Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 182

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die gesprek van die gids met die Romeine oor die Heer

182 Daarop sê die jong vrou: 'Ja, geagte vriende, wat dit betref kan ek julle egter nie van diens wees nie! Ek het wel - so meer in die algemeen - die een en ander oor Hom gehoor, maar alles wat die mense oor Hom vertel, klink nog baie ongeloofliker as die verhale oor u gode.

[2] Maar volgens wat algemeen in die beste kringe vertel word, moet Hy wel `n baie wyse en buitengewoon goeie mens wees; naas Sy wysheid duik daar egter dadelik weer allerlei wonderdade op, wat `n mens wat sy verstand gebruik, selfs dan nie sou geglo het nie, as hy dit nie self deur die profeet gesien doen het nie! Self glo ek dit dan ook nie van die Man nie, maar by die mense gaan dat nou eenmaal so. Sodra daar `n slim mens opstaan, te midde van `n groot groep dom mense, en hy hulle wys op hulle groot domheid, en die blindes naderhand insien dat hy waaragtig `n egte wyse man is, beskou hulle hom ook al dadelik as `n God! Ook al gee hy dan staaltjies van sy kennis ten beste wat gewoonweg op baie natuurlike beginsels berus, dan sien hulle dit dadelik as wonderwerke deur `n God verrig, en die mense van al die streke van die aarde loop agter hom aan! Ek glo dus dat dit ook die geval is by hierdie goeie, en tog wel baie verstandige man, wat net so min `n profeet sal wees as een van ons.

[3] Hy was ook al `n paar keer hier in Jerusalem gewees, en ook `n paar wonderwerke gedoen en vervolgens die volk op Sy manier onderrig; maar toe moes Hy in botsing gekom het met die Fariseërs, en hulle het Hom, glo ek, baie nadruklik verbied om in die openbaar op te tree, - en daarom sou Hy op die oomblik wel minder dikwels in hierdie stad te sien wees. Hy moet vernaamlik in Galilea werk, daarom weet mense hier minder oor Hom as byvoorbeeld in `n stad in Galilea.

[4] Ek het Hom self nog nooit gesien en ek het ook geen spesiale behoefte om Hom te sien nie. Van Sy besondere wysheid sou ek maar weinig verstaan, en allerlei toorkunsies het ek ook al dikwels genoeg gesien - veral by die Essene, wat selfs dooies weer lewend en gesond maak, - en daarom voel ek my nie so baie geroepe om die so alomberoemde wonderprofeet te sien nie. Dit is dan ook alles wat ek weet en ek kan u verder niks meer, nog pro nog kontra, oor hierdie profeet sê nie.

[5] Origens moet ek baie eerlik toegee dat ek van geen enkele profeet ooit iets besonders verwag het nie; want ten eerste was hulle almal so vervelend en somber soos `n newelige dag laat in die herfs, ten tweede so onbegryplik soos die sterrehemel en ten derde so donker en onvriendelik as `n onweersnag in Egipte. Wie kan dan ooit vriendskaplik met sulke mense omgaan? Maar dit is maar net my private mening, wat ek aan niemand wil opdring nie; want helaas was ek nog nooit `n profetes gewees nie, en dit maak aan my gladnie saak wat die mense glo nie, as hulle maar net goed en eerlik is.'

[6] Die Romein sê: 'Wel kyk nou eers, jou gewone natuurlike verstand is nog gladnie so sleg nie! Jy het `n gesonde instelling, wat ons heeltemal goed beval; maar desondanks moet daar agter die groot, nuwe Profeet tog meer skuil as wat jy ons oor Hom vertel het. Dat dit jou weinig of ook gladnie kan interesseer nie, kom wel omdat jy nog baie jonk is en deur jou vroulike wispelturigheid; maar ons is reeds taamlik opgevoede mense, en manne uit die vernaamste en grootste stad van die tot nou toe bekende wêreld, en ons is beslis baie geïnteresseerd in so `n seldsame man, anders sou ons nie so `n groot reis hierheen vir Hom gemaak het nie, - en daarom kan jy goed verstaan dat ons nog meer inligting oor die man moet kry. Maar jy is so ingelig, dat jy tog wel sal weet of ons so-iets aan die herbergier kan vra, want die huurlinge van die priesters en van Herodus moet hier baie groot ore en oë so skerp soos `n adelaar hê. Hulle hoort tog sekerlik nie daarby nie?'

[7] Die jong vrou sê: 'O, bekommer uself nie daaroor nie! Die herbergier swyg soos die graf en het, sover ek weet, nog nooit iemand verraai nie. U kan hom die beste vra, en die ongeveer dertig gaste skyn vriende te wees van die eintlike eienaar, genaamd Lasarus, en hy is self heeltemal teen die tempel, en daarom dwarsboom die priesters hom so veel as wat hulle maar kan. Maar hy is onbetwisbaar een van die rykste mense in die hele land, dus kan hulle hom nie so maklik iets aandoen nie, en nog baie minder omdat hy met al sy besittings heeltemal onder Romeinse beskerming staan. O, sowel met die een as met die ander kan u volkome vryuit praat en niemand sal u verraai nie! Ek wel die allerminste; want hoeveel agting ek vir die tempel het, dit het ek u benede al baie presies uitgelê, en daaraan hoef ek wel niks by te voeg nie!'

[8] Die Romein, wat die Griekse taal magtig was, sê: 'Goed gepraat, beste gids! Dit is heel in orde, want ons weet nou met wie ons hier te doen het; al die ander sal dan wel vanself kom!'

[9] My leerlinge sit saggies ondermekaar en mompel oor hierdie vreemdelinge en maak kritiese opmerkings, en let nie soveel op na die nogal ligvaardige meisie nie, maar Ek gee hulle te verstane dat hulle nie voortydig iets moes sê nie. En dit doen hulle dan ook.

[10] Baie gou daarna kom Lasarus en die herbergier die kamer binne en kondig aan dat die aandete binnegebring sou word. Dit was vir die vreemdelinge natuurlik `n verrassende goeie berig.

[11] En toe daar dadelik rojale hoeveelhede baie lekkerlykende voedsel in edel houers op die tafels gesit word, maak die vreemdelinge groot oë, en sê: 'Waaragtig, smaakvoller kan jy dit ook nie in Rome nie kry!'

[12] Maar toe hulle begin eet, word hulle heeltemal entoesiasties en hulle hou nie op om die loftrompet te blaas oor die kwaliteit van die voedsel nie. Ook ons tafel word ryklik van voedsel voorsien, en ons eet en drink; maar ons doen dit nie so entoesiasties nie, wat vir die vreemdelinge ietwat vreemd voorkom, en hulle dink toe dat ons spyse miskien ietwat minder goed was.

[13] Lasarus en die herbergier, wat aan ons tafel eet, sê egter: 'Beste vriende, dit is by my altyd dieselfde! Elke gas, hoog of laag, word heeltemal op gelyke wyse bedien! Elkeen kry met alle genot die beste aangebied wat ek het.'

[14] Hierdie woorde stel die vreemdelinge heeltemal gerus, hulle eet en drink en vra tydens die ete niks verder nie.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205