Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 183

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die oorsaak van die newelsonne

183 Nou kom ook die ander leerlinge, behalwe Judas Iskariot, en met hulle Lasarus, Nikodemus en die herbergier Jordan. Toe hulle My sien, vra hulle onmiddellik wat daar aan die gang was en wat dit kon beteken.

[2] En ons Lasarus merk hierby nog op: “Heer, dit is tog wel hoogs merkwaardig! Daar gee nou drie sonne baie helder lig en tog neem ek `n bepaalde onheilspellende somberheid waar in die lug en nog sterker bo die grond; die toppe van die hoë berge sien daar baie donker uit en bowendien is dit ook aaklig koud. Drie sonne sou tog meer lig en meer warmte moet gee as `n enkele son! Hoe gebeur dit tog?”

[3] Die Opper-Egiptenaar sê: “Vriend Lasarus, wat jy oor jou natuurlike waarneming sê is heeltemal korrek en ek het veertig jaar gelede by myself die verskynsel in Opper-Egipte presies dieselfde meegemaak, waarvan ek jou die natuurlike verklaring wel kan gee, maar die dieper liggende geestelike oorsaak nie, en al gladnie nou nie, omdat daar twee newelsonne is!”

[4] Lasarus sê: “Gee my dan in elk geval die natuurlike verklaring!”

[5] Die Opper-Egiptenaar sê: “Kyk, vriend, in die hoogste luglaag, wat hom op `n hoogte van gemiddeld ongeveer tien maal die Libanon bo die aardbodem uitstrek, vorm op bepaalde tye en in bepaalde jare `n fyn damp. En omdat hierdie damp `n hoër graad van stabiliteit het, kom die groot lugsee bo die aarde volledig tot rus - hoewel nie oral nie, - netsoos mens dit op bepaalde tye ook wel op die groot wêreldsee kan waarneem, waar dan ook `n bepaalde deel van die see-oppervlak `n geheel rustige spieël vorm, terwyl golwe gereeld daaromheen vertoon. As daar dan op die groot lugsee-oppervlak soms ook so `n gedeeltelike rus heers, word die beeld van die son daarop netso suiwer teruggekaats as op `n baie rustige seespieël en daardeur sien ons dan, ontstaan deur heeltemal natuurlike oorsake, `n newelson. As daar nou op meer plekke van die lugsee-oppervlak `n soos hierbo beskryf volledige rus heers, dan sal daar ook netso veel newelsonne te sien wees as daar rusplekke op die oppervlak van die lugsee gevorm het; vooropgesteld dat hulle hulleself in `n sodanige posisie bevind, dat dit deur hulle opgevange beeld in `n regte lyn op `n korresponderende gebied val waar die rus vanself heers. Wanneer die posisie van hierdie rustige plek verander, verdwyn vir die gebied die newelson heeltemal of is daar nog slegs één besondere skynsel te sien. En as die rus op so `n plek verander in `n golwende beweging, dan is dit met die newelson ook heeltemal gedaan.

[6] Na sulke verskynsels, wat tot stand kom ten gevolge van die fyn damp in die hoogste luglaag van die aarde en waaraan dit ook te wyte is dat dit minder lig en warm word, kom baie gou digter wolke en daarna swaarder, sodat dit ten slotte ook gaan reën.

[7] En hiermee het jy met `n paar woorde die natuurlike verklaring van die verskynsel; die eintlike, suiwer geestelike oorsaak ken natuurlik alleen die Heer en dan diegene aan wie Hy dit wil openbaar. Ek het ook wel `n vermoede daarvan, maar tog is dit vir my nog lank nie duidelik nie - veral nie diegene wat die toekoms stewig verborge hou nie. Het jy dit begryp?”

[8] Lasarus sê: “Ja, my baie agtenswaardige vriend, dit het ek nou werklik goed en duidelik begryp en ek kan dit nie laat om hier die nie bepaalde onbelangrike opmerking te maak, dat mens by ons Judeërs tot nog toe nog nooit egter iets gedoen het met betrekking tot `n suiwer beoordeling van die verskynsels in die groot natuur en `n fundamentele insig daarin nie. Sommige mense het op hulle eentjie miskien wel die een en ander ontdek en het ook wel agter die oorsaak van menige verskynsel gekom, maar hulle hou dit vir hulle en deel dit wyslik aan niemand mee nie. Want ten eerste bring dit goed geld in - by name onder die meer verligte heidene - en ten tweede moes hulle dergelike kennis en wetenskap verborge hou uit vrees vir die fariseërs, om nie oral deur hulle agtervolg te word nie.

[9] Maar ek dink die volgende: `n goeie kennis en beoordeling van die duisende verskillende verskynsels in die natuur sou die mense die beste afhou van allerlei bygelowe met die verderflike gevolge van dien. Dit sou daarom ook baie wenslik wees as die mense voortaan ook in dié opsig grondige onderrig sou kan kry. - Is U dit ook daarmee eens, o Majesteit en Heer?”

[10] Ek sê: “Niemand meer as Ek nie; want `n mens kan die diepere, bonatuurlike waarhede immers nooit volledig begryp en geheel deurgrond, as hy die bodem nie ken waarop hyself as `n natuurlike mens staan en gaan nie. En presies daarom het Ekself julle al soveel uitgelê op die gebied van die besondere verskynsels in hierdie natuurlike wêreld hier. Ek het julle konkreet die vorm van die aarde laat sien en hoe daar dag en nag ontstaan, Ek het julle die oorsaak laat sien van sons- en maanverduisterings en van vallende sterre, en Ek het julle die maan en die son laat sien en alle planete en die hele eindelose sterrehemel.

[11] En Ek het julle ook gesê dat `n mens God eers volledig kan liefhê, as hy Hom in Sy talloos vele werk ook steeds beter en suiwerder leer ken het. En as Ekself dit vir julle aanbeveel het, dan spreek dit immers vanself dat Ek dit volledig eens is met jou goeie mening. En as Moses dit vir die ware en suiwer opvoeding van alle Judeërs nie hoogs noodsaaklik sou gevind het nie, sou hy nie `n sesde en sewende boek geskryf het oor die dinge en verskynsels in die natuur en bowendien nog `n profetiese aanhangsel, wat die ou leer van die ooreenstemming tussen die natuurlike en die geestelike wêreld behandel.

[12] Maar reeds in die tyd van die konings, is hierdie belangrike tak van kennisoordrag steeds meer verwaarloos, enersyds deur `n deel van die priesters wat steeds hebsugtiger geword het en duisterder in die kennis van die ware, en andersyds ook deur die konings self. En toe die ryk reeds onder die eerste nakomelinge van Salomo verdeel word, gaan hierdie tak van kennis spoedig dermate verlore dat julle nou amper meer weet as wat daar by die Judeërs, vanaf Moses tot in die tyd van Samuel, ooit `n dergelike wetenskap intensief beoefen is.

[13] Daarom het Ek julle ook al veel uitgelê, en julle begryp nou al iets. Maar die belangrikste is en bly die voortdurende strewe na die volledige wedergeboorte van die gees in die siel; want alleen daardeur word die mens eers in alle waarheid en wysheid ingewy en het hy `n volkome en samenhangende insig in alles, van die aardse tot die suiwer geestelik hemelse. Deur dié lig het hy dan ook die ewige lewe, wat eindeloos meer is as die wetenskap van alle dinge in die natuur.

[14] Maar wat sou `n mens daaraan hê as hy alle dinge en verskynsels in die natuurlike wêreld van die grootste tot die kleinste geheel noukeurig sou ken en in staat sou wees om dit skerp te beoordeel, maar daarby nog sover sou afstaan van die wedergeboorte van sy gees in die siel as hierdie aarde van die hemel? Sou die vele wetenskappe hom wel die ewige lewe kan verskaf?! Vorm `n oordeel daaroor en sê My dan wat jy daarvan dink!”

[15] Lasarus sê: “O Majesteit en Heer, dan sou dit beter wees as die mens nooit op hierdie wêreld gebore sou wees nie! Want `n selfbewuste lewende wese, wat kan dink, redeneer en soveel kan begryp en tot stand kan bring en wat gereeld so `n groot welgevalle het aan U werk wat hom gelukkig maak, sou sonder `n bepaalde uitsig op `n ewige en volmaakte voortbestaan volgens my, vele duisende male ellendiger wees, as die miserabelste naakte wurm in die allervuilste en stinkendste poel van die hele aarde.

[16] En wie `n mens vanaf die wieg sou opvoed tot `n helderder sienswyse, sou die grootste misdaad teen die mensdom begaan. Want dit sou die mens dubbel en nog meer op die ellendigste manier dood, want daardeur sou hy van `n mens immers die allermiserabelste skepsel maak.

[17] `n Dier leef weliswaar ook; maar is sekerlik slegs baie vaag bewus van homself, kan nie dink, ken die dood nie, kan die waarde van die lewe nie skat nie en kan daarom ook geen vrees vir die dood hê nie en is daarom gelukkig.

[18] Maar kyk dan eers na die mens, wat die onskatbare waarde van die lewe maar al te goed ken! As hy sou besef dat met die dood van die liggaam alles totaal afgeloop sou wees, sou hy dadelik vertwyfeld wees, sy bestaan duisende male verwens en vervloek en die grootste weldoener van die mensdom sou dan diegene wees, wat die mag en die krag sou besit om die mensdom op die hele aarde en ook homself te dood en derhalwe geheel uit te roei, - of hy sou die kuns moet verstaan om alle mense ineens dermate te versuf dat hulle hulle nie meer van hulleself bewus is nie, wat uiteindelik dieselfde sou wees as wanneer hy hulle almal sou gedood het.

[19] As die mens verder geen vooruitsig of selfs nie eens `n gefundeerde hoop op `n ewige lewe sou hê nie, sou hy ten eerste God - as hy in Hom sou glo - sy lewe lank verwens, in plaas van Hom te loof en te prys; Moses en alle profete sou hy as die grootste vyande van die mens vervloek en diegene wat ook maar één jota van die wet in ag sou neem, sou die grootste dwaas wees!

[20] Uit dit alles blyk tog wel duidelik dat die strewe van die mens na die wedergeboorte van sy gees in sy siel - as hy eenmaal die weë daartoe ken - die allereerste en allerhoogste behoefte is. Want sonder hierdie wedergeboorte hou hy, ondanks sy nog so helder wetenskap, volledig op om `n mens te wees. Hy is dan niks meer as `n verstandige, veel wetend en daarom des te miserabeler dier in die gedaante van `n mens. - Majesteit en Heer, het ek gelyk daarin of nie?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205