Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 190

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die verskil in lewensopgawe van engele en mense

190 Die Romein sê: 'Ja wel, ja wel, dit sien ek nou baie goed in, - maar omdat julle magtige geeste nou eenmaal daar is en julle bestaan duidelik meer eg is as die van ons nou, waarom laat julle julleself dan nie dikwels sien om ons te leer en te troos nie? Ons het julle nou gesien, en as ons dit aan ons medemense sal vertel, sal sommiges dit wel glo, maar baie ander sal daaroor lag en ons as dwepers en halwe dwase beskou. Sou dit dan nie goed wees as daar soms iemand van julle julleself laat sien om van die waarheid van wat ons sê, `n oortuigende bewys te lewer nie?'

[2] Die engel sê: 'Ons doen altyd presies die wil van die Heer; slegs wat Hy wil is goed, en dit doen ons dan!

[3] As dit vir die aankomende geslag van hierdie aarde goed en vir hulle sieleheil noodsaaklik sou wees, sal ons ook by hierdie mense voortdurend sigbaar wees; maar omdat dit nie die geval is nie, mag ons die mense slegs onsigbaar lei, sodat hulle vrye wil geen dwang sal ondervind nie. Want niemand kan voor God bestaan as hy nie eers `n sekere tyd skynbaar heeltemal van ons geïsoleerd die volledige lewensvryheidsbeproewing in sy liggaam deurgemaak het nie. Dit is die liefde, die wysheid en die wil van die Heer en daarom moet alles dus so gebeur, bestaan en wees; en as iets nie op hierdie manier gebeur, bestaan en is nie, dan is dit ook so goed as heeltemal niks. As julle mense egter van nou af aan so sal lewe en werk soos wat die Heer dit wil hê, dan sal julle ook na die aflegging van julle liggaam, so word en wees soos wat ons nou is; want ook ons was eers op `n hemelliggaam soos wat julle nou is.

[4] Maar selfs die geringste mens van hierdie aarde is reeds in die wieg baie meer as ons, ondanks al ons grootsheid, wysheid en mag; want die ware mense van hierdie aarde is kinders van die suiwer ewige liefde van God, en die hoogste wysheid en mag moet Haarself by hulle algeheel vry, uit hulle liefde tot God, hulle waaragtige Vader, ontplooi. Ons het egter as skepsele uit Sy Wysheid voortgekom; daarom moet ons ook eers vanuit ons groot wysheid die liefde tot God in onsself skep, en jy kan nouliks verstaan hoeveel moeiliker dit is, as wat jy uit liefde tot God die hoogste wysheid en mag in jou vind.

[5] Maar juis omdat julle mense van hierdie aarde uit die suiwer liefde in God voortgekom het, dus self die liefde in God is, mag ons wysheidswesens julle nie in die minste steur in julle vrye ontwikkeling uit julle oerliefde van God nie, en jy, aardse broer, sal nou iets beter verstaan waarom ons, engele van God, julle nie sigbaar mag begelei nie. Want ons mag die Elohimsliefde in julle sluimerende wysheid en mag slegs saggies en baie ongemerk wek, maar julle nooit ook maar `n vonk van ons eintlike wysheid inblaas nie; want dit sou julle wysheid nie wek nie, maar slegs verstik.

[6] Dit is ook al so by julle aardse mense die geval. Want wat sou daar van `n kind teregkom as julle hom vanaf die voedster direk in `n hoërskool sou plaas, waar wyse en hooggeleerde leraars hulle goed voorbereide leerlinge die hoogste en vir gewone mense volledig onbegryplike wetenskappe en geheime kunste sou aanbied? So `n kind sou uiteindelik wel woorde van die leraar kon nasê, maar die diep sin en betekenis daarvan nooit kan verstaan nie. Laat die kinders daarom eers deur die voedster opvoed en deur allerlei speletjies tot die eerste kinderlike denke gebring word. Van jaar tot jaar word die kind dan ryper en meer geskik vir `n hoër onderrig.

[7] Wat julle nou met julle kinders doen, doen ons engele ook met julle mense, en dit moet ons doen omdat julle mense van hierdie aarde kinders* van die Heer is. *('kinders' is toegevoeg)

[8] As julle op die wêreld sou gebore word waarop ons eens in `n liggaam geleef het, sou julle reeds alle nodige wysheid in die wêreld saamgebring het en bykans maar net onderrig nodig gehad het vir die ontdekking van die liefde van God in die lig van julle groot wysheid.

[9] Bekyk eers alle diere op julle aarde! Dit is ook skepsele van God se wysheid; daarom het hulle ook geen onderrig nodig om eers moeisaam te leer wat hulle volgens hulle geskiktheid en aard moet doen nie. Dit bring hulle alles al dadelik by die geboorte saam, en op hulle manier is hulle dadelik volleerde kunstenaars. Wie het `n by ooit kennis oor kruie bygebring, wie het haar getoon waar die heuning in die bloemkelke sit en waar die was waarmee gebou word? Wie leer haar om haar sel te bou en in haar maag uit die soet blommedou die geurende heuning te berei? Waar het die spinnekop geleer om haar draad te spin en daarmee `n uiters bruikbare net te weef? Kyk, dit alles ontvang die diere uit die Goddelike Wysheid, waarvan hulle direk die produk is! Omdat hulle egter voorlopig ook nie meer is as dit nie, het hulle wat hulle het ook ten volle vervolmaak, maar hulle kon, omdat hulle die liefde en die diensbare vrye wil bykans heeltemal ontbeer het, hulle kennis baie weinig vergroot.

[10] Tog is daar ook diere wat in `n sekere sin reeds bepaalde simptome van die hoër liefde saamgekry het. En kyk, sulke diere is derhalwe dan ook al in staat om sydelings onderrig van die mense aan te neem, en daarom kan hulle ook vir `n aantal dinge afgerig word! En hoe meer liefde daar ophande is by bepaalde diere, soos byvoorbeeld by `n hond of by `n aantal voëls, hoeveel te meer is sulke diere ook geskik om vir verskillende handelinge geoefen te word,

[11] By menslike skepsele op ander hemelliggame is dit egter in hoë mate die geval, omdat hulle reeds alle denkbare gawes het as hulle op die wêreld kom. Hulle hoef niks meer in een of ander skool te leer nie. Omdat die liefde haar egter slegs baie geleidelik as `n produk van hulle wysheid ontplooi, het hulle skole waarin geleer word hoe mens van die suiwer wysheid tot die vrye liefde en `n vrye wil kan kom. Eers sodra so `n mens dit dan na baie moeite geleer het, is hy in staat om God en ook Sy kinders van hierdie aarde te nader.

[12] En miskien sien jy nou al weer ietwat duideliker waarom julle egte mense van hierdie aarde tydens julle ontwikkeling in die wysheid nie in sigbare en voelbare kontak met ons mag bly nie. Kort en klaar, dit is julle lewensopgawe om uit die liefde die wysheid te suiwer en te ontplooi, en ons opgawe was om uit die wysheid God se liefde te suiwer en te ontplooi.

[13] Die onbeskryflike groot verskil is maar net dat julle mense van hierdie aarde aan God gelyk kan word, maar ons nooit nie, - behalwe wanneer ons self nog `n keer `n aardse liggaam sal aanneem, waartoe ons tot op hede egter werklik nog geen al te groot begeerte in ons gevoel het nie; want ons is almal met ons lot meer as tevrede en sien graag volledig af van `n beter lot.

[14] Wie `n volmaakte kind van God kan word - waarvoor egter baie nodig is, - is natuurlik ook wel eindeloos geseënd; maar ons is ook met ons lot volmaak tevrede, en `n beter en hoër het ons nie nodig nie!

[15] Wel bevind daar by hierdie tallose skare wat nou voor jou vir `n kort tyd nog sigbaar sal wees, ook al `n paar egte kinders van God, - maar julle, wat nou deur die Allerhoogste van die ewigheid geleer en gelei word, is oneindig baie beter daaraan toe! Want dit is beslis nie dieselfde of jy `n seun van die huis is of slegs `n kneg nie. Vir die kinders is alles wat die verhewe Vader besit, vir die knegte maar net dit wat die Heer hulle wil gee. - Verstaan jy dit, my beste Agricola?'

[16] Agricola staan nou bykans sprakeloos en hy weet egter nie wat hom oorgekom het nie; want van die woorde van die engel gaan `n te groot oortuiging uit, en daarteen kan hy natuurlik niks inbring nie. Daarby ontbreek dit die origens baie opregte Romein aan alle moontlike, suiwer geestelike kennis om met die engelgees `n verdere gesprek te kan voer.

[17] Daarom kom hy na My toe en (Agricola) sê : 'Ongeëwenaarde Heer en Leraar, dit is tog beslis geen droom nie, en die gees - of wat hy verder ook maar kan wees - ontwikkel vir my idees waarvan geen mens ooit gedroom het nie! Wat moet iemand soos ek egter nou daarvan verstaan?! Die mooiste is, dat hy sê dat ook hy eens `n liggaamlik mens op die een of ander hemelliggaam was. Dan vra ek myself af waar daar naas hierdie aarde, nog `n ander hemelliggaam kan wees! Ek en tallose ander mense het nog nooit iets daarvan gehoor nie. Wat is dit dan vir `n nuwe verhaal?'

[18] Ek sê: 'Rustig aan, My vriend! Gaan maar na hom toe, dan sal hy jou die ander aardes nog goed laat sien, waarvan daar ontelbare in die eindelose ruimte is! Ek sê jou dat hierdie gees jou niks gesê het wat nie waar is nie; gaan dus maar na hom toe en laat jou nader inlig oor die dinge waaraan jy twyfel, en hy sal dit alles baie prakties vir jou laat sien en uitlê!'


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205