Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 97

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die Heer genees siekes in `n vissersdorpie

97 Toe het ons van die tafel af opgestaan omdat dit in elk geval alreeds byna die vierde uur in die namiddag was, en Ek het aan Andreas en Natánael opdrag gegee om aan hierdie priesters die nodige onderrig te gee en Ek het met die ander studente en huisgenote na buite gegaan.

[2] Ook die Zeuspriester het ons gevolg, want hy sê aan die ander vier: “Let julle goed op wat die twee mans aan julle sal sê; ek sal egter die Heer agternagaan om te sien en te hoor wat Hy alles sal doen en sê.”

[3] En dus het hy ons agterna gekom toe ons langs die Eufraat gewandel het, waar aan die regteroewer daarvan - waaraan die dorp geleë was - ook `n aantal seldsame, heilsame kruie gegroei het. Ons het na `n uur se stap stroomafwaarts by `n klein vissersdorpie gekom waar die inwoners meestal van visvang geleef het; want die bodem was klipperig en sanderig en so hier en daar net spaarsaam met gras en ander kruie begroeid, waarop `n paar bokke nouliks voldoende voedsel gevind het en daarom nie geskik was vir landbou nie.

[4] Toe ons daar aangekom het, het daar dadelik `n aantal mense ons tegemoetgekom wat Jored die tollenaar, waarmee hulle baie goed bekend was, verwelkom het, maar ook om begrip en geduld gevra, omdat hulle hom nog `n deel van die vispag verskuldig was.

[5] Die tollenaar het hulle dit egter heeltemal kwytgeskeld en het nog daarby gesê: “Nie net die pag wat julle aan my verskuldig is, skeld ek julle van kwyt nie, maar ek onthef julle ook vir goed van elke verdere heffing; net die keiserlike belasting moet julle van nou af aan as volledig vrye eienaars van hierdie dorpie en julle visvangs, self betaal, en dit sal julle deur die verkoop van die vis wel gesamentlik kan bybring. - Is julle tevrede daarmee?”

[6] Uit groot dankbaarheid het die mans en die vroue op hul aangesig neergeval en met luide stem die groot goedheid van Jored geprys. Maar Jored het hulle beveel om op te staan en nie so oordrewe te wees oor so `n geringe weldaad nie.

[7] Nadat hulle opgestaan het, het hy sy seun wat uit die dood opgewek is, aan hulle voorgestel en aan hulle vertel hoe dit gebeur het. Toe het hierdie mense na My toe gedring tot by die plek waar Ek met die arts baie naby aan die water gestaan het, en hulle het begin om My te loof en uitbundig te prys omdat Ek Jored se seun uit die dood opgewek het waardeur Jored hulle nou sekerlik hierdie groot weldaad bewys het, wat hy andersins, hoewel hy altyd baie goed en redelik was, tog sekerlik nie sou gedoen het nie.

[8] Hulle het My op hul natuurlike, eenvoudige wyse gevra, wie Ek dan wel was dat Ek so-iets ongehoords kon bewerkstellig.

[9] Maar EK het hulle gerusgestel en het aan hulle gesê: “Wie en wat Ek is, sal julle nog vroeg genoeg ervaar. Voorlopig kan Ek egter wel soveel aan julle vertel, dat Ek alleen die ware Wêreldheiland vir alle mense is, en nie net die mag het om elke mens alleenlik deur My wil en deur My woord liggaamlik gesond te maak nie, maar dat Ek ook die siele van die mense van hul lang dwaling kan verlos en aan hulle die ewige lewe kan gee. Het julle siekes in julle dorpie, bring hulle dan hierheen, dan sal Ek hulle almal gesond maak!”

[10] Toe het die arm mense My alreeds by voorbaat gedank en sê: “O, liewe Wêreldheiland, ons het genoeg siekes, en selfs ons is nie so gesond soos wat ons daar oënskynlik nog uitsien nie; ons siekes het egter meestal sulke gebreke dat daar by hulle nie baie meer te genees sal wees nie!”

[11] EK sê: “Gaan haal hulle maar en bring hulle almal hierheen, dan sal julle die krag en die glansrykheid van God, wat Hy aan die mens gegee het, vir die eerste maal in julle lewe leer ken!”

[12] Daarop het die mense vinnig na hul skamele wonings gegaan en ongeveer twintig siekes gebring; daaronder was lammes, kreupeles, jiglyers, blindes, dowes, melaatses en selfs `n man wat geen arms gehad het nie. Hierdie man was verder weliswaar gesond en sterk, maar omdat hy alreeds as kind deur die onagsaamheid van sy versorgster beide armes verloor het, kon hy geen behoorlike werk doen nie, behalwe wat hy baie gebrekkig met sy voete kon doen.

[13] Toe alle siekes op `n spaarsaam begroeide grasperk gelê het, het EK na hulle toe gegaan en gesê: “Sou julle almal graag van julle kwale genees wou wees, en glo julle dat Ek julle kan genees?”

[14] Toe het `n grysaard wat aan jig gely het, gesê: “Goeie, liewe Wêreldheiland, as dit vir U moontlik was om die seun van Jored uit die dood op te wek, glo ons ook dat U ons gesond kan maak! Dat ons wat so baie ly, almal egter weer aktief en gesond wil word, spreek natuurlik alreeds lankal vanself. As U, o goeie, liewe Wêreldheiland, ons gesond wil maak, bewys daarmee dan U liefde en barmhartigheid aan ons! Daarvoor kan ons weliswaar niks aan U gee nie; want U sien immers ons groot armoede. Ons het weliswaar alreeds alle gode aangeroep, maar hulle wou ons nie verhoor nie, omdat ons daarvoor sekerlik geen groot genoeg offer kon bring nie. As U ons egter genees, is U meer en beter as alle gode van die hemel!”

[15] Daarop het die aanwesige Zeuspriester baie verbaas groot oë gemaak en aan die arts gesê: “As Hy dit kan doen, is Hy geen mens meer nie, maar waarlik `n God! Ek is egter die meeste nuuskierig oor die man sonder arms! Kan Hy ook aan hom beide sy verlore arms teruggee, dan is Hy algeheel vas en seker God, en dan moet ons Hom aanbid!”

[16] Op daardie oomblik het EK My oë ten hemele gehef en het hardop gesê: “Vader, Ek dank U dat U My opnuut verhoor het! Ek weet wel dat U My altyd verhoor, maar Ek sê en doen dit sodat ook hierdie heidene U erken, in U en in My sal glo, en vervolgens slegs U heilige Naam sal prys!”

[17] Daarop het Ek My tot die siekes gewend en gesê: “Staan op en loop!”

[18] Toe het almal opgestaan, want hulle het almal op een en dieselfde oomblik volkome gesond geword.

[19] Net die man sonder arms het nog nie sy arms gekry nie, en daarom het hy na My toe gekom en gesê: “O goeie Wêreldheiland, omdat dit vir U moontlik was deur U wonderbaarlik almagtige wil om al hierdie siekes te genees, sal dit vir U sekerlik ook wel moontlik wees om beide my werkshande aan my te gee, sodat ek daarmee dan deur allerlei werk my brood kan verdien! O, laat my nie onverrigtersake van hierdie plek weggaan nie, sodat ook ek met my hele hart volkome kan instem met die volste dankgejubel van die ander geneesde mense!”

[20] EK sê: “Waarom het jy op die oomblik getwyfel toe Ek die ander genees het? Sien, hulle almal het geglo en is genees; as jy nie getwyfel het nie, sou jy nou ook alreeds in die besit van jou hande gewees het!”

[21] Die man sonder arms sê: “O goeie Wêreldheiland, neem dit my tog nie kwalik nie, want ek glo nou tog heeltemal dat U my ook kan help!”

[22] Die Zeuspriester het toe heimlik agter My rug aan die arts gesê: “Ek het wel dadelik gedink dat daar met die man sonder armes moeilikheid oor sy genesing sou ontstaan! Want dit is iets baie anders om mense, wat nog alle ledemate het, ook al is dit hoe vergroeid, deur magiese woorde en wilskrag te genees, as om aan `n mens `n totaal ontbrekende ledemaat as nuwe geskape terug te gee!”

[23] Die arts sê: “Dit dink ek nie, want wie drie kolossale klipbeelde in `n enkele oomblik gewoonweg in niks kan verander en die see tot op groot diepte met vaste grond kan opvul, kan ook aan so `n man sy arms teruggee, as Hy dit net wil!”

[24] Na hierdie woorde van die arts het die Zeuspriester niks meer nie gesê nie; maar Jored het na My toe gekom en gesê: “Heer, as U dit wil, gee dan ook aan hierdie man sy hande, ek sal hom dan in diens neem en hy sal goed by my versorg wees!”

[25] EK sê aan Jored: “Wees maar gerus, Ek sal aan hom sy hande gee; maar nou moet Ek vanweë die Zeuspriester nog ietwat talm, want hy het gedink dat Ek nie sal slaag nie, en Ek sal daarom eers met hom nog `n paar woorde wissel.” 

[26] Daarop het EK My omgedraai en aan die priester gesê: “Luister, dom persoon, hoe kan jy oor die Goddelike Wysheid, Krag en Mag oordeel?! Wie het dan, sonder verwekking en moederliggaam, die eerste mens op die wêreld geplaas en aan hom wat vroeër nie daar was nie, al sy ledemate so volmaak moontlik gegee? Sien, dit was Hy wat nou in My werk, waarvan jy jou kan oortuig deur die talle tekens wat Ek alreeds hier bewerkstellig het! Sien jy dan nie in dat `n suiwer mens uit homself nie kan doen wat Ek hier nou bewerkstellig nie, maar dat dit maar net gedoen kan word deur die Gees van God wat in My is en een is met My wil?! Om priester te wees, en dan nie op die eerste oogopslag te sien hoe sulke dade wat Ek nou doen, moontlik is nie, is werklik vir `n Zeuspriester wat tog alle moontlike skole deurloop het en Plato, Sokrates e.a. bestudeer het, nie baie prysenswaardig nie! Sê My eers, of jy in alle erns meen dat Ek nie in staat is om aan die man sonder arms sy arms terug te gee nie!”

[27] Die priester sê: “Dit, my werklik almagtige Vriend, het ek tog eintlik nie bedoel nie, hoewel dit my skyn dat U by gebrekkige mense net die liggaamsdele wat nog daar is, weer gesond kan maak, maar nie die deel wat deur `n bose toeval verlore gegaan het nie! Want ek het by myself gedink dat U, as volmaakte ingewyde in alle onsigbare natuurkragte, wel maklik sou kon werk met die ruwe, dooie materie, die verwante stof in die lug en water wat U duidelik moet gehoorsaam; maar ek het gedink dat lank reeds verlore gegane arms van `n mens iets heel anders is, omdat hul grondstof tog seker alreeds baie ver verwyderd is van die eerste elementêre oerstof, en uit lug en water nie so maklik saamgestel sou kon word nie. Maar so sal dit wel nie wees nie, en vir U sal sowel die een as die ander moontlik wees! Ek het daarnet wel teenoor die arts ietwat skepties my mening geuiter, maar hy het my met weinige woorde volkome van die teendeel van my mening oortuig, en daarom glo ek nou dat U aan die man sonder arms sy arms sou kon gee, ook al sou U dit om die een of ander rede nie gedoen het nie.” 

[28] EK sê: “A, dit is nou `n baie ander taal, en Ek het heeltemal geen rede om nie aan hierdie man sy arms terug te gee nie; daarom wil Ek dat hy hulle op hierdie oomblik moet hê!”

[29] Nouliks het Ek dit gesê, of die man sonder arms het alreeds beide sy kragtige arms gehad en kon dit ook alreeds dadelik gebruik asof hy hulle altyd gehad het.

[30] Dit het by alle aanwesiges so `n enorme sensasie veroorsaak dat almal begin het om te roep: “Hy is geen mens nie, maar Hy is `n ware God! Vir Hom wil ons tempels bou en aan Hom net die suiwerste, beste en waardevolste offers bring!”

[31] Maar Ek het hulle gerusgestel en aan hulle `n uitleg gegee, soos die dag vantevore aan Jored, oor die lewenskrag van die mens in vereniging met die krag van die gees deur die geloof en vervolgens deur die hoogste liefde vir God, wat ewig was, is en sal wees. Die eenvoudige mense het geglo en dit baie maklik en spoedig begryp.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205