|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 73
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Die suiwer geestelike in die materie
73[l] (RafaEl): “Omdat jy, Agricola, dit nog beter sal begryp, gee ek jou nog `n aantal voorbeelde, wat ek weliswaar al aan jou vriend en broer Lasarus laat sien het, en die Heer ook; maar omdat jy dit wat die Heer laat sien het, nie voldoende begryp het nie, moet ek jou nou volgens Sy wil alles nog duideliker maak. Let daarom baie goed op alles wat ek jou nou gaan sê!
[2] Kyk, jy is ook tuinier en het in Rome groot tuine, waaraan jy veel genot beleef. Duisende verskillende plante, blomme en vrugte word daar gekweek. Dit ontbreek daar nie aan allerlei soorte druiwe, vye, appels, pere, pruime, kersies, granate, suurlemoene, lemoene, kastaiingneute en waatlemoene van allerlei soorte nie. Om jou tuin, wat werklik baie groot is, steeds opnuut met alles te kan beplant, moet jy ook altyd `n korrekte voorraad van allerlei sade versamel, wat jy op die korrekte tyd in die goeie aarde van jou tuin saai.
[3] Wel, die saad is gesaai en begin tot jou vreugde oorvloedig en gesond op te kom. Wel, dit is nou alles mooi, goed en aangenaam om te sien, maar het jy aan elke soort van die duisend en één verskillende sade wat jy in jou tuingrond gesaai het, ook `n eie soort grond gegee? Jy sê: “Die hele uitgestrekte tuin, wat nie ver van die plek af lê waar die Tiber in die groot Middellandse See uitmond nie, het slegs één en dieselfde soort goeie, vrugbare aarde en elke vrug gedy voortreflik daarin.”
[4] Goed, sê ek, wanneer dit egter in die somer nie reën nie - netsoos dit in Rome bykans altyd die geval is - dan moet jou knegte die tuin met die gieter bevogtig. Het jy dan vir elke soort vrug dalk ook `n eie soort water? Jy sê weer: “Nee, ook nie dit nie, ek laat alle plante, struike en bome slegs begiet met één en dieselfde soort water, wat deur die waterleiding na die tuin gebring word!” Weer goed, sê ek! Dus ook slegs één en dieselfde soort soet water, omdat seewater nie baie geskik is om plante op die vasteland in die lewe te hou nie.
[5] Nou weet ons dat jou groot tuin slegs uit één soort grond bestaan en met één en dieselfde soort water begiet word. Die lug in jou tuin is en bly ook dieselfde, en die lig en die warmte van die son bly ook onveranderlik en steeds gelyk en kan - altans oor die hele oppervlak van jou tuin - wat betref sterkte en krag geen enkele verskil uitmaak nie, behalwe die verskil wat die jaargetye - maar ook steeds gelyk verdeel - oor die hele tuin veroorsaak.
[6] Wel, as alle voorwaarde vir die groei van die mees verskillende plante, struike en bome nou volkome gelyk is, dan sou gelyke oorsake tog ook by alle plante, struike en bome presies dieselfde uitwerking moet hê, sowel wat die vorm, asook die smaak en die geur betref. En tog, wat `n geweldige verskil!
[7] As jy die pit van `n suurlemoen fyn kou, smaak hy bitter. Waar haal die vrug dan sy aangename suurheid vandaan? En dieselfde geld vir die hele reeks van gewasse. Alles is in sy soort hemelsbreed verskillend van die ander. Maar, hoe is dit dan te rym met één en dieselfde voeding? Die wynstok sien anders daaruit as `n vyeboom, en wat `n verskil is daar tussen die vrug van `n wynstok en die van `n vyeboom! Wederom lê jy die saad van `n gewone pampoen en die van `n waatlemoen in die aarde. Die eerste bring die vrug van `n gewone reuk- en smaaklose pampoen te voorskyn, en die waatlemoensaad beloon jou eervolle moeite met `n meer as heuningsoet vrug, en tog was daar oral dieselfde aarde, dieselfde lug en dieselfde lig en geheel dieselfde warmte van die son.
[8] As jy nou ietwat verder daaroor nadink, sal jy jouself seker moet afvra: “Hoe kan presies dieselfde kragte eintlik steeds die mees verskillende resultate oplewer?” Ek sê jou weliswaar dat alle oneindig vele sielesubstansies eers in die eter, dan in die lug en in die water aanwesig is; maar selfs die skerpste oog en die allergevoeligste smaak- en reuksin kan in géén van die algemene oerelemente ook maar iets vind van die smaak of geur van enige plant en van haar soet, suur of bittere vrug nie- om maar nie te praat oor haar vorm en kleur nie. Wel, gebeur dit dan dat elke verskillende saadjie vervolgens uit dieselfde aarde, dieselfde water, dieselfde lug, dieselfde lig en dieselfde warmte maar net die oerstofsubstansies aantrek en in homself op sy wyse beliggaam, dat dit as steeds dieselfde en onveranderde saad, al vele duisend maal duisende jare gelede aangetrek en beliggaam het?
[9] Sien, daar duik selfs in die organiese materie iets suiwer geestelik op en laat aan die ontwaakte en skerpsinnige waarnemer sien, dat dit slegs in soverre dit iets suiwer geestelik is, werklik “iets” is, en dat daardie een wat die sintuie van die uiterlike mens as “iets” sien en beskou, eintlik heeltemal niks is nie en dat maar net daardie een wat in die saadkorrel verborge lê, `n werklike “iets” is, omdat dit iets suiwer geestelik is. Dit bevind hom in die vir jou oog nouliks sigbare, uiters klein omhulseltjie in die kiemhuisie wat deur die hele saadkorrel omsluit word. Die suiwer geestelike, wat in die genoemde omhulseltjie opgesluit lê, is `n met liefde, lig en wilskrag vervulde gedagte of `n idee, wat volkome geïsoleerd is van die talloos vele ander gedagtes en idees, wat elkeen op homself net so afgebaken, afgesonder en geïsoleerd is.”
|
|
|
|
|