|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 6
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249. |
|
|
Die bekentenis van die Fariseërs
6 Toe hulle My sien aankom het, het hulle (diegene wat aan die grond vasgenael was) dadelik begin roep: “Heer, help ons uit ons nood wat deur `n wonderwerk oor ons gekom het, dan sal ons alles oor U Naam en U Goddelike sending glo! Ons het gesondig teen God, deurdat ons die hand wou slaan aan Sy Heilige. Ons erken openlik dat ons in ons groot blindheid gesondig het; o Heer, verlos ons daarom van hierdie kwaad!”
[2] EK sê: “Julle woorde klink wel goed, maar in julle harte klink dit anders!”
[3] Toe het diegene wat aan die grond vasgenael was, gevra: “Hoe klink dit dan in ons harte?”
[4] EK sê: “As julle volgens waarheid erken, sal julle ook gehelp word en wel dadelik volgens die openlike en waarlike bekentenis; as julle egter `n leuen spreek, dan moet julle wag tot môre!”
[5] Toe het daar EEN gesê: “Maar hoe kan ons weet wat elkeen van ons by homself dink?”
[6] EK sê: “Julle dink almal presies dieselfde! Spreek dus, as julle wil!”
[7] Toe het daar EEN begin praat en gesê: “Heer, U weet dat mens in hierdie wêreld heel dikwels, om verstandig te moet wees, iets anders moet sê as wat mens dink! Want jy kan sê wat jy wil, terwyl jou gedagtes nogtans geheim is en soos wat mens sê, tolvry; maar as U ook in ons harte ons gedagtes sou lees, dan bly daar vir ons natuurlik niks anders oor as om presies te sê wat ons dink nie. U sal ons wel vergewe dat ons U in ons gedagtes net as `n buitengewone towenaar beskou het en ook teen U die grofste verwensinge geuiter het omdat ons gemeen het dat U ons dit aangedoen het; want tien jaar gelede het ons in Damaskus inderdaad eenkeer `n Indiese towenaar gesien wat nie net mense nie, maar selfs diere aan die grond gekluister het. Wel, by alle ervaringe wat ons in ons lewe reeds opgedoen het, is dit werklik moeilik om `n egte wonderwerk van `n valse te onderskei en U moet dit ons daarom maar ietwat ten goede hou as ons U weens menige oorwegings nie dadelik as die Een herken het nie, waarvoor U Uself in die tempel aan ons uitgegee het.
[8] Bowendien staan daar ook in die Skrif dat mens net in een God moet glo en nie ook nog enkele vreemde gode naas Hom mag hê nie. U het Uself egter aan ons as `n egte God beskryf, gelyk aan die ou God, want U het openlik gesê dat U Sy Seun is en presies dieselfde mag het as Hy en bowendien nog die oordeel daaroor. Wie kan daar van U - terwyl U net soos `n mens daar uitsien en ook nog uit Galilea kom waar in elk geval meer heidene as Judeërs woon - ook al spreek U nog sulke skerpsinnige woorde, dadelik glo dat U werklik die Een is waarvoor U Uself uitgegee het?! Ons kon dit ook nie ondanks U deeglike teken, wat U bowendien nog vandag op `n feestelike Sabbat gedoen het, wat vir ons U beweerde goddelikheid nog verdagter moes maak. Nou gaan daar vir ons natuurlik `n ander lig op en dit sal vir ons nog meer opgaan as U ons nou hopelik van hierdie groot kwelling sal verlos. Ons smeek U daarvoor!”
[9] Toe sê EK: “Wees dan vry!”
[10] Oombliklik het hulle vry geword en kon weer loop en hulle het My bedank.
[11] Maar EK sê aan hulle: “Julle is nou vry, maar vir julle en almal sê Ek: van wat hier voorgeval het, mag geen enkele woord aan iemand anders verraai word nie! Want Ek doen tekens wat elkeen mag sien en weet, maar ook sulkes wat net vir min mense geskik is en dit moet voorlopig nie aan mense in die algemeen openbaar word nie. Net Ek weet die rede daarvoor. Bowendien mag julle vandag nie na Jerusalem teruggaan nie, want Ek wil juis vandag nog die een en ander met julle bespreek.
[12] Want Hy, wat eens op die berg Sinai, tydens weerlig en donder aan Moses die wette gegee het en wie se Gees vóór Adam se tyd oor die waters gesweef het, staan in hierdie eenvoudige persoon voor julle. Of julle dit nou glo of nie, wat hierna kom sal dit duidelik maak! Laat ons nou na die huis gaan en julle twintig, wat nog nie geëet het nie, gaan nou eers `n versterkende ete nuttig!”
[13] Toe het almal stil geword en het dit nie durf waag om onder mekaar `n woord wissel nie.
[14] In die huis van Lasarus gekom, sê PETRUS aan My: “Heer, dit het U aan ons, U studente wat altyd by U is, nog nie vertel nie!”
[15] EK sê: “Dit was dikwels baie voor die hand liggend, maar julle begrip was tot op hede nog steeds te gering en sal nog `n tyd lank beslis so bly! - Maar gaan julle nou iets anders doen; Ek het met die Judeërs nog die een en ander te reël!”
[16] Daarmee was die studente tevrede en hulle het na buite gegaan.
[17] Die ete vir die twintig het alreeds op die tafel gestaan, maar omdat die son nog nie ondergegaan het nie, het hulle nie gewaag om iets aan te raak nie en hulle het meermale na die son gekyk of dit nie gou sou ondergaan nie.
[18] EK sê egter aan hulle: “Luister! Wie is belangriker: Die son, die Sabbat of Ek, wat in My Gees die Heer van beide is en alreeds van die ewigheid af was?”
[19] Toe sê hulle: “Ja, as U werklik is waarvoor U Uself uitgee, dan is U beslis oneindig baie meer as die son en die Sabbat!”
[20] EK sê: “Gaan sit en eet en drink welgemoed! - Eens is daar gesê: “Niemand kan God sien en terselfdertyd in die lewe bly nie, want God is `n allesverterende vuur.” Maar nou kan julle God sien en eet en drink en daarby selfs nog die ewige lewe oes!”
[21] Toe sê hulle: “Alles goed en wel, as die wet van Moses maar net nie daar was nie!”
[22] EK sê: “Waar Ek is, daar is ook Moses en alle ander profete; doen daarom wat die Heer wil hê!”
[23] Toe het almal eindelik aan tafel gegaan en nog voor sonsondergang geëet en gedrink. En toe hulle geëet en gedrink het, het Ek hulle almal saam op `n klein heuwel agter die huis van Lasarus gelei, waar ons heelwat aangeleenthede bespreek het, waaroor vervolgens iets duidelik gemaak sal word.
|
|
|
|
|