Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 63

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die rede vir die menswording van God

63 Die Heer: “Om te skep is maklik; maar om die skepsele, wat uit hulself na buite gebring is, na `n vrye, selfstandige bestaan, wat nie onder die oordeel staan nie, te lei, is selfs vir die Goddelike almag geen maklike saak nie. Maar met geduld en lankmoedigheid kan mens uiteindelik nogtans alles bereik, en as iets eenmaal op die beste wyse bereik is, dink mens nie meer aan die tyd wat dit nodig was om sover te gekom het nie.

[2] Dit gaan vir ons dan soos `n swanger vrou, wat ook tydens haar swangerskap baie vrees, angs en weë moet deurstaan; maar as die kind binne die vasgestelde tyd uit haar gebore is, het alle vrees en angs by die vrou verdwyn, en sy dink nie meer aan die weë en die pyn nie, want sy sien die lewende vrug voor haar, wat uit haar in `n vrye en selfstandige lewe oorgegaan het.

[3] As die volkome vry- en selfstandigmaking van `n skepsel egter `n saak sou gewees het wat makliker tot stand gebring kon word, dan sou dit vir My, as Skepper van alle dinge en alles wat bestaan, egter nie nodig gewees het om nou self as mens op hierdie wêreld te kom om die volmaakste moontlike, vrye vorming van die mens, deur leer en daad te bewerkstellig nie.

[4] As iemand anders dit aan julle sou gesê het, sou julle aan hom gesê het: “Mens, wat klets jy, watter onsin praat jy daar deurmekaar!” Maar Ek Self sê dit aan julle, en daarom kan julle wel glo dat dit so is; want terwille van `n kleinigheid sou Ek nooit die vlees van hierdie wêreld en selfs die dood, aanvaar het nie, en sou Ek nie met julle, My skepsele, omgegaan het soos wat `n egte vader met sy kinders omgaan nie.

[5] Nou sê julle wel by julleself dat dit nou wel volkome waar is, maar julle vra julle daarby af, waarom dit dan juis nou moet gebeur, en hoe dit dan gesteld is met die hele ewigheid wat reeds verbygegaan het, waartydens God net so eindeloos volmaak bestaan het as nou, - en wat daar dan met daardie skepsele gebeur het wat hierdie huidige lewensvervolmaking nie kon bereik het nie, omdat Ek nooit vroeër `n vleeslike liggaam soos van dié van `n geskape mens aangeneem het nie. 

[6] Ja, My geliefdes, dit is `n baie belangrike vraag! Maar ten dele het Ek dit alreeds met julle, My ou studente, by die bejaarde Markus in Cesaréa-Filíppi bespreek, en julle weet nog heelwat daarvan; julle weet egter nog nie volledig waarom uit die oneindige loop van die tye juis hierdie periode geneem is om aan die menslike skepsele van nou af aan vir ewig die volkome gelyksoortigheid aan God te gee nie.

[7] Sien, vir die hele, eindelose groot skepping, neem God, sowel wat tyd as ruimte betref, steeds een en dieselfde wysste orde in ag! Sou dit vir God dan dalk onmoontlik wees, om sonder verwekking en sonder moederliggaam met alle wysheid en krag mense te skape, net soos wat dit vir Hom moontlik is om in `n oogwink die weerlig uit die lug te roep?! Beslis nie, en Ek Self het julle daarvoor die oortuigendste bewyse gegee!

[8] Maar as dit vir God moontlik is, waarom laat Hy dit dan toe dat die mens eers in `n vroulike liggaam verwek moet word, en vervolgens daarin van periode tot periode en van deel tot deel moet groei en homself moet ontwikkel? As hy in die moederliggaam na `n lang tydperk voldoende ontwikkel is, kom daar die moeisame geboorte, terwyl daar nog baie is wat aan sy liggaamsdele ontbreek. Na verloop van tyd word dit steeds meer volgroeid; die tong word soepeler en begin woorde te stamel, die organe orden hulle steeds meer, en die kragtiger en mondiger wordende siel kan haarself meer en meer self bedien, en so gaan dit van fase tot fase op- en voorwaarts aan, totdat die mens, so ongeveer na dertig of veertig jaar, `n kragtige, ervare, verstandige man is. Alle kennis en ervaring het hy hom deur eie moeite en arbeid sy eie moes maak om vir sy medemense as `n nuttige medeburger waardevol en agtenswaardig te kan wees. Ja, maar waarom moet dit alles met die mens gebeur as God almagtig is en dadelik sonder geboorte en opvoeding volkome wyse, sterke mense uit die lug of selfs maar uit niks kan maak?

[9] Dit kan God ongetwyfeld doen; maar wat sou sulke mense wees? Ek sê vir julle: Niks anders as masjiene nie, wat nooit `n eie vrye wil, nooit `n eie selfbewussyn sou hê en nooit tot `n vrye selfstandige denke kon kom, voel en sou kon handel nie, maar wat deur God se almagtige wil elke oomblik opnuut tot lewe gebring sou moes word, terwyl God self vir hulle sou moes dink en wil en hul ledemate vir elke handeling sou moes opwek en beweeg. Sou God dit nie doen nie, dan sou so `n mens ook oombliklik dood wees en ook heeltemal uit sy bestaan moes verdwyn. 

[10] Sodat die eenmaal geskape mens egter asof uit homself vry kan voortbestaan, homself vorm en versterk en vervolgens soos uit eie krag vry word in denke, wil en handel, het God reeds van ewigheid `n orde vasgestel, waarvolgens die idees wat eenmaal uit God na buite gebring is, hulself geleidelik aan steeds meer van God afsonder en uiteindelik in `n sekere sin die gevoel kry dat hulle los van God bestaan en volgens hul eie mening `n vrye wil kry en vry handel, sodat hul lewe daardeur volkome standvastig word en hulle dan deur lesse van God, wat van buite af gegee word, as toekomstige God/Gode gelei kan word en as’t ware op eie grond en bodem tot lewensvervolmaking gebring kan word.

[11] Daarvoor is egter `n baie lang tydperk nodig, wat deur God presies bereken is en ingedeel is in baie periodes waartydens die verskillende ontwikkelings kan plaasvind.

[12] Soos wat egter by elkeen, wat hom op ordelike wyse ontwikkel, eenmaal die oomblik sal kom dat hy die vermoë sal ontvang om hoëre wysheid in homself op te neem, so het nou, deur God presies bereken, ten aanskoue van julle oë die oomblik vir die hele skepping aangebreek waarop aan alle rypgemaakte skepsele die geleentheid gebied word om uit hul ou grafte van die oordeel te stap en volkome aan God gelyksoortig te word, en daarom staan daar ook in die Skrif, dat almal wat nou in die grafte was en nog is, die stem van die Menseseun sal hoor en, as hulle uit hulself ryp geword het, op eie krag verder sal gaan na die ewige, ware en volkome aan God gelyksoortige lewe.  

[13] En omdat hierdie oomblik juis nou gekom het, wat God reeds van die ewigheid presies en duidelik bereken het, waarop alle skepsele bepaalde selfstandige rypheid bereik het, wat veral te sien is aan die feit dat die meeste van God byna niks meer weet en volledig van God geïsoleerd is, daarom is Ek as God dan ook hier om die mense nie meer deur My almag te lei nie maar net deur die leer, wat Ek nou aan hulle op so `n wyse gee asof Ek self niks meer en niks anders is as hulleself nie.

[14] Ek kan nou liggaamlik as Persoon met hulle soos `n vreemde onder vreemdes verkeer, en die ou rede waarom niemand God kon sien sonder om sy lewe te verloor nie, bestaan nou heeltemal nie meer nie. Nou kan julle My sien wanneer julle wil, en nogtans julle lewe ongedeerd behou!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205