|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 215
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249. |
|
|
Die orakel van Delphi. Oor die verdere lewe na die dood
215 ( Die Romein) 'Luister! Wat dink jy dan van die nog bestaande orakel van Delphi? - Hierdie vraag is tog egter wel kort en heeltemal op jou terrein! Praat!'
[2] Die Fariseër sê: 'Daaroor het ek wel eendag iets gehoor, maar hoe kan ek jou nou vertel wat ek van iets dink, as ek nouliks meer daarvan weet as die naam?! Dat daar in Delphi `n waarsegster is wat Pythia heet, op `n driepoot sit en die mense vir geld baie slim antwoorde op hulle vrae gee, soveel weet ek wel; maar hoe die Pythia dit doen, hoe die tempel van hierdie waarsegster en haar driepoot daar uitsien, en of haar waarseêry enige waarde het of nie, dit weet ek nie en ek kan jou dan ook geen ander antwoord gee as dit wat ek jou al gegee het nie.'
[3] Die Romein sê: 'Waarlik, ek het jou tog wel as meer ervare beskou as wat jy in werklikheid en volgens waarheid is! En met julle ongeloof en met soveel onwetendheid waag julle dit om die wysste van die wyses te toets en te beproef?! Nee, dit is tog wel ietwat te veel! In Rome het ek al egter gehoor hoe julle die volk by julle sabbatstoesprake oor alles wat die heidendom aanbetref ernstig die leviete voorlees, en elke Judeër op afskuwelike wyse met ewige verdoemenis dreig wat dit sou waag om ooit so `n tempel te bekyk, en hom te laat inlig oor die gebruik daarvan, om so daardeur in staat gestel te word om die lig en skaduwees van die ander volke te leer ken.
[4] Maar ek stel nou vir jou die negende keer `n vraag en sê: Hoe kan julle dit doen, terwyl julle tog geen floue vermoede daarvan gehad het waaruit die eintlike heidendom bestaan nie? Julle Skrif verstaan julle nie, in julle God glo julle nie, en tog wil julle regters wees oor mense, wat dit belangrik vind om hulle gees te verhef deur ervarings wat elders opgedoen is! Sê my eers waarom julle dit doen!'
[5] Baie verleë antwoord die Fariseër: 'Dit moet ons doen omdat die owerste van die tempel dit ten strengste voorgeskryf het. Oor die eintlike rede moet ons onsself gladnie bekommer nie en dit gaan ons ook niks aan nie; want hy het ons gebied dat dit sy verantwoordelikheid is. Ons is slegs hulle masjiene, wat daarby `n goeie lewe het en die hele wêreld heimlik kan uitlag; want hoe dommer hulle is, hoe beter gaan dit met ons. Daar was by ons ook mense gewees wat met alle moontlike offers en opofferinge die ryk van God gesoek het en uiteindelik tog niks anders as die dood gevind het nie, wat ons almal ook weldra sal vind. Is diegene wat hulle lewe geniet nie duidelik wyser as die een of ander eienaardige wat homself ontman ter wille van `n hemelryk waarop hy hoop en dit totaal onbekend en nog meer onseker is, en dan uiteindelik niks meer eet as sprinkane en wilde heuning wat die wilde bye en hommels in hulle aardholtetjies byeen vergaar het nie? Hulle kan sê wat hulle wil, maar ek bly heeltemal daarby dat jy moet sorg dat jy goed, gesond en so sorgeloos as moontlik leef, en dat al die ander nie die moeite werd is nie! Wie nie baie geleer het nie, hoef aan die einde ook nie baie te vergeet nie.
[6] En aan die einde van ons lewe sal dit tog wel niks saak maak of ons met baie geleerdheid en kennis, of as dwase deur die wurms geëet gaan word nie! Of daar weereens `n opstanding, of `n sielelewe na die dood van die liggaam sal wees, is `n vraag wat geen sterfling andersins as net deur sy blinde geloof beantwoord sal kry nie. Die antwoord, dink ek, sal wel aan jou vraag voldoen?!'
[7] Die Romein sê: 'Hoor eers, man, jy is so ontsettend dom en jou siel is so leweloos, dat iemand van ons op so `n uitspraak - en nog wel waar die volk bystaan! - geen antwoord meer kan gee nie! Ek het tog al met baie oor geestelike dinge gepraat, maar nog nooit, selfs nie by die meeste fanatieke heidene, het ek so `n stokblinde dwaas teëgekom nie! Ek, as heiden, sou wel honderde sprekende bewyse kon gee van die lewe van die siel na die verlaat van die liggaam in die helderste en sekerste lig, - en jy as priester praat dommer as die slegste dier, as dit kon praat!
[8] Kyk, as vriend van die lig en van die waarheid sal ek vir jou, in plaas van die tiende vraag, `n baie kort ware voorval vertel, wat ek self in die teenwoordigheid van talle getuies beleef het, en daarop sal ek baie graag jou antwoord wil hoor!
[9] Sewe jaar gelede was ek in diens van die staat na Hispania (Spanje) gestuur. Saguntus noem hulle die plek waar ek moes wees. Ek het saam met my bediendes in een van die grootste herberge van die plek vertoef, waar ek baie goed versorg was. Vroeg op die oggend van derde dag, terwyl ek heeltemal wakker was, kom my oorlede vader, wat reeds twintig jaar gelede oorlede is, presies soos wat hy eertyds daar uitgesien het, na my toe en roep my so hard op my naam dat al my bediendes dit ook gehoor het, - terwyl hulle hom ook almal gesien het.
[10] Ek vra die gees wat hy wou hê.
[11] En die gees sê: 'Wat julle sterflinge nog lank nie vermoed nie, sien ons onsterflikes al baie duidelik vooruit! Verlaat op die laatste binne `n uur hierdie herberg en gaan drie uur lank ook in geen ander tuis nie, maar bly buite, ver van die mure; want binne hierdie tyd sal daar `n aardbewing kom, waardeur die huis en ander swak geboude huise ineen sal stort, en daarby sal `n aantal mense en diere die lewe laat! Slaan egter vooraf alarm op die plein van die stad, sodat nog meer mense hulleself kan red! As alle gevaar verby is, sal daar `n jong seun na julle toe kom en julle na `n veilige herberg bring!'
[12] Daarop verdwyn die gestalte en ons word almal deur `n onheilspellende huiwering bevang. Ons hardloop bepak en besak na buite toe en wek deur ons lawaai die mense in huis, wat ook na buite hardloop en nog baie ander mense wakker roep, wat ook so gou moontlik uit hulle huise vlug; want hierdie mense was baie liggelowig en het in ons visioen geglo, het gevlug en red daardeur hulle lewe.
[13] Die onheilspellende uur het gekom en daar was tewens `n heftige aardskok, waardeur ongeveer twintig huise, waaronder ook ons vroeër bewoonde herberg, dadelik tot op die fondamente uitmekaar geskud was. Daarna volg `n paar trillings, waardeur geen verdere skade egter aangerig was nie. Na drie uur se treurige wag kom die jong seun toe ook na ons toe en bring ons in `n ietwat hoër op geleë, maar volledig onbeskadigde herberg, wat ons opgeneem het en waarin ons veilige onderdak gevind het. Vir die volledige waarheid van hierdie gebeurtenis staan al my huidige metgeselle in, want hulle was toe ook by my.
[14] Sê my nou eers wat jy van hierdie ware gebeurtenis dink! Leef die siel na die liggaamlike dood verder, of sterf hy vir altyd tesame met die liggaam?'
[15] Die heeltemal verbouereerde en verwarde Fariseër sê nou: 'As die verhaal waar is, sou mens tog kon aanneem dat `n siel verder leef; maar wat die siel is, en hoe en waar sy verder leef, kan ons tog nie weet nie.'
[16] Die Romein sê: 'As die gees van my vader geweet het wat daar sou gebeur, en waar ek my bevind het, dan moet sy lewe en bestaan beslis meer volmaak en verligter en dus ook beter wees as die blinde liggaamlike proeflewe. As ons heidene dit egter weet en nog steeds soek om altyd iets meer daaroor te wete te kom, waarom doen julle dit dan nie, en waarom vervolg julle Die Een wat julle die hoogste en suiwerste lig daaroor sou kon gee? Waarom probeer julle Hom in julle blindheid selfs dood te maak, - soos wat julle vanmôre in die tempel maar al te opvallend laat blyk het?'
[17] Toe sê alle Fariseërs: ‘Net die laaghartige Judeërs wou dit doen en nie ons nie! Maar ons het nou nie vanweë die tempel nie, maar vanweë onsself hierheen gekom, om te sien en te toets waaroor dit gaan. Moet ons glo of nie glo nie? Maar tot op hede voldoen dit wat ons gesien en gehoor het, nog gladnie, en ons wag daarom nog op iets meer. As ons oortuiging groter sal word, kan ook ons leerlinge van hierdie Heer word. Jy moet daarom nie aandring nie! Jy, vriend, het ons nou weliswaar met jou vrae gewen, en ons is jou die honderd pond goud skuldig; maar nou het ons die reg om tien vrae aan jou te stel! As jy hulle almal beantwoord het, kry jy ook dadelik die honderd pond. Stem jy daarmee in?'
[18] Die Romein sê: 'Volkome, vra maar! Vir `n antwoord sal uitstekend gesorg word!'
|
|
|
|
|