Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 82

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die kalmerende toespraak van Nikodemus aan die volk

82 (Die herbergier): “Êrens agter `n gordyn hoor so `n egte aartsfariseër egter die kragtige pleidooi vir die geloof in die Verlosser uit Nasaret ten opsigte van die volk. Hy kom te voorskyn, bestyg die klein gestoelte en sê: “Ek sê julle vanuit my absolute mag as hoëpriester, - wie in die Verlosser uit Nasaret glo, en sê dat hy die beloofde Messias is, is deur die tempel vervloek!”

[2] Hy het hierdie skandelike uitspraak egter nog maar nouliks gedoen, of sy gestoelte was deur die volk omring, en die volk skreeu vir hom: “En ons sê: Wie nie glo dat die Verlosser uit Nasaret onfeilbaar die beloofde Messias is nie, die is deur ons vervloek! En as so `n miserabele, niksnuts van `n opperfariseër, wat die ware Messias eerder sou moet herken as die volk, in sy blinde heerssug so `n oordeel teen ons waag uit te spreek, dan word hy sewe maal deur ons vervloek en het hy die dood verdien! Ellendige, het jy nie die teken vannag gesien nie? Kon ook dit nie deur jou digte wol heendring nie? Nou wag maar, vuige opperfariseër, ons sal jou te digte wol wel dunner en deurdringbaarder maak! Jy het mooi jou lyf teen ons geloop; want op jou, ellendeling, het ons het al lank gewag!”

[3] Toe die opperfariseër hierdie verwelkomingswoorde uit die volk hoor, begin hy om hulp te roep.

[4] Maar die volk skreeu nog harder: “Weg met die godslasteraar!”

[5] Toe dring ons reusagtige, ware Goliat uit Bethlehem na vore, na die kleiner spreekgestoelte, gryp die opperfariseër met sy sterk hand, skud hom eers vir `n tyd sodanig deurmekaar dat hoor en sien bykans vergaan, tel hom toe van die gestoelte af en dra hom na die gordyn waardeur hy vantevore in die groot tempelsaal gekom het, gee hom daar nog `n paar klinkende oorveë en sê toe met `n waarlik donderende stem aan hom: “So sal die volk wat siende geword het, in die vervolg aan priesters van jou soort offers en tiendes bring! Gaan nou maar en laat jou nooit meer sien nie, anders kos dit jou jou lewe!”

[6] Toe raap die opperfariseër wat heeltemal duiselig geword het, in aller yl sy kragte byeen en verskuil hom bewend in `n hoek van sy verblyfplek.

[7] Dadelik na die voorval verskyn daar `n Romeinse afgesant van die landvoog, beklim `n gestoelte wat vir wêreldlike sprekers en verkondigers bestem was, en sê: “Die landvoog laat julle in die naam van die wet waarsku om julle van alle gewelddadighede te weerhou; maar praat kan julle soveel as wat julle maar wil! Julle moet bedink dat hierdie tempel ter ere van God gebou is, en dat elke onbehoorlike gedrag daarom vermy moet word! As iemand egter deur `n dom tempelpriester of dienaar `n onreg aangedoen word, dan hoef hy maar net na ons toe te kom en daar sal volledig reg aan hom verskaf word!”

[8] Ons Goliat uit Bethlehem word bedank vir hierdie welgemeende waarskuwing, maar voeg nog daaraan toe: “U waarskuwing, waarvoor ek u by name van die hele volk bedank het, was beslis heeltemal reg; maar as die kragte van die hemel eenmaal begin met hulle almagtige hande hulle wil aan die groot uitspansel te skryf, dan is dit al vinnig uitgeloop met menslike bevele op hierdie aarde!”

[9] Die Romein sê: “Vriend, ook ons weet dit en ken die uitspraak: contra Jovem fulminantem tonantemque non valet vis ensis, et contra vim coelorum vane frustraque pugnat ars mortalium, (teen die bliksemende en donderende Zeus staan die krag van die swaard nie op nie, en teen die krag van die hemel stry die kuns van die sterflike `n vergeefse stryd) maar deur `n sekere gewelddadigheid van sterflinge onder mekaar sal ons mense die onsterflike en onoorwinlike kragte en magte van die hemel nie in die minste verander nie! `n Waardige, beskeie orde pas ons mense nog die allerbeste, en `n behoorlik en rustige mens sal ook dan nog nie moed opgee nie, selfs wanneer die hele aardbol sou instort. Dit is so my mening! Hou u daarom aan die wens van die landvoog! Dixi. (Ek het gespreek)

[10] Daarop vertrek die Romein en die volk prys sy oproep tot kalmte.

[11] Direk daarna verskyn Nikodemus op die groot spreekgestoelte en hy word deur die volk met luide gejubel begroet. Maar hy sê: “Beste vriende en broers! Ek het julle eintlik niks nuuts te vertel nie, maar ek het tog gekom om te bevestig wat my oudste en tewens beste vriend hier op hierdie plek al aan julle gesê het. Alles is netsoos hy gesê het, daarvoor kan ek selfs met my lewe instaan, en dit verheug my nou des te meer dat ek hier in hierdie heilige groot tempelsaal met mense te doen het wat beslis in alle opsigte my insig en ook my innerlike, volle oortuiging deel.

[12] Vóór my het, weliswaar op die kleiner spreekgestoelte, `n aanmatigende opperfariseër op `n hoogs onwelvoeglike wyse van hom laat hoor, sonder dat iemand uit ons raad van priesters hom dit ook maar met `n woord gevra het; maar julle het hom, na my beste wete, na behore daarvoor skadeloos gestel. Hy het wel daaroor by die Hoë Raad gekla - wat egter in hierdie tyd nie so veel beteken nie, en kry baie gou die antwoord: “As iets ongeleë kom, dan bring dit kommer en geen seën nie!” Tydens die begryplike groot opgewondenheid van die volk, was dit meer as dom om iets na vore te bring wat al onder normale omstandighede nie te ongunstig opgeneem sou word nie.

[13] Toe die onbeskeie opperfariseër daardie antwoord kry, verdwyn hy vinnig met sy taamlike opgeswelde wange en ek word deur die gesamentlike raad afgevaardig om vir julle te sê dat julle julle maar moet hou by dit wat my voorganger gesê het. Noudat julle almal hierdie troos hier in die tempel gevind het, moet julle nou God in julle hart dank en dan weer rustig huiswaarts keer! En mag julle ander teëkom, dan kan julle ook vir hulle dieselfde vertel, sodat hulle nie die lang weg hierheen tevergeefs aflê nie, want die tempel is vanmore en vanmiddag gesluit, netsoos altyd op `n voorsabbat.”

[14] Toe vra die volk nog vir Nikodemus na die betekenis van die derde teken, wat hy volgens die mededeling van sy gryse voorganger self gesien het.

[15] Maar Nikodemus sê: “Dit sal ek julle ook nog wel vertel, maar ietwat sagter as ons onder mekaar is, omdat ons mure vele ore het! Wag vanmiddag maar op die weg wat na Emmaus lei! Daar sal ek na julle toe kom en die derde teken volkome volgens waarheid vertel en dit ook vir julle uitlê, so goed as wat dit vir my moontlik sal wees.”

[16] Daarmee was die volk tevrede en begin om die tempel te verlaat.

[17] Ek en my vriend het ook gegaan en het onderweg U twee leerlinge ontmoet wat ons vertel het waar U was, sodat ons dan ook dadelik vinnig hierheen gekom het.

[18] En dit wat ek nou vertel het, is ook alles wat daar vandag in die tempel voorgeval het. Heer, vergeef my my slegte manier van vertel!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205