Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 110

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die uiteensetting van die skrifgeleerde oor die wese van God

110 Die leerling sê: 'O beste, wyse, heidense priesteres! Jy praat volgens jou begrippe weliswaar wys en jy het van die goeie godheid bepaald geen verwerplike opvatting nie, - maar deson­danks ken jy nie die ware wese van God nie, en as jy dit sou ken, sou jy saam met die wyses uit die voortyd uitgeroep het: 'Verskriklik is dit vir `n sondaar om in die hande van die almagtige God te val!' God is wel vol oneindige liefde vir diegene wat Hom ken, liefhet en Sy gebooie onderhou, - maar duisendmaal wee aan diegene wat Hom nie wil ken nie of, as hy Hom en Sy gebooie wel ken, homself tog in sy hart van Hom afkeer en Sy gebooie nie onderhou nie!

[2] Kyk, die geskiedenis laat ons verbasingwekkende voorbeelde sien van versengende toornoordele oor hele volke omdat hulle God nie meer wou erken nie en maar net gedoen het wat hulle sinne bevredig! Omdat God dus sulke growwe, totaal verstokte sondaars en teenstanders van Sy heilige wil altyd met die onverbiddelikste, hardste straf kasty en die straf selfs dikwels tot die kinders en kindskinders uitstrek, kan ons nie anders as om vasstaande aan te neem dat in die enige en slegs ware God ook toorn en wraak woon nie, en dit nog verseker omdat mens die eienskap ook baie oorheersend in al Sy skepsele aantref!

[3] By ons skepsele kom dit nou maar net daarop neer met watter van die eienskappe wat in onsself aanwesig is, ons onsself vernaamlik geïdentifiseer het en waarvolgens ons handel; want met dieselfde, gelyke eienskappe sal God Homself ook ten voorskrifte van ons gedra. Is ons goed, wys, liefdevol teenoor God en ons naaste, en barmhartig, deemoedig en geduldig, dan sal God ook altyd so teenoor ons wees. Hy sal in ons die bewussyn van die ewige lewe opwek, en ons sal `n oorvloed aan seëninge ontvang. Is ons egter die teendeel, dan sal God ook so teenoor ons wees en ons voortdurend tugtig, en dit net totdat ons onsself volledig volgens Sy wil verbeter het. En kyk, daaruit bestaan dan ook die hoogste regverdigheid van God, waar God sonder hierdie eienskap onmoontlik `n volkome waaragtige God sou gewees het! 

[4] Want God, die alsiende, alwetende en alvoelende, moet vas en sekerlik tog ook in staat wees om te beoordeel wat goed en wat sleg is, dit wil sê, wat volgens Sy ewige orde is, of daarteen, en Hy moet dan die skepsel, wat Hy begiftig het met verstand en `n vrye wil, en wat Hy tot `n hoër lewensdoel op hierdie aarde wil verhef, deur `n korrekte opvoeding ook die les te leer of hetsy te straf. 

[5] Ons enige, ware God is daarom alles in alles. Hy is die hoogste, suiwerste liefde, maar ook die hoogste, onverbiddelikste geregtigheid self. Beste vrou, as jy miljarde jare sou lewe, maar steeds weer teen die bekende wil van God sou ingaan, sal Hy jou nie verhoor nie, ook al bid jy vir duisende jare op jou knieë na Hom toe of Hy jou nie uit jou ellende sou wil bevry nie. Maar sodra jy jou vermaan om in alle erns Sy wil deur jou dade tot jou wil te maak, dan sal God jou ook verhoor en sal Hy jou help in die mate waarin jy Sy wil aanvaar het. Kyk, dit is `n ware en korrekte voorstelling van die enige ware God wat die hemele en hierdie aarde en alles wat daar is uit Homself geskape het! Wat dink jy nou daarvan?' 

[6] Die priesteres sê: 'Ja, ja, dit klink al beter en daar sit baie in van wat jy in die natuur terugvind! Maar ek is `n selfstandig denkende wese, ek het denkvermoë en rede, en ek het gesoek en geen God gevind nie, - en waar vind ek iemand om aan my die aangetoonde, ware goddelike wil mee te deel, sodat ek dit dan kan opvolg? Of het ek vóór my bestaan ooit met die absoluut ware God `n bepaalde kontrak gesluit waarin die voorwaarde staan waaronder ek in hierdie wêreld gebore moes word en wat ek dan moes doen?

[7] Nee, daar kan jy niks oor navraag doen nie, maar die mens kom sonder om dit te weet en te wil op hierdie wêreld, hy moet eers vanweë sy onbeholpenheid en swakheid baie van sy sterk ouers laat welgeval, wat egter goed is omdat die swakke kindmens sonder hulle hulp beslis binne `n baie kort tyd ten gronde sou gaan. Mettertyd word die kind egter `n sterk mens, en dan verminder die absolute gehoorsaamheid aan die ouerlike wil aanmerklik, - maar dan kom die gehoorsaamheid aan `n hoër wil, die wil van God, wat `n mens tot aan sy dood belemmer om sy lewe in te rig soos wat hy dit self wil hê. Wel, as jy dit vooraf met `n God sou afgespreek het, sou dit wel in orde wees, maar daar kom jy niks oor te wete nie en jy kan dit ook nie lewendig in jou herinnering terugroep nie!

[8] Ons mense is duidelik deur `n groot mag en krag in die lewe geroep. Dit leer ons ons selfbewussyn. Wie egter die krag is en hoe hy daaruit sien, is `n heel ander vraag. Ons kom hoogstens te wete dat hy êrens moet wees, omdat elke werking tog `n oorsaak moet hê. Maar waar sit die oorsaak, wat is dit, hoe sien dit daar uit, en hoe werk en handel hy? Wie kan hom soek, wie kan hom vind, en wie kan sy stem hoor en sy wil, en wie kan sy gesig sien?

[9] Wat ons van hierdie krag en mag weet, weet ons tot op hede maar net uit die mond en uit die vrome fantasie van die mense, en merendeels van diegene wat deur hulle besondere vaardighede ook meer met die geheime kragte van die groot natuur vertroud was en dit dikwels ook in verbasingwekkende omvang tydens hulle lewe aan hom diensbaar kon maak. Die soort mense, wat weliswaar seldsaam is, wat ons in `n sekere sin halfgode noem, gebruik hulle natuurlike gawe dan ook gewoonlik om die mense in die naam van een of meer gode onderrig en wette te gee; en die liggelowige, blinde volke glo hulle dan ook heilig en help die wonderdoeners selfs by die maak van ondraaglike harde wette vir hulself en hulle nakoming en bekragtig dit met die gruwelikste straf hier en aan die ander kant. Wanneer ander wyse mense dan, wat ook met baie buitengewone eienskappe begaafd was, die beste vir die mense wil hê en die ou verroeste onsin wil opruim, dan word hy dikwels baie gou `n beklaenswaardige offer van die ou, gruwelike wette. En dit is op hierdie aarde altyd al so gewees en sal ook verder wel so bly, omdat die natuur en die temperatuur van ons aarde so is dat die waaragtige goeie nooit op haar bodem lank sal standhou nie, maar waar die slegte en bose hardnekkiger en onveranderlik bly. 

[10] Strooi maar net suiwer saad in `n sorgvuldig skoongemaakte akker, dan sal daar tog altyd onkruid daartussen opskiet! Strooi egter onkruidsaad op `n stuk grond, en jy sal nie één koringaar somaar te midde van die onkruid sien opkom nie! Daarom moet die mens die goeie altyd met besondere vlyt versorg, en daarby sal hy sy hande vol hê om dit teen allerlei kwaad te beskerm. Maar ondanks alle vlyt en ywer van menige agtenswaardige mense word daar nie met verloop van tyd alle moeite en inspanning gedoen nie, soos by `n groot, mooi stad wat eens vol wêreldse prag was, maar waarvan mens later nouliks meer weet waar sy geleë was. 

[11] Ek sê vir jou, dat jy my nou net werklik `n baie aanneemlike definisie gegee het van die begrip God; maar jy as spreker is `n mens, en ek, jou toehoorster, is ook niks anders nie, en ek kan jou maar net sê: Jou betoog was egter nie in teenspraak met die hoër rede nie, - maar daar ontbreek tog die belangrikste aan, naamlik die noodsaaklike, duidelike bewys dat daar werklik so `n God bestaan waaroor jy soveel goed en aanneemlik gesê het. Kan jy dit gee, dan het jy aan ons almal `n goeie daad verrig, en sal ons weet om jou te prys.'

[12] Die skrifgeleerde sê: 'Die bewys wat deur jou verlang word, kan deur niemand anders as maar net deur jouself gegee word nie, - ook God kan dit nie gee nie; want dit moet eers deur die handeling volgens die ware, geopenbaarde wil van God in jouself duidelik word! Want juis dit is, as `n lewende, waaragtige bevestiging vir die bereik van die ewige lewe, die herkenningsteken wat aantoon dat die wil van God wat aan die mens geopenbaar is, nie die woord van `n mens is nie, maar die woord van die ewig ware, lewende God, wat in homself Lewe, Liefde, Krag en Wysheid is. - Meer kan ek jou nie sê nie, omdat dit op sigself voldoende is vir elkeen wat daarvolgens wil lewe en handel; maar met die uitoefening van allerlei kritiek bereik jy egter nooit iets vir die lewe van jou siel nie. Wil jy egter nog meer weet, wend jou dan maar tot ons Heer en Leraar, Hy sal jou wel verder kan inlig!'

[13] Die priesteres sê: 'Vriend, ook sonder die raad van jou, wat hier totaal oorbodig is, weet ek dit goed! Maar jy het dadelik begin om teen ons te praat en daarom vereis beleefdheid dat ons met jou praat; nou skyn jy egter aan die einde van jou wysheid te wees, en daarom verwys jy my na die groot, wyse meester! Dit is die beste, maar as jy dit dadelik in die begin gedoen het, sou dit vir my en ons almal beter gewees het.'


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205