Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 150

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Egte en valse profete en openbaringe

150 (Die Heer:) 'Op groot skaal openbaar God Hom by monde van profete wat deur Hom geroep is. Sulke profete is, vir mense met `n meer ontwaakte gees, altyd goed herkenbaar, - ten eerste deur hulle geskrifte en gesproke woord, ten tweede deur ekstra wondergawes, byvoorbeeld deur, om in noodgevalle, toekomstige dinge aan die mense te verkondig, sodat die mense dit vir hulleself kan aantrek en hulleself kan verbeter en God vra of Hy die aangekondigde onheil van hulle sou afwend, soos wat dit by Nineve die geval was. Ten derde kan sulke ware profete, wat deur God se wil opgewek is, ook deur hulle gebed en deur handoplegging siekes genees, as die genesing heilsaam vir die siel van die sieke sou wees. En ten vierde kan hulle ook tesame met die wil van God `n strafoordeel oor die onverbeterlike mensdom uitspreek, of, in die teenoorgestelde geval, `n volk seën.

[2] Deur hierdie en nog `n aantal ander, karakteristieke eienskappe is die ware profete, wat deur God opgewek is, baie maklik van die valses te onderskei, en mens kan dit veral goed sien aan die feit dat hulle as ware profete altyd vol deemoed en naasteliefde is, terwyl die valse profete in allerlei besondere, opvallende klere rondloop, baie hoogmoedig en vreeslik selfsugtig is, hulle slegs op bepaalde, geheiligde plekke laat sien, weinig praat en dan ook nog baie dom en onsinnig, en op bepaalde tye allerlei skynwondere verrig deur middel van streng geheim gehoude natuurlike middele - en wee diegene wat hulle sou nadoen!, - terwyl die ware profeet van sy egte wonderwerke geen geheim maak nie, maar selfs die mense nog aanpor en aanspoor deur hulle te seën, sodat hulle ook op dieselfde ware, korrekte wyse presies dieselfde wonderwerke kan doen.

[3] Uit die feit dat die ware profete dus baie maklik van die valses te onderskei is, en elke nugter mens wel kan vasstel dat daar dus werklik ware en valse profete is – waar die laasgenoemde sekerlik nooit sou gekom het as die ware hulle nie voorgegaan het nie, - kan die mense tog ook wel baie maklik aflei dat daar `n egte God is, wat die mense nooit heeltemal verlate op die aarde laat rondloop het nie, maar altyd Sy wil aan hulle meegedeel het en aan hulle die groot, wyse plan wat Hy met hulle het, ook steeds openbaar.

[4] Hierdie manier van openbaring is vir mense, wat hulle openlik daarvolgens wil rig, steeds die heilsaamste, omdat hulle geen buitengewone dwang daarvan ondervind nie. By die groot openbarings, wat maar selde voorkom, wen die mense baie minder vir hulle siele, omdat sulke openbarings meer `n oordeel is vir die ontaarde mensdom, as iets heilsaam.

[5] Toe Adam in die paradys op hierdie aarde teenoor God gesondig het, omdat hy as mens met `n vrye wil hom nie wou steur aan die wil van God wat aan hom welbekend was nie, het hy weldra `n groot openbaring van God gekry en betreur toe sy sonde; maar hierdie groot openbaring was `n oordeel vir hom.

[6] Daarna het die mense vanweë die ontaarde, wêreldse kinders wat in die dal gewoon het, meermale `n groot openbaring van God gekry; maar dit was vir die wêreldse kinders steeds `n oordeel.

[7] Ten tye van Noag het die mense weer `n groot openbaring van God gekry; maar dit was vir hulle `n baie groot oordeel.

[8] Ten tye van Abraham het daar weer `n groot openbaring plaasgevind, en wel vanweë die ontsettende ontaarde bewoners van Sodom, Gomorra en die omliggende tien kleinere stede. Dit was opnuut `n oordeel vir hierdie mense; die Dooie See gee tot op die huidige dag nog `n sprekende getuienis daarvan.

[9] Vader Jakob kry weer `n groot openbaring van God; maar sy kinders moes dit in Egipte boet.

[10] Ten tye van Moses was daar `n nuwe, buitengewone groot openbaring van God, en op kliptafels moes God se donderende woorde vir die mense ingegriffel word. Maar wat `n vreeslike oordeel was hierdie openbaring van God nie, by name vir die blinde, hoogmoedige en onmenslik geworde Egiptenare, wie se vernaamste glorie volledig gebreek was; maar ook van die Israeliete was niks deur die vingers gesien nie.

[11] Toe die Israeliete die woestyn onder Joshua verlaat, kom daar weer `n groot openbaring van God en die groot Jerigo verdwyn van die aardbodem.

[12] So was dit ten tye van Samuel en EliJaH en ook ten tye van die vier ander groot profete; en gaan lees maar watter oordele daarop gevolg het! Selfs die klein profete was nie sonder oordeel na hierdie wêreld gestuur nie.

[13] Nou vind die grootste en mees regstreekse openbaring van God aan die mense, voor julle oë plaas; maar die daaropvolgende buitengewone groot oordeel vir die Judeërs sal nie lank op hom laat wag nie.

[14] Van nou af aan sal daar vir byna 2000 jaar lank tallose sieners en profete opgewek word, omdat `n nog groter aantal valse profete en baie hoogmoedige, heerssugtige en liefdelose, valse christusse (gesalfdes) sal opstaan. Maar ook hierdie oordeel sal steeds aangaan, en daar sal selde `n heerser wees wat nie met sy volk, vanweë die duisternis, `n strenge oordeel sal moet ondergaan nie.

[15] Teen die einde van die genoemde tyd sal Ek steeds groot profete opwek, en met hulle sal die oordeel ook vermeerder en uitgebrei word. Daar sal ook swaar aardbewings kom en verwoestende storms, groot prysstygings, oorloë, hongersnood, epidemies en nog baie ander kwaad, en, soos wat Ek al voorheen gesê het, sal daar geen geloof wees nie - behalwe by baie weiniges onder die mense, wat in die ys van hulle menslike hoogmoed heeltemal sal verkil en die een volk sal teen die ander optrek.

[16] Die mense sal ook gewaarsku word deur sieners en besondere tekens aan die hemel, waaraan egter slegs My geringe aantal volgelinge hulle sal steur, terwyl die wêreldse mense dit alles slegs as seldsame, natuurlike fenomene sal beskou en dit aan elkeen wat nog in My glo, sal wil wysmaak.

[17] Maar daarna sal die grootste openbaring plaasvind deur My tweede koms op hierdie aarde; hierdie openbaring sal egter ook voorafgegaan word deur `n baie groot en skerp oordeel en gevolg word deur `n algemene sifting van die wêreldse mense deur die vuur en sy projektiele, waarna Ek dan Self `n heel ander kweekskool vir ware mense op hierdie aarde sal kan vestig, wat dan sal duur tot aan die einde van die tye van hierdie aarde.

[18] Ek sê dit nou vooraf vir julle, om te voorkom dat julle gaan dink dat alles na My net so volmaak sal word as in My hemele. Ja, weiniges sal wel aan My engele gelyk wees, - maar baie nog baie erger as die mense nou in ons tyd.

[19] Maar oor dit alles mag julle julle nie vererg nie, want Ek het julle almal immers al baie dikwels gesê dat die mens, sonder sy volledige vrye wil, heeltemal geen mens sal wees nie, maar slegs `n mens sou wees wat soos `n dier lyk.

[20] In die beste geval sou mens sulke mense dan wel net soos diere vir `n bepaalde doel kon afrig; maar mens sou hulle nooit sover kon bring dat hulle insien dat die arbeid vir ware mense en diermense goed en nuttig is nie, waardeur hy dan so ver sou kom om aan homself voor te skryf om die nuttige arbeid op die regte oomblik te verrig.

[21] `n Mens wat teen die wet sondig, toon daardeur net so goed aan dat hy `n vry mens is soos hy wat homself vrywillig aan die wet hou. Daarom moet julle ook niemand oordeel en verdoem nie, maar hom slegs met alle geduld en sagmoedigheid onderrig gee, en aan die verdwaalde die korrekte weg toon. As hy die weg wil gaan, is dit geskik en goed vir hom; wil hy dit egter nie, dan moet julle hom ook nie daartoe dwing nie, maar hom hoogstens verwyder uit `n gemeente wat beter en suiwerder is, - want `n gedwonge gelowige mens is tienmaal slegter as iemand wat openlik ongelowig en afvallig is.

[22] Kyk na die Fariseërs! Hulle is louter gedwonge skyngelowiges; in hulle harte glo hulle heeltemal niks nie en doen hulle alles wat hulle maar wil.

[23] Pas daarom goed op, wanneer julle weer in My Naam opvolgers vir julle sal kies, dat julle ten eerste absoluut niemand daartoe dwing nie, en ten tweede niemand aanneem, wanneer jy al van ver af kan sien dat hy vanweë tydelike belang, julle amp sou wil aanvaar nie.

[24] Julle sal wel daarop moet let, maar tog sal daar ontelbare van hierdie soort julle werk gaan doen, ten dele deur dwang van buite af en ten dele deur die vooruitsig om in die amp `n goeie en sorglose versorging te vind. Maar diesulkes sal almal deur My by die leër van die Antichris gereken word, en hulle werke sal by God in `n bose geur staan en lyk soos `n stinkende kadawer.

[25] Waarlik, Ek sê vir julle: Al julle opvolgers, wat nie deur My nie, maar slegs deur mense, in bepaalde wêreldse skole tot julle ampsopvolging voorberei is, sal Ek nie ag nie; want slegs die Antichris sal sy leerlinge so geskik maak.

[26] Diegene by wie julle egter die hande sal oplê en wie julle sal doop in My Naam, sal vervul word met My Gees; want hulle is ook die wat Ekself altyd as julle opvolgers uitkies en met die waaragtige gawe van My Gees bevestig.

[27] Maar in latere tye sal daar maar baie weinig daarvan wees, omdat die Antichris sy aanhang te veel sal uitbrei; wanneer hy egter sal meen dat hy die allerhoogste in die wêreld is, sal hy ook vir altyd tot `n val gebring word! - Het julle dit nou goed en duidelik in julle opgeneem?'


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205