Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 47

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Nikodemus spreek met Lasarus oor die ligverskynsel

47 Nikodemus sê: “Broer, daarin het jy volkome gelyk! Wie vas op God vertrou, kan niks kwaads oorkom nie, hoewel God die mense gereeld allerlei dinge laat oorkom waarin jy met jou verstand God se goeie sorg nie so goed kan ontdek nie. Met myself het dit al `n paar maal so gegaan, en ek is daarom by sulke groot verskynsels op hierdie aarde, soos `n kind wat bang bly vir vuur, wat al `n keer sy vingers gebrand het. En so het dit al meerdere male met my gegaan; één keer deur `n bliksem wat my verdoof het en waardeur ek vir `n tyd lank hewige pyn in my ledemate behou het. `n Ander keer het `n warrelwind my opgeneem, my meer as twee manshoogtes in die lug gehef en my daarna nie al te saggies weer op die grond neergesit. Ook het ek tweemaal met slegte weer op die meer van Galilea meer as vyf uur tussen lewe en dood rondgedryf, en weer `n ander keer het my muildier, wat altyd baie sagaardig en goed afgerig is, wild geword; het begin om ontsettend te hardloop totdat dit van uitputting neergeval en een van my voete aansienlik gekneus het. Dit het ook deur `n felle bliksem gebeur, met `n onmiddellik daaropvolgende donderslag.

[2] En sien, hierdie en meer ongelukke het my louter deur natuurverskynsels ten deel geval, en daarom het ek altyd `n bietjie angs wanneer ek weer so `n besondere verskynsel meemaak. Ek het weliswaar by al my ongelukke nie my aardse lewe verloor nie, wat baie mense by soortgelyke geleenthede buite hulle skuld wel oorgekom het, maar ek is tog altyd bang wanneer dergelike verskynsels deur God se toelating op aarde optree, waarmee ons menslike kragte hulle nooit kan meet nie. En dit is veral hierdie geval so, noudat daar in die ooste die twaalf enorme vuur- en ligpilare dreig om alles op die aardbol te vernietig. Ek glo in God en vertrou vas daarop dat Hy ons teen alle groot teenspoed sal beskerm, maar op die plek waar die dreigend uitsiende pilare die oppervlak van die aarde raak, sou ek my egter nie wil bevind nie, want daar woed vas en verseker `n verskriklike vuurstorm.”

[3] Nou sê Lasarus, terwyl Ek hom die woorde in die mond lê: “Ook daar in die omgewing van die Eufraat sal geen enkele wese iets deur hierdie pilare oorkom nie, daarvan kan jy volledig verseker wees en dus hoef jy beslis nie bang te wees nie. Maar kyk, die middelste tien pilare nader mekaar nou steeds meer; slegs die twee buitenstes bly nog onbeweeglik! Sien, dit is al `n verandering! En nou bots hulle twee aan twee selfs teen mekaar en word so één, sodat ons nou nog maar vyf groot middelpilare kan sien, sonder dat die lig sterker of swakker daardeur word. Sien jy, al weer `n verandering! Die twee buitenste pilare beweeg hulle nog nie!”

[4] Nikodemus sê: “Dit lyk vir my asof hierdie merkwaardige verandering deur `n denkende wese gelei word, omdat dergelike verskynsels anders meer willekeurig en doelloos plaasvind; soms voeg hulle hulleself saam, maar soms versplinter of verdwyn hulle ook selfs. Kyk maar eers by `n storm na die uitermate ongeordende en onsistematiese wolkmassas, en die sonder enige sisteem verbyskietende bliksemflitse! Maar agter die grandiose verskynsel skyn in elk geval `n hoogs verstandige denkende wese verborge te wees, en mens sou haas kan gaan dink dat dit die een of ander nuwe toorkuns van die Essene is, wat in die omgewing vermoedelik ook nuwe besittings het. Want die mense konsentreer alle toorkunste van die hele wêreld op één punt en is self baie vindingryk in sulke ongewone sake. Kyk maar eers! Nou begin die vyf pilare ook één te word! Dit gaan baie vinnig, en kyk, hulle is al één! Nou, dit sal die tempeldienaars en die volk te dinke gee en egter tot wanhoop bring en menige swak mens waansinnig maak!”

[5] Lasarus sê: “Nou minder as voorheen, want omdat die verloop van die verskynsel vir hulle te reëlmatig en te sistematies voorkom, begin vele hierdie saak nou aan die Indiese magiërs oor te gee, wat miskien binnekort hier sal aankom.”

[6] Nikodemus sê: “Maar wat beteken die werklik hoogs merk­waardige verskynsel volgens jou? Want alhoewel dit ook deur magiërs geproduseer sou kan word, kon dit tog ook, gesien hulle geweldige grootsheid, nog eerder deur JaHWeH se wil ontstaan het of tenminste deur Hom toegelaat word, om daarmee veral aan ons Judeërs `n komende oordeel aan te kondig, of andersins `n nog verborge plan wat God met ons mense het. Weet jy wie uiteindelik ook nog agter die verskynsel kon sit?”

[7] Lasarus vra hom : “Wie bedoel jy?”

[8] Nikodemus sê: “Die wonderbaarlike Verlosser uit Nasaret! Hy was nou op die fees en - glo ek - tweemaal in die tempel, waar hy die fariseërs reg in hulle gesig goed die waarheid gesê het, sodat hulle Hom ten slotte selfs wou stenig. Hy het toe sekerlik verder gereis en Hy sou nou beslis nie sover van die plek kan wees waar die verskynsel opstyg nie. Ek het hierdie keer helaas geen geleentheid kon vind om Hom weer in die geheim te besoek nie; want jy weet nou al wat die strewe van die tempel is. Maar dit sê nou niks nie, omdat ek - onder ons gesê - in Hom en Sy sending glo; want as Hy nie die Messias is nie, sal daar in die toekoms ook ewig geen tweede meer na hierdie wêreld kom nie. Maar - begryp my goed - ek kan jou dit maar net onder vier oë sê, omdat ek goed weet dat jy ook my mening toegedaan is, netsoos vele uit die volk; maar dit is nog nie moontlik om dit baie hard in Jerusalem te sê nie. Dus, vriend, die genoemde Verlosser sou van die verskynsel ook goed op die hoogte wees, en wat dit moontlikerwys moet of sou aankondig, sal ook slegs Hy die beste weet. Wat dink jy van my mening?”

[9] Lasarus sê: “Ja, ja, jy sou wel gelyk kan hê; ek begryp net nie so goed wat jy bedoel, as jy sê dat jy glo dat die Verlosser uit Nasaret werklik die beloofde Messias is nie, maar dat jy tog bang is om onbevreesd en openlik daarvoor uit te kom dat Hy dit ongetwyfeld is nie. As Hy die Messias is, dan is Hy volgens baie tekste wat vir jou uit Moses, Elia, Jesaja, Jeremia en nog baie ander profete en sieners bekend is, JaHWeH Sabeot Self. En as Hy dit is, wat is dan die hele wêreld vergeleke met Hom?! Kan Hy haar nie met één sug laat verdwyn, wanneer sy Hom uiteindelik tog te veel sou gaan mishaag en die al te groot slegtheid van die mense Sy geduld op `n te groot proef sou stel?! As daar dus geen twyfel oor bestaan dat Hy inderdaad die almagtige Heer van die hele skepping is en as jy dit ook glo, hoe kan jy dan nog angs hê vir die domme en blinde wêreld? Kyk, dit begryp ek nie so goed van jou nie! Dat jy Hom die eerste keer maar net snags opgesoek het, was wel te begrype, maar sedertdien was Hy al `n paar keer hier, en jy het Hom nog net snags en gladnie oordag besoek nie, wat beslis nie korrek van jou was nie. Slegs as jy egter nie glo dat Hy die waaragtige Messias is nie, verontskuldig dit jou vrees en jou louheid `n bietjie, en kan jy die versuim nog wel inhaal! Het jy goed begryp wat ek daarmee vir jou gesê het?”

[10] Nikodemus sê: “Broer, jy het volkome gelyk; maar wat maak jy, as jy helaas lid van die tempel is en alleen al hande vol werk het om die tempel daartoe te beweeg, as jy nie te groot inbreuk wil pleeg op die regte van die mense nie? Om dit te bewerkstellig, moet jy helaas gereeld met die wolwe in die bos saamhuil en hulle ongemerk op `n verstandige manier aflei van die goeie kudde, sodat hulle nie volledig deur hulle verskeur en verslind word nie! En daarom was dit vir my egter nie so maklik om my vry te maak en my so met die Verlosser besig te hou as wat dit eintlik sou moes wees nie, netsoos ek ook jou, my trouste vriend, al byna twee jaar lank nie kon ontmoet nie, behalwe in die tempel. Want eers baar die profeet Johannes die tempel groot sorg, en nou weer die Verlosser uit Nasaret, en daar word byna weekliks uitgebreid oor Sy doen en late en oor Sy leer beraadslaag, en mense gryp na middele om Hom die swye op te lê; maar tot nou toe alles sonder resultaat, omdat die volk Hom deels as `n groot profeet, deels ook as `n nuwe koning, maar grotendeels as die waaragtige Messias beskou, wat - eerlik gesê - ook by myself die geval is.

[11] Die merkwaardige daarby is net dat Hy by die Romeine `n groot aanhang het, en Hom by die uitbreiding van Sy leer heeltemal niks deur hulle in die weg gelê word nie! Dit ag ek `n belangrike kenmerk vir die egtheid van Sy Messias-wees. Maar weet jy nou nie waarnatoe Hy vanuit Jerusalem gegaan het nie? By hierdie geleentheid sou ek Hom self graag wou opsoek om met Hom te praat.”

[12] Lasarus sê: “Vriend, kyk nou maar weer na die drie lig- en vuurpilare, want nou begin die twee buitenste pilare ook te beweeg en nader die een middelste pilaar. Laat ons eens sien wat daaruit voortkom! Kyk, die een aan die suidelike kant het hom nou al met die middelste pilaar verenig, maar die aan die noordekant bly staan, en ons sien nou nog maar twee daar, en die twee gee nou net soveel lig as die eerste twaalf, want hulle lig het nou feller en sterker geword. Ja, ek kan my nie voorstel, dat dit oordag ligter sou kan wees nie! Slegs die uitspansel is donkerder, en in die weste is hier en daar nog `n enkele groot ster sigbaar.

[13] En kyk eers na benede na die stad, hoe die mense deurmekaar hardloop! Selfs op die gewels van die huise staan mense en staar na die verskynsel! Maar nou beweeg ook die noordelike pilaar hom na die middelste toe en verenig hom daarmee! Nou gaan dit nog maar om één pilaar!”

[14] Nikodemus sê: “Dit is werklik hoogs merkwaardig! Ek vra my af wat daar verder nog gaan gebeur?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205