|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 131
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249. |
|
|
Die Romeinse hoofman vind sy broers
131 Die reus sê, diep ontroer: 'O goddelike, verhewe mensevriend! Al tien van ons was kinders van `n ryk vors aan die groot Kaspiese see. Ons het in vrede geleef, en ons volk was waarskynlik een van die gelukkigste op aarde. Toe kom daar opeens wilde hordes uit die verre noorde en roof, verbrand en vermoor alles wat hulle teëgekom het. Toe sê ons vader: 'Kinders, aan teenstand is daar nie te dink nie, laat ons vlug, anders is ons verlore!' Vader se wil was vir ons gewyd en ons het die berge ingevlug en so aan die wilde hordes ontkom. Ons het oor die berge getrek en uiteindelik aan dié kant van die hoë uitgestrekte berge gekom. Ons vader het vyf jaar gelede gesterf en die Eufraat was sy graf; want ons kon hom geen ander graf gee of laat gee nie.
[2] In geheel het ons gedurende tien lange jare slegs in onderaardse gate aan die rivier gewoon en ons noodgedwonge baie ellendig met kruie en - helaas - deur `n vorm van onskadelike roof aan die lewe gehou. Die silwer en goud en die pêrels en edelstene was merendeels nog afkomstig van die haastig saamgeneemde sierade uit ons koninklike skatte, hoewel ons dit in die laaste tyd ook gladnie goed gevind het om ander ryk mense se oorvloed af te neem nie. Maar wat ons in ons gate verberg het, het ons, o Heer en Leraar, aan U gegee toe ons die onoorwinlike mag van U woord en wil ondervind het.
[3] Ons vra U slegs toestemming om U te mag volg en as ywerige leerlinge iets van U te leer wat ons groot verlies sekerlik sal vergoed. En dus kan ons wel sê: Ons het die ontsettendste, bitterste lewenservaring opgedoen en ken die miserabele, bitter erns van die lewe, en kom wat wil, ons sal nie wankel nie, en nog die minste vir Hom wat ons vir die eerste keer in ons lewe `n ware lig op die verdere pad van ons aardse lewe beloof het, en wel met sulke onbedrieglike tekens soos wat geen sterfling nog ooit gesien het.
[4] Ja, Heer, in ons sal U leerlinge hê met `n onbuigsame wil en erns! O, sê ons maar so spoedig moontlik wat ons moet doen, dan sal ons dit doen met die onverstoorbare moed wat maar net te vind is by mense wat altyd gewoond was om die dood met die grootste koelbloedigheid in die oë te kyk!'
[5] Ek sê: 'Bly getrou aan julle beginsels, dan sal julle oneindig meer wen as wat julle ooit verloor het!'
[6] Toe die hoofman die verhaal van die tien manne hoor, kry hy trane in sy oë en hy sê: 'O broers, dit het die onbekende God alles so wonderbaarlik beskik! Kan julle julle nie meer herinner dat julle ooit `n broer nog as seun van nouliks tien jaar verloor het nie? Kyk, julle vader was ook myne! Mense het my ontvoer op `n keer toe ek heel sorgeloos in `n klein bos blomme gepluk het. Smeek het nie gehelp nie, die kinderdiewe het my oor die berge gesleep, en ek was in Sidon aan `n Romeinse skip as slaaf verkoop. In Rome was ek weer aan `n hoë Romein as slaaf verkoop; ek het hom beval en omdat hy geen kinders gehad het nie, het hy my aangeneem as sy kind, my die volledige vryheid geskenk en my tot kryger laat opvoed en oplei. Ek het langsaam maar sekerlik dit geword wat ek nou is, weliswaar meer deur my geld as deur my verdienste, en ek is `n paar jaar gelede hier as kommandant aangestel.
[7] Ja, ek sou nou selfs durf beweer dat die wonderbare Verlosser van ons dit alles ook heimlik self in sy goddelike heldersiende gemoed geweet het, en dit op hierdie manier gereël het dat ons almal hier as broers mekaar moes vind. Daarom moes ek ook hierheen kom as kommandant, sodat julle, my ongelukkige broers, julleself in my nabyheid - wat baie treurig was - sou bevind; want as julle as rowers deur my soldate gevang was en by my voor die gereg gebring was, dan sou ons mekaar net soos nou beslis herken het, en ek sou dan sekerlik middele en weë moes gevind het om julle uit die moeilikheid te help. En dit het ons almal aan die een, egte, en aan ons nog onbekende God te danke, wat ons hoogswaarskynlik nou hierdie Verlosser as gesant gestuur het om ons van die dooie gode te bevry en aan ons in die plek daarvoor die een, ware God te wys. - Is dit nie so nie, beste, edele broers?'
[8] Die grote sê: 'Ja, edele broer, so is dit presies! Hoe het ons nie trane oor jou vergiet nie en waar het ons jou nie orals in ons hele, groot land gesoek nie, en alle oewers van die groot see deursoek, - maar alles tevergeefs! Tot op hierdie uur het ons niks van jou gehoor nie. Slegs ons enigste suster, wat dikwels baie vreemde drome gekry het, het eendag gedroom dat sy jou in `n groot, pragtige stad gesien het en selfs met jou gepraat het, en dat jy haar self gesê het dat ons nie te veel oor jou moes treur nie, omdat jy geleef het en goed versorg was. Die droom kon sy ons nie dikwels genoeg vertel het nie. O, hoe sou sy nou nie bly gewees het as sy nog geleef het nie! Maar sy kan haas nie meer in die lewe wees nie, want tydens die inval en die vlug daarna, het ons haar uit die oog verloor, as enigste, tesame met ons moeder en sy het hoogswaarskynlik in die hande van die wilde hordes geval. Slegs die groot, aan ons nog onbekende God sal weet hoe dit met beide vrouens gegaan het! Miskien lewe sy nog êrens in groot ellende?!'
[9] Ek sê: 'O nee, vriende, ook vir hulle word gesorg deur die God wat nog aan julle onbekend is! Hulle het ook behoue oor die gebergte in die omgewing van die Eufraat aangekom en met die hulp van `n terugreisende handelskaravaan in Chotinodora aangekom. Julle suster is nou daar en is die brawe vrou van Jored, die tollenaar wat aan julle bekend is. Hy het wel `n paar vroue, maar hy het ook vir haar geneem, ondanks haar armoede en vanweë haar skoonheid as vrou; sy is nou sy liefling, hoewel sy hom nog geen kind kon skenk nie. Maar hy het kinders by die ander vroue, waarvan julle suster egter net so hou asof dit haar eie kinders is. Ek was meer as drie dae in sy huis gewees en die hele huis het My leer aangeneem; maar Ek wou hom niks vertel oor alles wat nog hier op hom wag nie. Dit sal hom meer genot verskaf wanneer hy dit alles binnekort deur jou, My hoofman, te wete sal kom. Tot op hede weet hy nog nie wie sy liefste vrou is nie en waar sy vandaan kom nie, want nóg die vrou, nóg julle reeds baie bejaarde moeder, wat baie stil by hom woon, het - uit vrees vir moontlike verraad - hom ook maar iets vertel oor wie sy is en waar sy vandaan kom nie.
[10] Daarom moet jy, as jy daar kom, dit eers onder vier oë aan Jored meedeel, en hom ook sê hoedat Ek dit alles so gereël het! Daaroor sal hy en sy seun Jorab hulle baie verheug, en jou suster en jou moeder nog baie meer. Kortom, as jy straks daar kom, sal jy die buitengewone wonderwerke aanskou wat daar tydens My aanwesigheid plaasgevind het. - Maar nou genoeg daaroor; want hier is nog baie ander belangriker sake waaraan ons aandag moet gee.
[11] Eers gaan ons nou `n oomblik na buite, dan sal daar dadelik iets gebeur waardeur Ek julle ietwat beter met die God wat nog aan julle onbekend is, laat kennis maak, en dit is beslis meer werd as duisende sulke romantiese gebeurtenisse in `n mens se lewe, waaraan op hierdie aarde waarlik geen gebrek is nie.
[12] Ek het dit reeds lank voorsien, en Ek ken julle en al julle lewensomstandighede op hierdie aarde; maar Ek weet ook dat My woord by julle in goeie aarde sou val, en Ek het daarom na julle toe gekom om aan julle almal troos te bring. Die allergrootste troos vir julle moet egter wees dat in My, die ryk van die God wat nog aan julle onbekend is, na julle toe gekom het, en daarmee die ewige lewe van julle siele!
[13] Want luister: Wat het die mens aan alle skatte van hierdie aarde, as hy dit tog binnekort vir altyd en ewig moet loslaat? Is dit dan in die geval vir die mens nie onnoemlik wyser om vir hom skatte te versamel wat vir ewig bestaan en die menslike siel vir ewig te verseker van die saligste en gelukkigste lewe, en wel so, dat die mens reeds in die aardse lewe tot die duidelike, onbetwisbare oortuiging kom dat vir hom die ware, volmaakte, vrye lewe eers na die dood van sy liggaam volledig en waar begin?'
[14] Almal sê, selfs die priesters: 'Ja, Heer, dit sou sekerlik die hoogste en beste wees wat die mens op hierdie aarde sou kon bereik! Maar daar is `n muur, wat niemand nog tot op hede kon deurbreek nie, en die baie fatale sluier van Isis, wat geen sterfling nog tot op hede volledig kon oplig nie. So hier en daar was daar wel baie wyse mense gewees wat sekerlik van iets wat daarvan waar was, op die spoor gekom het, maar oor die waar, wanneer en hoe is al duisend maal duisend vrae nog volledig onbeantwoord. As U so geseënd is om hierdie vrae goed begryplik vir die menslike verstand te kan beantwoord, het U reg op die grootste roem en die hoogste dankbaarheid van alle mense.'
[15] Ek sê: 'As Ek nie daartoe in staat sou gewees het nie, sou daar ook in ewigheid geen wese meer daartoe in staat gewees het nie, en sonder die vermoë van My sou daar ook geen lewe meer in die hele, eindelose wêreldruimte denkbaar gewees het nie; maar omdat Ek dit alles goed kan doen, bestaan en leef alles in die eindelose wêreldruimte en veredel hulleself deur veelvuldige bestaansveranderinge, van muggie tot mens en van sonstoffie tot son. Maar nou gaan ons na buite en om te sien wat ons sal teëkom!'
[16] Toe staan elkeen op en gaan met My na buite.
|
|
|
|
|