Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 192

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die fariseërs probeer die Heer te vang

192 Die tweetal kom dadelik voor my staan en vra My dadelik baie brutaal, toe Ek so effe uitrus: “Heer, ons weet dat Jy buitengewone dinge verrig, wat geen mens ooit vóór Jou verrig het nie! Sê ons nou tog eers vanuit watter mag Jy dit alles kan doen; want Jy as meester sal tog wel die beste weet deur welke kragte en middele dit vir Jou moontlik is om al die wonderdade te verrig!!”

[2] Ek sê: “O ja, dit weet Ek baie goed en Ek sal dit ook vir julle sê; maar eers wil Ek julle iets vra! As julle My `n korrekte antwoord kan gee op die vraag wat Ek aan julle sal stel, sal Ek julle ook sê vanuit welke mag Ek My dade verrig!”

[3] Die tweetal sê: “Stel ons maar gerus vrae, ons sal Jou geen enkele antwoord skuldig bly nie!”

[4] Ek sê: “Goed dan. Sê My dan vry en openlik in teenwoordigheid van die hele volk: vanwaar was die doop van Johannes, die seun van Sagaria wat in hierdie tempel deur julle tussen die altaar en die allerheiligste gewurg is? Was die doop van hierdie Johannes vanuit die hemel of slegs van die mense? Want dit is aan julle om hieroor ten aanskoue van die hele volk `n beslissende uitspraak te maak. Julle het wel ander klere aan en het saam met ander pelgrims by die groot volkspoort die tempel binnegekom, maar tog het `n mens julle vinnig herken. Voer julle taak goed uit, want anders verloor julle die loon wat julle belowe is en wat julle sal kry as julle My kan vang op dit wat Ek sê!”

[5] Dit gee hulle te dink en stilletjies sê hulle onder mekaar (die fariseërs): “Dit is `n aaklig geraffineerde vraag! Want sê ons met die oog op die volk: Johannes se doop was van die hemel, dan sal Hy en die volk aan ons sê: “As dit so is, waarom het julle hom dan nie geglo nie, en waarom het julle hom vervolg en daarvoor gesorg dat Herodus hom eers in die kerker gooi en hom daarna laat onthoof?” Maar as ons sê dat die doop van die mens uitgegaan het, dan sal die hele volk teen ons in opstand kom; want die volk beskou Johannes nog altyd as `n ware profeet en hulle sou ons aanval as ons so-iets oor Johannes sou sê. Daarom is dit moeilik om vir hierdie Man `n goeie antwoord te gee!”

[6] Heimlik sê nog `n ander: “Daar skiet my nou `n goeie gedagte te binne. Of ons nou die één sê of die ander, ons sou ons in beide gevalle laat vang; ons moet gewoon doen asof ons onsself gladnie ooit druk gemaak het oor sulke uitvaagsels van verdorwe Judeërs nie, omdat dit ver benede ons waardigheid was! En om `n lang verhaal kort te maak, sê ons baie eenvoudig: Dit weet ons nie, want met so `n onbelangrike gebeurtenis, ten aansien van die tempel, het ons onsself nooit besig gehou nie!”

[7] Nadat hulle dit besluit het, rig die tweetal hulle weer tot My en sê: “Heer, op Jou vraag kan ons glad geen antwoord gee nie; want ons weet nie van wie die doop van Johannes uitgegaan het nie! Want eerlik gesê: ons het ons veels te weinig daarmee besig gehou!”

[8] Ek sê aan hulle: “Wel, as julle My dit nie wil sê nie, sê Ek ook nie vir julle vanuit welke mag Ek My werk verrig nie!

[9] Maar wat dink julle hiervan? Kyk, `n man het twee seuns! Hy gaan na die eerste en sê: “My seun, gaan vandag na my wingerd om daar te werk!” Maar die seun sê: “Vader, dit wil ek nie, want ek sien op teen daardie swaar werk!” Toe sy vader weggegaan het, kry die seun spyt; hy staan op, gaan na die wingerd en werk daar die hele dag met inspanning van al sy kragte.

[10] Nou gaan die vader na sy tweede seun en sê ook aan hom wat hy aan die eerste gesê het. En hy antwoord: “Heer en vader! Ja, ek sal onmiddellik daarheen gaan om daar te werk!” Maar toe die vader weggaan, bly sy seun tuis en gaan nie na die wingerd om te werk nie. - Wie van die twee seuns het hier nou die wil van die vader vervul?”

[11] Die tweetal sê: “Dit is werklik `n kinderlike vraag! Dit is tog duidelik dat die eerste seun die wil van sy vader vervul het! Want deur te antwoord dat hy dit nie wil nie, wou hy sy vader maar net aangenaam verras; want wat mens sê, is tog onmiskenbaar minder belangrik as wat mens doen. Maar waartoe dien hierdie gelykenis, wat wil Jy hiermee vir ons sê en aantoon?”

[12] Ek sê: “Ek sal dit wel vir julle uitlê, as julle so blind is dat julle dit nie self kan sien nie! Die Vader is die God van Abraham, Isak en Jakob. En van die twee seuns beteken die eerste: die deur God geroepe ware profete, wat egter aanvanklik nie bly was met hulle roeping nie, netsoos Moses maar al te duidelik laat blyk het deur te weier om die hoë amp te aanvaar omdat hy so moeilik gepraat het, en daarom aan God gevra het om vir hom sy broer Aäron as tolk te gee. Maar wie gewerk het, was tog slegs Moses. Die tweede geroepene het wel die woord gevoer, maar slegs Moses het gewerk. En so gaan dit dan tot aan hierdie tye steeds bergafwaarts.

[13] Omdat die tweede kategorie, wat die gelofte afgelê het om in God se wingerd te werk, steeds maar net beloof om te werk, maar dan tog niks doen nie, moes God hom weer tot diegene rig wat nie so gewillig was met hulle tong nie. Hulle het weliswaar geen belofte aan Hom gemaak nie, maar het wel gewerk; en wanneer hulle dan gewerk het, het die tweede groep hulle aangeval en hulle uit jaloesie vervolg en wou verhinder dat hulle die goeie werk doen, sodat die ware arbeiders nie deur die Vader van die wingerd as sodanig gesien sou word nie.

[14] En so was Sagaria en sy seun Johannes in hierdie tyd goeie arbeiders in die wingerd van die Heer, ofskoon elk van beide in die begin van hulle innerlike roeping geweier het om die amp op hulleself te neem, omdat hulle die groot traagheid en gloeiende afguns goed geken het van diegene wat God wel die gelofte gemaak het om in die wingerd te werk, maar dan hulle hande trots in hulle lui skote lê en nie net self nie werk nie, maar ook nog die goeie en ywerige arbeiders te vuur en te swaard verbied om te werk.

[15] Daarom sê Ek aan julle: Waarlik, waarlik, tollenaars en hoere sal sekerlik eerder in die hemel kom as julle! Johannes het gekom om julle die goeie weg te leer en julle het hom nie geglo nie, netsoos ook julle voorouers die ou profete nie geglo het nie; maar die tollenaars en hoere het Johannes wel geglo, boete gedoen en hulle lewens verbeter. Julle sien dit wel en begryp ook dat julle geen gelyk het nie; maar tog doen julle nie wat die tollenaars doen nie, omdat dit veral nie bekend mag word dat ook julle aan Hom geglo het nie. Daarom sal ook die tollenaars en die hoere eerder God se ryk binnegaan as julle, wat ontsettend baie waarde toeken aan julle roeping en teenoor elkeen so hoogmoediglik rondgaan asof julle God gehelp het by die skepping van hemel en aarde.

[16] Maar Ek sê vir julle: Presies daarom is julle die allerlaastes voor God! Want alles wat in die oë van die wêreld groot en stralend is, is vir God `n gruwel. Julle wil nie na die hemel nie en versper ook nog die weg vir diegene wat wel daarheen wil. Daarom sal julle later ook des te meer verdoem word.

[17] Ek sê vir julle dit, omdat Ek die reg en die mag daartoe het en geen vrees koester vir die mense van hierdie wêreld soos julle nie. Want Ek ken God en die mag van Sy wil, wat nou in My is en wil en handel. Maar julle ken God nie en Sy wil is nie in julle nie! En daarom vrees julle dan ook die wêreld en handel ooreenkomstig wat sy in julle harte voorskryf. En omdat julle dit doen, sorg julle ook self vir julle eie oordeel, julle verdoemenis en daarmee die ware, ewige dood. En dit bestaan daaruit dat julle voortdurend slawe sal bly van julle steeds groeiende traagheid en wellustigheid en die snode en vreeslike vrugte daarvan sal pluk.”

[18] Een van hulle sê: “Jy praat vry en openlik teen ons, wat net sulke goeie mense is as Jy. As dit die almagtige God behaag het om ons mense slegs vir die hel te skep, kon Hy Hom wel die moeite bespaar het; want daarvoor sal geen enkele siel Hom prys nie. Maar ons is van mening dat God die mense nog altyd vir iets beter geskape het en hoop daarom dat Hy, as die mees wyse en volmaakte Wese, ons mense nie dadelik vir ewig met alle kwale van die hel sal wil pynig nie, want ons word deur onoorkomelike probleme gedwing om so te handel.

[19] Dat ons menigeen, wat hom aan ons voordoen as `n profeet, nie kan glo nie, het `n baie begryplike rede. Want as die tempel dit sou doen, sou hy al lank geen versamelpunt meer gewees het van die Judeërs wat nog aan Moses glo nie! Waarom laat `n profeet, wat vervul is van alle mag van God, hom dan deur die Jode vasgryp en selfs dood? Wanneer dit gebeur, dan keer sy leerlinge hulle ook byna altyd van hom af, netsoos ons uit ervaring weet, en dan word hulle weer Jode, netsoos wat hulle dit voor die optrede van die profeet was. Waarom laat God dan so-iets toe?

[20] As die profete Sy by uitstek gewekte en geroepte arbeiders is en ons dieselfde trae seun voorstel wat sy vader wel belowe het om in die wingerd te werk, maar wat hom vervolgens nie aan sy woord hou nie, - hoe gebeur dit dan dat die arbeiders wat by God in so `n hoë aansien staan, hulleself nog altyd deur ons, trae niksnutte, laat oorwin het? Hoe kan jou God dit dan toegelaat het?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205