Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 223

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die weg tot geestelike voleinding

223 (Die Heer): “Toe almal hierdie woorde van My verneem het, sê hulle onder mekaar: “Hy het volkome gelyk en daar is niks daarteen in te bring nie; maar ons is al vanaf ons geboorte te diep ondergedompel in die wêreld en sal ons nou nie so maklik weer heeltemal daarvan kan losmaak nie. Volgens Sy goed geargumenteerde uitspraak moet elkeen hom, deur self heeltemal vrywillig daaraan te werk, hom uit sy materiële toestand verhef na die vrye geestelike toestand; en daarby kan mens geen spesiale hoop koester op wonderbaarlike hulp van die ware God nie, omdat die wil van die mens daardeur `n soort dwang sou ondervind, terwyl dit ewig vry moet bly. Om suiwer selfstandig daaraan te werk, het mense netsoos ons kennelik te weinig krag, moed, wil en egte volhardende geduld, en daarom sal dit vir elkeen van ons moeilik wees om, sonder om moeg te word en reëlmatig te val, vooruit te kom op die weë wat Hy ons getoon het.

[2] Dit sou inderdaad baie goed wees om die suiwer geestelike toestand te bereik en dit sou ook eindeloos meer werd wees as alle skatte van die hele aarde; maar die weg daarheen skyn baie lank en hobbelrig te wees. Daarom sou dit miskien ten slotte nie oorbodig wees om Hom nog te vra hoe lank dit sal duur om die volle, suiwer geestelike toestand te bereik wanneer mens gewetensvol, getrou en vlytig die weë van die lewe bewandel wat Hy aangeraai het. Want mens werk seker baie makliker wanneer mens, voordat jy aan die werk gaan, weet op hoeveel tyd mens moet reken voordat die geheel voltooi is, wanneer mens hom na behore insit daarvoor; want dit is en bly moeilik om met `n werk te begin, as mens vooraf nie kan sien hoeveel werk noodsaaklik is om dit te voltooi nie, en sodoende ook nie kan weet wanneer die doel bereik is nie. Laat ons die so pas genoemde vraag aan Hom voorlê!”

[3] Die vraag word aan My gestel en Ek gee die volgende antwoord daarop: “Geestelike werk en geestelike weë word nie in ure en elle gemeet nie, maar suiwer volgens die krag van die wil, die geloof en die liefde tot God en die naaste.

[4] Wie hom op één slag dermate sou kan verloën, dat hy alles van die wêreld opgee en - in die regte mate - sy skatte aan die armes sou gee - alleen uit suiwer liefde tot God, en hom nie te buite sou gaan aan die vlees van die vroue nie, sou waarlik binne `n baie kort tyd voleindig wees! Maar wie klaarblyklik langer tyd nodig het om hom van alle aardse slakke en aanhangsels te suiwer, moet ook langer wag totdat hy die volledig gelukkigmakende toestand van die ware geestelike voleinding bereik het.

[5] Julle is hoë staatslui en moet julle beroep uitoefen; en dit is vir God geen hindernis wat julle daarvan sou kan afhou om die weë, wat deur My aangetoon is, korrek te bewandel nie, maar dit verskaf julle nou juis die middele, waarmee julle des te makliker en vroeër tot ware geestelike voleinding kan kom.

[6] Maar dink nie dat julle die amp en die eer en die aansien van die amp is nie! Eer en aansien van die amp is die wet en julle is slegs handlangers daarvan. Maar as julle getrou is en goed en regverdig, dan staan ook julle self in eer en aansien van die wet, en die verdienste van die wet, ten aansien van die mense wat deur die wet beskerm en rustig en veilig is, en dan kom julle ook voor God se aangesig ten goede.

[7] En julle is ook buitengewoon ryk mense; maar ook julle rykdom is geen hindernis vir die bereik van die suiwer geestelike toestand, wanneer julle met ware liefde tot God en tot die naaste, netsoos goeie en wyse vaders teenoor hulle kinders, goed daarmee omgaan en nie suinig en gierig is by die steun van die armes nie; want in dieselfde mate waarin julle jul liefde ten goeie laat kom aan die armes, sal God julle altyd geestelik, en indien nodig, ook in natuurlike opsig, beloon.

[8] En as julle dink dat God diegene wat met volle inset ernstig voortwandel op die weg na God se ryk en na die lewe van die gees, gladnie help wanneer hy af en toe moeg en swak word nie, dan vergis julle jul aansienlik. Ek sê julle: Wie eenmaal in volle erns hierdie weg betree het, word ook sonder om dit te weet, deur God gehelp om vooruit te kom en om die doel uiteindelik ook sekerlik te bereik.

[9] God sal die eenwording van die siel met die gees uit Hom natuurlik nie met Sy almag afdwing nie, maar Hy sal die hart van die mens steeds meer verlig en dit vervul met ware Wysheid uit die hemel en daardeur sal die mens geestelik groei en kragtiger word en sal alle hindernisse wat, ter groter beproewing van hom nog op sy pad kan kom, steeds makliker en met meer vertroue oorwin.

[10] Hoe meer liefde tot God en sy naaste `n mens in homself waaragtig sal begin voel en hoe barmhartiger hy in sy gemoed word, des te groter en sterker het God se gees dan ook in sy siel geword. Want die liefde tot God en van daaruit tot die naaste, is nou juis God se gees in die siel van die mens. Namate die liefde toeneem en groei, groei God se gees ook in haar. En as die hele mens uiteindelik tot suiwer en weldadige liefde geword het, dan het ook die volledige eenwording van die siel met God se gees in haar plaasgevind; dan het die mens vir ewig die allerhoogste lewensdoel bereik wat God vir hom gestel het.

[11] God Self is immers in Hom die allerhoogste en suiwerste liefde en dus is die gees, wat deur God aan elke mens gegee is, dit ook.

[12] Word die siel deur haar vrye wil heeltemal net soos die liefde van die gees uit God, dan is dit ook duidelik dat hulle één geword het met die gees uit God, wat in haar is. En as hulle dit word, dan is hulle ook voleindig. En daar is geen bepaalde tyd daarvoor vasgelê nie, maar dit sal die eie gevoel van die siel moet sê en aangee.

[13] Die ware, suiwer en lewende liefde is in haarself geheel onbaatsugtig; sy is vol deemoed, aktief, vol geduld en erbarming; sy sal nooit iemand onnodig tot las wees en duld graag alles; sy skep geen behae in die nood van haar naaste nie; maar sy is altyd daarop uit om elkeen te help wat hulp nodig het.

[14] So is die suiwer liefde ook in die hoogste mate kuis en beleef, geen vreugde aan die geilheid van die vlees nie, maar des te meer behaag die suiwerheid van hart haar.

[15] Wanneer die siel van die mens ook so sal wees deur die inspanning van haar eie wil, dan is die siel soos haar gees en is dan ook in God voleindig.

[16] En so weet julle nou presies wat julle te doen staan om die suiwer geestelike voleinding te bereik. Wie hom geheel en al daarop sal toelê, sal ook die vinnigste voleindig wees.

[17] En wie vlytig en ernstig sy bes doen om hierdie weg te bewandel, sal ook altyd waarlik en verseker deur God gehelp word om die allerhoogste lewensdoel te bereik, daarvan kan julle almal seker wees; want as God julle nou al via My te hulp kom, terwyl julle byna geen vermoede daarvan gehad het dat daar so `n weg bestaan nie, hoeveel te meer sal Hy julle dan nie te hulp kom wanneer julle hierdie weg deur eie werksaamheid sal bewandel nie! - Het julle dit begryp?”

[18] Almal was vol verbasing oor My geleerde woorde en selfs Josef sê: “So wys en waar het ek Hom selfs nog byna nooit hoor praat nie!”

[19] Daarop rig hy hom tot My en sê: “Waarom het Jy ons priesters nog nooit op so `n manier onderrig nie? As daar één van hulle hier aanwesig was, sou hy seker ook anders oor Jou begin dink het!”

[20] Ek sê: “Ek ag My eerder in staat om die visse in die see te bekeer as ons skerpsinniges! Ek raai jou ook aan dat nóg Jakobus nóg jy tuis iets vertel van wat hom hier alles afgespeel het, want dan sou julle groot probleme met die skerpsinniges kry. Want hulle hart is verstokter as die hardste klip en hulle siel is baie onreiner as `n vark in `n stinkende poel, en eerder bou Ek nog `n duisend stalle vir die varke van die Grieke en ander heidene waar dan ook, as dat Ek één woord sou verspil aan ons uiters dom, duister en kwaadwillende rabbi’s in Nasaret, Kapernaum en Gorasin! Maar daar sal nog wel `n tyd kom waarin Ek ook daar My mond oral sal oopmaak, - maar nie om hulle te troos nie, maar as `n oordeel oor hulle, wanneer hulle bose maat sal vol wees!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205