|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 156
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Oor die klooster- en kluisenaarslewe. Die doel van verleidings
156 Die fariseërs sê: “Majesteit en Heer! Ons het nou uit U waarlik goddelike mond die probleme by die bereik van die innerlike lewensvervolmaking, maar ook die oneindige voordele daarvan gehoor. Die probleme het ons nie die moed ontneem om alles te doen wat U ons maar ooit sal voorskryf nie. As ons onsself ook liggaamlik onder die grootste pyn moet vermink, dan is ons ook in volle erns daartoe voorberei!”
[2] Ek sê: “O, dit sou die grootse dwaasheid wees; want wie `n vyand waaragtig wil oorwin, moet hom in die oop veld teenoor hom opstel en hom nie agter allerlei verdedigingswerke verskans nie. Want as die vyand die skanse sien, sien hy weliswaar enige tyd af van `n openlike aanval, omdat hy besef dat hy so nie met sy krag teen die goed verskanste teenstander opgewasse is nie; maar hy omsingel die goed verskanste teenstander en laat dan van alle kante versterkings kom. As die vyand hom dan sterk genoeg voel, val hy die nog altyd goed verskanste teenstander aan en oorwin hom moeiteloos.
[3] Ek stel die geval, dat die vyand die goed verskanste teenstander tog niks kan doen solank hy binne sy sterk skanse bly nie. Maar die teenstander sal uit angs vir die sterker vyand tog nie ewig binne sy sterk skanse kan bly nie. Hy sal dit uiteindelik tog `n keer moet verlaat en in die oop veld moet kom. Hoe sal dit dan met hom gaan, as die vyand, wat êrens heimlik loer, hom aanval? Ek sê julle: hierdie tweede openlike stryd sal dan veel moeiliker vir hom word as wanneer hy die vyand dadelik die eerste keer openlik aangeval het!
[4] Die mens kan homself weliswaar op die wêreld heeltemal van die wêreld terugtrek, netsoos die kluisenaars van die Karmel en Sion, wat geen vrou aankyk en wie se skamele voeding bestaan uit wortels en allerlei bessies, wilde heuning en johannesbrood. Ook kastreer hulle hulle selfs terwille van die ryk van God, sodat hulle dan nie in versoeking kan raak om `n gebod van Moses te oortree nie. Daarom het hulle geen besittings, geen ouers, geen vroue en kinders, selfs geen manlikheid nie. Hulle bewoon wilde bergravyne om nie geprikkel te word deur die skoonheid van weelderige aardse velde nie; hulle praat nie met mekaar nie, om te voorkom dat iemand iets sê wat hom of sy bure sou kan erger.
[5] Onder sulke baie dom lewensomstandighede, waarby hulle hulle van die werklikheid losmaak en hulle beskerm teen die moontlikheid om `n sonde te begaan, hou hulle hulle natuurlik wel aan die wette van Moses; maar in wie se belang? Ek sê julle: Dit help hulle niks en die ander mense ook nie! Want God het die mens nie verskillende kragte, aanleg en gawes gegee om dit as kluisenaar in `n hutjie of grot te laat sluimer nie, maar om volgens God se geopenbaarde wil werksaam te wees en daardeur van nut te wees vir homself en sy naaste.
[6] Daarom het God ook nooit aan die mense gesê: “Vermink en kastreer jou, sodat die liggaam van `n vrou jou nie prikkel en jy jou onthou van hoerery en egbreek nie!”, maar God het aan Adam, toe Hy hom die vrou gegee het, slegs gesê: “Gaan heen, vermenigvuldig jou en bevolk die aarde!” En by Moses staan: “Jy sal geen ontug en hoerery bedryf nie, nie die vrou van u naaste begeer en nie egbreek nie!”
[7] Die mens moet dus in die wêreld werksaam wees en vrywillig die kwade verlokkinge van die wêreld weerstaan. Daardeur word sy siel sterk en sal die krag van God se Gees haar deurdring. Maar deur as `n luiaard deur die lewe te gaan, kom niemand ooit tot die ware, ewige lewe nie, want dit vereis die grootste moontlike en volledige werksaamheid op die tallose terreine en gebiede van die lewe.
[8] Sulke mense sondig weliswaar net so weinig as `n klip; maar is dit dalk `n verdienste van die klip? Eens sal die siel egter haar verminkte liggaam moet aflê; wat sal sy dan in die hiernamaals doen in haar algehele swakheid en totale passiwiteit?
[9] Daar sal dan allerlei soorte beproewings oor haar kom, wat haar moet aanspoor tot ware werksaamheid, en hierdie beproewings sal vir die siel met haar gawes, wat sy reeds hier op aarde gehad het, presies dieselfde wees as hier, maar sal vir die siel sekerlik veel sterker wees as hier, omdat `n siel aan die anderkant se denke en wil haarself daar ook as `n werklikheid aan haar voordoen.
[10] Hier het sy maar net te make met haar onsigbare gedagtes en idees, wat sy makliker kan bestry en waarvan sy haar ook kan ontdoen; maar waar gedagtes en idees sigbare realiteite word - sê eers - hoe sal die swak siel dan haar selfgeskape wêreld daar bestry? As iemand byvoorbeeld hier al net deur die gedagte aan die mooi jong vrou van die buurman met `n brandende hartstog vervul word, hoe sal dit dan met hom gaan as sy gedagte heeltemal volgens sy wens en wil in volle, in die skynbare, werklikheid voor hom sal staan?!
[11] Daarom is die verleidings aan die anderkant veel erger as hier. En wat sal die siel kan doen om haar uit die harde gevangenskap van haar eie slegte hartstogte te bevry? Sy sal daar self veel meer moet werk, om haar uit die verwarring van haar eie gedagtes, idees en voorstellings te bevry; want as sy self nie eers aan die werk gaan nie, sal sy nie dadelik gehelp word deur die erbarming van God of enige ander gees, netsoos dit ook reeds hier op aarde grotendeels die geval is.
[12] Want wie God nie ernstig soek nie, maar alleen die luste van die wêreld najaag, verloor God, en God sal hom geen teken gee waaruit hy sou kan opmaak hoe diep en hoe ver hy al van God verwyder is nie. Eers wanneer hy uit eie aandrang en behoefte God weer begin te soek, sal God hom ook weer begin te nader en Hom in soverre deur die soekende laat vind, as wat die soekende waarlik erns het om God te vind en te leer ken.
[13] Daarom is die vrome traagheid vir niks goed nie; want dit het vir My geen lewenswaarde nie!”
|
|
|
|
|