Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 168

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Raadgewings van die Heer vir die terugreis van Agricola. Geloof en vertroue versterk deur oefening. Ryp wees vir die ontvang van barmhartigheidsgawes

168 Toe kom die Romein Agricola na My toe en sê: “Majesteit en Heer, omdat elkeen hier nou weggaan, begin ook ons Romeine daaraan te dink hoe en wanneer ons die terugreis sal aanvaar! Omdat ek egter veral in U teenwoordigheid niks sonder U raad wil onderneem en uitvoer nie, vra ek U ook in die opsig om U goddelik wyse raad.”

[2] Ek sê: “Vir jou, vriend, dring die tyd nog nie, omdat jy immers van die keiser die instruksie het, dat jy indien nodig meer as `n halfjaar uit Rome kan wegbly! Daar is nou egter hier in die Judese land, en ook in die hele Asië wat aan julle Romeine behoort, niks gaande wat van enige besondere belang is vir die regering nie, en omdat jy dus jou terugreis kan aanvaar wanneer jy maar wil, dink Ek dat jy, wanneer jy dit byvoorbeeld eers oormôre doen, niks sal verloor deur nog langer by My te bly nie. Eers oor een jaar sal jy deur die keiser `n missie na Brittannië opgedra word, by welke geleentheid jou oudste seun, wat jou naam dra, jou sal begelei en daar, vir `n langer tyd, `n hoë amp sal gaan beklee. Ook al sou jy nou `n hele maand later na Rome teruggaan, maak dit nie saak nie; want jy sal nog altyd vroeg genoeg tuis kom.

[3] Ek wil jou egter ook nog raad gee oor die manier waarop jy met jou groot skepe die veiligste huiswaarts kan kom. Sien, al gou sal nou die dag- en nag-eweningstorms begin optree, omdat hulle uit die weste kom, wat dit vir die skepe wat van die ooste na die weste vaar, baie moeilik sal maak! Daarom sal jy nie maklik in hierdie tyd oor die groot Middellandse See vooruitkom nie. Gaan daarom langs Klein-Asië oor land na jou huis terug en laat jou skepe deurvaar tot by die eerste see-engte. Tot daar sal Cyrenius wel sorg vir `n goeie en veilige geleentheid vir die reis. Die see-engte kan jy maklik en sonder enige gevaar per skip oorsteek en van daar verder langs die oewer van Griekeland Dalmasië bereik. Van daar af kan jy die smalste deel van die Adriatiese See maklik per skip oorsteek. Verder ken jy sonder meer die veilige weg na Rome. Die skepe sal jy eers `n paar maande later na `n hawe ten suide van Rome kan laat bring, wat egter ook nog vroeg genoeg sal wees. Ek het jou dit nou maar net meegedeel, sodat jy ook in aardse opsig geen skade sal ly nie.”

[4] Agricola sê: “Heer, ek dank U vir hierdie goeie raad vir my natuurlike welsyn, wat ek ook baie presies sal opvolg! Maar ek kan by hierdie geleentheid tog nie nalaat om die opmerking te maak dat ek, ook ondanks die teenwind, met die rotsvaste vertroue en geloof in U almagtige hulp wel oor die Middellandse See die hawens van Rome sou kan bereik; want vir U, o Heer, is alle dinge immers moontlik, daarvan is ek volkome oortuig! Waarom sou U dit nie moontlik of altans nie volgens U sin wees nie? Ek sal egter tog U eerste raad noukeurig opvolg en hierdie vraag het ek maar net uit pure weetgierigheid gestel.”

[5] Ek sê: “Jy het volkome gelyk om My dit te vra; want kyk, Ek het jou die eerste raad maar net gegee om jou die geleentheid te bied om jouself te toets, hoe sterk jou geloof en jou vertroue in My liefde, wysheid, krag en mag is!

[6] As jou geloof en jou vertroue in My so sterk is dat jy in welk dreigende gevaar dan ook geen enkel oomblik sal twyfel of Ek jou miskien om die een of ander verborge rede nie sou wil help nie, dan kan jy dit wel waag op see en ook teen die grootste storm in vaar; want as jy dit in My Naam sou gebied om te gaan lê, dan sou dit ook ophou die oomblik waarop jy dit gebied. Maar, vriend, daarvoor is jou geloof en jou vertroue tog ondanks jou goeie wil nog bietjie te swak!

[7] Jy twyfel wel nie in die minste daaraan dat Ek in staat is om dit alles te doen nie; maar jy sou daaraan twyfel of Ek dit waarom jy My vra, ook wel altyd sal doen, en kyk, ook hierdie in `n sekere sin beskeie twyfel sou jy, hoewel Ek jou sou help as jy dit vir My sou vra, steeds `n groot vrees en angs aanjaag en daarom is dit vir hierdie keer beter as jy My eerste raad opvolg!

[8] Geloof en vertroue moet ook eers geoefen word tot hulle volledig geskik is om die eie wil so met die Myne te verenig, dat die verlange sonder die geringste mislukking moet plaasvind. Want slegs deur die volle, lewende geloof en dus ook deur `n volledige vertroue, kan `n mens hom in die gees en in My Naam oral geheel en al werksaam daarheen verplaas, en moet daar gebeur wat hy wil.

[9] Jy sal eers met verloop van die tyd die vastheid van geloof en vertroue kry wat maak dat jou wil sy volle krag sal kry; dan sal jy die elemente in My Naam met goeie gevolg kan gebied. Jy sal egter selfs op die deur My aangeraaide terugreis ook nog wel sommige gevare op die lyf loop; maar dit sal jou nie raak nie, omdat Ek jou oral sal beskerm. Binne een jaar egter, wanneer jy na Spanje, Gallië en Brittannië sal reis, sal jy al so `n mate van geloof en wilskrag besit, dat geen vyand daarteen sal kan gaan nie; maar nou besit jy dit nog nie.”

[10] Toe sê Agricola weer: “Majesteit en Heer, die sewentig arbeiders wat U netnou as leerlinge in die wêreld gestuur het, was stellig ook nie veel vaster in hulle geloof en vertroue gewees as ek en my metgeselle nie, en U het hulle tog gawes gegee wat egter niks te wense oorlaat nie! Die gawes wat hulle gekry het is vir hulle amp weliswaar noodsaakliker as vir ons; maar die noodsaaklike daarvan kan tog nie slegs die voorwaarde wees om sulke wonderbaarlike gawes te ontvang nie! Ek dag eintlik, volgens wat U gesê het, dat jy daartoe in staat moet wees deur jou geloof en vertroue. Of die sewentig manne egter al volledig sover was, is nou natuurlik `n baie ander vraag, wat alleen deur U geheel na waarheid en deugdelik beantwoord kan word!”

[11] Ek sê: “Hierdie sewentig was al baie daartoe geskik, omdat hulle baie eenvoudige mense is en reeds vanaf hulle jeug vas glo en vertrou. Hulle vra by die verskillende tekens wat in hulle teenwoordigheid gedoen word, nie hoe een en ander moontlik was nie, maar hulle glo dat niks vir My onmoontlik is nie, en dat hulle uiteindelik ook alles wat hulle in My Naam wil, moontlik moet wees. En sien, as gevolg van daardie rotsvaste geloof en vertroue het Ek hulle ook maklik en daadwerklik die gawes kon gee waaroor julle gehoor het! By hulle gaan die geloof vóór die weet, maar by julle gaan die weet vóór die geloof, en dit is vir die ontvang van die ware innerlike gawe `n groot verskil! Maar dit maak nie saak nie; want ook julle sal, as julle mettertyd nie in die geloof sal swak word nie, dieselfde gawes ontvang. Agricola, het jy My begryp?”

[13] Agricola sê: “Ja, ek het U heeltemal begryp en ek dank U uit die diepte van my hart vir U belangrike les; ek sal haar met groot ywer in myself probeer te verwerklik!

[14] Maar Heer, ek sien daar op die weg wat na die môre lei `n hele karavaan hierheen trek! Omdat dit waarskynlik hier sal oornag, sal daar vir ons in die herberg nie veel ruimte oorbly nie. Is dit Judeërs, Grieke of moontlik selfs Perse?”

[15] Ek sê: “Daardie handelsvolk interesseer My weinig; maar as jy beslis wil weet watter karavaan dit is en waar dit vandaan kom, kan Ek jou dit wel sê. Dit is `n karavaan wat uit Damaskus kom en oormôre van hier verder na Sidon sal gaan; hulle voer allerlei metaal gereedskap aan vir die mark. Hierdie mense is Judeërs en Grieke. As jy vandag nog iets van hulle wil koop, dan kan jy dit doen; want môre mag hulle geen mark hou nie.”

[16] Agricola sê: “Dit sal ek nie doen nie, want van sulke dinge is my skepe en my huishouding tuis al ryklik voorsien. Maar wat sal ons nou doen? Die son staan al bo die horison!”

[17] Ek sê: “Laat hulle maar staan! Nou aan die begin van die aand sal Ons `n bietjie rus; want Ons het genoeg gedoen! Daarna sal wel blyk wat die aand Ons nog alles sal bring.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205