|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 42
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
`n Wonder van RafaEl
42 Toe tel RafaEl `n klip van tien pond van die grond af op en sê: “Ek dink dat hierdie klip groot en swaar genoeg is om vir julle `n gedugtige proef daarmee te kan gee!”
[2] Die Griek sê: “Ongetwyfeld, maar wat gaan daarmee gebeur?”
[3] RafaEl sê: “Sodat julle my nie vir `n dwase towenaar sal aansien nie, mag julle hierdie klip self in die hand neem en hom ook deur julle metgeselle laat vashou, sodat ook hulle hulleself goed daarvan kan oortuig dat dit `n egte, massiewe klip is, netsoos wat dit maar net hier in hierdie streek voorkom! Neem dus die klip in jou hande en bekyk hom!”
[4] Daarop neem die Griek die klip in sy hande en keur hom en sy metgeselle doen dieselfde.
[5] Toe almal hulleself baie gou voldoende daarvan oortuig het dat die klip `n volkome natuurlike klip was, gee hulle hom weer aan die engel en die Griek sê: “Die klip is geheel en al klip, daaraan twyfel niemand van ons nie, maar wat wil jy nou daarmee doen?”
[6] RafaEl sê: “Neem die klip weer `n keer in jou hande en tel nog meer van sulke klippe op, eers dan sal julle ons goddelike krag leer ken! Maar julle hoef nie bang te wees nie, want daar sal geen haar van julle gekrenk word nie!”
[7] Daarop soek hulle `n aantal van die klippe bymekaar en hou dit in hulle hande asof hulle die jong man wil stenig.
[8] Toe sê die engel aan hulle: “Julle sien dat ek geen van die klippe in julle hande ook maar met `n vinger aanraak nie. Sodra ek egter met my wil sê: “Los op in jou eteriese oerstof!” dan sal daar geen stoffie van hierdie klip in julle hande oorbly nie!”
[9] Die Griek sê: “Jong vriend, dit sal wel so `n woordespeletjie van jou wees! Daar sal weliswaar geen stoffie in ons hande bly nie, maar wel die hele klip, en dit sal natuurlik los deeltjies wees, omdat ons hulle self van die bodem losgemaak het, en ook sal hulle in eter oorgaan, omdat ons hulle reeds met ons hande in die lugeter omhoog hou. Het ek gelyk of nie? Vind jy dit goed, jong Judese god, dat ons hierdie klip, as jy hulle met jou wil volledig opgelos en dus vernietig het, na jou toe gooi?”
[10] Die engel sê: “O baie seker, gooi maar op! Maar let nou goed op dat jy die klip nie kwytraak nie, want dan het jy niks meer om te gooi nie! Ek wil nou dat die klip vernietig word! En werp nou julle swaar klip maar na my, as julle dit nog in julle hande het!”
[11] Toe kyk die ruim dertig Grieke mekaar hoogs verwonderd aan en die eerste sê: “Luister eers, pragtige jong man, jy is tot meer in staat as wat ons Grieke, wat veel ervaar en gesien het, kan begryp! Daarvoor is werklik `n bonatuurlike krag van `n goeie gees nodig, want dit is nie meer natuurlik nie. In `n nouliks merkbare oomblik was alle klippe volledig vernietig. Hoe het jy dit gedoen?”
[12] Die engel sê: “Die “hoe” sal julle nog lank nie begryp nie, maar ek het julle immers vantevore gesê, dat julle hier met ons as ware en onbedorwe Judeërs te make het en dus met God se kinders, en hulle besit `n goddelike krag in hulle en is dus gebieders oor die hele natuurlike wêreld en is onsterflik. Daarom sê ek julle immers dat ons as gode vir geen vyand bang is nie en gebieders is oor die hele wêreld. En wie iets van ons wil hê, moet ook in staat wees om volkome ernstig te vra, anders kry hy niks van ons nie. Begryp jy dit nou al beter?”
[13] Die Griek sê: “Hoe het julle dan egte gode geword, terwyl julle tog net so goed mense is as ons?”
[14] RafaEl sê: “Omdat ons vóór alles gestreef het na die suiwer en ware kennis van die een, enigste ware God en ons nie beywer het vir die ydele, dooie skatte van hierdie wêreld nie! En dus het ons van die een, enigste ware God dan ook nie die dooie skatte ontvang van die materie van hierdie wêreld nie, waarin alles verganklik is, maar ons het die lewende skatte van die gees ontvang en van Sy krag, wat ons in ewigheid nooit meer sal verloor nie, maar waarvan ons nog steeds groter daarby sal kry.
[15] Maar om die lewende skatte van die gees te kan ontvang, moet mens van die een, enigste ware God die middele gekry het, wat by ons Judeërs reeds deur die eerste patriarge en daarna vernaamlik deur die groot profeet Moses, en na hom deur nog vele ander profete en lerare gebeur het. Wie van die Judeërs dan die aangeraaide middele self heeltemal aangewend het en die gebaande weë gegaan het, het hom daardeur ook vir die kindskap van God waardig gemaak en daarmee die innerlike krag van die gees verwerf. Omdat dit egter by julle nog nooit die geval was nie, weet julle niks van die een, enigste ware God nie, niks van die kinders van God op hierdie aarde nie en ook nie welke vermoëns hulle het nie. Begryp julle dit?”
[16] Die Griek sê: “Ja, ja, dit kan by julle wel so wees, maar as die bepaalde een, ware God julle Judeërs sulke middele gegee en sulke weë gewys het, waarom het Hy dit dan nie by ons gedoen nie, want ons is tog netso goed mense as julle Judeërs? Ons Grieke het immers ook verstand en begrip en was in al ons bekende tye selfs as een van die geesrykste en ontwikkeldste volkere van die aarde gesien. Dat ons vir julle nou onderdoen aan innerlike geeskrag, daaraan kan ons self tog waarlik niks doen nie! As die bepaalde een, enigste ware God hom aan julle Judeërs as sodanig kenbaar kon gemaak het, waarom dan nie aan ons Grieke nie?”
[17] RafaEl sê: “My vriend, dit is by verre nie net soos wat jy dit jou nou voorstel nie, maar baie anders! Ook die Grieke, netsoos die Romeine en die ou Egiptenare, het op dieselfde punt gestaan waarop `n geringe aantal Israeliete hulle nou nog bevind. Maar hulle het die enigste ware God verlaat, netsoos nou ook weer baie Israeliete Hom heeltemal verlaat het en hulleself vrywillig van Hom afgewend het; diegene wat so die enigste ware God verlaat, het Hy toe ook verlaat en Hy het hulle oorgelaat aan hulle ydele wêreldroes.
[18] Maar wanneer hulle ooit in hulle hart weer tot Hom wil terugkeer, sal Hy hulle ook aanneem en hulle weer die ou middele aangee, waardeur hulle ook weer volkome ware Israeliete en kinders van God kan word. Op die regte oomblik sal daar ook weer bodes en lerare na julle en na alle ander volkere van die aarde gestuur word en die ou middele bekendmaak. Heil aan diegene wat hulle dan sal bekeer!”
[19] Die Griek sê: “Maar waarom gebeur dit nie nou al nie?”
[20] Die engel sê: “Omdat julle nou nog heeltemal te vol is van alle wêreldse dinge! As julle dit meer sal loslaat en daardeur vir iets geestelikers ryp word, dan sal dit, waaroor ek spreek, ook wel na julle toe kom. Maar nou het ek genoeg vir julle gesê en genoeg laat sien; miskien praat ons môre nog verder daaroor!”
[21] Die Griek sê: “Ja, môre wil ek en alle ander weer vertrek, omdat ons van alles wat ons saamgebring het, al baie goed verkoop het, maar terwille van jou sal ek môre nog tot die middag hier bly en jou graag nog om `n paar geestelike skatte vra om saam te neem na Griekeland. Miskien hoor ek môre iets van jou oor die toebereiding van julle spyse, wat werklik goddelik heerlik smaak!”
[22] Die engel sê: “Nou, nou, dit sal ons wel sien! Maar ek dink dat jy voorlopig van die manier waarop ons spyse berei netso weinig sal begryp as van my vernietiging van die harde klip netnou. Maar dit is ook nie so belangrik nie; daar is nog baie ander dinge wat jy hier kan leer ken en wat van meer nut vir jou sal wees om te weet, as hoe ons ons spyse voorberei. As jy daarmee instem, kan jy môre terugkom, maar vir die bereiding van die spyse hoef jy nie terug te kom nie, omdat ek nou al vir jou gesê het hoe dit daarmee staan.”
[23] Die Griek sê: “Oor die berei van die spyse sal ek geen woord meer sê nie, as ek iets te wete kan kom wat vir ons almal nuttiger kan wees as die bereiding van spyse. Daarom sal ons nou gaan en môre teen die middag weer terugkom, wanneer alle ander gaste reeds weggegaan het. Dalk kan dit wel eers donkerder word as nou en die berg is taamlik steil.”
[24] Die engel sê: “Die berg sal wel sodanig verlig wees dat julle maklik en sonder gevaar kan afdaal; gaan julle dus maar in die Naam van die enigste, ware God!”
[25] Na hierdie woorde van die engel gaan die Grieke weg en kom baie gou en maklik by hulle kraampies, waarin hulle gewoonlik oornag. Maar hulle slaap baie min, want hulle dink die hele nag na oor die vernietiging van die klip en maak allerlei veronderstellings sonder dat een van hulle tot `n oplossing kom. Die verskynsel het hulle so opgewonde, dat hulle in hulle hart geen rus kan vind nie en nouliks die dag kon afwag, waarop vir hulle `n lig sou opgaan oor wat hulle meegemaak het.
[26] Teen die môre pak hulle hulle spul bymekaar en maak alles gereed vir die vertrek. Maar almal verskuif die vertrek na die eersvolgende dag, want hulle besluit almal om teen elke prys meer oor hierdie wonderlike saak te wete te kom. Daarom besluit hulle om hierdie komende dag in elk geval geheel aan hierdie saak te wy. En hulle kon haas nie tot die middag wag nie.
[27] Maar nou laat Ons hierdie ruim dertig Grieke staan, dink en oordeel, en begeef Ons met RafaEl, Lasarus en die herbergier na Ons groot eetsaal, waar die ander reeds baie gemoedelik aan Ons tafels sit en eet en drink.
|
|
|
|
|