Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 65

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die leiding in die hiernamaals van die mense wat vóór Jesus se tyd geleef het. Oor die hemelryk

65 Petrus sê: “Heer, dit begryp ons nou baie goed; maar nou bly die vraag nog: Wat gebeur daar met hulle wat voor U koms op die aarde geleef het, en wel vanaf Adam gereken? Kan hulle ook nog tot ware lewensvervolmaking kom, en hoe?” 

[2] EK sê: “Dit is tog baie natuurlik! Ek het die poorte tot die lewe nou nie net geopen vir hulle wat nou op die aarde lewe nie, maar ook vir almal wat alreeds lankal na die dood na die ander kant gegaan het. En baie van die ou sondaars sal nog `n keer `n kort proeflewe in die vlees moet deurmaak, soos wat Ek dit alreeds aan julle gewys het.

[3] In die hiernamaals is `n oneindige aantal soorte skole, waarin die siele op die mees praktiese wyse onderrig kan word. Weliswaar gaan dit daar nie so maklik soos hier nie, omdat elke siel daar geen ander wêreld en omgewing het as dit, wat uit hulle denke, gevoel en wil ontstaan het en die siel alles gee wat sy liefhet en wil hê. 

[4] Wel, daar is dit dus baie moeiliker om gunstige invloede op `n siel, wat vol verwarde wanvoorstellinge is, uit te oefen as hier, waar sy op `n onbekende, vaste bodem staan en `n groot aantal ewe-eens totaal onbekende omgewing om haar heen sien. Maar nieteenstaande is daar ook nog steeds genoeg middele om met vrug op `n siel in te werk. Maar daarvan sal aan julle by `n ander geleentheid ietwat meer vertel word.

[5] Laat dit egter vir niemand tot spesiale troos dien nie; want as `n siel in die hiernamaals in haarself en dus in haar wêreld in plaas van steeds beter, maar slegter en boosaardiger word, dan sal natuurlik in gelyke mate ook haar skynwêreld en haar geselskap en omgewing slegter word. Soos wat die waarheid en die lig in die siel minder word, so gaan dit ook met haar wêreld en haar omgewing, wat haar baie begin te druk en te kwel. Met die toename van die kwelling styg haar toorn en wraaksug ook, en dit is dan reeds die binnegaan in die hel, wat `n ware tweede dood van die siel is, waar mens dan baie moeilik weer kan uitkom. 

[6] Dit is sekerlik maar net suiwer middele waardeur die siel na verloop van baie lang tydperke gered kan word; maar dit sien werklik baie treurig daar uit! Want dit kan die menige deur en deur aartslegte siele miljarde aardse jare kos voordat sy haarself deur sulke pynlike middele ietwat uit haarself verbeter. Daarom is één dag hier meer werd as `n honderd jaar in die hiernamaals, volgens aardse tyd gereken. - Verstaan julle dit?”  

[7] Toe sê almal: “Ja, Heer, ons verstaan dit; maar tog dring daar nog `n vraag hom aan ons op wat ongeveer as volg lui: As `n oorlede siel hier, wat nog nie volmaak is nie, maar net in `n suiwer skynwêreld woon wat uit haar denke, gevoel en wil ontstaan - wat mens ook `n fantasiewêreld sou kon noem - waaruit bestaan die wêreld van die volmaakte siele dan daarna? Hoe sien die hemelryk daar uit, en waarmee kan dit op `n goeie, ware manier vergelyk word?” 

[8] EK sê: “Dit is nou weliswaar tyd om na die herbergier terug te gaan, - maar omdat dit juis geen onbelangrike vraag is nie, wil Ek dit onderweg aan julle beantwoord. Laat ons dus gaan, en luister na My!

[9] Sien, met die eintlike hemelryk, wat `n Ryk van waarheid, lig en liefde is, wat Ek alreeds by verskillende geleenthede duidelik aan julle gewys het, is dit volgens waarheid as volg gesteld: Hierdie Ryk vertoon geen uiterlike prag nie en kom nie met bepaalde uiterlike tekens en byvoegings in die mens nie, maar dit ontwikkel hom geheel binne-in julle, is dan in julle, groei in julle, deurdring julle en word so julle woonplek en julle wêreld vol van die grootste geluksalighede.

[10] Die hemelryk lyk hier soos `n saaier wat goeie saad uitgestrooi het. `n Deel het op `n pad geval; daarvan is `n deel deur die voëls uit die lug opgeëet en `n deel deur die wandelaars vertrap. Die saad het dus nie opgekom nie en het ook geen vrug gegee nie. `n Deel het op rotsagtige grond geval. In die begin het dit opgekom solank die klippe nog vogtig was, maar die wortels wat voedsel gesoek het, het geen houvas in die klipperige grond gevind nie; die vog was ook nie voldoende om die halm te voed en so het dit verdroog en ook geen vrug gegee nie. `n Ander deel het tussen dorings en struikgewas geval. Dit het weliswaar in die begin baie goed opgekom, maar toe dit hom volkome moes ontwikkel, is dit deur die dorings en die wilde struikgewas oorwoeker, dit verkrimp en het ook geen vrug gegee nie. Net `n deel het op goeie grond geval, opgekom en ryklik vrug voortgebring. 

[11] En sien, so gaan dit nou ook met die hemelryk op hierdie aarde! Ek Self is die Saaier, en My woord is die goeie saad, waaruit die hemelryk vir elkeen as vrug moet groei. Waar dit in goeie aarde sal val, daar sal dit ook `n honderdvoudige vrug voortbring; maar as dit op die pad van hierdie wêreld sal val of op die klippe of tussen die dorings en die wilde struikgewas, sal dit geen vrug dra nie. Onder die mense wat Ek met die pad vergelyk, moet die eintlike wêreldse mense verstaan word, soos wat ons vandag `n aantal by ons herbergier gesien het. Die wandelaars op die pad wat die saad vertrap, is hul inspanning vir die handel en die wins, en hul handelsgedagtes, wat na alle rigtings vlieg, is die genoemde voëls wat ook die sade wat nog nie vertrap is nie, oppik sodat daar maar geen vrug te voorskyn sal kom nie. Hierdie soort mense is, soos wat alreeds gesê is, die eintlike swyne waarvoor die mense My pêrels nie as voer moet werp nie.

[12] Met die klippe word daardie wêreldse geleerdes bedoel wat alles weliswaar met `n bepaalde gretigheid opneem, maar waarin die saad - omdat hulle innerlik van allerlei wêreldse wanopvattinge uitgaan en in `n sekere sin versteen is in hul gemoed en hart, - te min van die lewegewende vog en te min sagte, los grond vir hul voedingswortels vind. As daar dan wind kom en droogte, verdor die klein halm baie gou, en omdat hy geen wortels het nie, word hy weldra deur die wind van sy plek weggeblaas. Oftewel, as so `n mens in `n bepaalde versoeking kom, sê hy gou: “Ek het dit dadelik van die begin af aan alreeds geweet dat daar niks in die saak kan wees nie! Waar is nou die belofte wat in vervulling moet gaan, - in plaas van die vervulling daarvan moet ek ly! Daarom weg met sulke nuwe leerstellinge!” Dit is dus die klipperige grond. 

[13] Wie is dan vervolgens die dorings en die wilde struikgewas? Dit is daardie goedmoedige wêreldburgers wat My woord met werklik baie vreugde opneem en dit `n tyd lank ook baie vlytig nakom. Maar na verloop van tyd kom daar allerlei sorge en daarby ook allerlei ydele beslommernis en vrees en angs. Dit verstik die lewende woord in hul harte, sodat dit dan ook geen vrug kan dra nie.

[14] En daar is dus maar `n klein deeltjie van die mense wat met die ware goeie aarde vergelyk kan word. Hulle neem die woord aan en pas dit dadelik gelowig toe. En daar dra die saad ryklik vrug, en hierdie vrug is dan die eintlike hemelryk in die mens wat geen uiterlike vertoon hoef te hê nie. Maar hierdie Ryk sal hom vervolgens oor die mens wat dit in homself uit My woord geskape het, uitbrei en aan hom alle saligheid, lig, waarheid, en alle wysheid en mag gee oor al die skepsele.

[15] Hieraan moet julle egter ook sien waar julle My woord moet saai; want waar julle dit saai, moet dit ook vrug dra! In die eerste plek moet dit in goeie aarde val. As dit daar ryklik rente oplewer, sal die kooplui, die wêreldse geleerdes en die besorgde wêreldburgers wel vanself kom en by julle vir hulle `n akker saad koop. - Het julle dit nou ook baie goed verstaan?”

[16] Almal sê: “Heer, ook dit het ons baie goed verstaan en ons sal U raad ook sekerlik opvolg; want op paaie, klippe en onder dorings sal ons hierdie edelste lewensaad beslis nie strooi nie. - Maar nou kom ons herbergier ons baie haastig tegemoet! Wat sou die rede daarvoor wees dat hy so haastig is?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205