Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 188

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die waarde van die denke en die liggelowigheid

188 Die Romein sê: 'Luister, groot Heer, ook al sou ek geen wonderwerk gesien het nie, maar slegs U woord gehoor het, dan weet ek tog dat daar baie van `n waaragtige Goddelike Gees in U moet woon! Sonder die se invloed kan geen mens so wys praat nie, en op U is ons ou spreuk: ‘Sine afflatu divino non exsistit vir magnus!*’ volledig van toepassing; want U is beslis deur die hoogste God die meeste beasem! Met so `n buitengewone wysheid is dit ook goed verstaanbaar dat die wil ongewoon kragtig moet wees, want hy weet maar al te duidelik wat hy wil en watter middel vir die verwesenliking geskik en noodsaaklik is. `n Dom mens sal in sy hele lewe niks groots en wonderbaarlik tot stand bring nie, maar wel hy, wat volledig bewus is van sowel die werk wat verwesenlik moet word, as van die middele wat daarvoor noodsaaklik is. *(sonder goddelike inspirasie, bestaan geen besondere mens nie)

[2] Wie wys is in sy spraak, sal dit ook in sy dade wees; wie egter om woorde verleë sit en selfs dom is, sy werke sal beslis nooit deur die mense bewonder word nie. Ook al slaag `n blinde hoender dikwels om `n koringkorrel met haar snawel op te pik, dan is sy daarom nog geen sinnebeeld van wysheid soos wat die naguil, wat ook snags goed kan sien waar haar volgende buit homself bevind, is nie.

[3] Die mense wat die bekende boukundige wonderwerke gebou het, het vooraf beslis `n bouplan ontwerp, waarin vooraf al presies vasgelê was hoe die groot kunswerk daar moes uitsien en watter funksie dit moes hê. Die boumeester van so `n wonderbouwerk wat nou reeds - soos die piramides van Egipte - etlike duisende jare getrotseer het en waarskynlik ook verder nog duisende jare sal trotseer, was beslis geen blinde hoenders nie, maar naguile wat ook snags duidelik kon sien, omdat dit vir hulle anders onmoontlik sou gewees het om so `n bouwerk tot stand te bring. En daarom is ek van mening dat slegs die groot wysheid van `n mens wat deur `n magtige God besiel is, in staat is om wonderbare dinge ten aanskoue van die ander swak mense te verwesenlik, omdat die wysheid in die eerste plek meesteres en versterkster van die wil is, en sy die enigste is wat die deugdelike middele ontdek waardeur sy dit wat sy wil, ook altyd gedoen kry, en sodoende ook onvermydelik en ongehinderd die beoogde doel bereik.

[4] Groot wyse Heer, U hoef daarom vir my gladnie meer deur enige wonderwerk die bewys te lewer dat alles moet gebeur wat U in U groot wysheid maar wil nie; want U onbegryplike groot wysheid en die groot beslistheid van U woord lewer aan my die sekerste en ongetwyfeldste borg daarvoor. - Het ek as Romein gelyk of nie?'

[5] Ek sê: 'Vergelyk hierdie heiden nou eers met die Judeërs, wat sê dat God hulle Vader is! Hulle vind alle groot tekens wat Ek al so dikwels en so veelvoudig sigbaar en hoorbaar vir hulle gedoen het, nie voldoende nie, en hierdie heiden herken My aan My woord! Daarom sê Ek vir julle Judeërs daar benede in die groot stad: Die hemelse lig sal van julle weggeneem word en aan die heidene gegee word!

[6] Maar aan jou, My beste Agricola, sal Ek tog `n teken gee, omdat jy My ook sonder `n teken geglo het; want die genesing van hierdie jong vrou wat Ek nou Self baie lief gekry het, is vir denkers van julle formaat te gering, want sommiges uit jou geselskap het tog heimlik by hulself gedink: 'Kyk, dit is `n slim man! Hy het  met die genesing gewag net totdat hy duidelik kon sien dat dit al vanself beter gaan met die jong vrou! Toe die oomblik kom waarop beterskap vanself ingetree het, wat `n dokter duidelik kan sien, het hy haar eers geroep en sy het ontwaak, soos wat sy ook sonder sy geroep sekerlik sou ontwaak het!' Kyk, dit het jou intelligente metgeselle toe by hulself gedink en ten dele het jy dit ook gedink!

[7] Maar daarmee verwyt Ek niemand nie, want `n selfstandige denker is vir My altyd beter as `n duisend liggelowige siele vir wie dit niks saakmaak of `n mens hulle `n alfa of `n omega laat sien nie. Want wie nie dink nie, leer en begryp ook niks nie, en vir hom is goud en lood uiteindelik dieselfde; maar die denker koop nooit `n kat in `n sak nie. Daarom het jy ook na die genesing van hierdie liewe jong vrou by jouself gesê: 'Die teken het wel goed geslaag vir Hom, - maar ek moet Hom eers hoor praat, dan eers sal dit blyk of Hy werklik uit Sy wysheid die kennis besit om sulke tekens slegs deur Sy wil te verwesenlik!' Toe jy My egter hoor praat het, het jou twyfel verdwyn; want My woorde het vir jou en ook vir jou metgeselle `n borg van die volle waarheid geword van die teken en vir die eintlike doel van My aanwesigheid.

[8] Omdat julle, jy met jou metgeselle, egter slegs die woord en nie die teken geglo het nie, daarom wil Ek dan nou ten aanskoue van julle ook `n groot teken doen.

[9] Kyk, waar Ek is, is waaragtig nie Ek alleen nie, maar daar dien tallose skares magtige, verligte engelgeeste uit alle hemele My! As `n keiser of `n koning vanweë `n belangrike regeringsaangeleent­heid êrens heen reis, reis hy ook nie net alleen nie, maar hy neem nog `n groot en talryke gevolg met hom saam. En kyk, so is dit dan ook by My die geval. Ook Ek het vanweë `n uitsonderlike groot, nuwe regeringsaangeleentheid op wêreldse- en geestelike gebied, as die enigste Heer van die hele oneindigheid, nou in die wêreldse tyd juis op hierdie aarde, in die liggaam van `n mens, `n uitermatige belangrike reis onderneem, wat nodig was, omdat geen mens van hierdie aarde andersins ooit `n waaragtige, ewig lewe sou kon bereik nie!

[10] En dat Ek as `n baie groot monarg hierdie (reis) op aarde uit baie gewigtige lewensmotiewe onderneem het, kan julle julleself wel voorstel, dat baie legioene van My diensbare engele nou ook die reis tesame met My maak en ook steeds rondom My is, en op My wenke wag en My bevele op alle sterre uitvoer.

[11] Met julle liggaamlike oë kan julle hulle weliswaar nou nog nie sien of waarneem nie; wanneer Ek egter ter enige tyd julle innerlike gesigsvermoë sal ontsluit, sal julle hulle wel sien en hoor, en julle sal selfs met hulle kan praat en iets van hulle kan verlang. Maar eers moet Ek aan julle vrye wil die baie belangrike vraag stel of julle die begeleiers van My ook in alle erns wil sien en spreek, want dwang vind by My nooit plaas nie!'

[12] Toe aarsel selfs die Romeine, want hierdie mededeling van My vind hulle tog wel ietwat te gek.

[13] Maar Agricola sê vir die ander: 'Sal ek julle eers iets sê? Ons laat Hom Sy gang gaan en dan sien ons wel verder! `n Paar dinge het by my nou weer spesiaal opgeval! Wie het Hom vertel hoe ek heet?! Want uit `n sekere versigtigheid het ek hier nog aan niemand my naam genoem nie. Hoe kan Hy dit dan weet? Maar nog meer! Wie kon aan Hom ons gedagtes verraai het?! En kyk, tog weet Hy alles! Ag, neem van my aan dat dit egter geen kleinigheid is nie! Nou sê Hy weer dat Hy nie slegs alleen hier is nie, maar dat daar tallose skares magtige geeste by Hom is! Vriende, as dit so is, is Hy absoluut `n volmaakte God in optima forma, en het ons die geluk, wat nog nooit vroeër voorgekom het nie, om die egte Jupiter persoonlik te sien! Ons gaan dus almal daarmee akkoord om dit te sien en te hoor wat Hy ons juis nou voorgestel het. Wel, ons wil dit dus en daarom vra ons Hom om aan ons Sy magtige reisgeselle te laat sien, as dit vir Hom moontlik is!'

[14] Almal, selfs My vorige leerlinge was dit heeltemal daarmee eens dat hulle dit wou sien.

[15] En Agricola kom na My toe en sê: 'Groot Heer, toon ons U tallose, magtige, geheime en onsigbare begeleiers as dit vir U moontlik is, dan sal ons sien watter wesens dit wel is. Ons almal vra U om ons te laat sien wat U ons nou net in die vooruitsig gestel het!'

[16] Ek sê: 'Dit sal ook dadelik gebeur! Maar bly veral kalm, want wat julle nou sal sien, sal, ook al is dit deur My wil versag, julle baie aangryp, ondanks die feit dat julle dapper Romeine is!'

[17] Die Romein sê: 'Heer, ons lyfspreuk is: Si totus illabatur orbis, impavidum ferient ruinae!* Wie geen vrees vir die dood het nie, is ook nie bang vir die goeie geeste nie en nog minder vir die boses, wat wel nie te veel mag sou kon hê nie! Ons is volledig op alles voorbereid, ook al is dit hoe buitengewoon, en U kan U teken wel laat begin. Ons is almal baie benoud!'

[18] Ek sê: 'Staan dan van julle sitplekke af op en kom saam met My na buite! Daar sal julle `n uur lank die glansrykheid van God die Vader sien, wat My, dit wil sê in die liggaam, in hierdie wêreld gestuur het vir die verlossing van die mense.'

[19] Toe Ek klaar gepraat het, staan almal van hulle sitplekke af op en gaan saam met My na buite.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205