|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 88
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Die woorde van Nikodemus aan die tempeldienaars
88 (Die Heer): “Alhoewel Nikodemus hom inwendig vererg het oor hierdie woorde, laat hy homself baie goed verstaan.
[2] Na `n rukkie se diep nadink, sê hy (Nikodemus) nou: “Ja, beste vriende, dit is iets waaroor ek moeilik iets kan sê, en nog moeiliker raad kan verskaf. Julle was immers self laaste in die tempel en het gesien hoe die Nasarener, toe julle Hom wou stenig, omdat hy gesê het dat hy eerder daar was as Abraham, midde in die tempel totaal onsigbaar geword het, waarop julle jul klippe weer moes weglê! Ek het alles baie rustig oordink en na rype beraad vasgestel, dat daar by so iemand vir wie niks onmoontlik is - daarvan het ek myself oortuig, en moes my daar ook as burgemeester van die stad van oortuig, - met geweld heeltemal niks te bereik is nie. En omdat ek baie weet wat julle nie kan weet nie, sal ek my wel wyslik daarvoor behoed om ook maar ooit iets vyandig teen so `n Man te onderneem. My raad in hierdie is dan ook om heeltemal niks vyandig aan die man te doen nie, maar die hele saak rustig af te wag om te sien wat ten slotte nog alles daaruit sal voortkom.
[3] Want gaan dit om iets wat suiwer van goddelike aard is, dan is ons verset daarteen vrugteloos; blyk dit egter tog iets menslik van hierdie aarde te wees, dan sal dit ook vanself weer verdwyn. Mog die Man egter mettertyd polities gevaarlik vir die Romeine word, dan sal die skerpsinnige Romeine hom wel gou gryp. Maar tot nou toe het Hy in politieke opsig nog nêrens gevaarlik blyk te wees nie, en na my beste wete staan hy by die Romeine hoog aangeskrewe en raadpleeg hulle hom baie graag. Solank dit die geval is, sou dit baie onverstandig van ons wees wanneer ons, seker altyd tevergeefs, die magtige Romeine vóór sou wil wees.
[4] Die vonk waarteen ek my nie brand nie, vernietig ek nie. Julle het baie tereg die vermoede uitgespreek dat die teken van die afgelope nag waarskynlik deur die Nasarener bewerkstellig is, en ek sê julle dat ek dit dadelik vannag al gedink het. Maar noudat dit waarskynlik so is, vra ek julle in alle redelikheid waartoe die blinde vervolgingswoede, ten opsigte van hierdie Nasarener, ten slotte moet dien. Hy sal julle daarenteen met Sy onbegryplike mag in nog groter verleentheid bring as wat tot nou toe die geval was, terwyl julle Hom niks sal kan aandoen nie, waarvan julle jul nou al byna twee jaar lank van kon oortuig het. Hoeveel geld en mense het julle nie al so opgeoffer nie! En wat het julle daarmee bereik? Julle is nou nog net so ver as twee jaar gelede!
[5] Nou het julle weer twintig van julle beste geregsdienaars op hom afgestuur. Waar is hulle? Hulle het beslis dieselfde lot getref as die meeste van diegene wat deur julle uitgestuur word om Hom op te spoor! Ek vra julle: Wees tog verstandig en hou op daarmee om `n Man te agtervolg wat julle, netsoos uit ervaring blyk, niks kan doen nie, maar wat ons daarenteen volledig kan vernietig, sonder dat ons onsself ook maar in die minste teen Hom kan verweer. Nie met woorde en nog minder met toue kan julle Hom vang nie. Waarvoor dan julle beraadslagings en al die rustelose moeite?
[6] Toe julle daar buite deur my lande geloop het, het julle `n pilaar gesien waaraan `n mensehand beslis nooit gewerk het nie. Wie anders as ongetwyfeld die Nasarener het dit daarheen van êrens vandaan gebring; want Hy was nie eers daar nie, - en vanmôre staan hy daar! Menslike kragte het hom beslis nie daar neergesit nie! As dit so sou gewees het, dan sou alles rondom die pilaar plat getrap gewees het; want die neersit van so `n geweldige pilaar sou honderde menshande vereis het. As die Nasarener nou sonder enige twyfel sulke dinge kan doen - slegs deur dit te wil - wat wil julle dan met al julle mag en krag teen Hom begin?
[7] Of dit by Hom nou so is dat Hy dit alles doen deur `n innerlike krag of deur `n nuwe soort toorkuns, dit maak nie saak nie; want ons kan Hom op geen enkele manier bestry nie. Julle word dus aangeraai om verder geen stryd met Hom aan te gaan nie, anders kan ons nog almal jammerlik aan ons einde kom. Ek sal wel baie versigtig wees om nooit iets teen hom te onderneem nie. - Dit raai ek julle nou openlik aan, en ek vra die twee Romeine hier of ek gelyk het of nie.”
[8] Die twee Romeine sê: “Ja, die mening is ook ons toegedaan. Teen mense wat `n sekere, innerlike, wonderbaarlike sterk wilskrag besit, kan geen enkele stoflike, aardse mag iets uitrig nie.
[9] Toe ons eens in Opper-Egipte was, maak ons, in die streek so `n twee dagreise bo Memphis, kennis met `n man wat wel `n baie Egiptiese bruin gelaatskleur gehad het, maar tog geen egte Moor was nie. Ons reiskaravaan bestaan uit tweehonderd persone, maar net manne, en ons doel was om die tuisland van die swartes op te soek.
[10] Toe ons by `n nou en moeilik verbygaande plek van die Nyl kom, kom die voornoemde man, wat baie weinig aangehad het, uit `n grot en gaan voor ons staan. Sy gestalte val ons almal op, en sy blik verlam oombliklik ons voete dermate dat ons geen tree meer voor- of agterwaarts kon sit nie. Hy spreek ons in goeie Grieks aan en sê: “Wat soek julle hier in hierdie woeste verlate streek?”
[11] Eén van ons sê: “Ons wil die land van die swartes opsoek om te sien hoe hulle woon en lewe, en welke sedes en gebruike hulle het, en of ons uiteindelik handel met hulle kan dryf in bepaalde seldsame natuurprodukte.”
[12] Die man sê: “Daardie land is nog vele dagreise hiervandaan as mense hulle voortbeweeg netsoos julle dit doen; maar vir my is dit natuurlik in `n veel korter tyd moontlik, omdat natuurkragte vir my ter beskikking staan wat julle nie ken nie. Maar ek sê vir julle, veroweringsugtige Romeine, dat julle, solank ek hier die wag hou, daardie land, wat nog volkome gelukkig en onskuldig is, nooit sal betree nie. Ook al was julle nog duisend maal meer mense as wat julle nou is, dan sou julle, netsoos dit ook nou die geval is, tog geen stap verder teen my wil kan doen nie! Ek raai julle daarom aan, om om te draai en terug te gaan na waar julle vandaan gekom het, anders laat ek julle hier vasgenael staan en dan sal my leeus en adelaars hulle voed met julle vlees.”
[13] Wel, hierdie woorde van die vreemde man, wat geen teenspraak geduld het nie, het op ons so `n diep indruk gemaak dat ons, ondanks alle wapens wat ons saamgeneem het, vir geen goud van die wêreld nog één tree verder durf maak nie.
[14] Maar omdat die man ons toe ietwat vriendeliker aankyk, spreek één van ons hom baie nederig aan en sê: “Beste, raaiselagtige magtige man, wees so vriendelik om nog éénmaal na ons te luister, en vertel ons wie jy is, en hoe jy aan so `n magtige wilskrag gekom het! Daarna sal ons jou wens en wil opvolg en dadelik teruggaan."
|
|
|
|
|