|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 134
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Die Heer by die arm gesin
134 Daarop wend Ek my tot die siekes en sê aan hulle: “Hoe het julle in hierdie ellendige toestand beland? Vertel dit terwille van hulle wat saam met My gekom het!”
[2] Die man, heeltemal krom gegroei deur die jig, sê: “Heer, ons was altyd arm mense gewees en het ons brood met die werk van ons hande verdien, en dit het daarby baie goed gegaan met ons; maar drie jaar gelede het ons jig gekry, ek eerste, later ook my vrou, omdat sy te hard moes werk. Tot met die Pasga van hierdie jaar het ons in die stad gewoon; maar ons weldoener het gesterf en daar het `n ander meester in die huis gekom, wat ons nie langer in huis wou hou nie, omdat hy niks aan ons gehad het nie. Ons het by ander mense om onderdak gebedel; maar niemand wou ons hê vanweë ons siekte en die kinders nie. Daar het vir ons niks anders oorgebly as hierdie hut nie, wat aan ons gegee was om betrek te word om nie heeltemal buite te lewe nie en selfs geen beskerming teen reën en ander slegte weer te hê nie. Dat dit nie met ons siekte beter in hierdie hut gegaan het nie, maar van dag tot dag erger geword het, is goed aan ons te sien. Dat ons bykans glad geen kleding het nie, het gebeur omdat ons die weinige wat ons nog gehad het, moes verkoop vir `n bietjie brood. Maar nou het ons niks meer nie en is ons aan die hongerdood oorgelewer as daar geen hulp kom nie. Aan God die Alwyse en Almagtige wil ons alles oorlaat; Hy sal wel weet waarom Hy ons in hierdie ellende laat kom het!
[3] Job moes volgens die beskrywing veel deurstaan, maar ons beslis nog meer! Want ly moes ons al van kindsbeen af aan en blye dae het ons maar weinig geken; en nou, noudat ons al bietjie oud geword het en dit van nature moeiliker gaan, het ons egter eers op die dieptepunt van al die aardse ongeluk beland! As U, goeie meesters, ons ook maar êrens mee kan help, ontferm U dan oor ons en help ons! Die Majesteit in die hemel sal U dit verseker vergeld.”
[4] Ek sê: “Ons het immers hierheen gekom om vir julle die hulp te bied waarna julle so hewig verlang! Onthou egter goed: Wie God liefhet en wie Hy vir groot dinge bestem het in die ryk van die geeste, die beproef Hy ook sterker en swaarder as `n ander mens, wat Hy slegs vir klein dinge bestem het.
[5] Maar julle aardse beproewingstyd het nou ten einde geloop en nou sal julle ook op hierdie aarde nogeens gelukkig wees, en julle sewe kinders, wat nou nog so suiwer soos engele is, goed opvoed, sodat hulle nie later as manne onrein word nie. En hierby sê Ek nou ook aan julle: Staan op en loop!”
[6] Oombliklik staan die twee ouers as volkome gesonde mense op en lyk ook onmiddellik baie natuurlik en goed.
[7] Hulle verbaas hulle buitengewoon, en die man sê: “O, wonderbare Man! Wat het U met ons gedoen? Want so gesond en sterk was ons immers nog nooit vroeër gewees nie! O, wie en wat is U eintlik, dat U dit kan doen? U is óf `n groot deur God gestuurde profeet, óf U is `n beliggaamde engel; want dit was nog nooit tot op hede in Israel gehoor nie. Watter medisyne het soveel jiglyers nie al gebruik nie, en dit het hulle nie gehelp nie - en U sê net aan ons: “Staan op en loop!”, en ons word oombliklik genees. O, loof almal die God van Israel, dat Hy so `n suiwer goddelike krag aan `n Mens gegee het!”
[8] Die sewe kinders huil ook van blydskap toe hulle hulle ouers so volkome gesond voor hulle sien staan soos nooit tevore nie en die oudste jong man sê: “O, liewe ouers, ek het dit immers gehoor en julle ook gereeld gesê: As die nood die hoogste is, dan is God se hulp ook die naaste vir diegene wat hulp by Hom soek. En juis vandag het ons aardse nood die hoogste punt bereik, - en God se Hulp het gekom! Hom, die liewe, goeie, heilige Vader in die hemel sy alle dank, alle lof en alle eer! Deur die geluk dat ons liewe ouers nou weer gesond en sterk geword het, het ons honger, wat eers so groot was, nou byna verdwyn! O, as ons nou nog die hoogs nodige aan klere sou gehad het, dan sou ons gou weer `n goeie stuk brood kan verdien!”
[9] Ek sê aan die jong man: “Agter die na vore springende rots, wat soos `n grot lyk en wat julle tot nou toe as woning gedien het, sal jy drie bondels vind; bring dit hier na binne, dan sal julle jul dadelik goed in die klere kan steek!”
[10] Toe die jong man dit gehoor het, gaan hy vinnig met sy broertjies en sussies na buite en hulle bring drie bondels die hut binne. Die ouers maak hulle vinnig oop en vind kleding daarin vir hulleself en vir hulle kinders. Toe was die woorde van dank en lof en die vreugdetrane nie bietjie nie, en ook aan verbasing van alle kante ontbreek dit nie.
[11] Maar hierdie mense het ook al byna twee dae niks geëet nie en was dus hongerig.
[12] En Ek sê nogmaals aan die kinders: “Kinders, gaan nou nog `n keer na die plek waar julle so pas die bondels met kleding gevind het! Daar sal julle nou ook brood en wyn vind; bring alles na binne en versterk en versadig julle daarmee!”
[13] Toe hardloop die kinders nogmaals na buite en vind in `n mandjie `n aantal brode en kruike wyn van die beste soort. Hulle bring hulle vonds ook direk na die hut, om hulle daarmee te versadig en te versterk. Die ouers sê, onder veel trane van vreugde en dankbaarheid, dat hulle nog nooit sulke goeie brood geproe en sulke goeie wyn gedrink het nie. Die brood en die wyn moes beslis deur die engele uit God se hemel gebring gewees het; want op aarde sou so-iets suiwer hemels nooit kon groei en gedy nie, omdat die mense al te sleg en goddeloos daarvoor was.
[14] Maar Ek sê aan hulle: “My beste kinders, eet en drink nou maar sonder sorg en hou goeie moed; want God het julle swaar beproef, en julle het sonder mor in volle oorgawe aan God se wil alles gedra wat oor julle gekom het. God het julle egter ook nou, toe julle nood die hoogtepunt bereik het, op wonderbare wyse vinnig gehelp, en hierdie hulp sal by julle bly, nie alleen tydelik tot aan die einde van julle aardse lewe nie, maar ook daarna vir ewig! Waarom julle op hierdie aarde so swaar deur God beproef is, sal eers vir julle duidelik word in die ander lewe.”
|
|
|
|
|