|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 219
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Die lewe van Julius Caesar aan die anderkant
219” (Die Heer): “Julius Caesar: “Dit verheug my baie en ek begeef my met my vriend na die oewer van die meer. Die skipper gaan dadelik aan land en sê: “Daar gunter aan die oewer van die meer, regs, landinwaarts, is nog `n vreeslike poel, waarin nog allerlei verskriklike ongediertes is, wat af en toe die lug van hierdie omgewing verontreinig. Hierdie poel moet julle drooglê! Gooi goeie grond in hierdie poel in, wat nie baie diep is nie, totdat dit opgevul is, dan sal julle jul omgewing daardeur aansienlik verbeter en daarby `n vrugbare stuk land hê!” My vriend en ook ek bedank hom met blydskap vir hierdie raad. Hy vaar vinnig weer weg en ons gaan onmiddellik aan met die werklike swaar arbeid.
[2] In die huis was ook dadelik die benodigde gereedskap te vinde vir die werk wat ons aangeraai was. Ons gryp dit, opgewek en bly, gaan na die genoemde plek en begin te werk. Maar tog word ek angstig en bang, toe ek sien hoe groot die poel was; want daar was so `n enorme hoeveelheid verskriklik uitsiende ongediertes, dat ek aan my vriend sê: “Luister, voordat ons die poel sal drooglê, sal daar minstens honderd volle jare op aarde verbygegaan!”
[3] Daarop sê my vriend: “Wat maak dit vir ons saak hoeveel jaar daar op aarde verbygegaan het! So `n tyd bestaan nie hier nie, want hier heers een en dieselfde ewige dag, en ons tyd lê in ons wil. En hierdie poel is slegs `n noodsaaklike uitbeelding van die onsuiwerheid, wat hom nog binne in jou hart bevind, en hier is dit veral jou taak om jou daarvan te suiwer deur `n ernstige wil en deur geduld, wat vir jou op aarde totaal vreemd was. Maar ek sal jou help, dan sal ook hierdie vreeslike poel gou en sonder te veel moeite in `n vrugbare stuk land verander word!”
[4] Toe ek dit hoor, versterk ek my wil en begin met alle geduld te werk. In die begin lyk dit wel asof die poel nooit sou volword nie; maar langsaam aan word dit tog sigbaar dat ons nie tevergeefs werk nie; en so was die afskuwelike poel dan ook baie gou heeltemal gevul met goeie aarde, die ongediertes beswyk onder die gewig van die aarde en word vir ewig begrawe en ons wen `n goeie en mooi stuk land en plaas ook dadelik `n nuwe woonhut daarop, wat ons vir die aankomende nuwelinge ter beskikking gestel het, want ons help hulle meestal op dieselfde manier vooruit as waarop die vriend, waaroor ek spreek, my vooruit gehelp het.
[5] Die skipper was sedertdien al meermale by ons gewees en het ons telkens weer tot nuwe werk aangesit, wat ons ook verrig het, waardeur ons omgewing in `n ware Eden verander is. Ek woon nog daar en verlang vir myself niks hoër, mooier en beter nie. Laat jou daarom op hierdie wêreld met niks in wat in aardse opsig groot en waardevol is nie; want by ons is slegs die werk en dade wat waaragtig goed en edel is, van waarde!”
[6] Geheel oorbluf sê die streng hoë raadsheer toe aan die gees van Julius Caesar: “Waar is dan, vir aardse begrippe, die gebied wat jy nou so getrou beskryf het?”
[7] Julius Caesar sê: “Op hierdie aarde sal hierdie gebied wat deur my beskryf is, wel nêrens wees nie, maar tog is dit so dat dit plaaslik oral kan wees; want waar ek is, is daardie gebied ook. So langsaam aan het ek wel geleer dat die plek, die omgewing en alles wat my in ons wêreld as skynbaar lewelose materie omgeef, uit myself gegroei het - netsoos in sekere sin `n boom uit die aarde - of met ander woorde: ekself is die skepper van die wêreld wat ek bewoon. Ek en my vriende bewoon daarom ook dieselfde landskap, omdat ons dieselfde liefde, dieselfde wil en derhalwe ook dieselfde denkwyse het; maar op dieselfde plek kan ook nog tallose ander geeste woon, en elkeen in `n ander omgewing. Dit is die groot verskil tussen ons geeste, en julle, nog aardse mense.”
[8] Die raadsheer sê: “Dit begryp ek nie! Hoe kan nou op een en dieselfde plek meer omgewings en landskappe wees?”
[9] Julius Caesar sê: “O, dit kan maklik, en uiteindelik selfs ook nog op baie natuurlike wyse! Kyk, in een en dieselfde vertrek slaap byvoorbeeld honderd mense en almal droom! Die een is in Rome, die ander in Athene, `n derde in Jerusalem, `n vierde in Alexandrië en gaan so maar deur, elkeen is al êrens anders en dit so lewenseg dat hy oordag maar nie daaroor uitgepraat raak nie. Wel, hoe is dit dan moontlik? Al honderd in een en dieselfde slaapvertrek - en tog elkeen in `n heeltemal ander omgewing?! Ja, hoe is dit dan as duisende mense hulle op `n veld bevind en elkeen op een en dieselfde oomblik iets anders sien?
[10] Kyk, ongeveer so is alles in die ander, of liewer gesê, in ons geesteswêreld! Die verskil tussen ons wêreld en die van julle hier, is maar net die volgende: Ons geeste woon in feite eintlik in ons heeltemal eie wêreld, maar julle woon in die wêreld van God. Want ons wêreld is die werk van ons gedagtes, idees, begeertes en ons wil; maar hierdie wêreld is die werk van die liefde, die gedagtes, die idees en die wil van God.
[11] Daarom is die mens die ewebeeld van God, het hy skeppingskrag in hom en kan in suiwer geestelike toestand sy wêreld self skep en sodoende in sy volkome eiendom woon. Dit sou jy nou wel begryp het?!”
[12] Die raadsheer sê: “Maar dan is die mense wat jou omring en met jou omgaan tog ook slegs jou werk en jou eiendom in die wêreld wat as `n droombeeld uit jou voortgekom het!”
[13] Julius Caesar sê: “Ook dit, ten dele; maar ek sou hulle sonder dat hulle dit wil nie vir die gees kan gaan haal nie en nog minder met hulle kon omgaan, sien, hoor en spreek nie. Maar dit lyk ook baie sterk soos die sien, hoor en voel van jou medemens op hierdie aarde. Want jy sien die werklike mens ook nie, maar slegs `n afbeelding daarvan in jouself, jy voel hom slegs deur jou eie gevoel en hoor die geluid van sy woorde in jou oor, wat so ingerig is dat dit die geluid wat daar deur die lug na toe kom, naboots. Maar wanneer jy blind, doof en sonder gevoel is, bestaan daar vir jou geen medemens nie, ook al sou hy hom baie naby in jou omgewing bevind. Maar al hoor, sien en voel jy nog so baie mense en stel jy jou hulle in gedagte voor, dan sal jy tog in werklikheid niemand sien, hoor en voel as daar niemand is nie.
[14] En so moet ook in die geesteswêreld die gees waarmee jy wil omgaan, daar wees, in elk geval met sy wil, sy liefde en sy bewussyn. Sonder dit is jy alleen of die mense wat jy dalk netso sien is niks anders as newelbeeld van jou fantasie nie, wat op sigself geen bestaan, geen realiteit het nie en kan derhalwe ook nie wedersyds met jou omgaan nie; want alles wat hulle blyk te wees, is jy self.
[15] En dit is ook dieselfde en eindelose groot verskil tussen God en ons mense, wat op Homself lyk, dat slegs God alleen vanuit Sy groot gedagtes volkome, selfstandige en geheel vrye mense in die lewe kan roep, terwyl ons geeste, wel newelbeelde, maar geen realiteite in die lewe kan roep nie. So is ook die wêreld wat `n gees bewoon, eerder `n fantoom as werklikheid; want geeste met `n groter volmaaktheid het my ook hulle wêreld laat sien op een en dieselfde plek, en die wêreld sien baie anders daaruit as die wêreld wat ek bewoon. Maar dit sal jy eers heeltemal begryp en insien as jy self `n bewoner sal wees van jou eie innerlike geesteswêreld.
[16] En nou het ek jou voldoende laat sien hoe dit staan met die lewe nadat die liggaam weggeval is; stel ons daarom nou verder geen vrae meer nie!"
|
|
|
|
|