Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 70

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die versonke stuk land

70 Toe sê die herbergier: “Ek het nog wel iets; maar ek vind dit byna te onbeduidend om U, o Heer, daarmee lastig te val!”

[2] EK sê: “Sê dit maar, want niks in die wêreld is te onbeduidend vir My nie!”

[3] Toe sê die herbergier: “Wees dan so barmhartig om my aan te hoor! Sien, ek het, behalwe hierdie besitting, nog `n groot boerdery nie ver hiervandaan nie, waar ek my beste beeste en skape hou, en ek het daar ook `n aantal werklik getroue knegte en diensmeisies! Op die groot diereweiveld, wat heeltemal begroeid is met weelderige gras, het daar `n paar maande gelede `n stuk land van ongeveer `n kwart morg sodanig versink, dat daar nou op daardie plek `n gat is waarvan mens die diepte glad nie kan peil nie, en ook nie kan weet of daar nie alreeds spoedig nog meer land sal wegsink nie.

[4] `n Bejaarde man, wat taamlik deskundig is in hierdie dinge, het aan my gevra of die diere in die omgewing naby die gat gekom het. En ek het aan hom, soos wat dit is, die volle waarheid gesê. Ek het sommige skape en beeste naby die gat laat bring; maar hoe nader hulle aan die groot gat gekom het, hoe meer het hulle teëgestribbel en toe hulle nog maar sowat tien treë daarvan verwyderd was, het hulle losgeruk en plotseling weggehardloop. Selfs die bokke is nie in die omgewing van die gat te bring nie, hoewel hulle andersins op die hoogste rotse baie behaaglik en onverskrokke rondspring en klim. Toe het die deskundige man gesê dat dit `n sekere teken daarvan was dat daar nog meer land in die diepte sou insink. En in hierdie saak, wat vir my as grondbesitter tog wel baie onaangenaam is, vra ek dan nou ook aan U wat dit beteken, wat daar nog te verwag is, en of die euwel tog miskien nog op die een of ander manier verhelp sou kon word.”

[5] EK sê: “Laat ons na buite gaan en hierdie bose moedswilligheid van die ruwe aardgeeste bekyk, wat dit gedoen het op aansporing van ander geeste van daardie gestorwe mense. Hierdie geeste het as jou vyande na die ander kant oorgegaan, omdat jy hul boerdery ten gevolge van `n geregtelike beslaglegging vanweë nie-betaalde groot skulde deur koop in jou besit gekry het! Laat ons dus na buite gaan en die saak in oënskou neem!”

[6] Ons het nou vinnig van ons sitplekke af opgestaan en na die noodlottige stuk boerderyland wat ongeveer `n halfuur daarvandaan was, gegaan. So het ons weldra by die waarlik baie onheilspellende gat gekom. Buiten My en die herbergier het niemand dit durf waag om heeltemal tot aan die rand daarvan te gaan nie. Die twintig nuwe studente het alreeds van ver teruggedeins; want die gat was werklik baie angswekkend om te sien. Die herbergier sê toe dat hy self nog nooit so naby aan die gat gekom het nie en eers nou die onpeilbare diepte daarvan gesien het.

[7] Maar EK sê aan hom: “Gaan haal eers `n behoorlike groot klip vir My, dan sal Ek sien of die gat nie op te vul is nie!”

[8] Toe het die herbergier gegaan en vir My minstens `n tien pond sware klip gebring. Ek het die klip egter geneem en dit met groot krag in die gat geslinger. Alreeds gou het daar uit die gat `n geweldige rooksuil begin opstyg, wat `n sterk swaelreuk versprei het. 

[9] Maar EK het die rookwolk bedreig en gesê: “Al julle bose geeste. Ek, die Heer, gebied julle om die gat dadelik vir nou en alle tye op te vul!”

[10] Toe het mense uit die rookwolk stemme gehoor, wat geroep het: “Jesus van Nasaret, Seun van die lewende God, ons ken U! Waarom het U gekom om ons vóór die tyd te kwel? Ons sit hier op mekaar gepers en het ietwat ruimte vir lug vir ons gemaak. Waarom gun U ons nie hierdie vryheid nie? Hier is `n groot onreg aan ons gedoen, dat ons liggame gedood is. Ons het alles verloor. Waarom mag die koper nou ook nie iets verloor nie? Ons het hierdie stukkie grond nodig in ons ontsettende diepte. Waarom mag ons dit dan nie besit nie?”

[11] EK sê: “Doen wat Ek julle beveel het, anders sal iets erger julle nog oorkom!”

[12] Toe het die rook gesak, en binne-in die holte het dit geweldig begin woed en te bruis. Dit het egter maar baie kort geduur en gou het mens gemerk dat die versonke stuk land langsaam omhoog gekom het, en na `n uur was die holte weer sodanig opgevul dat niemand kon sien dat die deel ooit versonke was nie.

[13] Maar EK roep nou alle ou en nuwe studente en sê: “O julle kleinmoediges! Kom hier en gaan staan op die versonke stuk land wat uit die diepte omhoog gekom het, en erken dat niks die mag van die Goddelike wil kan weerstaan nie!”

[14] Toe het alle studente gekom en hulle volkome daarvan oortuig dat niks die mag van My wil kan trotseer nie.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205