nodig nie, omdat die daad self die grootste bewys vir die skuld van die misdadiger is.”
[3] Agricola sê: “So, dit is `n heel prysenswaardige regspraak! Moet daar dan nie volgens ons wette by elke misdadiger in die eerste plek op gelet word in hoeverre hy by `n bepaalde misdryf toerekeningsvatbaar was nie?! Wanneer `n onnosel mens `n nog so groot misdaad begaan, wat vir `n meer intelligente mens volgens die wet seker die doodstraf sou beteken, dan moet die een wat aantoonbaar dom is, opgesluit word, sodat hy in die vervolg geen gevaar meer vir die menslike samelewing sal wees nie. As hy sy lewe verbeter, moet hy vrygelaat word en as dit nie volledig die geval is nie, as galeislaaf gebruik word om so vir sy sonde te boet en daarby tog nog enige nut te hê vir die mense.
[4] Verder moet daar by `n misdryf ook op gelet word deur welke omstandighede iemand soms sonder om dit te wil, tot `n misdaad gedryf word, want die omstandighede kan die misdaad in belangrike mate versag. Dit maak beslis `n groot verskil of iemand van die dak val en iemand daardeur dood wat homself toevallig onder daardie dak bevind, of as iemand `n mens opsetlik dood. En tussen hierdie twee ekstreme vind mens nog baie bykomende omstandighede, wat elke regverdige regter goed ter harte moet neem, omdat hy een en dieselfde misdryf kan versag of verswaar.
[5] As daar byvoorbeeld iemand by jou sou kom met die aanklag: “Deur hierdie persoon is my broer gedood”, en jy hom dan dadelik ter dood sou veroordeel, sonder om die aangeklaagde persoon verder te ondervra, sou jy wel `n slegte regter wees! Is in ons wet nie uitdruklik aan elke regter ten strengste opgedra om vóór alles heel presies inligting in te win oor die “Cur, quomodo, quando et quibus auxiliis” (waarom, hoe,wanneer en onder welke omstandighede) en dan eers te oordeel nie?! Het julle dit by hierdie misdadiger gedoen?”
[6] Die owerste sê: “Ons het in die tempel geen Romeinse, maar slegs die Mosaïse wet en die lui heel anders!”
[7] Agricola sê: “So? As Moses sulke juridiese voorskrifte gegee het as wat julle in julle tempel in ag neem, dan moes julle Moses die domste en wreedste wetgewer gewees het, waarby vergeleke ons, Romeine suiwer gode sou wees! Maar ek ken die milde wette van Moses maar al te goed en ons het ons staatswette merendeels volgens sy voorbeeld vorm gegee. En julle tempeldienaars is voor God en voor alle mense die misdadigste leuenaars, as jy teenoor my wil volhou dat die vreeslik domme, tirannieke, wrede tempelvoorskrifte deur Moses opgestel is! Dit is julle voorskrifte, wat julle eiemagtig en goddeloos, volkome sin- en gewetenloos opgestel het en julle kwel die arme volk nou geheel na eie willekeur volgens die afskuwelike wette! Kan julle so-iets aanvaar as `n wet wat deur `n baie wyse God gewy is?”
[8] Die owerste sê: “Ek het tog nie die tempelwette gemaak nie! Hulle is nou eenmaal daar en ons moet ons daaraan hou, of hulle nou van Moses of van iemand anders afkomstig is!”
[9] Agricola sê: “Goed so, ons Romeine sal wel weet so `n misbruik reg te stel! Maar nou sê ons: “Audiatur et altera pars!”“ (mens moet ook die ander party aanhoor)
[10] Vervolgens wend hy (Agricola) hom met `n vriendeliker gesig tot die misdadiger: “Vertel jy my nou geheel na waarheid wat jy misgaan het! Ontken niks, maar beken alles, want ek kan jou red, maar ook dood as jou misdaad die dood op een of ander manier verdien het!”
|
|
|
|
|