Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 37

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die wyses uit Persië

37 Die herbergier het vinnig na die kombuis gegaan en alles was spoedig klaar. Daar is dadelik opgedien en ons het heel welgemoed geëet en gedrink. 

[2] Die ander gaste, wat as reisigers deels uit Galilea, Griekeland, Samaria en deels uit verskillende ander lande die nag hier deurgebring het, omdat die herbergier bekend gestaan het as `n baie redelike man met `n groot gastehuis, het egter verneem dat Ek, van wie hulle alreeds soveel gehoor het, My nou ook in hierdie herberg bevind het. Hulle het aan die dienaars van die herbergier gevra of hulle My mag besoek. Sodoende het daar `n dienaar na ons toe gekom, wat die versoek in die geheim aan die herbergier, wat oor allerlei dinge met ons gepraat het, meegedeel.

[3] Die herbergier sê aan die dienaar: “Daarop kan ek geen ja of nee sê nie, want hierdie Heer is alleen Heer, en daar mag net gebeur wat Hy wil!”

[4] EK sê egter aan die herbergier: “Daar is by die reisigers ook vier magiërs uit Egipte, wat egter in Persië naby die grens met Indië gebore is. Drie van hulle is vooraanstaande magiërs en alreeds op hoë leeftyd, die vierde is net `n student. Hulle het wel ook nog `n groot gevolg, maar hulle is vir die grootste deel op `n ander plek geherberg; hier het hulle net die aantal persoonlike dienaars by hulle wat hulle nodig het. Wel, hierdie vier magiërs, wat nou `n aantal jare in Egipte aktief was, kan jy laat binnekom en dan sal ons hulle eers aan die tand voel om te sien watter soort gesindheid hulle het.”

[5] Toe het die herbergier na die kamer gegaan waar die magiërs hulle hul bevind het en aan hulle gesê dat Ek dit aan hulle toegestaan het om na My te kom.

[6] Daaroor was die magiërs baie verheug, omdat hulle selfs tot oor die grense van Kanaän al soveel oor My gehoor het. Hulle staan dadelik op en kom, begelei deur die herbergier, vinnig na My toe. Toe hierdie eerbiedwaardige grysaards binnegekom het, het hulle diep gebuig en baie hoflik gegroet, soos wat die gebruik by hulle was. Omdat hulle die Hebreeuse taal magtig was, kon hulle ook deur alle studente goed verstaan word.

[7] EK sê dadelik aan hulle: “Die Een, wat u graag nader sou wou leer ken, is Ek; maar kom sit nou by ons, dan sal ons eers ietwat nader met mekaar kennis maak!”

[8] Die magiërs het aan ons tafel plaasgeneem en EK vra aan hulle: “Vertel u My eers openlik wat u alreeds met u kunste en toordery verrig het, dan sal u ook van My hoor, wat Ek alles doen! Miskien kan ons almal dan mekaar wedersyds van diens wees!”

[9] Toe het die magiërs gebuig en die een magiër sê: “Heer, dit is ons oudste en wysste, sy naam is Hahasvar (later Kaspar = hoeder van die sterre(*), hy sal vir ons spreek! Hy is alreeds drie maal dertig jaar oud. Ek self is eers tagtig en hierdie persoon langs my tel sewentig volle jare, en in die sterre staan geskryf dat elkeen van ons vanaf nou nog dertig jaar moet leef. My naam is Meilisechiori(*) (het insig of kennis om die tyd te meet) en die naam van my buurman is ou Li Tesar (besweerder of bedwinger van die wil). Die vierde van ons is nog jonk en het nog geen spesiale naam nie omdat hy nog `n student is. Die oudste van ons sal nou spreek!” *(Later respektiewelik Kaspar, Melchior en Balthasar.)

[10] Toe het die oudste dus begin en gesê: “Ons drie was alreeds dertig jaar gelede hier gewees en het `n lang reis van die Verre Ooste hiernatoe onderneem, want ons is deur `n besondere ster daartoe opgeroep en in die taal van die sterre staan geskryf: “In die verre Weste is `n nuwe koning by die ontaarde volk van God gebore. Sy liggaamlike moeder is `n maagd wat nooit deur `n man aangeraak was nie; want die kind in haar skoot is verwek deur die groot krag van God, en Sy Naam sal groot wees onder alle volke van die aarde, en Hy sal `n Ryk vestig en daarin as almagtige Koning vir ewig heers. En met almal wat in Sy Ryk sal lewe, sal dit goed gaan; want oor hulle sal die dood geen mag meer hê nie!” 

[11] Toe ons dit gelees het, het ons onsself gereed gemaak, die loop van die ster gevolg en werklik te Bethlehem, en wel in `n ou skaapstal, baie wonderbaarlik `n pasgebore Kind gevind en ons het aan hom ons gawes geoffer. Ons wou, soos wat afgespreek was, weer via Jerusalem na ons eie land terugreis, maar was in `n droom gewaarsku deur `n liggees dat ons langs `n ander weg na ons huis moes gaan en die pasgebore Koning nie aan die bose vors moes verraai nie. Dit het ons toe ook gedoen. Wat daarna met die wonderbaarlike Kind gebeur het, kon ons, ondanks ons naspeuringe, op geen enkele wyse meer te wete kom nie.

[12] Ons het van die ou mense gehoor dat die ou, wrede vors Herodus te Bethlehem vanweë die pasgebore Koning `n kindermoord gelas het, waarby alle jong seuns van l tot 2 jaar met die swaard omgebring is; maar die ouers het na bewering met hul Wonderkind nog net betyds na Egipte gevlug en so aan die wreedheid van die kranksinnige vors ontkom. Ons soek nou `n aantal jare in Egipte na dieselfde Kind en die Koning en kon nie die geringste ontdek nie.

[13] Eers onlangs in Memphis in Egipte, het ons gehoor dat daar in Galilea `n groot wonderdoener optree, wat tekens en dade verrig, waarvan op hierdie aarde nog nooit gehoor is nie, en dat Hy daarby sulke wyse toesprake hou, dat alle groot wyshede van die aarde daarteenoor suiwer in die stof sou moes kruip. Baie sou daarom in Hom glo en aanneem dat Hy blykbaar God Self moet wees, omdat Sy doen en late andersins nie te verklaar is nie.

[l4] Na aanleiding van hierdie berig het ons spesiaal weer hier na Kanaän of na die Judese land gekom, om hierdie buitengewone mens êrens te ontmoet, en wel om twee redes: Ten eerste, om ons self van alles persoonlik te oortuig, en ten tweede, om te ondersoek of hierdie man dalk voortgekom het as die Kind wat in Bethlehem gebore is.

[15] Die beroemde wonderdoener is weliswaar nog geen koning nie, - maar dit maak heeltemal nie saak nie; want hoewel ons net wyses en sterrekundiges is vanweë ons kennis van die natuurkragte in die oë van die blinde mensdom, is ons ook baie buitengewone magiërs en is ons in die verre hooglande agter Persië ook konings met `n land en `n groot bevolking en ons het geen vyande te vrees nie, omdat elke naburige vors ons hoog ag en die grootste eerbied vir ons geheime mag het. En tog is ons mag net `n baie natuurlike een, wat elke mens kan leer; hoeveel te meer kan die beroemde man van die Judese land dan Koning wees, wat alleenlik deur Sy wil berge en rotse kan vernietig, aan dooies die lewe kan teruggee en die elemente kan gebied! 

[16] Ons het alreeds vanoggend hier in hierdie streek aangekom en navraag gedoen oor hierdie man, en mense sê dat Hy onlangs hier was en dat Hy waarskynlik binnekort weer hierheen sou kom. En nou laat in die aand is dit in die huis van mond tot mond gesê dat die beroemde man saam met sy studente hier aangekom het.

[17] Nou kan U, Heer, U wel voorstel wat `n hewige verlange daar in ons almal begin brand het om in U die man te sien oor wie ons sulke wonderbaarlike groot dinge gehoor het, en om U vervolgens ook met die grootste beskeidenheid te vra of U dalk tog uit die Wonderkind, wat in Bethlehem gebore was, voortgekom het.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205