Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 67

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die verskillende fases van saligheid van voleindigde siele

67 (Die Heer): “Dit alles is vir so `n voleindigde siel dus sekerlik en selfs noodsaaklik te wagte, en tog kan hierdie eienskap van `n siel wat haar lewe voleindig het, beskou word as `n laagste graad van die eintlike groot saligheid, omdat `n voleindigde siel jou op die lange duur net so sou teenstaan as wat sy jou hier sou teenstaan wanneer jy die landskap, al is dit hoe mooi, honderd jaar agter mekaar sou moes bekyk en bewonder.

[2] Die hoër saligheid van `n siel is tog duidelik maar net geleë in die feit dat die volmaakte siel ook met die waaragtige goddelike skeppingskrag toegerus is, en vanuit `n wysheid, wat aan God se Wysheid gelyk is, alles tot stand kan bring wat God Self op presies dieselfde wyse bewerkstellig en voortbring.

[3] `n Nog hoër en eintlik al haas allerhoogste saligheid van `n volmaakte siel is dat sy God, die enigste Heer en Skepper van die oneindigheid, as haar grootste lewensvriend maar steeds by haar kan hê, en Hom mateloos en grensloos kan liefhê, en met Hom in `n enkele oomblik die hele geestelike en materiële skepping kan oorsien.

[4] Maar die toppunt van saligheid van `n volmaakte siel is dat sy deur die liefde heeltemal met God één geword het, en haarself ook in die volledige goddelike vryheid bevind.

[5] Dat dit wat Ek jou nou gesê het die volle waarheid bevat, kan jy reeds met jou liggaamlike oë sien aan hierdie jong dienaar van My. Jy het My al `n paar keer gevra wat daar met hierdie jong man aan die gang is, waar hy vandaan kom en wie hy is. En nou sal Ek dit aan jou vertel:

[6] Kyk, hierdie jong man is reeds lankal `n suiwer gees, maar het al op hierdie aarde as mens in `n liggaam geleef! Sy naam was Henog en hy was die eerste profeet van die eerste nakomelinge van Adam, aan wie hy onderrig gegee het oor God.

[7] Omdat sy siel in die oertyd van die mense van hierdie aarde in die hoogste en suiwerste liefde tot God ontbrand het, het die liefde sy liggaam in `n eteriese substansie opgelos, waarmee die vrygekome siel bekleed was en waardeur sy oombliklik vir altyd `n aartsengel geword het van God se hoogste hemel, dit wil sê van die hoogste goddelike vryheid, wat jy goed kan aflei uit het feit dat sy hier nou vlak by My is.”

[8] Nou maak Agricola groot oë en sê: “Wat? Dit moet `n gees wees, en nog wel `n suiwer en volkome gees?! Maar hy het tog sigbaar `n huid, vlees en bloed, en hy eet en drink tog netsoos ons!

[9] Dat hy netsoos U wonderbaarlike dinge kan doen, het ek vir myself verklaar uit die feit dat hy al lankal U leerling moes gewees het en as sodanig daarvoor die nodige wysheid en mag van U af gekry het; as volkome suiwer gees sou ons mense hom tog immers nie kon gesien het nie. As jy hom vashou voel hy heeltemal soos `n natuurlike mens. Maar U het dit gesê en ek moet U glo, hoewel dit my hele denke nog meer in verwarring bring. Hoe kan hierdie suiwer gees dan nou `n liggaam hê?”

[10] Ek sê: “Ek het jou al vroeër gesê dat Ons nou baie kan bespreek, omdat Ons tyd daarvoor het, en dus sal Ons ook nog goed daarmee in die reine kom. Kyk, daar staan My RafaEl-Henog al voor ons, en Ek vertel jou nou, dat jy dit waarvan jy nog meer wil weet, met hom self kan gaan bespreek, want hy sal jou presies dieselfde inligting gee as wat Ek sou doen, en wat hy jou sal vertel en laat sien, sal hy jou vanuit sy heeltemal selfstandige vryheid, mag, wysheid en krag vertel en laat sien, omdat hy dit vir homself vanuit God volledig sy eie gemaak het. Begin jou ondersoek dus maar met hom!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205