|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 31
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Die vyfde gebod
31 Helias sê:” O Heer, net soos vroeër, sê ek nou: Wie doen wat U wil, sondig waarlik nie! En daarom neem ek die vyfde gebod van Moses en sê: Daar staan geskryf: “Jy sal nie doodmaak nie!” Ek hou nou hier maar net krities rekening met die gebod as sodanig en bekommer my voorlopig gladnie oor wat Moses, of ook later `n ander profeet as uitleg daaroor gesê en geskryf het nie, want `n waaragtige goddelike gebod moet immers tog selfs in sy eenvoudigste vorm dit bevat wat redelikerwys tot nut van elke mens kan wees. Maar die gebod bevat dit heeltemal nie en dus kan `n denkende mens onmoontlik iets anders daaroor sê as dat dit die werk van `n mens is of dat daar - ook eers later, miskien vanweë die oorlogvoering - deur mense iets daaruit weggelaat is.
[2] Jy sal nie doodmaak nie! Wie is dan ten eerste eintlik die “jy” wat nie mag doodmaak nie? Geld dit vir elke mens ongeag geslag, leeftyd en stand, of alleen vir die manlike geslag en vir `n bepaalde leeftyd en vir `n sekere stand? En ten tweede: wie of wat mag mens dan eintlik nie doodmaak nie? Net die mense nie of ook geen diere nie? Na my mening word nóg die een nóg die ander daaronder verstaan.
[3] Die dood van mense nie, omdat Josua reeds die stad Jerigo verwoes en haar bevolking gedood het, en dit in opdrag van JaHWeH. Die slagting van die afgodepriesters deur die hand van die groot profeet Elia is bekend. Kyk ons dan na koning Dawid, die man na God se hart, om oor die ander maar te swyg! Hoeveel duisende en honderd duisende is daar deur hulle gedood en hoeveel word daar nou nog elke jaar gedood! Die magtiges van die aarde het ondanks die baie nadruklik, uitgesproke, goddelike gebod, tog volgens God se weë die volste reg om hulle medemens te dood. En dus geld die gebod maar net vir arme verdrukte duiwels van mense. In hoeverre die gebod ook die vrou aangaan, kan glad nie oorgesien word nie, hoewel die kronieke ook aantoon dat ook vroue die swaard gehanteer het, en hoe!
[4] Of ons arme mense ook nie die diere mag slag en dood nie, is volgens my nie eers die bespreking werd nie, want die natuur leer die mense dat hulle hulleself ongeag stand, geslag en leeftyd teen die vele wilde diere om lewe en dood moet verdedig, wil hulle nie oral deur die sterk in aantal vermeerderde wilde en verskeurende diere aangeval, verskeur en opgeëet word nie.
[5] Jy sal nie doodmaak nie! As ek egter deur `n woeste straatrower aangeval word, wat my wil beroof en my daarby beslis wil en sal doodmaak, - maar ek, as die man of vrou wat aangeval word, krag, moed en `n wapen het om hom dood te maak voordat hy my die doodsteek kan gee - wat moet ek dan doen? Hierdie noodweer sou in die wet tog in soverre geformuleer moes word, dat daar staan: “Jy sal nie doodmaak nie, behalwe in geval van uiterste noodweer!” Maar nee, daaroor staan werklik geen woord in die wet nie! Daar staan maar net baie eenvoudig: “Jy sal nie doodmaak nie!” As die simpele wet egter so lui, waar is die goddelike Liefde en Wysheid dan daarin te vinde, wat dan tog moes geweet het onder welke werklik baie betreurenswaardige omstandighede die mense op hierdie aarde sou moes lewe?
[6] Waarom gee God dan so `n wet en beveel daarna Self aan Dawid om die Filistyne en Moabiete totaal uit te roei? Waarom mag Judith vir Holofernes doodgemaak het en waarom mag ek ook nie, sonder om te sondig, iemand die lewe ontneem nie? Wie gee dan die Egiptenare, die Grieke en die Romeine die reg om elkeen dood te maak wat op growwe wyse teen hulle wette sondig?”
[7] Hierop kyk sy om haar heen om te sien hoe al die ander op haar kritiek reageer.
[8] Byna almal gee haar gelyk, en één van die fariseërs, wat `n skrifgeleerde was, sê: “Ja, ja, mens kan in hierdie saak, volgens ons menslike begrippe, die mooi kind nie heeltemal ongelyk gee nie, want die hoofwet lui nou eenmaal woordeliks so, hoewel agterin die boeke van Moses uitgelê is hoe mens die gebod moet opvat en nakom. Maar in `n eenvoudige hoof- en basiswet sou die essensie werklik behoort te gestaan het van wat daar geëis en verlang word, en tenminste die hoogs noodsaaklike newe-omstandighede moet duidelik daarin aangegee wees. Want elke agteraf uitleg en verdere voltooiing van `n eenmaal gegewe wet, skyn te sê dat die wetgewer by die gee van die basisgebooie, nog nie aan alles gedink het, wat hy eintlik deur die gegewe gebod wou gebied en verbied nie.
[9] Wel, as mense gebooie gee, is dit begryplik, omdat in hulle denke en wil geen goddelik verligte volmaaktheid kan wees nie, en dit is ook baie natuurlik dat daar by menslike wette dan agterna allerlei aanvullings en uitleggings te voorskyn moet kom; maar by `n waaragtige goddelike wet moet waarlik geen sodanige leemte voorkom dat dit dan eers agterna met allerlei aanhangsels en toeligtings aangevul moet word nie! Ja, as jy die saak so bekyk, sou jy by dié Mosaïese wet op die gedagte kan kom dat dit glad nie suiwer goddelik is nie, of dat dit so deur die selfsugtige kwade wil van die mense vervorm is. Ek wil daarmee geen oordeel oor die wet uitspreek nie, maar net my tot nou toe nog beslis baie kortsigtige mening geuiter het.”
[10] Ek sê: “Ja, sekerlik, want as julle My wette met menslike insig beoordeel, dan sal julle natuurlik wel leemtes en gebreke daarin ontdek. As jy jou naaste liefhet soos jouself, sal jy hom nie haat, nie vyandig wees en hom geen skade berokken nie; en as jy dit doen, dan sal jy hom gladnie liggaamlik en nog minder geestelik deur allerlei onaangenaamhede wil doodmaak nie.
[11] Jy sal nie doodmaak nie! Dit is volkome juis en waaragtig so in die wet gegee. Maar waarom? Omdat onder “doodmaak” reeds van oudsher nyd, afguns, toorn, haat en wraak verstaan kan word.
[12] “Jy sal nie doodmaak nie!” beteken daarom soveel as: jy sal niemand beny nie, nie met afgunstige oë kyk na hulle wat gelukkiger is as jy en nie in toorn ontsteek teen jou medemens nie, want uit toorn ontstaan haat, en uit haat kom die bose, alles verwoestende wraak voort!
[13] Daar staan immers ook geskryf: “Aan My die toorn, en aan My die wraak, spreek die Heer.”
[14] Maar julle mense moet mekaar in alle liefde eerbiedig, en die een moet die ander goeie dienste bewys, want julle almal het in My één Vader en is vir My daarom gelyk! Julle moet mekaar wedersyds nie vererg en belaster nie, en die een moet die eer van die ander nie deur kwade praatjies skend nie, want wie dit doen, dood die siel van sy medemens!
[15] En kyk, dit alles is in die kort beeld “Jy sal nie doodmaak nie!” weergegee! En die eerste Judeërs, ook nog die ten tye van Salomo, het hierdie wet nie anders begryp nie, en vir die Samaritane sowel as vir die ou Israeliete, is dit vandag nog so. Maar as hierdie wet fundamenteel maar net so begryp moet word, hoe kan iemand dan aanneem dat deur hierdie wet, die noodweer teen slegte mense en selfs teen verskeurende diere verbode sal wees vir die mens?”
[16] Helias sê: “Ja, Heer, dit sien ons nou almal sekerlik baie goed in, omdat U ons dit nou op volmaak korrekte en ware wyse uitgelê het. Maar sonder U barmhartige uitleg sou ons dit nie so maklik begryp het nie. Waarom het Moses ook nie dadelik die uitleg by die wet gegee nie? Want hy as profeet moes immers tog ook al vooraf ingesien het dat die latere Israeliete die eenvoudige beeld van die wet nie so sou begryp as wat die Israeliete dit sekerlik in sy tyd wel begryp het nie.”
[17] Ek sê: “Ja, My liewe kritiese Helias, dit het Moses goed ingesien en daarom het hy ook `n groot aantal uitleggings vir latere tye opgeskryf, maar dit is nóg Moses se skuld nóg My skuld dat jy dit tot nou toe nog nie gelees het nie.
[18] Tog was jou kritiek baie goed, omdat jy die gebreke en leemtes presies na vore gebring het, wat weliswaar nie aan die wet nie, maar des te meer aan julle kennis kleef, en om dit aan te vul, het Ek jou die ou Mosaïese wet laat kritiseer.
[19] En omdat Ons nou op hierdie wyse ook die vyfde gebod in die regte daglig geplaas het, kan jy nou wel met die sesde gebod begin en ook die gebreke en leemtes daarvan aantoon as jy dit ontdek het. Praat dus maar!”
|
|
|
|
|