Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 50

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die ryk visvangs. Die heerlik smakende edelvisse

50 (Die Heer:) “Maar ons moet ons nou gaan klaarmaak vir die visvangs; want daarvoor is dit nou juis presies die regte tyd.”

[2] Die herbergier sê: “Omdat U, o Heer, dit sê, sal dit nou wel die beste tyd wees; maar andersins, volgens ons vissersreël, sou dit nou eintlik die ongunstigste tyd wees, omdat die visse nou terselfdertyd as die son ondergaan en die diepte opsoek en daar dus op die oppervlakte nie baie vis meer aanwesig is nie.”

[3] EK sê: “Juis daarom gaan ons nou visvang, en dan sal dit blyk dat ons ook van die visse meer weet as die ander vissers. Oordag en by `n windstille see kan elkeen visvang, maar in die aand en by `n baie onrustige see is visvang sonder My tans goed onmoontlik vir elke visser op die see. Dus laat ons nou gaan en ons vistuig klaarmaak!”

[4] Daarop het ons uit die kamer gegaan, die vistuig geneem, wat uit `n aantal groot treknette bestaan het, die vissersbote losgemaak, dit bestyg en ongeveer drie veldweë* ver van die oewer af gevaar. *(Veldweg = Griekse afstandsmaat van 129 meter.)

[5] Daar sê EK: ”Werp nou die nette uit, hou hulle goed styf, en laat die roeiers rustig na die oewer koers kry, en aan die oewer sal wel blyk of die ondergaande son ons in ons werk gehinder het!”

[6] Dit het gebeur soos wat Ek beveel het, en toe ons by die oewer kom, was die nette so vol van die edelste visse, dat hulle byna begin skeur het. Toe die vissers begin om die visse uit die nette in die vishouers te plaas, het dit geblyk dat die ruimte te klein was om alles op te neem; ruim `n derde deel van die visse moes in die saamgebinde nette tussen die bote in die water bly hang.

[7] “Nee”, sê die herbergier, “so `n vangs op hierdie tydstip is ongehoord! O Heer, as U met nog tien keer soveel studente nog volle tien jaar in my huis sou woon en leer, dan sou ek U daarmee die wins, wat U my vandag deur hierdie visvangs besorg het, nie kon vergoed nie! Sien eers, my groot en goedgeboude huis met die talle, doelmatige bedryfsgeboue en alles wat daarin is - en ook met al die akkers, weivelde, bosse, munisipale weidings en wingerde - is lank nie soveel werd as hierdie byna ontelbare talle, groot edelvisse nie, wat andersins maar selde in die winter so hier en daar gevang word. As mens in die gunstigste geval tien kon vang, is mens in elk geval alreeds `n ryk man; want visse van hierdie soort word deur die Romeine en Grieke flink opgekoop vir honderd silwerstukke stuk, ingesout en aan die howe van die konings seker vir driehonderd silwerstukke verkoop. As U dit goedvind, o Heer, dan stuur ek my knegte met `n paar daarvan na die stad na die Romeine en die Grieke toe, en dan kan U Uself daarvan oortuig met hoeveel geld hulle alreeds baie gou sal terugkom!” 

[8] EK sê: “Doen dit in elk geval; maar sê wel aan al jou mense dat hulle nie oor My moet praat nie, want dan sou ons baie gou opgeskeep sit met alle belangrike Romeine en Grieke! Laat hierdie edelste visse ook vir ons aandete voorberei word, en self moet jy lustig saameet, want tot op hede het jy maar net gehoor hoe hulle oor die heerlike smaak van hierdie vissoort praat, maar self het jy nog nooit een daarvan geproe nie. Eers wanneer jy nou self een daarvan sal eet, sal jy merk waarom mense soveel geld vir hierdie visse betaal. En nou kan jy jou knegte wel met die visse wegstuur; maar hulle moet dit uit die nette neem. Ook vir ons moet dit uit die nette geneem word; laat die visse in die houers met rus!” 

[9] Toe het die herbergier gegaan, die saak met sy talle knegte gereël, en ongeveer vyftig van hulle het elkeen twee visse geneem, omdat drie te veel sou gewees het, en dit gesamentlik na die stad gedra. Die knegte het vinnig na die Romeine en Grieke gegaan, en toe hulle die bekende edelvisse gesien het, het daar `n formele verkoopsveiling ontstaan sodat `n vis van maar net 40-50 pond vir tweehonderd silwerstukke verkoop is.

[10] Die Romeine en die Grieke het wel gevra, net soos sommige ryk Judeërs, hoe hulle tog op hierdie baie ongewone tydstip aan sulke edelvisse gekom het.

[11] Maar die knegte sê dat hulle van `n onbekende visser die geheim in die hande gekry het om sulke visse ook buite die winterseisoen te vang, en die visse was die sekerste bewys dat die geheim betroubaar was. Toe is geen verdere vrae aan hulle gestel nie en die knegte het weldra vir die herbergier so `n groot hoeveelheid geld gebring soos wat die opbrengs van die visse gelewer het, sodat hy nouliks genoeg houers gevind het om al die geld in te plaas en te bewaar.

[12] Inmiddels was ook ons nagtelike maaltyd gereed en ons het aan die groot tafel gaan sit.

[13] Toe die Judese Grieke die goed voorbereide visse sien, sê hulle: “Van hierdie besondere edel soort het ons net een maal een te ete gekry, en nou is daar so `n groot aantal voor ons! O, dit is egter te veel van die goeie! O Heer, dit is ook U vlees en bloed soos wat die herbergier dit so goed uitgelê het; want sonder U woord en sonder U wil sou ons nooit so `n maaltyd gekry het nie! Ja, hier sien mens duidelik waartoe die Liefde, die Wysheid en die Almag van God alles in staat is! O, wat is die mens tog heeltemal niks vergeleke met U, o Majesteit en Heer!”

[14] EK sê: “So is dit bepaald nie; want dit is immers juis die wil van die Vader dat elke mens net so volmaak sal word soos Hy Self in die hemel volmaak is. En die tyd sal leer dat My egte studente nog groter dinge sal doen as dit wat Ek nou doen! Die tyd het egter nog nie gekom nie, maar sal nie so baie lank meer op hom laat wag nie. - Nou hou ons egter daaroor op en eet en drink soveel ons lus en nodig het!

[15] Solank die bruilofsgaste die bruidegom by hulle het, moet hulle geen nood ly nie; want hulle sal soos die bruidegom opvaar na vanwaar Hy gekom het, en nog genoeg nood kry om te deurstaan. Die ware bruidegom egter is Ek, en die wat in My glo, is die ware bruide en bruiloftsgaste terselfdertyd. Wees daarom nou opgeruind en vrolik van gemoed!”

[16] Daarop het almal flink begin eet en drink met baie genoeë en het daarby baie opgewek geword.

[17] `n Judese Griek het tydens die eet van die vis gesê: “In Kis by Kisjonah het ons ook edelvis geëet wat baie goed was; maar dit was nie te vergelyk met hierdie visse nie, en tog is dit hier dieselfde see en dieselfde water?!”

[18] EK sê: “Dit is seker, - maar dit is nie dieselfde bodem nie! Hierdie soort visse is seldsaam en kom in die natuur maar net in hierdie streek voor. Hulle voel hulle merendeels net in diep water tuis, waar hulle dan ook hul voedsel vind wat bestaan uit soorte diepsee plante. Die plante kom egter net hier voor en wel oor `n oppervlak van duisend akkers; verder is die bodem van die see tot in die ver omtrek leeg, en hierdie vis kom nie daar voor nie. - Maar laat ons nou eet en drink!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205