Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 13

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Agricola se verwysing na die Heer

13 Aan die ander tafels hou die mense hulle nog heel stil, want hulle sit almal te wagte daarop of Ek self dalk oor iets sou spreek. Maar omdat Ek Myself ook nou meer rus gegun het, begin die tonge aan die ander tafels ietwat meer los te kom. Die Romeine knoop `n gesprek aan met die arme familie en Agricola vra die dogter, wat heel aanvallig daar uitsien, of geeneen van hulle beter klere het as die wat hulle nou dra nie.

[2] Die dogter antwoord: “Edele, geëerde meester! Tuis in ons armoedige woning het ek nog wel `n wol oorkleed, maar dit is nog slegter as die linnerok wat ek nou aanhet. Vroeër was ons nie so ontsettend arm nie, toe ons ouers nog gesond was en kon gewerk het. Maar toe hulle `n paar jaar gelede baie siek geword het, het dit steeds slegter en slegter gegaan. My broer kon ondanks al sy ywer nie meer genoeg verdien om, behalwe die hoogs nodige voedsel, nog iets anders vir ons aan te skaf nie en so het ons nou buite ons skuld in hierdie groot armoede tereg gekom. Dit sou met ons almal binne hoogstens twee dae beslis heeltemal gedaan gewees het as u en die vriend daar ons nie op so `n wonderbaarlike wyse gered het nie; want ek begryp nog steeds nie hoe die knap jong man daar ons armoedige woning kon gevind het nie, asof hy so bekend was met die mees verborge uithoeke van hierdie groot stad. Wie mag die verhewe Man en die lieftallige jongeling naas hom tog wel wees? Sou u my nie iets van naderby daaroor wil sê nie?”

[3] Agricola sê: “Wel allerliefste meisie, skone Dogter van Sion, daartoe het ek egter geen reg nie, want weet jy, ek is werklik `n groot en magtige meester in die hele Romeinse ryk, maar tog is ek heeltemal niks vergeleke met die verhewe Man en die mooi jongeling nie! Ek sou vandag `n beëdigde bode met `n brief van my hand na die keiser in Rome kon stuur en hy sou my vele legioene stuur, waarmee ek ten stryde sou kon trek om die hele groot Asië te oorwin, maar wat sou dit beteken teenoor die oneindige mag van die verhewe Man?! As Hy iets wil, is dit reeds `n voldonge feit!

[4] Liewe Dogter van Sion! Begryp jy goed wat dit wil sê? Kyk, jou ouers was, netsoos jy vertel het, meer as twee jaar lank siek! En die verhewe Man het hulle, slegs deur dit te wil, in `n oogwenk gesond gemaak en ook was Hy in staat om die jong man heel presies julle woning aan te wys, sodat hy julle sonder moeite kon vind. So het hierdie verhewe Man my ook ongeveer drie uur gelede meegedeel wat jou broer te wagte sal wees en eers daardeur het dit vir my moontlik geword om jou broer en julle, uitsluitend deur Sy barmhartigheid, te red en daarom het nie ek nie, maar het alleen Hy julle almal gered, want ek was maar net Sy blinde werktuig.

[5] Jy het daarbuite ook al die mooi jong seuns en meisies gesien. Die pragtige, heerlike wesens moes almal as ellendige slawe verkoop word! En ook hulle het die verhewe Man bevry en het hulle van kop tot toon van mooi klere voorsien en dit alles in `n enkele oomblik en daarom verwelkom hulle Hom dan ook as `n baie liewe Vader. As dit alles nou volkome waar gebeur het, wat is al my mag dan vergeleke met net `n suggie van Sy wil? Rig daarom ook al julle aandag vernaamlik op Hom, want van dit alles wat Hy enkel deur Sy wil kan bewerkstellig, het niemand ooit kon droom nie. Wat ek jou nou volkome openhartig hier gesê het, is die absolute waarheid. Wat dink julle nou daarvan?”

[6] Al vier sê toe: “Ja, as die verhewe Man alles kan doen wat u as baie geloofwaardige getuie aan ons vertel het, dan moet Hy wel `n groot profeet wees! Want sien, ons Judeërs verwag `n Messias, wat in woord en daad baie magtig sal wees! Maar voor Hy sal kom, sal die groot profeet Elia en volgens die mening van vele mense ook die se leerling Elisa Hom voorgaan. En kyk, miskien is Hy wel Elia of sy leerling Elisa!”

[7] Agricola sê: “Met die oorlewering van julle is ek nie so bekend nie, maar wel met die van julle Messias, vir wie ek nou vernaamlik uit Rome hier na Jerusalem gekom het. Het julle dan nog niks gehoor van die nou oral meer as beroemde en bekende Verlosser uit Galilea nie?”

[8] Die ou man sê: “Hooggeëerde vriend en meester! Ons, arme dagloners, kom per jaar hoogstens tien keer in die tempel; daar bring ons ons klein offer en luister na die een of ander prediking wat ons nie begryp nie. As daar êrens iets nuuts en buitengewoon plaasvind, dan hoor ons in ons afsondering maar heel weinig of heeltemal niks daarvan nie.

[9] Bowendien was ons nou immers meer as twee volle jare bedlêend gewees. Ons seun moes dag in dag uit, selfs op die Sabbat, werk om vir ons hoogs nodige lewensonderhoud te sorg. Op die Sabbat het hy by `n Griek of `n Romein gewerk, wat ons Sabbat natuurlik nie vier nie of andersins wy nie en dit was in `n sekere sin nog `n groot geluk vir ons, want anders moes ons elke Sabbat, veral in die twee laaste jare, volkome moes vas.

[10] As u, geëerde meester en vriend, dit saamvat, sal u wel insien dat `n baie arm familie, al woon hulle midde in hierdie groot stad, van alle verskynsels en gebeurtenisse, ook al is dit hoe besonders, netso weinig kan sien as wanneer hulle êrens aan die einde van die wêreld leef! As ons nou, om die genoemde redes van u, bykans niks weet oor die beroemde en reeds oral bekende Galileër nie, dan kan dit ons egter nie as skuld aangereken word nie.

[11] Die enigste wat ons `n jaar gelede gehoor het, is dat daar `n profeet, genaamd Johannes, in `n woesteny aan die Jordaan aan die fariseërs gepredik het en hulle gedug die waarheid moes gesê het. Maar oor wat daar toe verder met hom gebeur het, het ons niks gehoor nie. Is hierdie verhewe Man dalk die profeet?”

[12] Agricola sê: “Hierdie verhewe Man is dit nie, maar julle sal Hom tot julle geluk nog vandag van naderby leer ken. Eet daarom en drink, sodat julle sterk genoeg kan word om die groot onthulling, wat julle te wagte staan, te kan verdra. Want dit is geen kleinigheid om die verhewe Man van naderby te leer ken nie!”

[13] Toe eet en drink die arm mense weer heel gemoedelik verder. Terwyl hulle eet en enkele bekers wyn drink, val die mooi, swaar skale hulle op en nog meer die goue wynkraffies en drinkbekers.

[14] Die dogter bekyk hierdie voorwerpe met steeds groter aandag en sê ten slotte aan Agricola: “Luister tog eens, groot magtige meester, is dit nie suiwer silwer en goud nie? Dit het u seker uit Rome saamgebring? O, dit moet wel ontsettend baie gekos het!”

[15] Agricola sê: “Ja, mooi Dogter van Sion, dit sou seker veel gekos het as jy die silwer en goud sou moes koop en dan die vaatwerk daarvan sou moet laat maak! Maar die vaatwerk hier het my heeltemal niks gekos nie en vir die Een, wat dit op wonderbaarlike wyse gemaak het, ook nie en tog het alles `n onskatbare waarde. Want kyk, vir Hom, wat almagtig is, is niks onmoontlik nie! Begryp jy dit?”

[16] Die mooi Judeër sê: “Ja, dit begryp ek goed, maar slegs God is immers almagtig! Was God dan Self hier, of het Hy `n engel hierheen gestuur, wat so `n wonder hier verrig het? Want sulke dinge het steeds by die Judese volk gebeur!”

[17] Agricola sê: “My liewe en werklike mooi kind! Ja, ja, God Self was hier, is nog hier en maak Hom wonderbaarlik aan hulle kenbaar wat Hom waaragtig en suiwer liefhet! As jy in jou hart vol liefde vir Hom word, sal Hy Hom aan jou en aan julle almal ook wel kenbaar maak! Lieflike meisie, glo jy my?”

[18] Die steeds mooier wordende jong Judeër sê: “Maar God is tog `n gees, wat geen mens kan sien sonder om sy lewe te verloor nie, want in Moses staan geskryf: “Niemand kan God sien en lewe nie."

[19] Agricola sê: “Jy het wel gelyk, maar by die ander profete staan ook geskryf dat die ewige gees van God - dus God Self - Hom terwille van die mens in die vlees sal hul en Self as mens te midde van hulle sal vertoef en hulle Self die korrekte lewensweë sal leer. En daarom kan `n ware mens God nou sien en hoor en daarby nie slegs die aardse lewe behou nie, maar ook nog die ewige lewe van die siel verkry, sodat hy dan verder in ewigheid geen dood meer sal sien of voel nie. Ook al val die liggaam mettertyd van hom af, leef die siel van die mens tog ewig verder en geniet daarby die hoogste saligheid. Wat dink jy daarvan?”

[20] Die mooi Judeër sê: “Ja, dit sou ons almal wel besonder goed geval, maar vir so `n ongehoorde barmhartigheid is ons beslis te onbelangrik en ook te groot sondaars! Want ten eerste het ons reeds vir lank nie die Sabbat volgens die reëls kon wy nie en hoort ons al lankal in die ry van die groot sondaars, en ten tweede kon ons onsself ook nie daarvan gesuiwer het nie, omdat ons nooit die middele daarvoor besit het nie. En dus sal God, ook al kom Hy nou ook liggaamlik na die mense toe, beslis nie na ons kyk nie. Hy het wel na Abraham, Isak en Jakob gekom, maar dit was baie vrome mense, wat nooit `n sonde begaan het nie. Wat is ons in vergeleke daarmee? Ek sou God dus wel bo alles kan liefhê, maar Hy is veels te heilig en kan die liefde van `n sondaar nie aanneem nie.”

[21] Toe sê Ek oor die tafel heen aan die Judeër: “O liewe dogter, God kyk nie na die sonde van die mense nie, veral nie van jou soort nie, maar alleen na die hart! Wie God waaragtig liefhet, word alle sonde kwytgeskeld, al het hy soveel as wat daar gras op aarde en sand in die see is. Jou sonde is maar net verbeelding en geen werklikheid nie. Vir God is slegs dit `n gruwel, wat vir die wêreld aansien het; jy is egter heel onbelangrik vir die wêreld en dus geen gruwel voor God nie. Wees maar vir God heel innig lief, dan sal Hy jou ook liefhê en jou die ewige lewe skenk! Begryp jy dit?”

[22] Die Judeër sê: “Dit het ek begryp, maar bring my tog na die plek waar God nou is, sodat ek Hom kan sien, liefhê en aanbid!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205